Ek het kort na universiteit ’n jaar in Suid-Korea gaan werk. Korea was nie op my lys nie, en as ek nou daaraan dink, is ek nie seker of ek dit op ’n wêreldkaart sou kon geplaas het nie. Dalk ook maar goed. Korea was verder as wat ek gedink het, wêrelde verwyderd van die kapsule van ’n lewe waarin ek grootgeword het in die Vrystaat. Gelukkig was my vriendin vasberade, en die Koreane ywerig om nog jong “onderwysers” in diens te neem, en alles het baie vinnig gebeur. Voor ek my kom kry, het ons agent ons by die lughawe in Busan opgetel en was ons op pad na ’n stad aan die Ooskus van die land, Pohang. Die volgende oggend sou ek wakker word in my nuwe woonstel in die buurt en stad waar ek vir ’n jaar sou bly. En daarna aansit vir ontbyt saam met die “directors” (skoolhoofde) van my skool. Black noodles, onthou ek. Ek het so gesukkel met die staalstokkies, en het saam met elke hap die trane weggesluk.
Die eerste ses maande in Pohang was waarskynlik die grootste kultuurskok wat ek al ooit beleef het. Op elke vlak denkbaar. Die leefwyse, kultuur, kos, selfs die reuke van Korea was anders. Die leefstyl was gelukkig eenvoudig en gemaklik. Ek kon stap skool toe, busse wat oral heen ry, op tyd en op skedule. Joga by die naaste gimnasium. Ook, gelukkig, liewe mense van Korea en ander lande wat op onverwagse maniere my “tribe” geword het.
In daardie jaar het ek geleer van Oosterse dissipline, ’n ekonomie wat van die sterkste ter wêreld is, en hoe onderwys die land se ruggraat is. In my klas was kinders so jonk as drie, volwassenes ouer as 50 en studente van alle ouderdomme tussenin.
Dit het ongetwyfeld die koers van my lewe verander. Ek het dalk net vergeet juis hoekom. Tot ek onlangs, sewe jaar later, teruggekeer het na dieselfde stad om vir ’n maand lank ’n somerskool by te woon. Die somerskool is aangebied by Handong-universiteit net buite Pohang, wat ’n groot heenkome was vir my (en ander buitelandse onderwysers) in dié tyd.
Wat ek nie besef het nie, is dat ek Korea en die Koreaanse kultuur opnuut anders sou beleef as toe ek 22 was. My palet het ontwikkel en verstandelike kapasiteit of bewustheid (daai frontale lob) voel of dit gegroei of verander het. Ek vermoed ek is meer emosioneel bewus. Is dit die ding van reis as jy ’n bietjie ouer is? Dat jy sekere aspekte van ’n land en kultuur selfs meer kan absorbeer en waardeer?
Vir my was die ervaring as ’n nou ouer persoon veel ryker as wat ek verwag het. Hier is wat ek opnuut besef het van Korea, die Koreaanse kultuur en die lewe daar:
Die homogene verstaan
Daar is iets baie eenvoudig, enkelvoudig aan Korea. Dit het dalk te doen met die feit dat almal in Korea een taal praat. Dalk is dit een velkleur, een enkele kulturele bestaan? Ek durf dit nie probeer beskryf nie, maar my gevoel is tog dat daar is ’n veiligheid en sekerheid in die voorspelbaarheid is. Sonder om te wil veralgemeen, is dit tog moontlik om te veralgemeen. Mense regoor Korea het dieselfde gebruike en gewoontes; dieselfde soorte kos kan jy van verseker wees. Maak nie saak waar in Korea jy is nie, rys en kimchi is standaard. Dis ’n land wat in soveel opsigte, maar veral in taal en kultuur, baie anders as Suid-Afrika is.
Die wedersydse respek
Ek gaan hard moet dink aan kere wat ek dalk die uitsondering op die reël ervaar het. Die gebruik is om baie opreg te groet en ander met ’n taamlike mate van respek te hanteer. Omdat die gebruik is om te buig as jy iemand – vriend of vreemdeling – sien, voel dit vir my of hulle jou met hulle hele lyf herken en erken dat hulle jou raaksien. Jy kan nie net iemand miskyk of wegwuif soos in Suid-Afrika nie. Dis asof hulle mekaar sien en eer.
