...........
“Saans sit ons op ons stoepie voor slaaptyd en kyk die sterre, met die reuk van die gras, krieke en paddas in die donker nag al wat jou geselskap hou.”
...........
’n Jaar gelede, toe die winter in die Kaap reën en koue bring, het ek die laaste besprekings vir ’n Bosveld-vakansie so al om die Krugerwildtuin in die noorde van die land bevestig. Met inperking is daardie reis nou een van die kosbare herinneringe wat soveel mense staande hou in hierdie onsekere tye. Met ’n glas Kleine Zalze Vineyard Selection voor my kaggel in die Kaap herleef ek weer elke oomblik.
Met twee bokse Kaapse wyn op die vliegtuig – vir 15 dae se drink so al kuier-kuier op ongelooflike plekke in die Bosveld onder ’n kremetartboom met ’n leeu se brul in die verte – is ons noorde toe. Ons het by drie verskillende kampe in die Extraordinary-groep hotelle en lodges in suider-Afrika en ook by Walkersons in Dullstroom vir ’n paar dae se Skotland-in-Suid-Afrika-gevoel bespreek.
Ons wou ’n paar nagte in die veld in luukse tente slaap, maar ook die gerief hê van ’n lekker groot leefvertrek en etes en wildritte ingesluit. Gidse is altyd van onskatbare waarde om die meeste moontlike diere te sien en dis darem maar lekker om met sonsak ’n drankie te geniet wat iemand anders vir jou neffens ’n wildkykvoertuig skink.
Van Lanseria Internasionale Lughawe kies ons koers Bela Bela toe. Die dorp se naam klink soos iets wat jou onder die Bosveld-son in ’n lui hangmat aan die slaap kan sus. Met die stand van renoster- en olifantstroping in Afrika vra wildlodges gaste om nie foto’s van die renosters wat hulle op wildritte teëkom, op sosiale media te deel nie. Met hierdie gedagte kom ons laat een middag by Mabula se Safari Plains aan, en soos ons tussen die hek en ontvangs ry, stop ons vir troupante, neushoringvoëls, ’n koedoe-ooi en haar kalfie.
Ons ry verder en raak opgewonde toe ons rooibokke en ’n duikertjie in die lang gras sien staan. Die gedagte aan hoe ons ons tasse gaan neersit en net vir ’n paar minute agteroorval op die reusebed in ons tent, stort en asemskep, laat ons opgewonde voortry. Ons het immers halfses opgestaan vir die vlug, toe vir ’n uur in verkeer gesit, en toe is ons vlug twee ure vertraag.
Wat ons nie verwag nie, is ’n verkeersknoop van ’n ander aard: drie volwasse renosters in die klein stofpaadjie waarop ons ry.
Ons draai al die ruite af, sluit die motor af, sit ons hande op ons skote en luister en kyk. Die veld is so doodstil dat ek kan hoor hoe die renoster naaste aan ons aan die kort grassies op die grond kou. Kort-kort wikkel hul ore, maar hulle lyk ongehinderd deur ons motor. Die drie stap stadig, al kouend, nader aan ons voertuig. Ek glo hulle kan ons harte in ons borskaste hoor klop.
Die son val sag oor hul vaal lywe en die voorste een waai sy kort stertjie en die stof trek by sy reuselyf verby. Lank sit ons so. Skielik is die moegheid weg. Ons neem nie foto’s nie, maar drink elke sekonde se magiese heiligheid in.
Toe die gids, Tiaan Muller, met ons aankoms by ontvangs vra of ons wil rus of kans sien vir ’n wildrit, is ons vinnig op die voertuig.
Langs hom op die sitplek lê ’n reusekameralens en kamera, sy selfoon en voëlboek. Ons draai ons toe in die kombersies en vra uit oor die tentkamp. Dis deel van Mabula Lodge, vertel Tiaan, wat Safari Plains en Madjuma insluit en altesaam meer as 13 000 hektaar beslaan. Die verskillende dele van die park het verskillende diere, maar so tussen die drie kan jy die Groot Vyf sien en jou ook verlustig in ’n ryk voëllewe, lui seekoeie en krokodille en ruie bome, gras en bossies.
