Narcosis, ’n hartseer film uit Nederland | European Film Festival 2023

  • 0

Titel: Narcosis
Regisseur: Martijn de Jong
Geskryf deur: Laura van Dijk en Martijn de Jong
Taal: Nederlands, met Engelse onderskrifte

Hoofspelers:

Thekla Reuten as Merel
Fedja van Huêt as John
Sepp Ritsema as Boris
Lola van Zoggel as Ronja
Vincent van der Valk as Sjoerd

Die verhaallyn is eenvoudig: John is een van die beste duikers in die wêreld en word gekies om die bodem van Boesmansgat, in Kuruman, Suid-Afrika, te bereik. Soos hy vir sy seun sê: Daar was al meer mense op die maan as by die bodem van Boesmansgat. Om te kon probeer, is reeds ’n prestasie.

Hulle voorbereiding is indrukwekkend. Dit sou 13 uur duur om die ongeveer 300 meter te duik. Hy sou vyf minute op die bodem deurbring. Dan sou hy ongeveer 50 uur neem om tot op 150 meter te swem na waar Sjoerd, sy beste vriend en ook ’n uitstekende duiker, hom sou inwag, hom sou ondersoek en dan saam met hom stadig na bo sou swem.

’n Mens kan jou die geweldige span mense indink wat so ’n enorme operasie sou moes maak werk.

En toe kom John nooit op nie.

Sjoerd het oorleef, maar het nie ’n idee wat van sy vriend geword het nie.

In Nederland moet John se vrou, Merel, hul puberseun, Boris, en bloedjong dogter, Ronja, aanvaar dat hy weg is. Daar is geen lyk nie, geen afskeid nie.

Sonder ’n lyk wil die versekering ook nie betaal nie.

’n Toestand van gevoelloosheid

Die titel van die film, Narcosis, is ’n Latynse verbuiging van die Griekse woord wat Hippokrates gebruik het om ’n toestand van gevoelloosheid aan te dui.

Dit is presies wat Merel, John se weduwee, ervaar. Sy kan eenvoudig nie John se dood verwerk nie.

Hulle seun besluit om homself op te lei om sy pa se lyk te gaan uitduik, maar dit is natuurlik nie moontlik sonder spesialisinstrukteurs en ’n enorme span mense nie.

Die dogtertjie glo vas haar pa leef nog.

Intussen hoop Merel se skuld op die huis op omdat die vervlakste versekering haar nie kan betaal nie.

’n Telefoonhokkie

Enkele dae voor sy vertrek het John, wat ’n seunsagtige lewenslus gehad het, ’n outydse foonhokkie, nog met ’n munttelefoon daarin, op hulle erf geïnstalleer. Hy het dit goedkoop raakgeloop, aangesien niemand die goed meer wil hê nie. Hy plaas dit op hulle werf vir die kinders om mee te speel.

Ronja, hulle dogter, is veral verruk hierdeur en praat vir ’n jaar lank ná haar pa se dood nog elke dag met hom oor die foon. Ook wanneer sy nie sakgeld kry nie (haar ma is gewoon nie teenwoordig genoeg om daaraan te dink nie), bespreek sy dit met haar pa en kry van hom toestemming om haar ma se spaargeld vir die snoepie te steel.

Die ma verdink haar seun, Boris, en hy, aan die begin van sy storm-en-drang-jare, kan dit glad nie hanteer nie.

Wanneer die foonhokkie in ’n storm beskadig word, moet elkeen in die gesin hul eie staat van gevoelloosheid in die gesig staar, want hierdie portaal, ’n kontakpunt met die dooie, is skielik nie meer daar nie.

Om ’n medium te wees

Die film gebruik ’n interessante tegniek. Merel is naamlik ’n medium wat namens haar kliënte met ’n dooie familielid sal kontak maak om hulle gerus te stel dat die persoon gemaklik is in hulle lewe ná die dood.

Sy neem haar werk ernstig op en gee klaarblyklik aan kliënte ’n sekere bevrediging, want hulle kom terug.

Ná John se dood hou sy tydelik op, maar begin weer wanneer mense haar nodig het.

Dié praktyk veroorsaak egter konflik tussen haar en Boris wanneer die knaap by haar pleit om ’n paar eenvoudige vrae aan sy dooie pa te vra. Die antwoorde sou hom kon help om sy held se dood te verwerk.

Merel weier.

Filmies werk hierdie vreemde tegniek en die konflik wat daaruit spruit, goed. Dit is dus ’n slim truuk van die filmskrywers. Merel se betaalde “beroep” eggo ook die dogter se gereelde oproepe na haar pa in die foonhokkie.

Hartseer, maar goed

Narcosis is ’n hartseer film. Hier is geen borrelgomslot nie. Dit beweeg baie stadig en speel met metafore wat soms vreemd op die oog mag val.

Narcosis is wel goed. Ek beveel dit aan vir liefhebbers van kunsfilms – dit is immers Nederland se amptelike nominasie vir vanjaar se Oscars. Hierdie film het eers op 20 Oktober in Nederlandse teaters begin draai, so om dit hier in Suid-Afrika te kon kyk as deel van die Europese filmfees, was ’n voorreg. Ons kry dit boonop gratis.

Vir romkom-liefhebbers of aanhangers van aksiefilms sou ek sonder meer sê: Bly weg. As jy egter die maag en die geduld het vir ’n stadige, hartseer storie, is Narcosis aan te beveel.

Thekla Reuten, as Merel, speel die treurende weduwee baie goed.

Sepp Ritsema, as die bynatiener Boris,  se hartseer-in-een is aandoenlik.

Lola van Zoggel, wat die kleine Ronja speel, is opvreetbaar oulik én baie oortuigend.

Narcosis het nie die liriese kwaliteit van Close, die Belgiese film wat óók oor verlies handel, nie. Close is briljant. Narcosis is oortuigend.

Ondersteun die filmfees

Die European Film Festival bied talle van Europa se beste films gratis aan.

Ondersteun hulle gerus; teken nou al in op hulle nuusbrief, sodat jy volgende jaar kan saam kyk.

https://www.eurofilmfest.co.za

Lees ook:

Close, ’n beeldskone film uit België | European Film Festival 2023

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top