Ek onthou ook dat die manier waarop Koreane met mekaar omgaan, aanvanklik iets was om aan gewoond te raak. Dis ook iets wat ek, op my skoolhoof se aandrang, moes leer om te doen.
Dit gaan meestal oor die magsindeks, die buig, die singende manier van praat, die respek. Hiërargie is altyd en orals teenwoordig – hoe ouer jy is, jou titel, geleerdheid, mans en vroue, elkeen ken sy plek in die orde. Dis ’n bietjie van ’n dans – jy buig soveel keer as wat jy kan, jy gee en neem alles met twee hande, jy loop selfs half agteruit by die deur uit. Jy kan oplet hoe die Koreane hulle stemtoon verander na gelang van wie aan die gesprek deelneem.
Dit was dié keer vir my selfs mooier om te aanskou. Respek, voel dit vir my, is die hoeksteen van ’n gesonde samelewing.
Die kos, die smake en my palet
Dit het my laas keer ’n goeie ses maande geneem om stadig maar seker gewoond te raak aan die kos, en selfs na ’n paar maande was sekere kosse steeds vir my onverteerbaar. Soos die koue noedels, naengmyeon (물냉면), of rouerige, gestoomde seekattentakels. Of selfs lewende seekattentakels. Ook veral die brandende stomende seekosnoedels, jjamppong (짬뽕), waar dit altyd lyk of die vooropgesette doel bloed, sweet en trane is. Alles net ongelooflik buitengewoon vir die Vrystater in murg en been. Buiten dit het Korea ’n baie kenmerkende reuk aan hom wat jou smaak- en reuksintuie onvermydelik aantas.
Dié keer was die ervaring met Koreaanse kos nietemin vir my verbasend anders. Of my palet ontwikkel het, en of mens se smaaksintuie “versag” soos jy ouer word, weet ek nie. Maar dit was byna dadelik vir my moontlik om die kos ’n kans te gee, en selfs ’n bietjie te eksperimenteer. Ek het gehou van eet met die stokkies, en die aftreksel saam met etes maak nou vir my soveel sin. Die Koreane beweeg baie en is gesond, dalk juis oor hul dieet. Kimchi maak nie verniet opslae wêreldwyd nie.
Die Koreaanse maniere
Die Koreane het ’n ongelooflike manier om ’n mens welkom te laat voel in hulle land. Ek weet elke mens se ervaring is uniek anders, maar my ervaring in Korea was beide kere en aanhoudend dat dit werklik vir hulle belangrik is dat jy veilig, tuis en welkom voel by hulle.
In Korea het ek by ’n privaatskool, ’n “hagwon”, gewerk. Die eienaars is ’n paartjie, Director Park en Director Kim, wat saam ’n paar skole bestuur. Omdat hulle eintlike name in Koreaanse letters geskryf word, kan mens hulle nie maklik aanlyn soek nie. Ek het ook hulle e-pos-adresse en nommers verloor na al die jare. Ek het dus net daar opgedaag uit die bloute, sewe jaar later. Daar was luide gejuig, gebuig en ook trane. Ek kon nie glo dat hulle hierdie voormalige onderwyser, een van vele wat al daar skoolgehou het, wat so uit die bloute opgedaag het, so hartlik verwelkom nie.
Ek het hulle in dié tyd menigmale gesien vir aandete en kuiers aan huis by hulle. Ek moes byna ’n ekstra tas koop vir al die geskenke met my vertrek. Daar was ook al die bekende gesigte wat ek weer op kampus gesien het, en die nuwe vriende wat my in dié tyd baie welkom laat voel het. ’n Vreemdeling in ’n vreemde land, maar tog nie.
Ek was en is regtig bly dat ek die sirkel kon voltooi deur weer na Korea te reis. Reis moet ons aanhou reis, inwaarts, ver, na die onbekende, anderkant die ongemak uit.
Buro: MvH