Geen privaat ritte word in die reservaat toegelaat nie en as jy jou motor parkeer, sien jy hom eers weer wanneer jy vertrek. Jy sit die res van die tyd agteroor, eet en slaap soos ’n koning, en word op wildritte uit die boonste rakke trakteer.
Ons noem vir Tiaan dat ons van voëlkyk hou en hy lag toe hy sê: “Julle gaan moeg word vir voëltjies as julle saam met my ry, want ek is mal oor voëls.” Hy lig sy foon en gaan deur sy fotoalbum: honderde foto’s van voëls en wild.
“Ek het nou die dag die koningblousysie gesien,” vertel hy opgewonde en wys ’n foto van die piepklein voëltjie met sy pers vere om sy ore.
Ons ry by een hek uit, oor ’n grondpad, by die ander hek in.
Tiaan se Afrikaanse beskrywings van sekelbos, vaalbos, die wilde sering (of die FNB-boom), wit katlagter, grysloerie, spreeu, hardekoolboom en geel dekgras is musiek vir die ore. Sy entoesiasme oor diere, voëls, bome, gras en dierspore is aansteeklik, en teen die tyd dat ons om ’n draai gaan en olifante in die lang dekgras gewaar, is ons heel begeesterd. Die paar olifante stap stadig in die nou stofpaadjie, reguit in die sakkende son in. Die lig is skerp in ons oë, maar die stof wat hul reusevoete opskop, hang soos ’n rookwolk om hulle en laat die son se strale deur die goue gloed dans.
Vir die tweede maal binne ’n uur word die enjin afgeskakel en sit ons en geniet net die oomblik. Net voor ons wegry om te kyk of ons hulle van ’n ander hoek kan sien, lig my man die kamera en neem vinnig ’n paar foto’s.
Ons ry verby blouwildebeeste en ’n enkele vlakvark, en toe ons later wonder oor die geluid wat ’n voël maak, haal Tiaan sy foon uit, open die Roberts-voëltoepassing en speel die geluid vir ons.
Met sononderdrankies by die water teug ons aan Jakkalsvlei se cabernet sauvignon en sien seekoeie, visvangers, visarende, kormorante wie se voete trap-trap op die stil water en die water stadig in reusesirkels wat al groter na buite word, laat uitkring.
“Dan vra toeriste my hoekom ek hierdie werk gekies het,” mymer Tiaan met sy koeldrank in sy hand, terwyl hy na die spelende seekoeie staar. “Gaan die son enige ander plek op aarde so mooi onder soos hier oor die Waterberge?” vra hy half ingedagte.
Ons kuier voor die kaggel met ’n driegangmaaltyd uit die boonste rakke en loer na die wynlys. Dis die Flagstone Poetry merlot wat ons oog vang. Dié kelder is 1 km van ons huis in die Kaap en een van ons gunstelinge. Dit gly heerlik saam met my beeshaas en sampioensous af.
Die sterre is silwerblink bo ons koppe toe ons die aand ná ete na ons tent stap. Môre wil ons die omgewing verken, maar die reuse- tentagtige stoepie langs ons tent lyk ideaal vir heeldag lees en slaap. En dan is daar nog wildritte en die swembad en koek en tee ook.
In ons kamer wag ’n bottel JC le Roux Vibrazio sauvignon blanc op die ys en dis waarmee ons die volgende oggend se leesure verwyl. Die wintersonnetjie bak ons lui en kort-kort sluimer een van ons op die reusedagbed in en jy voel stadig maar seker hoe die werkstres wyk.
Dis eers die dag daarna dat ons vroegoggend weer uitgaan met Tiaan en leeus raakloop. En weer in stilte die pragdiere gadeslaan, terwyl die sonnetjie lui oor die heuwels opkom.
Hy verstaan die behoefte aan net wees, en die stiltes op die voertuig is koesterend. Af en toe wys hy ’n dier uit, maar daar is die wederkerige verstaan dat die windjie in ons hare, die vars Bosveld-lug en die landskap salf vir die stadsiel is.
Hy vertel later dat die rede waarom die meeste mense by Bela Bela kom kuier, die warmwaterbron is wat die dorp vir jare as Warmbad bekend gehad het. Die Forever Warmbaths-oord in die middel van die dorp is die ideale manier om ’n dag met die familie om die warm en koue swembaddens, in die waterglybaan of op die skidam te kuier. As ouers ’n wegbreek nodig het, bespreek ’n spa-dag.
