Ons gaan nou braai: boerewors, sosaties en shisa nyama

  • 0

Vuur en vlam: ’n feestelike atmosfeer op die stoep

......................................................................

Met al die brande wat onlangs in die Wes-Kaap gewoed het, is ons nie almal te lief vir vuur op die oomblik nie.

Maar ’n resep vir ’n wonderlike braai kan niemand weerstaan nie.

Lekker geselskap, skemeruur-braairook, lamtjops, stokbrood, aartappelslaai, boerewors, oepsies, skilpadjies, ’n wyntjie, sout-en-asyn-tjips ...

Wie het nog nie in die middel van die week uitgesien na Vrydagaand vuur aansteek of na ’n by-die-see-stoep-braai verlang nie?

Soos Suid-Afrikaners wel weet, is daar ’n groot verskil tussen ’n “barbecue” oor die waters (soos ’n Australiese “barbie”) en ’n behoorlike braai.

Bestanddele vir ’n smaaklike braai! (Foto’s: Pixabay.com)

As jy ’n plaaslike braai-ervaring buite jou gereelde bring-en-braai-kring wil beleef, dan is Mzoli’s in Gugulethu* die plek om te wees.

Plaaslike inwoners en toeriste smul al vir jare aan die gebraaide lamtjops, steaks, boerewors en hoender wat ook saam met eg Suid-Afrikaanse disse soos pap en dombolo (gestoomde brood) bedien word.

Hierdie braai by Gugulethu is ’n voorbeeld van ’n “shisa nyama”.

Die term beteken letterlik “gebrande vleis” in Zoeloe en is ’n sleng-uitdrukkig vir “koop-en-braai” (dus anders as “bring-en-braai”).

Mzoli's in Gugulethu

Die vleis word oor ’n oop vuur gebraai terwyl jy kuier in die ruim eetarea met polsende musiek wat bydra tot die Saterdag-middag-straat-braai atmosfeer.

Links: Tafelberg vanuit ’n ander hoek in Gugulethu

“Before and after”: op pad kole toe (links); geurige vleis bedien met pap (regs)

Muurskildery van Winnie Mandela. (Oorspronklike foto: Gille de Vlieg, 1985. Winnie Mandela by die begrafnis van ’n aktivis.)

Die wortels van shisa nyama, verduidelik Dennis Ngxongo, was township-slagterye wat hul naweekverkope wou laat toeneem.

Hierdie slagterye “het gou ’n ontmoetingspunt geword vir opkomende stedelike professionele persone om met hul wortels te herkonnekteer, asook plaaslike township-inwoners op soek na geselskap en ’n plek om te drink en eet”.

Sosaties, aartappelslaai en stokbrood (Foto’s: Pixabay.com)

Sosaties, boerewors, snoek

Braai kom nie vanuit die agtertuine van wit Afrikaner-Bellville nie.

Die inheemse Khoi en San het hul vleis reeds voor 17de-eeuse kolonisering en die immigrasie van Europese setlaars in 1652 op die vuur gebraai.

Die Indo-Asiese slawe het speserye na die Kaap gebring. Die woord “sosatie” kom van die Maleise woorde “sate” (pittige, “spicy” sous) en “sesate” (vleis op ’n stokkie (Engels “skewer”)).

Speserye in die winkel: Atlas Trading Company in die Bo-Kaap, Kaapstad

’n Smaaklike appelkooskonfyt-en-botter-gebraaide snoek. (Foto’s van die snoek: YouTube; foto van die appelkooskonfyt: Pixabay.com.)

Moenie van gebraaide vis vergeet nie: ’n appelkooskonfyt-en-botter-gebraaide snoek, ’n klassieke Kaaps-Maleise braaidis, is nie te versmaai nie.

Speserye het ook die pittige boerewors beïnvloed.

Baie kultuurinvloede, baie keuses!

Foto’s: Menán van Heerden (tensy anders aangedui)


 

* Oftewel Gugs, ’n township naby Kaapstad. Gugulethu beteken “ons trots” in Xhosa.

Bronne

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top