Ek het vir die laaste vyf jaar by ’n hoërskool in Miyazaki-provinsie in Japan gewerk, waar ek baie die geleentheid gekry het om oor Suid-Afrika te praat.
Sport was veral ’n gewilde tema, want die leerlinge het altyd iets gesoek waarmee hulle kon relate.
Soos ons geliefde Madiba gesê het: sport het die krag om met jongmense te praat in ’n taal wat hulle verstaan.
Ek kon nog altyd, ten spyte van baie groot verskille, ooreenkomste sien tussen die twee lande wat ek “huis” noem.
Een so ’n ooreenkoms is beslis rugby, maak nie saak op watter skaal ons dit onderskeidelik ondersteun nie, rugby is iets wat ons in gemeen het en nou met die aanloop tot die 2019 Rugbywêreldbekertoernooi in Japan (20 September–2 November), is die ooreenkoms groter as ooit.
Elke jaar in Februarie het ek spesifiek ’n Engelse les aangebied oor Suid-Afrika. Die tema is al vir jare deel van die kurrikulum en raak veral aan die 1995 Rugbywêreldbeker en die rol wat rugby gespeel het om ons land bymekaar te bring.
..........
“Vergeet van jou politiek of hoe jy voel oor die omgewing, as jy vir die Cheetahs skree, is jy die aartsvyand van enige Blou Bul fan.”
..........
Die Japanse fakulteit was veral opgewonde om ’n Suid-Afrikaner in hul midde te hê vir hierdie les.
Ek het altyd heel eerste gevra wat die leerlinge weet van Nelson Mandela en of hulle enigiets van rugby geweet het. Oor Mandela het ek gewoonlik verskillende reaksies gekry, maar oor die rugby ... net stilte.
Rugby is al in 1866 vir die eerste keer in Japan gespeel en die Japanese nasionale rugby-unie span, of The Brave Blossoms is die sterkste span in Asië.
Ongelukkig het my hoërskoolleerlinge steeds nie veel van die sport geweet nie …
Ek dink dit sal reg wees as ek sê dat rugby beslis een van die grootste sportsoorte in ons land is. Eintlik het rugby al sy status as net ’n sport oorskry en homself in die Suid-Afrikaanse kultuur ingewortel.
Dit is terselfdertyd een van die mees verenigende en verdelende issues in Suid-Afrika – vergeet van jou politiek of hoe jy voel oor die omgewing, as jy vir die Cheetahs skree, is jy die aartsvyand van enige Blou Bul fan.
Maar, wanneer die Springbokke uitdraf, sorg Suid-Afrikaners van all walks of life dat hulle naby ’n TV of radio is, en gee hulle hulself soms oor aan primitiewe instinkte, reg om letterlik oorlog toe te gaan teen die ander span (en sommer ook die afrigter en skeidsregter).
Ek kom self nie naby daai soort ondersteuners nie, maar ek moet bieg dat ek kliphard saamsing aan Nkosi Sikelel’ en dat die teleurstelling maar diep gaan as ons Suid-Afrikaanse span verloor!
Tydens die 2015 Rugbywêreldbeker het die einste Brave Blossoms die Bokke 34-32 geklop en dit het nogal opslae in Japan gemaak.
My pa het dadelik gebel met die nuus en ons skoolhoof het die volgende dag net so bietjie kom brêg oor die groot wen. Ek het gemengde gevoelens gehad, maar ek was trots op die Blossoms – ek dink hulle het letterlik die bravade gebring!
..........
“Ek dink dit sal reg wees as ek sê dat rugby beslis een van die grootste sportsoorte in ons land is. Eintlik het rugby al sy status as net ’n sport oorskry en homself in die Suid-Afrikaanse kultuur ingewortel.”
..........
Net voor ek weg is uit Japan, het baie mense steeds gepraat van daardie wedstryd en hoe hulle met opwinding uitsien om die Bokke daar te hê.
Ek voel vanjaar ekstra geheg aan die Rugbywêreldbeker. Hierdie jaar word dit aangebied in my tweede huis – die land van tradisie, dissipline, solidariteit, respek en ’n antieke veggees – dit is mos maar waaroor rugby ook gaan! Ek kan nie aan ’n beter plek dink nie.
Ek twyfel nie vir ’n oomblik dat vanjaar se Rugbywêreldbeker iets spesiaals gaan wees nie.
Die Japanse konsep van Ometenashi of gasvryheid is iets om te ervaar. Hierdie spesiale soort gasvryheid kom eers werklik tot sy volle reg wanneer daar groot feestelikheid of Omatsuri is.
Die Japanners vier alles – begin, einde, seisoene, mense en plekke en hierdie gaan werklik ’n nasionale fees wees – een van die grootstes nóg!
Sport, rugby, laat ons toe om in een oomblik deel te wees van iets groter, maak nie saak waar ons vandaan kom nie. Met elke wedstryd sal ek in ’n oomblik terug wees in Japan en met nostalgie kyk na die mense en die plekke.
Elke hoërskoolleerling sal (hopelik) onthou van daardie les oor Suid-Afrika en van rugby se rol in die bymekaarbring van mense. Ek besef regtig nou eers wat Mandela bedoel het – oor die krag van sport!
Die beplanning vir die geleentheid is al jare besig, die fasiliteite reg, die jongmense in Miyazaki weet van rugby en die countdown het begin!
- Foto’s: Pixabay.com
Lees ook
Buro: MvH