Drie oggende later ry ons van nuwe vriende by Safari Plains weg. Ons sien vir oulaas olifante en stop vir ’n foto van ’n troupant voor ons regmaak vir ’n hele paar uur in die motor, op pad na vriende.
Ons bly ’n nag of twee oor by vriende en deel ons Kaapse wyne gretig. Die kaggels word gestook en ryk pastas en watertand winterpoedings kom sit lekker maklik op ons middellywe, ons siele gevoed deur vriendskap en sorgelose ure op die pad, waar die land se pragtige landskappe verbyflits.
Op ’n yskoue wintersoggend, sowat 10 km anderkant Dullstroom, draai ons af vir twee nagte se verblyf by Walkersons Hotel & Spa, ’n pragtige groepe klipgeboue. As jy na jou vrystaande kamer stap wat deel vorm van ’n halfmaan om die restaurant, ontvangs en kroeggebou, kan jy jou verbeel dis die Skotse platteland hierdie.
In The Flying Scotsman Restaurant brand daar daagliks sommer twee kaggels, en sjef Natasha Smit en haar span bekwame kelners – van wie sommige al sedert 1996 hier werk – laat die vier gange foutloos uit die kombuis vloei.
Die wynlys is 20 bladsye lank en mens wens jy het tyd gehad om elke bottel te bestel en langs die damme te geniet. Tussen die kultivars is daar oulike wynaanhalings, soos hierdie een van André Simon: “Wine makes every meal an occasion, every table more elegant and every day more civilised.”
Heelwat wyne is gelukkig per glas beskikbaar en jy kan verskeie met jou verskillende kosgange geniet.
Ons kuier op die Vergelegen cabernet franc/merlot-versnit voor die kaggel, en toe ons vinnig kamer toe stap na aandete, is ek verheug dat die personeel nie net ons beddens berei het nie, maar ook ons eie kaggeltjie gestook het. Die Rustenberg Straw Wine is yskoud en lieflik voor slaaptyd.
Vir twee dae doen ons geen verkenning in die dorp nie. Ons neem kort slapies in die sonnetjie ná reuse- laat ontbyte, lê in die spa en stap die pragtige landgoed plat. Ek maak ’n dik roman klaar en kry uiteindelik kans om daardie gesig- en haarmasker in my tas te gebruik.
Gesinne vlieghengel met oulike waterstewels aan en stap terug na hul huisies en gaan sit smiddae op die stoep voor die restaurant en saans voor aandete – kuier almal soos ou vriende in die knus kroegie.
Twee heerlike dae in Nelspruit waar ons die botaniese tuin opsoek, in boekwinkels sit en lees en uitry Kaapse Hoop toe vir koffie, en ons is weer op die lang pad: Krugerwildtuin toe.
Soos ons die trappies twee uur na ons deur Orphen-hek is, by Hamilton’s-tentkamp opstap en koue lappies kry om ons warm gesigte mee te lawe, sê die bestuurder, Johan Mangane, dat ons lekker moet ontspan, hier is geen ontvangs nie. My paniek wil-wil by my mond uitborrel, maar steek droog in my keel vas.
Minute later, met yskoue ystee, roep die visarend in een van die bome neffens ons. Johan sien ons verbasing en skaterlag. “Ons reël dit spesiaal vir gaste wat só gewoond is aan stadsgeraas dat ons met die natuur ooreenkom vir agtergrondgeluide.”
Ek besef hoe nodig ek tyd sonder ontvangs het.
Ons stap na tent nommer 3, op die houtpaadjie wat hoog in die lug tussen die bome deurvleg. Onder wei bokkies in die gras, maar dis die groter spore in die sand en vars olifantmis wat jou laat besef hoe na aan die natuur jy nou eintlik is. Voor lê die N’waswitsontsorivier, wat in die reënseisoen ’n dik stroom water is, maar in die winter net hier en daar groot poele het. Dit maak die kamp ideaal geleë, omdat jy vanuit elke tent en by die ontvangsdek op die waterpoele, waar diere kom water drink, kyk.
