Nederlandse leerstoel vir universiteite in Suid-Afrika beoog

  • 0

’n Nederlandse leerstoel vir Suid-Afrika wat fokus op taalkunde, letterkunde en geskiedenis en waarby universiteite in die Lae Lande en Suid-Afrika sowel as die Taalunie betrokke is, word tans in die vooruitsig gestel, skryf Willem de Vries.

Die aanvoorwerk vir die nuwe leerstoel word deur Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent gedoen. Aan die kern hiervan is die gedagte aan die leerstoel as deel van ’n ewewaardige dialoog tussen Afrikaans en Nederlands.

Yves T’Sjoen

“Ons het in Gent in 2017 begin met die leerstoel Suid-Afrika: tale, letterkundes, kultuur en maatskappy, maar dit is eenrigtingverkeer. Ons nooi daarom Suid-Afrikaanse akademici uit om gedurende die drie maande op die gebied van die letterkunde en taalkunde aan ons studente klas te gee en ook ondersoek te doen en lesings aan te bied. Omdat ek ’n voorstander is van tweerigtingverkeer in ’n ewewaardige dialoog tussen Afrikaans en Nederlands, dink ek dat dit ook sinvol is om ’n leerstoel vir Nederlands – en jy kan dit ook ’n leerstoel vir kulturele diversiteit noem – in Suid-Afrika aan te bied.”

T’Sjoen het reeds met kollegas, onder meer ook met die Taalunie en veral ook met kollegas in Suid-Afrika, gesels. 

“Dit was nooit my bedoeling om vanuit Europa iets op te lê nie. Nee, jy doen dit in dialoog. Ek het in September verlede jaar ’n brief gestuur na kollegas by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en Stellenbosch met die vraag of hulle daarin belangstel en waarby hulle insette ook van belang sal wees. Ek het toe van die kollegas op Stellenbosch en ook van Steward van Wyk by UWK ’n heel positiewe reaksie ontvang. Hulle wil dit heel graag ondersteun. Toe het ek teruggegaan na die Taalunie en het met die algemene sekretaris, Hans Bennis, ’n tweetal gesprekke gevoer. Die Taalunie wil dit ook ondersteun.” 

Die volgende stap nou is om met die universiteite in Leiden, Amsterdam, Antwerpen en Gent gesprekke te voer, en onder andere met Margriet van der Waal in Amsterdam, want T’Sjoen wil ideaal gesproke “dat ons interuniversitêr in die Lae Lande die leerstoel in oorleg en dialoog met ons kollegas in Suid-Afrika moet kan oprig.” 

Die genoemde universiteite in die Lae Lande het institusionele samewerkings-akkoorde met Suid-Afrikaanse universiteite en deel daarvan – almal is wel verskillend – is dat die dosente binne die akkoord die reis kan onderneem na Suid-Afrika en dat hulle akkommodasie kry en die gebruik van die fasiliteite van die universiteit wat hulle ontvang. Omgekeerd geld dit ook: Gent het byvoorbeeld akkoorde met UWK, Stellenbosch, Noordwes, Pretoria, die Universiteit van die Vrystaat, UNISA en sedert enkele weke gelede ook met Namibië. 

“Binne die interuniversitêre samewerking kan ons die plan vir die leerstoel op kort termyn realiseer. Dus, op ’n manier bestaan dit al, maar dit is te weinig interuniversitêr georganiseeer, altyd in ’n soort een-tot-een verhouding. Dit het dus ’n groter dravlak nodig deur middel van interuniversitêre koöperasie. En ek dink ons kan dit tot stand bring met betrekking tot Afrikaans en met Nederlands. Dit sal ’n veel sterker teken wees, met ’n groter kans op sukses as wat almal dit unilateraal doen.”    

Die leerstoel sal ten doel hê dat elke jaar opnuut ’n Nederlandse of Vlaamse dosent gevra word om nie net by UWK en Stellenbosch klas te gee nie, maar afhangend van die behoeftes van ander departemente, byvoorbeeld by Noordwes, Bloemfontein of Pretoria, om ook aan die ander universiteite een of twee gaslesings aan te bied vir miskien ’n week op ’n keer. En die Taalunie is, by monde van Hans Bennis, bereid om die binnelandse vlugte van die kollega ook te betaal. 

