"’n Totale escape van alles!"

  • 0

Foto: Lily Girl

’n Nuwe album en ’n Nederlandse konsert met Early B en Wowi. Peach van Pletzen gesels met Cliffordene Norton oor wanneer hy sy liefde vir musiek ontdek het, hoogtepunte van sy loopbaan en wat volgende vir die Van Pletzen-duo is.

Hoe het jy jou liefde vir musiek ontdek?

Van jongs af is ek baie lief vir musiek. My pa het altyd vir my sy gunstelingmusiek gespeel van die ‘60’s en ‘70’s. Ek het toe ek 15 was ’n band begin saam met drie vriende en begin in clubs speel as ’n underage laaitie en toe het die musiekbug my behoorlik gebyt!

Hoe het jy en jou bandmate, Matthieu “Nik Nax” Auriacombe, mekaar ontmoet?

Ek was eers goeie vriende met sy broer, Johan, en Matthieu was die jonger boetie wat ons altyd uitgecheck het as ons dodgy goed aanvang. Jare later het Matthieu by my kom werk in my studio en toe raak ons goeie vriende. Kort na dit is Nax gebore en die res is geskiedenis en die toekoms is legedness!

Julle toer na Amsterdam (14 Augustus 2020) om saam met Early B en Wowi op te tree. Hoe het die toer tot stand gekom?

Ons is baie opgewonde oor die show. Ons werk gereeld saam Early B in studio en doen ook dikwels shows saam. Al hoe meer mense het op social media gevra dat ons Nederland toe moet kom.

Ek het Wowi laas jaar ontmoet by ADE (Amsterdam Dance Event). Ons het mekaar in Die Melkweg ontmoet en in kontak gebly. Ek hou baie van sy vibe en sound, so ek het hom gevra om die event vir ons te open.

Van links: Early B, Peach Van Pletzen en Matthieu “Nik Nax” Auriacombe (Foto: verskaf)

Ons hoop die show gebeur nog – dinge is tans baie onseker weens die COVID-19-ding, maar ons sal dadelik kyk na ’n nuwe datum as die show nie in Mei kan voortgaan nie.

Wat kan fans van hierdie konsert verwag?

Maksimum legehness, vet beats, humor, dans, en ’n totale escape van alles!

Peach Van Pletzen (verskaf)

Wat kom eerste wanneer jy ’n snit skryf – die musiek of die woorde?

Soms eers die woorde en soms die musiek eerste – elke song is anders, daar is nie ’n spesifieke formule of resep nie.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir jou in?

Ons nuwe 15-track album kom uit op 3 April! Love & Legehness. Dit bevat collabs met Early B, Jack Parow, Janie Bay en die legendariese Dutch rapper Tim Beumers!

Die album wys op tye ’n meer ernstige kant – baie songs oor liefde en die mensdom. Die tyd het gekom om alle hoeke van die legehness te explore. Ek en Nax voel dis ons beste werk nog en ons kan nie wag om die nuwe songs met mense te deel nie!

Wat is enkele hoogtepunte van jou loopbaan wat vir jou uitstaan?

  • Lowlands Festival in 2011 saam met Bittereinder.
  • Die eerste Van Pletzen show by Oppikoppi 2017.
  • Om halfmiljoen views op YouTube te kry binne drie maande op ons nuutste enkelsnit ׅ“Jy bly stil”.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top