Die kamp het net ses tente en geen kinders onder 12 word toegelaat nie, dus is daar maksimum 12 mense per dag in die kamp. Stilte – behalwe die oorverdowende geraas van die natuur – is al wat jy hier ervaar.
Die houtdek waar jy maaltye geniet of met drankies ontspan, is rondom reusetambotie- en worsbome gebou. Bedags lê gaste langs die swembad of kuier op die dek met drankies en verkykers.
Drie-uur is koffie en koek en daarna vertrek die wildkykvoertuie veld toe. Omdat die drie lodges, Hamilton’s, Imbali en Hoyo Hoyo, konsessies het, mag hulle op paaie ry waar die publiek nie kan nie en met spesiale toestemming van die hoofveldwagter ook van die tweespoorpaadjies afry as daar dieper die bos in iets is om te sien. Ons veldgids, Darryl Sheedy, het as’t ware in die bos grootgeword en het ’n voorliefde vir spoorsny.
Kameelperde vreet ongestoord verder en op ’n draai staan een met so baie renostervoëls op sy lang nek dat daar nie een enkele bruin kol is waarin daar nie ’n voël sit nie.
Darryl vertel dat hulle van somerreën afhanklik is, maar dat die veld in die winter maar bitter droog is. “Hierdie is bewaring op sy beste. Daar word nie met die natuurlike gang van die natuur ingemeng nie.”
Die Britse paartjie saam op die voertuig is al vier dae gaste by Hamilton’s en het die Groot Vyf gesien. Daar is ’n rustigheid op die voertuig, omdat niemand verwagtinge het nie.
’n Olifantbul staan teen die pad en vreet lang, goudgeel gras wat hy met wortel en al uittrek. Darryl skakel die enjin af. Dit voel of jy aan die olifant sou kon raak as jy ver by die voertuig uitleun. Hy is onverstoord. Lank staan die tyd stil en al wat saakmaak, is die kosbare minute in die stil veld, terwyl sy kake die gras maal en sy slurp nog polle uitpluk.
Twee steenbokkies wei naby die rivier en Darryl sê dis snaaks om hulle voor sononder saam te sien. “Hulle paar vir die res van hul lewe, maar bedags wei hulle apart. Mens weet natuurlik nie wie elkeen sien gedurende die dag nie …” Die Britse vrou merk droog op: “Sy vertrou hom nie, daarom laat gaan sy hom nie onder haar oë uit nie!”
Bobbejane staan kop onderstebo, boude omhoog, en drink water, terwyl kleintjies met groot, pienk ore waardeur die son skyn as hulle op ’n sekere manier staan, in die modder baljaar. ’n Hiëna, ’n verskeidenheid bokke en oorvloedige voëls vul die res van die middag, maar ’n leeubrul laat Darryl by heelwat van hierdie diere verbyry, op soek na die ontwykende koning. ’n Leeu is ons egter nie op ons eerste middag beskore nie.
Voor ete sit almal met drankies en kyk uit oor die verligte waterpoel, die vars dierespore van laatmiddag die enigste bewys van die diere wat net agter die eerste ry bosse vir jou loer.
Op die tafels lê antieke verkenningsprodukte: ou safarihoede; verkykers; ou kaarte van die omgewing, reistrommels, inkpotte en leertasse.
Aandete is verruklik. Ek verbeel my die houtstellasie onder die paadjie terug tent toe kraak effe harder as vroeër en dit kan net aan ooreet te wyte wees.
Die klein balkon voor die tent wink uitnodigend en net die ligte by die waterpoele verlig die donker nag effe. Die veld raas oorverdowend met naggeluide, die paddas en krieke, en ons kyk op na die sterrehemel, wat onbesoedel bo ons koppe hang. Terwyl ons later by kerslig in die bad lê, hoor ons die leeu oorkant die rivierloop grom.
Die hiëna wat vroegaand so louwarm takseer is, se gelag weerklink kort-kort en laat die hoendervleis teen my rug afkruip. Die hele nag deur is daar kort-kort ’n ander gegrom of gehuil iewers in die donker.
Darryl klop halfses die volgende oggend aan die tent se deur. Koffie wag in die ontvangsarea en net voor sesuur gooi ek die poncho oor my kop, draai die kombers om my lyf en trek my serp oor my mond.
