Namibiese verhale: Die keiservoël oor Namaland en Die vertes in

  • 0

 

Die vertes in
Zirk van den Berg

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708824

 

Die keiservoël oor Namaland
Koos Marais

Uitgewer: Cordis Trust

 

Twee romans oor dieselfde stuk Namibiese geskiedenis

Sedert 2016 is twee werke gepubliseer wat lig werp op die onlangse Namibiese geskiedenis. So onlangs soos die Grensoorlog is die verhaalde gebeure nie, maar met die ideologie in gedagte dat Afrika die wieg van die mensdom is, sou gebeure aan die begin van die 20ste eeu tog wel as onlangs beskou kon word.

Die keiservoël oor Namaland (2016) van Koos Marais en Die vertes in (2018) van Zirk van den Berg kan beide as historiese romans beskou word. Die parallelle draad ten opsigte van tema en motief in hierdie werke het soveel raakpunte dat ek verras was toe Van den Berg my tydens ons e-pos-wisseling laat weet dat hy nie bewus was van die bestaan van Marais se roman nie.1

Wat tyd- en ruimte-aanbieding sowel as tema betref, gaan die verhaalgebeure in albei werke oor die lot van die inwoners van Duits-Suidwes-Afrika gedurende 1905, ’n “(t)yd van beroering” (agterblad, Die vertes in). Die keiservoël oor Namaland se vertelde tyd strek van 1905 tot ongeveer 1908, terwyl Die vertes in fokus op die aanvangstydperk van die Herero-oorlog in 1905. Ek het vanuit ’n lesersperspektief ervaar dat Die vertes in ’n voorspel (en ’n voorspelling) was vir die gebeure in Die keiservoël oor Namaland. (Ek het Marais se boek vóór dié van Van den Berg gelees.)

Die hoofkarakter in beide romans is ’n Duitse jongman wat vars uit die Vaderland in die destydse Duits-Suidwes aan wal stap en betrokke raak by die oorlog tussen die Duitsers en die plaaslike bevolking.

In Die keiservoël kom die jong seun, Ernst Luchtenstein,2 saam met sy ma, Therese, en sy sussie, Charlotte uit Duitsland in Lüderitzbucht (die huidige Lüderitz) aan om by hulle pa en eggenoot, Joseph Luchtenstein, aan te sluit. Op pad na die plaas in die binneland waar hulle hulle sou gaan vestig, word sy ma deur ’n luiperd doodgebyt,3 en Ernst en sy sussie beland op die plaas Paradys naby Keetmanshoop by die McKay-familie, wat hulle inneem en versorg soos hulle eie kinders.

Hulle aanneem-ma is Gertruida, ’n Nama-vrou, en die pa, Robert, is ’n Skotse setlaar. In sy omwandeling maak Ernst kennis met leiersfigure onder die boorlinge, byvoorbeeld Cornelis Fredericks en Jakob Morenga, asook met Duitse militêre aanvoerders soos genl Lothar von Trotha.4 Ernst stel hom dit ten doel om die gruweldade van sy landgenote en die gepaardgaande wreedheid waarmee hulle die krygsgevangenes in die konsentrasiekamp op Haaivin-eiland behandel het, aan die wêreld openbaar te maak. Hy sit dus die werk voort waarmee sy gestorwe moeder begin het, want sy het immers die gruweldade voor haar dood reeds begin opteken. Ernst trou met Regina Klube, ’n Duitse diensmeisie wat vir ’n Duitser en sy gesin op Aroab werk.

Ietwat hinderlik is dat die tydsverloop vanaf die Luchtensteins se aankoms (28 Maart 1906) totdat hulle trek begin (ook op 28 Maart), onrealisties kort is. Ten spyte van die feit dat Ernst op daardie dag kort by die dood omgedraai het en ook in dr Fischer se ondersoekkamer ’n draai gemaak het, het hulle nog dieselfde dag begin trek en by die Boerekamp aangekom. Wat ook jammer is, is dat die datums vanaf hoofstuk 20 nie meer in die hoofstuktitels voorkom nie. ’n Laaste puntjie van kritiek is dat die verhaal aan die einde (hoofstuk 42) onnodig uitgerek word en die verteltrant ietwat prekerig word.

Die 24-jarige Duitser Siegfried Bock, die hoofkarakter in Die vertes in, kom vroeg in 1905 met die skip in Swakopmund aan. Hy is buitengewoon klein van postuur en het boonop ’n swakkerige gestel, en dit is deur sy pa se toedoen dat hy gekeur is om in Duits-Suidwes militêre diens te doen – téén die aanbeveling van die dokter in Duitsland, wat van mening was dat hy nie weermagsmateriaal is nie.

Net soos die hoofkarakter, Ernst, in Marais se boek, word Siegfried bewus van die wreedhede waaraan die Duitsers die Namas en Herero’s onderwerp. In die verhaal ontsnap ’n krygsgevangene, Mordegai Guruseb, uit die konsentrasiekamp op Swakopmund en kruip weg op die trein waarmee Siegfried se peloton van Swakopmund na die binneland reis. Hy probeer om gedurende die rit van die trein af te spring.

