Nederlandse skrywer Berend Mets oor historiese romans uit Suid-Afrika

  • 0

 

...
Versoening gaan nie daaroor om die boeke oor vorige ongeregtighede te vergeet of toe te maak nie, maar eerder om die skade te erken en genesing te soek. – Desmond Tutu
...

Berend Mets het trots sy tweede historiese roman Truth & conciliation bekendgestel na die sukses van die boek se voorganger Immorality act.

Fiksie en feite ontmoet mekaar in Berend Mets se historiese fiksie-verhale en beide boeke bring die feite so akkuraat moontlik na vore. Die skrywer sê dat hy “nie met die waarheid of feite mors nie”. Alhoewel die karakters en van die gebeure fiktief is, dra die historiese feite by tot die geloofwaardigheid van die storie.

Ons sien hoe mag die waarheid kan verdraai en politieke oortuigings die motivering raak om mense van hulle regte te skend, terwyl ’n logiese verklaring daarvoor gegee word.

Die krag van verraad, vergifnis, liefde en verlies word toegevou in hoop. Hoop en die ideaal om te vergeet van ons verlede en aan te beweeg na Desmond Tutu se reënboognasie.

Immorality act, die voorloper

Immorality act was die skrywer se eerste historiese fiksie. Hierin het hy die geskiedenis van Suid-Afrika pre-demokrasie gebruik om sy drie hoofkarakters se storie te vertel. Hy delf dieper in die psige van liefde met die situasie van ’n liefdesdriehoek buite die kleurgrense. In die 1960’s was dit ’n taboe-aksie wat tronkstraf kon beteken. Die protagonis se fiktiewe verlede vertel van ’n marteling en swaarkry agter tralies. Tog waag hy dit om die Wet op Onsedelikheid, die Ontugwet (Wet No 21) van 1950, te oortree vir liefde. Die roman ondersoek nie net die gevolge hiervan nie, maar ook die rede daarvoor.

Die skrywer vertel die storie van die konsep van liefde: hoe liefde oorwin ten spyte van, terwyl hy die kern van Suid-Afrikaanse geskiedenis, en selfs die Afrikaner se geskiedenis, gebruik as kruk om die verhaal ’n waardige een te maak.

Truth & conciliation

Die tweede roman kom met ’n stewige 328 bladsye en dra ewe veel historiese besonderhede. Die invalshoek is verhore van die Waarheids-en-Versoeningskommissie in 1996.

“Ek het al 99 episodes deur die SABC gekyk en geluister,” vertel Mets. Hy beskryf dit as “absoluut briljant”. Hy sê voorts dat die program gehelp het om die vertellers tydens die verhore te eer en dat dit so die weg help baan het vir versoeking in Suid-Afrika.

 Truth & conciliation se storie begin na die Sharpeville-slagting en die karakters ontwikkel uit die eerste boek.

Hoe kan ’n persoon ’n ander martel, huis toe kom en dan steeds ’n goeie man en ouer wees?

Mets delf in die karakter se politieke oortuiging en motivering in; dit waarmee hy sy dade regverdig om met homself te kan saamleef.

Storieverteller

Berend Mets is ’n storieverteller en geniet dit ewe veel om fiksie en nie-fiksie te skryf. Hy geniet die proses: die beplanning, die konstruksie, om te gaan sit en skryf, die redigering en selfs om die titel te kies. Vir Mets is dit belangrik om die storie vir die leser opwindend te maak en dit is lekker om ’n plek te skep waar fiktiewe en ware karakters geskiedkundige ervarings kan hê.

Hy erken wel dat jy met fiksie die omgewing en menslike aspekte soveel beter kan weergee. “In fiksie kan jy net soveel beter stories vertel. Historiese fiksie gee lewe aan die geskiedenis en maak dit minder vervelig.”

As mediese dokter en professor het Mets verskeie akademiese en mediese artikels, boeke en joernale gepubliseer. Met sy eie loopbaan van bykans 40 jaar in die mediese bedryf en veral in die veld van narkose, skemer sy passie vir die geskiedenis van die mediese bedryf deur. Met sy besluit om sy hand aan fiksie te waag het hy sy meestersgraad verkry in skeppende skryfwerk.

Burger van die wêreld

As Amerikaanse burger is Mets se wortels steeds sterk geanker in Suid-Afrika en besoek hy gereeld Suid-Afrika waar hy dan groot dele van sy boeke skryf. Dit mag hom dalk net die vars oog gee wat nodig is om suksesvolle historiese stories te skryf. Sy drie toplande wat hy as huis beskou, is Amerika, Suid-Afrika en Nederland. Hy luister RSG, volg wat in sy eertydse tuisland aangaan en is vol lof vir Suid-Afrikaanse skrywers.

“Suid-Afrika sal altyd huis wees. Ek het hier grootgeword en gestudeer.”

Hy is in Indonesië gebore. Mets se Nederlandse ouers het die gesin in Suid-Afrika kom vestig, maar toe hy 10 jaar oud was, het Mets reeds op die Wes-Indiese Eilande, in Nederland, Indonesië en Singapoer gewoon.

Van lande waar daar geen rasseskeiding was nie, moes hy na Suid-Afrika verhuis. “Ek was kleurblind tot die ouderdom van 10 jaar en moes toe skielik hierdie nuwe realiteit leer ken, sonder om dit te bevraagteken.”

Die idee van goed en sleg, verskillend, maar ongelyk is iets wat hom bygebly het. Soos hy ouer geword het, wou hy stories daaroor vertel. Dit was die dryfkrag agter die scenario’s in sy twee fiksieboeke.

Nederlands as taal en 90 lande

Mets se ouers was van Nederland, maar hy is ewe goed Afrikaans en Engels magtig. Sy Nederlands is goed steeds en hy het Nederland al 20 keer besoek. Hy is met ’n Afrikaanse vrou getroud.

Hy ervaar Nederlanders as goed georganiseerd, eerlik, reguit en hardwerkend.

Mets sê daar is “soveel Nederlands in Afrikaans” dat hy vermoed dat dit natuurlik moet wees vir Suid-Afrikaners om aangetrokke te voel tot die Lae Lande se kultuur.

Die egpaar het een seun en alhoewel hulle Engels praat in Amerika, het hulle hom Nederlands grootgemaak. Mets vertel laggend dat sy seun vir die eerste vyf jaar van sy lewe gedink het sy ouers kan nie Engels praat nie. Die knaap het selfs aangebied om ’n Engelse gesprek vir hulle te vertaal. “Hy kan ook so bietjie Afrikaans praat,” sê Mets.

Mets is ’n oggendmens en hou van koffie. Gee hom eerder ’n biefstuk (goed gaar) as pizza. Vir troeteldiere is daar vir hierdie besige skrywer nie tyd nie.

Met sowat 90 lande wat hy al besoek het, voel Mets baie geseënd. Hy kon al verskeie van die wêreld se wonders aanskou. Na afloop van hulle mediese studies, het Mets en sy vrou in die buiteland getoer met rugsakke.

“Ek wil nog graag Antarktika en Jerusalem besoek,” voeg hy by.

Wat volgende?

Mets gee toe dat daar nog ’n historiese roman aan die broei is, dié een met ’n mediese tema. Sy inspirasie het gekom uit die dood van Steve Biko en die implikasie van mediese dokters in sy dood. Gekombineer met sy eie persoonlike ervarings, het hy nog ’n storie ontwikkel, een waarna ons beslis kan uitsien.

“Dit is groot pret,” sê Mets, “jy moet baie navorsing doen en leer.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top