Suid-Afrikaners kan hulle gereed maak vir nog onthullings oor korrupsie en wanbesteding. Die Zondo-kommissie oor staatskaping het Maandag sy werksaamhede voortgesit terwyl nóg ’n regterlike kommissie ’n afsonderlike ondersoek begin het oor bewerings van onbehoorlike optredes by die openbare Beleggingskorporasie (OBK).
Regter Raymond Zondo staan aan die hoof van die kommissie wat ondersoek instel na staatskaping terwyl regter Lex Mpati, voormalige president van die appèlhof, aan die hoof is van die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK.
Die Mpati-kommissie het Maandag met sy werksaamhede begin. Dié kommissie is verlede jaar deur president Cyril Ramaphosa aangestel om sake rakende wanbestuur en korrupsie by die korporasie te ondersoek. Die OBK het die afgelope twee jaar deurgeloop onder bewerings van korrupsie tydens die bestuur van die voormalige uitvoerende hoof, Dan Matjila. Die kommissie sal ondersoek instel na beleggingsbesluite, beleid of wetgewing wat oortree is of besluite wat slegs ’n paar mense bevoordeel het. Die kommissie sal na verwagting ook omstrede beleggings deur die OBK ondersoek, onder andere die meer as 25%-aandeelhouding in die VBS Mutual Bank. Die OBK bestuur sowat R2 000 miljard in staatspensioen- en ander fondse.
Regter Mpati het Maandag tydens sy openingswoorde van die ondersoek ’n beroep gedoen op enigiemand wat inligting het oor beweerde korrupsie by die OBK om na vore te kom en daaroor te getuig.
https://twitter.com/TshwaneTebogo/status/1087268811898789894
Die getuienis voor die Zondo-kommissie van Bosasa se vorige uitvoerende bedryfshoof, Angelo Agrizzi het die land verlede week na hul asems laat snak. Hy het getuig dat miljoene rand se omkoopgeld elke maand deur Bosasa spandeer is om veral staatsamptenare om te koop om kontrakte te bekom.
Agrizzi se getuienis tot dusver is blykbaar net die seekoei se oortjies wat uitsteek. Die name van verskeie ander belangrike politici sal na verwagting die week na vore kom wanneer hy sy getuienis voortsit. Onder diegene wie se name genoem word, is oud-president Jacob Zuma wat na bewering R300 000 ’n maand van Bosasa ontvang het.
Die Sunday Times het Sondag berig Zuma het glo elke maand dié geld van Bosasa ontvang om die maatskappy se hoofde teen vervolging te beskerm weens die betaling van miljoene rand in omkoopgeld om staatskontrakte te bekom.
Agrizzi het Maandag getuig dat die minister van Omgewingsake, Nomvula Mokonyane, jare lank elke maand omkoopgeld van R50 000 van die maatskappy ontvang het. Agrizzi het gesê dit was sy taak om elke maand die omkoopgeld te verpak wat hy vir Mokonyane moes neem. Hy het getuig dat Bosasa se bestuurshoof, Gavin Watson, hom by geleentheid na Mokonyane se huis vergesel het.
Agrizzi says he was present when a delivery of cash to Vincent Magagula. In relation to cash delivery for Mr Smith, Agrizzi says he would put the money in the newspaper and meet him at different restaurants. #StateCaptureInquiry
— State Capture Commission (@StateCaptureCom) January 21, 2019
Die DA se leier, Mmusi Maimane, het intussen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om daadwerklik op te tree in die lig van die skokkende getuienis wat Agrizzi reeds voor die Zondo-kommissie gelewer het.
Maimane sê Agrizzi se getuienis voor die Zondo-kommissie het die mite dat korrupsie in die ANC slegs tot die Guptas en oud-president Zuma beperk is, aan skerwe laat spat. Lees Maimane se volledige verklaring hier: https://www.da.org.za/2019/01/bosasagate-das-legal-team-approaches-president-ramaphosa-for-independent-audit-on-all-anc-government-contracts-with-bosasa
Netwerk24 het Maandag berig die ANC loop wye draaie om die lys wat uitgelek het en die name van hooggeplaastes in die party bevat wat glo omkoopgeld van Bosasa aanvaar het. Volgens die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa, het hulle nie daardie lys nie. Hy het egter gesê die ANC sal die kommissie aanhou steun omdat die kommissie die ANC bewus gemaak het van die wandade wat onder sy toesig gepleeg is.
Lees ook
Buro: NB