.............
“Vra vir enige een van die 500 leerlinge van Kobayashi Senior High School en hulle sal dadelik al die wonders van die dorpie aflys: kosmosse blom in die herfs in die berge en lok mense van oral oor. Die water is so skoon dat dit op ’n spesiale lys van die 100 skoonste water in Japan is. Jy sien sterre in elke seisoen en vuurvliegies het elke somer in die stroom langs ons huis gedans, iets wat ek jare laas in Suid-Afrika beleef het.”
.............
Ek en my man het pas een maand in Suid-Afrika gevier na vyf jaar in die suide van Japan. Die twee vrae wat ons sover die meeste gekry het is: “Hoekom is julle terug?” en “Mis julle al Japan?”
Hierdie vrae is bietjie te gekompliseerd vir die een-woord antwoorde wat meeste mense wil hê. Ons het in 2014 Suid-Afrika verlaat om ons vlerke te sprei en iets nuuts te beleef. Ek het altyd geweet dat ons terug huis toe sou kom, maar ek het nooit presies geweet vir hoe lank ons weg sou wees nie.
Karmien aangetrek in ’n tradisionele Japannese kimono spesiaal vir troues in Miyazaki-stad, Miyazaki-provinsie.
Ek het al baie gedink oor daardie dag dat ons Suid-Afrika verlaat het. Ons het met opwinding vir almal vertel dat ons weet wat op ons wag, maar ek het gou besef dat ons nie regtig geweet het nie, nie regtig besef het nie.
Dit was eers ná ons in die stad van Kobayashi in Miyazaki-provinsie begin bly het dat ek besef het wat besig was om met ons te gebeur en dat ons nie vinnig weer Suid-Afrika toe sou gaan nie.
Niemand weet waar Kobayashi is nie, mense vra eintlik gereeld waar Japan is! Ons het daar amper nooit nuwe mense gesien nie en verandering het stadig gebeur saam met rustige dae.
’n Italiaanse twist op Ramen (noodles in sop) – tamatie-ramen met parmesaankaas en spinasie in Miyakonojo-stad, Miyazaki-provinsie. Japan is baie lief vir kos-fusion en druk graag hul eie stempel af op kos van ander lande.
Dit was darem nie heeltemal vervelig nie – vra vir enige een van die 500 leerlinge van Kobayashi Senior High School en hulle sal dadelik al die wonders van die dorpie aflys: kosmosse blom in die herfs in die berge en lok mense van oral oor. Die water is so skoon dat dit op ’n spesiale lys van die 100 skoonste water in Japan is. Jy sien sterre in elke seisoen en vuurvliegies het elke somer in die stroom langs ons huis gedans, iets wat ek jare laas in Suid-Afrika beleef het.
.............
“Dit was eers ná ons in die stad van Kobayashi in Miyazaki-provinsie begin bly het dat ek besef het wat besig was om met ons te gebeur en dat ons nie vinnig weer Suid-Afrika toe sou gaan nie.”
.............
Kobayashi is ’n plek van rus en vrede.
In Japan het ek geleer van ’n gasvryheid en ’n omgee vir jou medemens wat ek nog nooit êrens anders beleef het nie. Ons is altyd met ’n glimlag gegroet en geen stadige bewegings of foute word geduld as jy in een van Japan se baie 24-uur gerieflikheidswinkels instap nie.
Desember in Sapporo-stad, Hokkaido-provinsie by die Sapporo Teine-ski-oord. ’n Eerste sneeu-ervaring vir die Suid-Afrikaners!
Die treine en busse is altyd betyds, want selfs een minuut laat, is te laat. Karre staan met lugversorgers aan in die bitterwarm somermaande voor die supermark en jy kan gerus jou beursie en selfoon op die tafel in ’n restaurant los terwyl jy gou badkamer toe gaan.
Ander dinge was aan die begin ’n bietjie vreemd, maar net so ongelooflik: die bitternou paaie met ’n spoedbeperking van 60km, maar dan is daar ook nie juis padongelukke nie!
