Nou maak beurtkrag nuwe kragte in SA los

  • 0

Dit is gewis nog nie ’n Arabiese Lente nie; nog nie ’n revolusie nie. Maar dit is ongetwyfeld aanduidend daarvan dat iets in Suid-Afrika aan die gebeur is wat die publiek se reaksie en optrede teen die ANC-regering se onbeholpenheid betref.

Jy kan as’t ware sê (na die bekende gesegde): ’n nuwe lig skyn in die donker tonnel wat ons land weens beurtkrag geword het. Beurtkrag: Die erg-ontwrigtende rantsoenering van elektrisiteitsvoorsiening deur verskillende fases, waardeur die aantal ure wat landsburgers sonder krag moet sit, bepaal word.

Waar huishoudings, gemeenskapsinstansies (soos skole), groot maatskappye en kleinbesighede toegang het tot kragopwekkers – en die dieselkoste wat daarmee gepaard gaan – is die pyn draagliker. Maar dit is nie die geval vir die oorgrote meerderheid van die tussen 50 en 60 miljoen inwoners, die sogenaamde armstes onder ons, wat reeds gebuk gaan onder werkloosheid, armoede, ongelykheid, lang ure op die pad om met dikwels onbetroubare openbare vervoer by hul werksplekke te moet uitkom nie, en wat moontlik lankal vasgeval is in ’n uitsigloosheid wat deur ellende meegebring word.

Ons aanvaar almal dit is hierdie scenario wat deels aanleiding gegee het tot die Julie 2021-onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng. Ons glo almal dat dit een of ander tyd weer gaan gebeur.

Hierdie keer dalk nie – wag, verkieslik nie – so gewelddadig soos tóé nie. Selfs byna twee jaar later ly die nasionale ekonomie steeds weens die skade van R50 miljard wat deur die plundery en oproer aangerig is, meer as die helfte daarvan (R30 miljard) net in KZN, soos die vorige premier, Sihle Zikalala, ’n jaar later aangedui het.

Dit is daarom verblydend dat die nuwe “opstande” teen die regerende party se onvermoë om effektief ons landsake te bestuur sodat behoorlike dienslewering kan geskied, vreedsaam geskied. Wat ons die afgelope ruk gade slaan, is dat landsburgers deur proteste en optogte – selfs die amptelike opposisie, die DA, se optog ’n week gelede na die hoofkantoor van die ANC het sonder voorvalle geskied – hul misnoeë te kenne gee.

Selfs belangriker is dat die protesgangers ’n weerspieëling van die diverse Sui-Afrikaanse bevolkingsamestelling is. Hoe anders? Beurtkrag diskrimineer nie op grond van ras nie, ook nie op grond van ekonomiese status nie. En dis nie asof jy krag by die bure kan gaan leen as hulle dalk ’n binnenshuise opwekker of die raserige opwekkers buite het nie. Saamstaan is dus die enigste uitweg – en dit is saamstaan wat die regering gedwing het om die verwagte styging in die elektrisiteitsprys, hoewel reeds goedgekeur, op ys te laat plaas. Saamstaan het dus reeds resultate opgelewer, maar dinge kan nie daar gelaat word nie, aangesien dit nog nie die einde van beurtkrag beteken nie.

Die “revolusionêre linkse” EFF reken hulle het die oplossing: ’n nasionale shutdown waardeur die hele land tot stilstand gedwing moet word. Hulle wil hê president Cyril Ramaphosa moet só benoud raak dat hy daarna uit eie wil sal bedank, wat natuurlik onwaarskynlik is. Maar daar is altyd diegene wat anders moet wees en die EFF tel onder daardie “ander” – of hulle nog ánder sal kan opsweep vir hul beplande aksie is nog te siene, want waarom sou hulle bereid wees om ’n ekonomie wat reeds kners van die beurtkrag, op dié wyse te ontwrig?

Wat is die goeie nuus, ten spyte van die EFF se dreigemente? Dit is dat dit tog daartoe bydra om momentum te gee aan die aandrang uit die voorafgenoemde groepe dat die regering nou daadwerklik moet ingryp om voldoende kragvoorsiening te verseker. Terwyl die DA en die EFF se optrede ook nie apart gelees kan word van die komende 2024-algemene verkiesing nie: hulle glo uiteraard – en nie sonder rede nie as jy die 2021-plaaslike verkiesingsuitslae in ag neem – dat hulle kiesersteun deur hul teen-ANC-veldtogte kan wen.

En dit is waarom dit ons nie eintlik moet verbaas dat die ANC sélf nou die hoogste vlak van besorgdheid in eie geledere skyn te bereik het oor die kragkrisis sedert dit min of meer 15 jaar gelede begin het nie. Watter ander verklaring is daar vir die “indringende” besprekings wat nou oor die kragsituasie in die party se hoogste besluitnemingsliggame (nasionale uitvoerende komitee, nasionale werkskomitee, Top-7) en die ANC-gedomineerde kabinet plaasvind, as dat hulle die hitte begin voel van kraglose keelvolheid van die ganse burgery?

Maar nou hol hulle weer in die verkeerde rigting: die party glo die verklaring van ’n rampstaat is die uitweg uit hierdie rampspoedige situasie. Ramaphosa en Fikile Mbalula, nuutverkose ANC-sekretaris-generaal, se woorde hieroor het skaars in druk verskyn, toe laat loop die publiek en politieke partye. Hoe op dees aarde kan die ANC ’n rampstaat voorstel as daar sulke grootskaalse korrupsie plaasgevind het met die voorsiening van dienste en die verskaffing van beskermende toerusting gedurende die Covid-rampstaat? Hoe gaan hierdie keer verhoed word dat sommige met ANC-bande (of bande met besluitnemers) op bedrieglike wyse hierdeur verryk word as ’n pandemie, wat derduisende lewens geëis het, nie eens tot hul gewete kon spreek nie?

Nogtans is die publiek en opposisiepartye nie geheel gekant teen die idee van die verklaring van ’n rampstaat nie. Hulle wil net verseker dat maatreëls ingestel word om te verseker dat die openbare samelewing (onder andere die privaatsektor en publieke organisasies) die rol moet oorneem om die rampstaat te bestuur – eerder as die staat – en veral dat geen sotlike beperkings ingestel word soos gedurende die aanvang van die Covid-pandemie nie. Sowel Ramaphosa as Mbalula het reeds vure hieroor probeer doodslaan. Geen korrupsie sal geduld word nie, wil hulle ons laat glo, maar ’n ander gesegde leer ons: sien is glo.

Beurtkrag het in ’n mate ’n nuwe soort pandemie in SA losgelaat. Maar dit het baie beslis en verwelkomend ook gemeet aan die nuutste reaksie daarteen – van binne en buite die ANC – en nuwe, samewerkende kragte onder besorgde landsburgers losgemaak. Dit is asof daar ook in die samelewing se protesaksies hernubare en volhoubare krag opgewek word.

Lees ook:

Gemengde gevoelens oor regering se beoogde ramptoestand vir Eskom

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top