Ons gaan soek die ontwykende leeu van die vorige aand en kort-kort stop Darryl, skakel die enjin af, en vyf pare ore luister. ’n Hele paar keer kom die diep grom iewers uit die veld. ’n Paar keer praat Darryl oor die radio met ander veldgidse.
Dis vriesend. Darryl sê ons gaan baie stadiger ry “tot die son begin werk” en daarna kan ons meer avontuurlustig soek na diere en effe vinniger as 25 km per uur ry. Kort-kort stop hy en bekyk spore op die grondpaadjie. Ons wonder of hy na iets spesifieks soek. “Ja, ek kyk of daar ysbeerspore is,” vertel hy laggende.
Na ’n uur of wat kies ons koers in die ander rigting om te gaan kyk wat ons vroegoggend kan sien. Daar is waterbokkoeie met jong kalfies wat nog aan hulle suip, met die flou sonnetjie wat hul buitelyne met goud omsoom; verskeie olifante; troppe impalas en vyf kameelperde. Ons stop by ’n boom om na ’n bromvoël hoog in die takke te kyk. Dis die eerste maal dat ons die voël – waarvan een van die Engelse name, ground hornbill, juis daarop dui dat dit gewoonlik op die grond voorkom – in ’n boom sien. Darryl vertel dis een van die mees bedreigde voëlspesies, wat in 2002 op die bedreigdespesielys geplaas is. “SANParke het ’n groot projek geloods om hul getalle te laat styg en dis wonderlik om nou al meer van dié voëls te sien,” vertel hy.
Die bromvoël paar sy hele lewe lank en wanneer een van die paartjie doodgaan, soek en roep die ander een vir die res van sy lewe. Net twee eiers word elke sewe jaar gelê en sodra die eerste eier uitbroei, pik die kleintjie die ander eier stukkend, sodat daar net een kuiken oorleef. As daardie een kuiken die prooi word van ’n roofdier, is dit sewe jaar voor die wyfie weer eiers lê; dis een van die redes hoekom hulle getalle begin taan het.
“SANParke het begin om een van die twee eiers uit die nes te neem en apart te laat uitbroei, sodat die getalle kan groei.”
Darryl stop in die middel van sy sin, verstel die volume op sy radio en sê dan: “Die ander voertuie het die leeus gewaar.”
Dis net die Cruiser se enjin wat die oggendstilte verbreek. Die windjie sny koud toe die voertuig die tweespoorpad verlaat en deur die bosse ry. Nie lank nie of ’n tweede wildkykvoertuig is sigbaar en Darryl verduidelik dat die voertuie twee-twee na die leeus toe gaan om al die gaste ’n kans te gee om dié pragdiere te sien.
Hy beduie die leeus lê nie ver voor ons op ’n oopte, terwyl hy stadig agter die ander voertuig aanry. Die harde sisgeluid en stofwolkie wat uit daardie voertuig se agterband spuit, is natuurlik nie goeie nuus nie. Binne sekondes lê die voertuig skeef in die veld; die band pap.
Darryl ry verby en trek tussen die leeus en voertuig in sodat die veldgids die band kan ruil. Ons sien drie leeus: twee wyfies en ’n agt maande oue welpie. Hulle sit regop en kyk baie belangstellend na die veldwagter. Darryl klap sy hande om hul aandag af te trek en dis eers met die heen-en-weer-gekyk dat die ander twee leeus neffens die voertuig sigbaar word.
Die veld word weer stil, asof alles asem ophou en onsigbaar wil wees. Die minute sleep verby. Gou is die band geruil en die gids terug in die voertuig. Lang minute sit die twee voertuie knus langs mekaar met verwonderde gaste agterop, wat eers ywerig foto’s neem en toe net kyk, luister en inasem.
Mens is amper spyt dat jy weer moet aanskuif, maar gelukkig is dit ’n entjie weg tyd vir koffie en beskuit. Ons 4x4-eskapades agter die leeus aan het ons band lelik gesny en Darryl vervang ons pap band terwyl ons koffie drink.
