Onderwysers wat weier om die departement van basiese onderwys en opvoeding se nuwe kurrikulum oor omvattende seksvoorligting te volg, kan tugstappe in die gesig staar.
Dié waarskuwing aan onderwysers is vervat in minister Angie Motshekga se antwoord in die parlement hierdie week op ’n skriftelike vraag van die Demokratiese Alliansie (DA).
Motshekga het vroeër vanjaar in die parlement gesê dat ouers toegelaat sal word om te kies of hulle kinders aan die voorgestelde Comprehensive Sexuality Education (CSE) deelneem. Sy het bygevoeg dat haar departement voorsiening sal maak vir ouers wat daarteen kies, mits ouers ’n alternatiewe kurrikulum voorsien wat aan al haar departement se vereistes voldoen.
Foto: Pixabay.com
Die omstrede nuwe kurrikulum, wat in 2021 landswyd geïmplimenteer moet wees, het ouers én onderwysers die afgelope aantal weke in rep en roer. Die departement word skerp gekritiseer oor die loodsprojek wat volgende jaar begin, en talle ouers is ontsteld omdat kinders so jonk as nege dán reeds aan seksvoorligting blootstel gaan word.
Sommige beskou dit as “sagte pornografie” en sê hulle sal beslis nie toelaat dat hulle kinders daaraan blootgestel word nie. Ander meen weer die herrie wat ontstaan het, is ’n storm in ’n teekoppie en dat ouers niks het om oor histeries te raak nie.
Die doel van die nuwe kurrikulum is om die hoë voorkoms van tienerswangerskappe te verminder, om skoolkinders voor te lig oor seksueel-oordraagbare siektes en hoe om seksuele misbruik te vermy. Sommige onderwysvakbonde, geloofsgroepe en opposisiepartye is hewig gekant teen die program en sê dat dit onbehoorlik is om sulke onderrig aan jong kinders te gee. Motshekga se departement meen egter dat onderwysers nie kan weier om hulle werk te doen nie.
Intussen berig die joernalis Inge Kuhne die afgelope naweek in Rapport dat ouers onnodig angsbevange is oor seksonderrig by skole. Sy skryf dat, terwyl Suid-Afrikaners wroeg oor die nuwe, ongebreidelde benadering tot seksvoorligting, leer vierjariges in Nederland al jare lank die korrekte name vir hul geslagsdele en weet kinders so jonk as agt reeds wat masturbasie is.
Volgens navorsing vaar Nederland uitstekend in die voorkoming van tienerswangerskappe en seksvoorligting in die algemeen. Die gemiddelde tiener in Nederland is byvoorbeeld eers seksueel aktief ’n jaar ná hulle eweknieë elders in Europa. Die helfte van alle Nederlandse tieners is nog maagde op die ouderdom van 18.
Rapport berig ook dat meer as 90 persent Nederlandse seuns en meisies voorbehoedmiddels gebruik wanneer hulle die eerste keer seks beoefen. Seksonderrig in Nederlandse skole is nie verpligtend nie, maar die meeste skole verkies om ’n leerplan oor seksonderrig te volg.
Sommige Suid-Afrikaners bly egter skepties oor seksonderrig in skole op so ’n jong ouderdom. Een leser skryf in reaksie op die artikel in Rapport “daar is ’n helse verskil tussen kinders in Nederland en Suid-Afrika.”
Ander lesers meen egter dit is juis omdat die kinders in Nederland bemagtig word dat hulle seksueel meer verantwoordelikheid is as Suid-Afrikaanse kinders.
“Anders as die behoudendes se vreeslike wegsteek van seks aan die eenkant en wat aan die ander kant agter die deur staan met hulle sotlike obsessie oor dieselfde onderwerp,” het een van die lesers op Rapport se kommentaarblad geskryf.
Volgens Anisha Abraham, ’n Amerikaanse pediater wat in tienergesondheid spesialiseer, is dit noodsaaklik om openhartige gesprekke oor seks te voer, beide op skool en by die huis, en om dit nie as ’n taboe te beskou nie. Sy sê dit help nie om oor voorbehoeding te begin praat as die kinders reeds seksueel aktief is nie. Sy sê ook dat ouers hulle kinders se kennis oor dié onderwerp onderskat en nie besef op watter jong ouderdom kinders reeds aan seks blootgestel word nie.
Lees ook
Buro: MvH