Dit sal belangrik wees dat die leerstoel elke jaar vir ’n semester lank plaasvind sodat ’n kursus uitgediep en opgebou word sodat ’n mens vir ’n aantal weke werk met studente kan behandel op die gebied van die Nederlandse taal of Nederlandstalige literatuur, om Nederlands te bekyk in ’n meertalige konteks; ook interkulturele dialoog is deel van die beoogde doelstelling.

“Dit word dus na analogie met die leerstoel Suid-Afrika in Gent georganiseer. In Amsterdam word dit anders georganiseer, naamlik dit is ’n vaste posisie en dit is ’n 20%-aanstelling, dus een dag per week. In Gent het ons gekies vir ’n soort beurtrol, ’n wisselsisteem.” 

“Die gashoogleraar is iemand wat gedurende een semester van drie maande aangestel is, soos Wannie Carstens die vorige jaar. Hein Willemse was die eerste bekleër van die stoel in 2017. Vanjaar is dit Louise Viljoen. Volgende jaar sal dit weer ’n taalkundige wees. Hierdie wisselwerking kry jy nie in Amsterdam nie – dis ’n heel ander konsep, ’n ander formule.” 

Die Nederlandse leerstoel in Suid-Afrika, vir taalkunde, letterkunde en geskiedenis, sal fokus op meertaligheid. Kulturele diversiteit of interkulturele dialoog is iets wat nie net in Suid-Afrika afspeel nie, maar ook in Europa, het T’Sjoen gesê. 

“In die meertalige omgewing kan jy die partikulariteit van tale en letterkundes skerper sien, as jy dit in ’n breër konteks benader. Só wil ek ook in Gent Nederlandse letterkunde doseer – nie net gerig op die literatuur van ons taalgebied nie, maar Nederlands vanuit ’n internasionale en veeltalige  perspektief. As jy dit vanuit ’n soort transnasionale, internasionale perspektief bekyk, kan jy meer wys op die spesifisiteit: Vanuit ’n globale perspektief, wat maak die kleine Nederlandstalige literatuur anders as die Franse, Duitse of Afrikaanse letterkunde? Ek dink die leerstoel moet veral daarop ingestel wees dat jy ’n taalkundige het wat ook meedoen aan taalverwerwing en ’n letterkundige wat vanuit die breër historiese, internasionale blikveld met Nederlandse en Afrikaanse literatuur besig is.” 

Wat vir T’Sjoen daarmee saam van belang is, is dat die persoon wat die mandaat en amp vul, belangstel in die land waar hy of sy vir drie of vier maande gaan werk, dat die persoon sal kontak hê met literêre of kunstefeeste, dat hy of sy ook optree, ook die polsslag voel van die kulturele en maatskaplike lewe en nie iemand is wat vanuit ’n ivoortoring iets kom sê en dan weer verdwyn nie. Dit moet iemand wees wat betrokke is en in oorleg met die Suid-Afrikaanse kollegas kursusmateriaal ontwerp en vir studente leiding gee.

“My droom is dan dat vanaf 2020 die eerste gashoogleraar aangestel word by UWK en/of Stellenbosch. Dit moet ons kan organiseer. Ek dink dat die bande tussen Afrikaans en Nederlands, die departemente, hier en in die Lae Lande, ’n nuwe dinamiek is. En, ek wil my klippie daarby voeg om tweerigtingverkeer moontlik te maak.

“Die belangrikste is dat ons tot ’n volwaardige, eweredige dialoog kom waar ons mekaar ontmoet in ons tale en waar ons mekaar heel veel te vertel het en waar ons vandag miskien nog nie heeltemal aangekom het nie. In die komende weke word gesprekke gevoer met kollegas en instellings in die Lae Lande en nie net met Neerlandici nie.”  

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top