Net na tien is ons terug by die kamp; omelette, croissants en koffie wag. Die buitestort met die sonnetjie wat op jou rug bak is ’n welkome lafenis om die vroegoggend-opstaan af te spoel. Nie lank nie, of middagete word bedien, dan koffie en koek, en die siklus begin weer.
Maaltye is feestyd. Die wynlys verduidelik dat Suid-Afrika spesialiseer in chenin blanc en ons eie pinotage. Alvi’s Drift buite Worcester se wyne is ingesluit by die oornagprys. “Saam met wonderlike Cabernet Sauvignon van Stellenbosch, koel-klimaat Sauvignon Blanc, Chyardonny en Pinot Noir van die Elginvallei en Syrah van die wêreldbekende Swartland-streek, bied ons jou ’n wye keuse van Suid-Afrikaanse wyne.”
Die volgende bladsy het ’n oulike kaart van die Kaapse wynlande en van die plase waar die wyne vandaan kom, om jou idee te gee van die ligging.
Vir jou eie rekening kan jy ook lekker yskoue sauvignon blanc van Kleine Zalze en Trizanne, chenin blanc van Remhoogte en Alheit, chardonnay van The Valley en Eikendal, rosé of ’n wit versnit van Elgin Vintners, Huis van Chevallerie en Eikendal bestel.
Op die rooiwynlys is cabernet sauvignon van Laarman, Kleine Zalze en Dalla Cia; merlot van Three Peaks en Eikendal; shiraz van Doran en Terracura; pinotage van Three Peaks en Fram; pinot noir van The Valey; en JH Meyer en rooi versnitte van Dalla Cia en AA Badenhorst.
Smiddae as ons op die houtdek vir middagete aansit, geniet ons eers ’n glasie Methode Cap Classique Brut van ons gunsteling, Villiera buite Stellenbosch, maar die Huis van Chevallerie Circa Rosecco Brut met sy ligte salmkleur is die ideale pasmaat vir nagereg.
Die aande is die luggie ysig en dan smul ons aan hartlike rooivleisgeregte wat jou na jou ouma se kombuistafel en die lang, koesterende etes daar laat verlang. Dan gly die rooiwyne uit die Kaap darem maar te lekker af.
Saans sit ons op ons stoepie voor slaaptyd en kyk die sterre, met die reuk van die gras, krieke en paddas in die donker nag al wat jou geselskap hou.
Ons het nie ver om te ry na ons laaste kuierplek in die wildtuin nie: Imbali Safari Lodge, die derde bestemming in die Extraordinary-groep waarby ons bespreek het.
Die program is soortgelyk aan by Hamilton’s, met wildritte soggens vroeg en teen sonsak verruklike namiddagtee en drankies voor ete op die houtdek.
Die een wildrit was ’n gebeurtenis: sewe leeus reg langs ons voertuig, koeëlronde boepense nadat ’n koedoebul vir middagete geoffer is.
Maar hier sit ons ook vir ure op die wye houtstoep en kyk oor die watergat oorkant die N’waswitsontsorivier, wat deur tamboti’s omraam word. ’n Groep olifante drink water, blaas wye modderstrepe teen die potblou lug. ’n Jakkalsie probeer vergeefs om sy bek in die water te kry; as dit lyk asof niemand loer nie, tree hy versigtig nader, maar oombliklik klap ’n olifant sy ore en mik-mik in die jakkals se rigting.
Die kameras kliek om ons; die oe’s en aa’s uit Japan, Indië en Engeland bring ’n patriotiese glimlag na my gesig: dis wonderlik om mense só in vervoering te sien.
Dis asof ons die ure daar naby die watergat vir altyd wil verewig in ons geheue en harte.
Nooit kon ons weet dat skaars 12 maande later daardie herinneringe ons deur ’n baie donker tyd in die wêreld se geskiedenis gaan dra nie.
Goed om te weet
- Hekgelde vir die Nasionale Krugerwildtuin geld, ongeag na watter privaat lodge of kamp jy gaan. Besoek https://www.sanparks.org/parks/kruger vir meer inligting.
- Bespreek vir die drie kampe en ook vele ander as deel van die Extraordinary-groep by res@extraordinary.co.za of www.extraordinary.co.za.
- Bespreek by Walkersons Hotel & Spa by 013 253 7000 of https://www.walkersons.co.za.
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf