Newtown in Johannesburg is nie altyd toeriste se eerste keuse vir ’n paar dae se verkenning van die Goudstad nie. Dié voorstad van Johannesburg is skaars ’n eeu oud en het as nywerheidsgebied ontstaan waar onder meer bakstene vervaardig is. Tussen die verval deur klop daar ’n wonderlike Afrika-hart.
Daar is verskeie redes hoekom ons vir drie dae in Newtown kuier. Een hiervan is die feit dat Damon Galgut se boekverwerking, The Promise, by die Markteater op die planke is, dat ons graag die twee-dag-toer op die rooibus van City Sightseeing Joburg wil onderneem om ook Soweto te ervaar; ons wil in die City Lodge Hotel Newtown oorbly om waarlik die hart van ou Johannesburg te ervaar en ek wil weer ’n slag oor die Nelson Mandela-brug ry. Ons vier vanjaar die brug se 20ste verjaardag.
So land ons vroegoggend op OR Tambo en ’n vriendin se gul glimlag anderkant die glasruite by binnelandse ontvangs lei ons ervaring in.
Sy neem ons na die hotel, die City Lodge Hotel Newtown, op die hoek van Carr- en Miriam Makebastraat. Ons hotelkamer is hoog in die lug en gee ’n wonderlike uitkykpunt oor die stad. Van die trappe binne die hotel se glasruite sien jy die Markteater na verregs, die pragtige muurkuns van Miriam Makeba na regs en die Nelson Mandela-brug na links.
Die Markteater is heel gepas só genoem, omdat dit in die ou groente- en vrugtemark gehuisves word. Wat ’n wonderlike ligging om te hê.
Interessante feiteborde oor die geskiedenis van Newtown vertel alles wat jy wil weet.
Ons is bevoorreg om die blinknuwe Ford Everest Next Gen XLT te mag toetsbestuur en ons het skaars ons tasse neergesit, die lekker kaas- en vrugtebord in ons kamer met ons vriendin gedeel, toe ons in die steenkoolkleurige wa klim en die stad gaan verken. (’n Foto voor die muurkuns van Miriam natuurlik eerste!)
Maar dis toe eers in die voertuig dat ek kans kry om die handgeskrewe kaartjie van die hotelpersoneel wat in ons kamer gewag het, te lees: “Dankie. Wanneer laas het iemand dankie gesê? In die gejaag van vandag se wêreld vergeet ons dikwels wie en wat belangrik is. Jy is belangrik en ons wil dankie sê.”
Sjoe, ek wil sommer omdraai en gaan dankie sê! Ek het juis gelees dat die hotelgroep gaafheid as hul kerndoel het. Personeel werk elke dag met mense wat hul eie stres-oorlog voer en die groep het onlangs hul handelsmerk herposisioneer met die slagspreuk: “Life is hard. Check into easy.”
Ons het ons waterbottels by die hotel hervul. By die waterverkoeler is daar glas glase, sodat daar nie enkelgebruik plastiek is nie. “Onwetend is jy ’n groenkryger,” verkondig ’n teken.
Die bestuur van die hotelgroep het waarlik aan alles gedink. Selfs om gaaf met die planeet om te gaan.
Soggens is ons amper eerste by die lekker buffet-styl ontbyt, teug aan ons cappuccino’s en besluit wat die dag gaan inhou.
Die City Sightseeing-bus vertrek van The Zone-winkelsentrum in Rosebank en tegnies is ons om die draai en ons kon seker vir ’n hotel-optel gevra het, maar dit sou beteken ons mis ’n rit in die Ford en ons wil dit nie doen nie!
Die busbestuurder van ons rooibus ken sy storie. Hy sê die Goudstad draai alles rondom om op die regte plekke gesien te word. Ons ry by ’n paar skreeuende hadedas verby en hy merk droog op: “Hadedas is nie op voëlkykers se emmerlys nie, maar is eie aan Jozi en daarom het hulle die naam gekry as vlieënde vuvuzela.” Ons ry verby die deftige Melrose Arch – ’n voetgangervriendelike ruimte met winkels, restaurante en verblyf – en hoor dit was tot 2001 ’n woonbuurt wat opgekoop, gesloop en herontwikkel is. Dis die speelplek van die rykes.
Die bestuurder vertel baie interessante staaltjies, maar dis sy lewenswysheid wat my bybly: “As jy oor vyf jaar terugkom sal dinge hier heeltemal anders wees. Suid-Afrikaners het die ongelooflike vermoë om positief te bly en vooruit te gaan. Ons verbind ons verledes om vorentoe te gaan.”
Hy sê mense dink dalk omdat daar 13 kulture is wat hulself Suid-Afrikaners noem, dinge nie altyd vlot verloop nie. “Maar soos Madiba altyd geglo het: Dit lyk onmoontlik tot dit gedoen is.”
Terwyl ons deur Houghton ry, waar baie van ons politici gewoon het, speel “Mama Tembu’s Wedding” oor die luidsprekertjie en almal se voete tik ritmies saam.
Toe hy van Desmond Tutu praat wat in 1984 die Nobelprys vir vrede ontvang het, speel die arch se aansteeklike laggie in jou ore. Ek besef hoeveel ek sy aansteeklike positiwiteit en menslikheid mis.
Ons gaan draai by Constitution Hill en hoor die mure was deel van die Anglo Boereoorlog en van ons land se bekendste politieke name is later hier opgesluit. “Daisy de Melcker wat in 1932 dood is, se spook stap steeds rond,” vertel hy met ’n groot glimlag.
Toe ons nader aan die hotel ry, gee hy ’n bietjie insig in die verval. Hy sê die verval is te danke aan nuwe komplekse soos Sandton City wat opgeskiet het. Geboue in die ou deel van die stad het vakant geraak en haweloses het ingetrek. Daar is verskeie projekte onderweg om hierdie areas weer te laat herleef.
Die strate is besig, stalletjies en handelaars op straat aan’t sake doen en kibbel. “Dit klink chaoties. Maar dis polsend met energie. Hierdie energie is verslawend,” kom dit van hom af.
Hy probeer draai in die amper te nou straatjies van Johannesburg en verduidelik die rede vir die noutes is omdat ontwikkelaars gedink het die goudkoors sal vinnig oor wees en dit sal ’n spookdorp word. Hulle kon nie voorsien dit sal die finansiële sentrum vir die hele kontinent word nie.”
Oral in die stad word daar hulde gebring aan die myndorp-geskiedenis waaraan Johannesburg sy ontstaan te danke het.
Nog ’n ode aan die stad se myngeskiedenis is hierdie 125 ton-trok wat deur Kumba Iron Ore geskenk is. Die trok is 20 jaar oud en het sy diens gedoen. Dis meer as 6 m hoog en laat enige mens soos ’n dwergie lyk!
Johannesburg Dieretuin het in 1904 geopen en hier kan jy die Groot Vyf sien.
Hy sien ons bekyk die wolkekrabbers en gewoel en sê dis moeilik om te glo dat in 1886 hier grasveld was en skaars 140 jaar later staan ’n polsende Jozi.
Hy verklaar dat tussen 3,2 en 12,3 miljoen mense hier leef: Vier maal groter as Londen. “En dit was een van die slegste plekke om ’n stad te bou – die hoogte bo seespieël is 2000 m en hier is geen betroubare water nie. Jozi is die grootste stad in die wêreld wat nie op ’n meer, rivier of oseaan gebou is nie. Maar Jozi is soos ’n haai – sterk en altyd aan’t beweeg om te oorleef.”
Nadat ons die stad se bekendste bakens gesien het, kon ons op- en afklim waar ons meer wou leer. Dan is dit op die toerbussie na Soweto. Ons is van die bitter min Afrikaanssprekendes en besluit om stil te bly en tussen die ander toeriste weg te smelt en die ervaring soos ware toeriste mee te maak.
Daar is Nederlanders en Duitsers voor en agter ons op die sitplekke – soos ware passasiers in ’n taxi. Die gids vertel van die vakansiedae wat ons vier in hierdie land en dat die meeste van hulle politieke motiverings het. “Wat veral vandag noodsaaklik is, is Jeugdag, wat ons op 16 Junie vier, en ook Menseregtedag op 21 Maart. Hoewel Menseregtedag die 1960-tragedie in Sharpeville – sowat 70 km hiervandaan – gedenk, gaan ons nie soontoe ry op hierdie toer nie. Maar dit skakel goed in by Suid-Afrika se stryd om vryheid en gelykheid.
“Soweto was die agtergrond van ons Jeugdag: Op 16 Junie 1976 is skoolkinders onder koeëlreën afgemaai – omdat twee hoofde nie Afrikaans as onderrigtaal in sekere vakke in hul skole wou toelaat nie, het kinders gestaak. Dit was volgens hulle die taal van die onderdrukker. Maar hul griewe was baie meer kompleks as bloot taal.”
Ons sit in stilte en kyk hoe eers Diepkloof, dan die bekende Chris Hani Baragwanath Hospitaal en dan Freedom Towers verbyflits. Ons besoek die Regina Mundi Kerk (Koningin van die Wêreld). Dis in die ou bedeling gebruik as dekmantel vir politieke vergaderings. Baie van die onluste en optogte onder die apartheidsbewind is hier beplan. Dié Katolieke kerk is in 1961 geopen en het sitplek vir 2000 mense. Teen die mure en dak is die koeëlgate van daardie skote op kinders – ’n stille getuienis van die bloed wat hier gevloei het.
“20 jaar later, op 15 April 1996, is die eerste vergadering van die Waarheids- en Versoeningskommissie ook in hierdie kerk gehou,” beduie ons gids.
Ons sien vele ander plekke van belang waaronder Nelson Mandela se huis, maar dis die Hector Pieterson Museum in Orlando-Wes waar ons toer eindig waarna ek uitsien.
Die eerste ding wat jy sien en hoor, is die kabbelende water voor die gebou. Dit simboliseer die trane en bloed wat daar op die strate in die stryd om vryheid gevloei het. Dit kabbel oor klippe – simbolies vir die klippe waarmee die jong kinders hulself teen die koeëlreën en polisiehonde probeer verdedig het.
’n Rooi geplaveide paadjie na die straat in die verte dui aan waar die 12-jarige Hector daardie dag doodgeskiet is. Eenkant op ’n bankie is ’n boodskap van Hector se ma in die marmer gegraveer. Die gids sien daar is hier en daar ’n frons op ’n toeriste-voorkop en verduidelik: Hector is op daardie wintersdag in 1976 doodgeskiet en die wit en swart foto deur Sam Nzima waar sy lyk deur ’n vlugtende Mbuyisa Makhubu gedra word, met sy suster Antoinette Sithole langsaan, is wêreldbekend.
Die gids verduidelik dat ons die museum op ons eie stoom kan ontgin. Die uitstallings bestaan uit video’s, plakkate en nuusberigte. Die lae bastone van studentesang volg jou oral waar jy in die gebou beweeg. Tussendeur word die beelde van ou wit leiers wat toesprake lewer, wat hierdie polisie-optredes regverdig, teen reuse-skerms uitbasuin.
Mens wil jou kop in skaamte hang as jy daar uitstap. Of jy nou deel daarvan was of nie, mens voel aandadig.
Maar terug by die hotel kuier ons in die ruim #Café-restaurant en die gevoel van samehorigheid onder alle kulture is so omarmend dat die middag amper surrealisties voel.
Ons smul aan heerlike ribbetjies, hamburgers en handgesnyde skyfies. Ek hoor die shisa nyama is die gewildste dis op die spyskaart. Ons drink wyn uit die Kaap en maak geselsies met tafels langs ons. Ons land het so ongelooflik vêr gekom die afgelope drie dekades.
Die res van ons Goudstad-kuier verwyl ons by 44 on Stanley waar ons iets kou, drink en ure verloor by Mr Vinyl terwyl ons na die ou langspeelplate loer en terwyl die DJ lekker musiek maak met hulle; loer in vir ’n fliek by The Bioscope.
Ons ry verby die woorde: “A winner is a dreamer who never gives up.” Nelson Mandela het dit skynbaar gesê. Ek wil daarby voeg dis ook iemand wat gaaf is en omgee.
Wanneer ons honger word, eet ons saam met ons Johannesburg-vriende by hul gunsteling-local eetplekke. By Parreirinha wat uit 1975 dateer, hang honderde dasse uit die dak en mens wonder wat hulle al alles moes “sien” en “hoor”. Ons eet avocado ritz en dit voel asof jy terug in die sewentigs is! By Curry Up sien ek die woorde in liggies: “We love cooking curries for the city that loves to eat them.” Ons vriendin hang graag hier uit en toe ons ’n paar uur later bekbrandend uitstap, verstaan ek hoekom!
By die Bannister Hotel is daar gourmet hot dogs en die tweede vloer is met koperpennies bedek. Ek het juis die vorige oggend ’n 10c by 44 on Stanley opgetel en my vriendin het ewe ingedagte haar ma se geliefde aanhaling geuiter: “See a penny, pick it up; all day long you’ll have good luck.”
Ons volg die blou sirkeltjies regoor die ou stad, “Johannesburg City Heritage”, en lees onder meer op oor The Munro Drive, Rand Steam Laundries en ander historiese geboue wat met dié blou teken gemerk is. Dis ’n inisiatief van die Johannesburgse Erfenisstigting.
Ons gaan drink ’n drankie by die stad se tweede oudste kroeg, Kitcheners Carvery Bar in Braamfontein (The Radium in Orange Grove is die oudste).
Ons eet hoenderdytjies met sous saam met die locals by The Wing Republic en ons almal se Engels is ewe vrot. Die wonder van ’n land met 11 amptelike landstale!
My voet tik ritmies saam met musiek van Jeremiah Morolong (Kippie Moeketsi) wat destyds die Kippies Jazzklub naby ons hotel besit en bestuur het. Een van ons tafelgenote vertel my daar is ’n standbeeld van hom en meer te lees as ons die omgewing om ons hotel wil gaan verken.
Laatmiddag doen ons toe juis dit: Skaars 500 m van ons gerieflike hotelkamer ontvou ’n geskiedenis van ’n ander aard. Twee geboutjies wat soos Edwardiaanse ablusiegeriewe lyk, staan nie ver van mekaar nie. Een hiervan was die Kippies Jazzklub en die land se bekendste jazzmusikante, waaronder Hugh Masekela, Jonas Gwangwa, Hotstix Mabuse en Abdullah Ibrahim (wat die klub se naam voorgestel het), het hier opgetree.
Nie ver van die klub nie, voor die Markteater, is Brenda Fassie in brons verewig.
Mens besef opnuut hoe vervleg al ons kulture in hierdie land is; hoe deel ons eintlik van mekaar is, al is daar soveel verdeeldheid.
Verskeie ander goed laat ons diep dink: Die reuse-elandbeeldhouwerk op die hoek van Bertha- en Ameshoffstraat in Braamfontein. Dié werk van kunstenaar Clive van den Berg is volgens Clive ’n “groot voorstelling van ’n eland op ’n hoek waar dit lankal verdwyn het”. Die beeldhouwerk laat dink jou aan ons San-voorvaders en die natuurlike omgewing wat lank reeds deur ’n groeiende stad oorgeneem is.
Hy het met die oprigting in 2007 gesê dat hy hoop die eland sal “refleksie oor ons verhouding tot die verlede en die onderlinge verband van omgewings-, kulturele en geestelike bestemmings aanspoor”.
Ons ry ’n hele paar keer by die reuse-, veelkleurige letters “Be Kind” wat op verskeie plekke in die stad staan, verby en ek voel trots om te sê dat dit vir my die leuse van ons kuier is: Almal wat ons hier raakloop, is waarlik gaaf.
Mens het sommer hoop vir ons land, ons mense en ons toekoms.
Ons val in die pad met wegneem-cappuccino’s en twee klein oliebolletjies en die grootste glimlag van die ontvangsdame.
Kitsfeite:
- Bespreek jou verblyf of net lekker eet by City Lodge Hotel Newtown by clnewtown.resv@clhg.com, 010 065 0700 of 0800 11 37 90 of loer by www.citylodgehotels.com.
- Die hotel het 148 kamers en die #Café-restaurant bedien ontbyt, middag- en aandete en in die sonsakkroeg kan jy sien hoe die son oor die Goudstad se bekendste bakens sak. Daar is ’n groot swembad en ’n raadsaal as jy wou sake doen en hulle kan selfs jou wasgoed binne een dag was en stryk. Verskeie kamers is ingerig vir gestremdes.
Bespreek jou kaartjies op City Sightseeing Johannesburg by 010 009 0095 (08:00–17:00), info@citysightseeing.co.za of besoek https://www.citysightseeing.co.za/en/joburg/contact-us-j.
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf