As jong studente was ons droom om ’n jaar lank met rugsakke deur Engeland en Europa te reis en om ’n draai in Israel op die Kibbutz te gaan maak vir werk, waar verlangse familie aan die bestuur gestaan het. Dis in Londen waar ons ons wonde gaan lek het toe dinge platval.
Dit was ’n bitter koue winter: Die een van 1993. Ons was jonk, avontuurlustig en kom ons wees eerlik, bitter naïef oor hoe dié jaar sou verloop. Ons klim op Heathrow af met rugsakke wat van slaapsakke en -matjies tot ’n klein stofie en koffiebekers bevat. Ons gaan met die R5000-reisigerstjeks vir ’n jaar oorleef en die hele Europa platreis met net papier padkaarte, blinde geloof en wunderlust.
Aan die einde van die jaar gaan ons op die Kibbutz werk en genoeg geld spaar om te kom trou en huis opsit. Maklik, nè?
Ons eerste stop is ’n sagte, veilige landing by vriende van my nou eggenoot, toe studenteliefde, se ouers. Die toe reeds afgetrede Peter en sy dosentvrou, Susan Munns, woon in Hammersmith in ’n huis met drie verdiepings, netjies ingedruk tussen tientalle in netjiese rye. Peter het as jong man verskeie jare sendingwerk in Suid-Afrika gedoen en ook skoolgehou en is uitgehonger vir nuus uit ons geboorteland.
Bedags verken ons die stad, stap kilometers van besienswaardigheid tot besienswaardigheid en saans eet ons heerlik en teug aan wyne wat op daardie stadium vir ons – ’n Kalahari-kind en Pretorianer – heeltemal onbekend was, al kom dit uit ons eie wynlande.
Peter neem ons saam vir kooroefeninge by die St Paul Katedraal. Hy ry ’n horingoue Mini en dit voel soos ’n speelgoedkarretjie teenoor die reuse-geboue in die middestad. Ons neem foto’s van die Mini voor die Big Ben, sit in stille verwondering terwyl die koor se stemme teen die katedraal se koepelvormige dak talm en saans gesels ons tot ounag.
Ons is jonk, dom en glo ons weet alles. Ons gasheer en -vrou is ouer, wyser en baie genadig en laat ons toe om onkundig voort te babbel. Vroegaand stap ons na die plaaslike pub, Thatched House, vir ’n pakkie droë skyfies en ’n klein biertjie. Hulle wil van betaling niks weet nie.
10 dae van ontdekking kom tot ’n einde en ons vat die pad na Canterbury en daarna na Dover om die ferry na Nederland te vang.
In ’n neutedop: Ons geld is toe ses maande later op en weens die oorlog wat in die voormalige Joego-Slawië uitgebreek het, kry ons nie visums vir verskeie lande nie. As Suid-Afrikaners moes ons vir elke land ’n afsonderlike visum bekom. Dit was eers teen die einde van daardie jaar dat die Europese Unie in Maastricht gestig is. Geen Kibbutz-werk nie.
Ons pluk aarbeie, brame en frambose en lei boontjies op en grawe aartappels uit op ’n klein plasie in die noorde van Engeland. Ons laaste week in Londen bly ons weer by Peter en Susan. Ons is effe wyser ná vele ontberinge op die pad. Hul gulheid nog groter as met ons eerste kuier.
Ons land laat 1993 weer in Johannesburg. Die wêreldreis het nie gerealiseer nie, maar ons het darem Nederland, België, Luxemburg, Frankryk, Duitsland en Switserland platgestap en danksy ons duime en groot glimlagte vele geleenthede gekry en interessante mense ontmoet.
Blaai die kalender vinnig om tot jy 30 jaar se bladsye op die vloer versamel het. Ons is terug in Londen. Peter en Susan is albei onder die grond. Ons gasheer en -vrou is nou my niggie en haar woonstelmaat, beide Kapenaars wat al vir meer as 20 jaar in Londen woon en werk.
Ons tasse is tot barstens toe vol met Suid-Afrikaanse bederwe, waaronder ’n swaar vrugtekoek van die Paarlse glanssjef Mynhardt Joubert. Hy bak jaarliks die Krismiskoek ten bate van liefdadigheid en hoe lekker om dit saam met ’n bottel Simonsig Kaapse Vonkel onder hul Kersboom te kan sit. Buite is hul tuin in ’n wit kombers gehul. Ek onthou ons 1993-sneeu vanuit die dakkamertjie by Peter en Susan. My nostalgie maak my bors swaar.
Ons besoek al die plekke van 30 jaar gelede; bly lank staan voor SA Huis op Trafalgarplein, waar ons as jong mense ons naam in die besoekersboek gaan skryf het. Gaan drink weer ’n klein biertjie en eet skyfies ter wille van ons herinneringe aan Peter en Susan. In St Paul Katedraal steek ek vir hom ’n kersie aan.
Ons bring ure deur by die markte in Portobelloweg, Covent Garden, Camden, Borough, Old Spitalfields en die South Bank-boekemark. Alles “verniet” wenke van Peter destyds om ’n ware kykie in die Londenaars se leefstyl te kry, sonder om enige geld uit te haal.
Ons koop kaartjies vir die Big Bus Tours London en luister op die boonste dek van die oop bus na die kommentaar van die gidse, amper op dieselfde trant as wat ons drie dekades gelede van Peter gehoor het in sy Mini.
Baie het in Londen se bykans 2000 jaar geskiedenis verander, maar dit voel of bitter min verander het sedert ons vorige besoek. Ons gaan kyk kuns by die nasionale galery waar ons saam met Peter na die werke van die Amerikaanse kunstenaar William M Harnett gekyk het. Altesaam 49 van sy kunswerke wat sy trompe l'oeil-tegniek verteenwoordig, is vertoon.
Dit was my eerste kennismaking met die wonderwêreld van ’n galery op hierdie skaal en sedertdien besoek ons elke nasionale kunsgalery waarvan ons te hore kom.
Tog is die Tate Modern of die nuwe Battersea Kragstasie wat nou ’n luukse winkelsentrum is, deel van die nuwe ervaringe. Ons het ook hierdie keer beter na ons finansies gekyk en ruim ’n ete by een van die bekende Ottolenghi-restaurante en ’n teaterstuk Hamilton op die West End in. Die Ottolenghi-kookboeke tuis al vuil geblaai van al die resepte toets. Om by die ware Jakob te kan eet, ’n groot eer.
Ons vertoef lank op die brug voor Big Ben by Westminster – dié keer natuurlik sonder die Mini vir ons filmfoto’s – maar net om weer Peter se beskrywing te herleef: “Die toring is nie regtig Big Ben nie, net die klok dra hierdie naam, maar almal ken die reuse-toring met sy vier horlosiegesigte as Big Ben. Die toring is deur Augustus Pugin in ’n neo-gotiese styl ontwerp. Toe dit in 1859 voltooi is, was sy horlosie die grootste en mees akkurate viergesigslag- en klokhorlosie ter wêreld. Die toring is 96 m hoog en die wysers van die horlosie is 6,9 m in deursnee. Al vier nasies van die VK word op die toring verteenwoordig op skilde, met ’n roos vir Engeland, ’n distel vir Skotland, ’n klawer vir Ierland en ’n prei vir Wallis.”
’n Heimwee oorval my daar. Nooit kon ek dink dat ek weer só sorgeloos daar sou staan nie, veral nie ná die verwoesting wat Covid onder geliefdes gesaai het nie. Ook het ek nooit as jong student gedink dat ek as 52-jarige kon terugkeer sonder ons geliefde vriend nie. Ons voel sy teenwoordigheid en ywer om sy geliefde stad met ons te deel oral.
Ons lag as ons die dinge onthou wat hy gewys en vertel het, soos “Look right” wat op die paaie geverf is sodat oorsese toeriste wat gewoond is die verkeer kom van ’n ander rigting, nie omgery word nie. Ons het destyds gedink dis simpel, want die hele wêreld weet mos van dié rigtingverkeer... Toe nie.
Ek hoop dat ons oor 30 jaar weer daar voor Big Ben kan staan en die dinge kan herleef wat ons vanjaar ervaar het. Dat ons dan – nader aan ons vriend se ouderdom toe hy so gaaf met twee nat- agter-die-ore Suid-Afrikanertjies was – ook vir iemand soveel wysheid en goedheid kan toon.
Dat ons weer in ons spore kan gaan stap in die stad waar soveel dinge vir ons duidelik geword het in 1993; nie net oor die wêreld, of die manier waarop mense na ons land gekyk het, of ons naïwiteit nie, maar ook oor die spore van hoop van voortvarende jong mense.
- Foto’s: Clifford Roberts