Daar word onraad gemerk, die trein word tot stilstand gebring, en die soldate kry opdrag om die gevangene te soek en op sig te skiet. Siegfried kom op hom af waar hy in ’n klipskeur skuiling soek, maar skiet hom nie. Mordegai het hom immers kort vantevore van ’n gewisse dood gered toe hy ’n slang vlak voor Siegfried se voete gewaar en met ’n klip doodgooi. So ontstaan die band tussen die Duitse soldaat en en die Nama-krygsgevangene wat mekaar in die toekoms nog meermale moes red – al was dit ook om hullesélf op dié manier te red. (Laasgenoemde dra by tot die geloofwaardigheid van die verhaal.)

Tydens die peloton se strooptogte word die tenger Siegfried deur sy makkers gekarnuffel, en word kort ná sy aankoms in Afrika ’n hulpelose ooggetuie van ’n gruweltoneel toe drie van sy makkers hulle skuldig maak aan ’n wrede en sinlose optrede teen ’n Nama-gesin. Net soos Ernst in Die keiservoël besluit Siegfried dat die dade van sy mede-Duitsers nie ongestraf verby mag gaan nie, en vertel sy bevelvoerder daarvan. Oberst Berghammer, soos ook ander militêre bevelvoerders later sou doen, probeer hom oortuig dat dit maar is hoe oorlog werk: Jy moet doodmaak voordat jy doodgemaak word.

Dit is duidelik dat beide outeurs ’n regstellende boodskap wou uitdra. Anders as Van den Berg se fiktiewe roman waarin die breë historiese tydruimtelike gebeure as raamwerk so getrou moontlik nagevolg is, is Die keiservoël oor Namaland op grond van verskeie kriteria eerder ’n biografiese geskiedkundige roman. Die aanwesigheid van ’n bronnelys en foto’s is maar twee aspekte wat daarop dui. Nie alleen het die skrywer ’n werkswyse gevolg gegrond op navorsing en die insameling van eerstehandse kennis nie, maar ook die inhoud is krities, en vir ’n spesiale doel geskryf.

Ek glo die doel was tweeledig: Die eerste was om uit te kom met waarhede oor ons geskiedenis. Wat waarheidsgetrouheid betref, is Die keiservoël dus eerder informatief as wat dit neig na biografiese fiksie. Deur middel van hierdie werk is ’n stuk geskiedenis na die oppervlak gebring, en Namibiërs, veral “inkommers” (soos ek in die tagtigerjare), is opnuut geraak deur die verskrikking van die gebeure. Ek het besef dat indien die skrikwekkende gebeure in Suidwes-Afrika vroeër aan die lig gekom het, Hitler se skrikbewind tydens die Tweede Wêreldoorlog moontlik verhoed of getemper kon gewees het. Hierdie besef is oorweldigend. Marais stel dit uiters raak in die outeursnotas: “Slegte goed gebeur wanneer goeie mense niks doen nie”; en Siegfried vra in Die vertes in aan luitenant Berghammer: “U sê ons moet ons blind hou ter wille van ons oorlewing” (76).

Die verwronge wetenskaplike motiewe om “die fisionomie van idiote” (Die vertes in, bl 43) na te vors, is een van die gemeenskaplike temas in hierdie twee werke. Die gestorwe Namas en Herero’s, die “(w)oestelinge en untermenschen” (44), se beendere en organe het as ondersoekmateriaal gedien in dr Fischer (’n werklike geskiedkundige figuur) in Die keiservoël en dr Pitzer (’n fiktiewe figuur in Die vertes in) se projekte om lig te werp op die sogenaamde skakel tussen mens en dier.

Koerantlesers in Namibië volg die afgelope paar jaar die onderhandelinge tussen die Namibiese en die Duitse regerings oor die talle skedels wat aan die begin van die 20ste eeu na Duitsland gestuur is onder die dekmantel van navorsing. Na vele onderhandelingsessies vanaf 1990 het die derde repatriasie van Nama- en Ovaherero-oorskotte op 1 Augustus vanjaar op die internasionale lughawe Hosea Kutako aangekom.5

As Namibiër is ek geensins ingestel op “German-bashing” nie (soos ’n Duitse vriend van my dit noem). Maar ek glo dat hierdie stap van repatriasie nodig was om die sielkundige skade te herstel en opgekropte woede te verwerk om sodoende die menswaardigheid van Namibiërs wie se voorsate gely het, in ere te herstel.

Objektiwiteit is egter in beide werke aanwesig, en dit is ’n verdere aspek waarvan die antagoniste telkens die hoofkarakters bewus wil maak. Die “ander kant” (my aanhaling) van die saak mag nie vergeet word nie. So erken Berghammer teenoor Siegfried dat hy beslis nie die gewelddadige optrede van sy manne goedkeur nie, maar dat “die vyand ook nie engele (is) nie”, en dat “(w)anneer dit van manne verwag word om die heiligste van taboes te breek, om ander mense dood te maak, ander sedes ook in die slag (bly)” (75).

’n Verdere (leit)motief in die romans is die Afrikaruimte wat verskillend op individue inwerk. Vir die hoofkarakters in beide werke is die grootse en eensame Afrikaruimte oorrompelend, maar aangrypend. So besluit Siegfried kort na sy aankoms in Afrika, alleen op die spoor van die ontsnapte krygsgevangene, dat hoewel hy homself nie as gelowig beskou nie, hier iets groters werksaam is as enigiets anders wat hy ooit teëgekom het. “(A)s hier iemand is, (moet) dit God wees, en as God bestaan, (sal) Hy hier wees” (29). Vir Berghammer (die antagonis) is Afrika “bloot die volgende stap in my loopbaan. Ek wil ’n lewe hê nadat hierdie besigheid verby is, ek wil nie in hierdie godverlate plek omkom nie” (75).

Die keiservoël oor Namaland is ’n reusewerk, nie net wat statuur betref nie, maar ook gesien teen die agtergrond van Marais se agt jaar lange navorsing oor die biografiese onderwerp en die geskiedkundige gebeure. Vir dié lesers wat in die geskiedenis van Namibië belangstel, is Marais se boek ’n móét-lees. Sy harde werk is bekroon toe die Orde van die Beiteltjie deur Fanie Marais van Cordis Trust tydens die Windhoek Woordfees vanjaar aan hom oorhandig is.

Dit bring my by die tweede doelstelling: Koos Marais stel dit baie duidelik dat wat hy graag met sy boek wou bereik, is om erkenning te gee aan die Namavolk vir hulle bydrae tot Afrikaans in Namibië. Marais het aan die einde van 2016 by ’n geleentheid op Maltahöhe die boek amptelik aan die Namas oorhandig. Vir hom was dit ’n geleentheid waaroor hy baie jare gedroom het: “Ek het hierdie Afrikaanse boek waaraan ek so lank gewerk het, oorhandig aan die mense vir wie dit só belangrik is.”6

Die vertes in van Zirk van den Berg is boeiende leesstof (hoewel in enkele gevalle effe voorspelbaar). Die skrywer het die vermoë om lewenswaarhede op ’n verrassende wyse en vanuit ’n vars perspektief neer te pen. As Siegfried uiteindelik die geleentheid kry om die grootgeboude medesoldaat Grajek vreesbevange te sien, verduidelik die verteller dat iemand wat van nature sterk is, “waarskynlik min kans gehad (het) om dapper te leer wees” (163). En dit is juis iets wat die tengergeboude Siegfried heel vroeg in sy lewe moes leer.

Nóg ’n raakvatbeskrywing (daar is heelwat meer) gaan oor die feit dat ’n mens soms gewaarwordinge het wat jou onrustig stem omdat jy nie heeltemal die omvang daarvan kan begryp nie. En as ’n skrywer dit dan namens jou verwoord, erken jy dit met dankbaarheid en kan jy (byna) daarmee vrede maak. Dit word ervaar as ’n “flikkering van insigte wat maar net nie wil kristalliseer nie”, wat te make het met “die gevoel dat (j)y die instrument van ’n sosiale orde is wat (j)y nie onderskryf nie, maar waarteen (j)y (jou) nie kan verset nie” (212). En nou begryp ek wat soms ’n krieweling in my gemoed veroorsaak: die grootsheid van ons land is te groot vir my om klein te kry.

Die uitwerking van die historiese gebeure wat in hierdie twee romans belig word, is ’n waarskuwing dat die sug na mag dodelik is. En vanweë die oergedagtes wat opgeroep word, dink ek onwillekeurig terug aan die Bybelse vloed wat die mensdom voor Christus byna uitgewis het.

  • Beuke-Muir is verbonde aan die Universiteit van Namibië, Windhoek

 

1 Hoewel Van den Berg in Walvisbaai gebore is, het sy ouers Kaap toe verhuis toe hy sy skoolloopbaan begin het, en vanaf 1998 woon hy en sy gesin in Nieu-Seeland.

2 Ernst en Regina Luchtenstein het vyf kinders gehad, en het die laaste paar jaar van hulle lewe in Seepunt (RSA) gewoon. Ernst sterf in 1972 (Epiloog).

3 Hoewel dit op grond van die outeursnotas as die waarheid aangebied word, betwyfel Piet van Rooyen hierdie gegewe hoofsaaklik op grond van sy kennis oor die geaardheid van hierdie spesie.

4 Hierdie Duitse generaal is berug vir die feit dat duisende Herero’s en Namas onder sy aanvoering gesterf het.

5 https://www.republikein.com.na/nuus/skedels-terug-op-eie-bodem2018-09-03.

6 https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/die-keiservoel-oor-namaland-oorhandiging-van-die-boek-aan-namas.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top