Foto’s: Pixabay.com
Die piepklein restaurante in nog kleiner strate met onduidelike aanwysings – is dit ’n restaurant, ’n haarsalon, dalk iemand se huis? Jy sal nie weet tot jy ingeloer het nie. As dit wel ’n restaurant is, is daar soms net een tafel of plek vir drie by ’n toonbank. As daar nie vir jou plek is nie, word daar baie verskonend gevra dat jy dalk iewers anders kan probeer, maar dat jy tog asseblief more weer kan terugkom, net bietjie vroeër.
Dit is beslis die land van groentee, maar koffie kraai koning! Dalk is dit oor die mense se lang werksure en bedrywige lewens? Maar daar is altyd tyd vir middagete! Tussen 12:00 en 13:00 kan jy ook ’n blaaskans neem, want jy gaan nie veel uitgerig kry nie.
Een Engelse woord wat ons baie in die skool gebruik het om iemand te beskryf was “kind.” Ek het vinnig geleer van die “kindness” van mense wat ek nog nooit ontmoet het nie. Van eindelose geduld met my gebroke Japanees en die probeer-Engels praat as ek te veel gesukkel het, al het dit net gebeur wanneer iemand regtig met my moes praat.
In die strate van Aya Town, een van die mooiste dorpies in Japan, tydens hul jaarlikse Hinamatsuri of Doll Festival waar die gesondheid en geluk van dogtertjies gevier word.
Die nuuskierigheid oor Afrika en die ongeloof oor my herkoms het gesorg vir baie snaakse en ernstige gesprekke en dan weer die trots in ’n nuwe kennis as ek vertel dat ons gekies het om in Japan te bly.
.............
“Ek dink ons weet nou bietjie meer van die groener gras, van ’n plek waar alles werk en ’n amper bonatuurlike bekwaamheid, maar ons weet ook hoe dit is om ver weg te bly en om te hunker na iets wat jy nie kan beskryf nie.”
.............
Nou is ek terug in die Vrystaat, in Parys. Dit is so bietjie anders as Kobayashi. Die strate is besig en oor naweke jaag Gautengers in vir bietjie “rus en vrede” aan die oewers van die Vaalrivier.
Ons drink dan almal eerder gebottelde water as dié wat uit die kraan kom. Parys laat my wonder hoe voorbereid mens regtig kan wees vir oorbegin en nuwe avonture, hoeveel kan jy regtig weet oor wat vir jou voorlê?
By die Narita-san tempel in Narita, Chiba-provinsie.
Al die navorsing wat ek oor Japan gedoen het, kon my nie werklik voorberei vir die ervaring nie. Ek voel nog bietjie soos ’n toeris in my eie land en wonder wat nou vir ons voorlê. Jy weet nie voordat jy nie self daardeur gaan nie.
So, om almal se vrae te beantwoord: ons is terug want ons het Afrika gemis, ja, ook die besige lewe. In Parys praat talle mense met my, selfs net in die afstand van my kar tot by Pick n Pay.
Ek lees nou die dag ’n artikel van Deon Maas uit Berlyn en hy sê hy vind sy ritme in die chaos van Afrika. Ek stem saam. En ja, ek mis ook die stilte en vrede van Japan, die glimlagte en nuuskierigheid wat my soms soos ’n celeb laat voel het.
’n Ongelooflike ervaring by Kinkakuji of The Golden Pavilion in Kyoto.
Is ons in Afrika nog nuuskierig oor mekaar? Ons moet wees, want ons kan nog so baie by mekaar leer! Ek dink ons weet nou bietjie meer van die groener gras, van ’n plek waar alles werk en ’n amper bonatuurlike bekwaamheid, maar ons weet ook hoe dit is om ver weg te bly en om te hunker na iets wat jy nie kan beskryf nie.
Ons het baie meer geleer oor waardering vir familie, oor waardering vir waar jy vandaan kom en oor wie jy is. Is dit nie wonderlik om vlerke en wortels te hê nie?
- Foto’s: verskaf, tensy anders aangedui
Lees ook
Buro: MvH