Foto’s: Clifford Roberts
Ons paar dae in Kaapstad kom op ’n heel onverwagse manier. Berene Sauls van Tesselaarsdal Wyne naby Hermanus hou haar heel eerste wyn-en-kos-pasmaat-aandete én vertikale proe van verskeie oesjare by Upper Union-restaurant in die middestad. Ons is genooi.
Saam met sjef-eienaar Amori Burger se voorslagkos, beloof dit ’n wonderlike viering van kos, wyn, samesyn en die mag van die vrou.
Daar gaan wyn gedrink word en ons besluit om oor te slaap. Maar so met die beplanning, besluit ons ’n lekker mid-week-wegbreek van ons rekenaars is net wat die dokter voorgeskryf het.
En voor ons ons kom kry, vier ons die stille krag van vrouwees in die maand wat Vrouedag in Suid-Afrika gevier word – op heel toevallige maniere.
Ons bespreek vir drie dae se kuier by die The Onyx Hotel in Heerengracht, skuins oorkant die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum, waar ons nuwe regering van nasionale eenheid se kabinetslede die vorige maand ingehuldig is. ’n Groot gros van ons kabinet is vroue.
Ons stoepie laat voel jou asof jy in ’n kokon sit en uitkyk oor die stad. Onder daardie miskombers skuil Tafelberg. Foto: Clifford Roberts
Die keurige dekor van YU, wat nou een van ons gunsteling-Asiese restaurante in die stad is. Foto: Newmark Hotels
Toe ek ons sleutelkaart in my handsak sit, kom stel die nuwe bestuurder, Marelize Maré, haarself voor.
Skaars 200 m verder af in Heerengracht staan ’n standbeeld van Maria de la Queillerie. Dis blykbaar waar sy en haar man, Jan van Riebeeck, in 1652 aan wal gestap het. Hul standbeelde is met hul rûe na die see en kyk na Tafelberg. Dit was ’n geskenk van Cecil John Rhodes aan die Moederstad en is in Mei 1899 onthul, lees ek vinnig op my slimfoon.
Ek staan lank daar, met die wolke wat swaar bo die berg hang en dit bykans heeltemal verskuil en die windjie snerpend om my bene.
Maria – soos my geliefde oorlede mamma. “My naam is Johanna Maria, soos Jan van Riebeeck se vrou, Maria, en een van hul dogters, Johanna,” het sy altyd vir mense gesê. Ek staan daar aan die voete van die Maria-beeld en dink hoeveel onderdrukking en seer op hierdie einste grond plaasgevind het. En sommer hoeveel ek by my ma geleer het oor respek vir ander.
Ek lees later die aand op oor Maria en is verbaas dat sy op 35 jaar vermoedelik aan pokke oorlede is. Daar was ’n gedenkbordjie in Malakka aan die suidkus van Maleisië, waar sy en Jan ná Kaapstad gewoon het, om haar, haar baba en driejarige dogtertjie, Johanna, te gedenk.
Die eerste Suid-Afrikaanse duikboot wat in Maart 1969 te water gelaat is, is na haar vernoem.
Die standbeeld van Maria in Heerengracht, Kaapstad, wat toe blyk nie Maria te wees nie. Foto: Clifford Roberts
Maar wat my die meeste verbaas, is dat die standbeeld waar ek vroeër gestaan het, glo nie ’n afbeelding van haar is nie, maar eerder die Hollandse komiteevoorsitter se vrou, wat gehelp het om die 1952-Van Riebeeckfees in Kaapstad te reël, skryf Angie Kleijn op die FAK-webwerf onder “Tydvakke: Pioniers 1652–1820”.
Die ironie is dat dit wat ons as die portret van Jan van Riebeeck geëien het, glad nie hy was nie. Dit was die portret van Bartholomeus Vermuyden. Die portret van die “regte” Jan is deur EC Godée Molsbergen geskilder. Die standbeeld van Jan in die Kaap is ook ’n afbeelding van Bartholomeus Vermuyden en dié van Maria deur die Hollandse beeldhouer Dirk Wolbers is deur die Hollandse regering geskenk en op 2 Oktober 1954 deur die Hollandse Prins Bernhard voor die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, Kaapstad, onthul. “Maria” se standbeeld is later na die Heerengracht, regoor “Jan” se standbeeld, verskuif.
Die arme vrou het sekerlik nie ’n wonderlike lewe gehad saam met Jan wat as vader van kolonialisme en onderdrukking in Suid-Afrika gesien word nie. Boonop is sy nog vroeg dood ook. Maar dat sy sterk en regverdig was, blyk uit verskeie verslae.
Net meer as 1 460 km van waar ek gestaan het, het 20 000 vroue van alle rasse op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om te protesteer teen die paswette wat swart, Indiër- en bruin vroue se vrye beweging en waar hulle mag werk, sou inperk.
En hier sit ek 68 jaar later in ’n vry land, waar vroue soos Berene en Amori uitblink en albei hul onderskeie grootwordjare in hul nalatenskap vervleg.
Ons teug aan Berene se wenwyne en haar inspirerende storie laat gaste aan haar lippe hang. Sy het onlangs haar eie lappie grond in haar grootworddorpie, Tesselaarsdal, gekoop, vir water geboor en plant tans haar eerste wingerde.
Ongelooflik as jy dink dat sy grond kon koop net minder as ’n eeu nadat Johannes Tesselaar sy grond vir sy (toe bevryde) slawe gelos het met sy dood in die vroeë 1800’s. Die nege oorspronklike families wat grond gekry het, vorm steeds die bloedlyn van die dorpie.
Berene Sauls, wynmaker en eienaar van Tesselaarsdal Wyne, en Amori Burger, sjef en eienaar van Upper Union-restaurant in Kaapstad. Foto: Clifford Roberts
Tussen vertellinge van hul ma’s en oumas en kosherinneringe deur, verklap Berene dat haar ma, Ree, en ouma, Rebecca, dikwels die voetpad van Tesselaarsdal na Stanford gestap het om te gaan handeldryf oor die berg. Vandag is dié roete bekend as die Haarkapperroete, vertel sy. Hul twee figuurtjies is op haar wynetiket. “My ma vertel dit het hulle twee uur geneem om soontoe te stap, maar meer as vyf uur om terug te stap, want my ouma was lief vir drink en die tog huis toe, dus moeisaam!” En hoewel almal lekker saamlag, is die trots vir die matriarge in haar lewe duidelik.
Varklies met bruin misobotter en dille is saam met die Tesselaarsdal Pinot Noir 2023 bedien by die Upper Union-vrouewynmakers-ete. Foto: Clifford Roberts
Amori se liefde vir ouma se kookkuns is duidelik ná die kaasbord met Oom Willie se bruinpoeding én Ouma Martie se melkpoeding met joghurtsorbet. Foto: Clifford Roberts
Die gaste eet uit haar hand. Haar wyn is van die beste wat oor jou lippe sal gaan en Amori se disse is een beter gepas as die vorige een. Die twee vroue vul mekaar soos ’n vervlegde linker- en regterhand aan.
Die volgende oggend geniet ons ’n laatontbyt. MRKT, die hotel se restaurant op die grondvloer van die Onyx, het groot glasruite met ’n toonbank en hoë stoeltjies waar jy deel van die gewoel van die stad is, maar ook nie. Ons sit meer binnetoe en die rustige musiek maak ons eerder toeskouers van die lewe buite as deelnemers.
MRKT, die hotel se restaurant op die grondvloer, het groot glasruite met ’n toonbank en hoë stoeltjies waar jy deel van die gewoel van die stad is, maar ook nie. Foto: Newmark Hotels
Skuins na 11:00 meld ons aan by die Sanctuary Spa Onyx op die vierde vloer en hoe lekker om dié storie van nog ’n ma en dogter te hoor. Micayla Baatjies en haar ma, Rene, het die Sanctuary Spa-groep in 2016 begin en het takke by verskeie hotelle binne die Newmark Hotels & Reserve-portefeulje regoor die land.
Micayla is die een wat die bal aan die rol hou voor, ma Rene behartig dinge agter die skerms, vertel Micayla, terwyl ons aan kamilletee teug en die rustige musiek ons skouers laat ontspan.
Hulle is boorlinge van Bredasdorp en die Afrikaans rol mooi op die oor: “Ons is ’n klein familiebesigheid en passievol oor wat ons doen, maar ook om vir veral enkelma’s werk te gee in ons spa’s. Ons doen ook gratis opleiding vir ons terapeute en motiveer hulle om self sakevroue te word.”
Ons voel soos nuwe mense toe ons meer as twee uur later uitstap: Eers is ons lywe met gegeurde growwe sout geskrop, toe met modder besmeer, voor ons in die stoomkamer gesit het. Daarna ’n uurlange lyfmassering. Ek het iewers in die hele proses aan die slaap geraak én gekwyl. “Saligheid op note,” soos my ma altyd gesê het.
Ons luukse kamer by The Onyx is meer soos ’n woonstel met ’n lekker kombuis, groot yskas en stoof ingerig en ek het lekkernye by die bekende Giovanni’s in Groenpunt gekoop waarmee ons sommer vinnig middagete aanmekaar slaan. Die lekker bottel Kaapzicht Kaleidoscope Rooi wat op ons eetkamertafeltjie vir ons gewag het, die ideale pasmaat vir krakerige brood, kaas, kouevleis en olywe. Onder ons woel die stad, maar ons sit veilig in ons kokon met sy ongelooflike uitsigte.
Teen teetyd laat ons ons verlei deur die gebakte kaaskoek en cappuccino by MRKT, maar deel die sny lekkerte, want ons het vroeë aandete bespreek by YU, voor ons na die Baxter-teater in Rondebosch gaan vir ’n vertoning. Ja, jy het reggeraai, dis ’n vrou se storie, gespeel deur ’n vrou.
Die keurige dekor van YU, wat nou een van ons gunsteling-Asiese restaurante in die stad is. Foto: Newmark Hotels
YU, die Oosters-geïnspireerde restaurant van restaurateur, Rory Jossel, se spyskaart is ’n ware fees en hoe lekker toe ons ’n raar rooiwyn uit Wellington, die Bosman Nero – Suid-Afrika se enigste wyn wat van die Siciliaanse druif, Nero d’Avola, gemaak word – bestel, wat ook deur ’n vrouewynmaker, Corlea Fourie, gemaak is! Ons smul aan soesji met salm, garnale en lekker gepekelde gemmer voor ons tandmerke in murgsagte tuna met sojasous en klein bytjies brandrissie los. Buite loop reëndruppeltjies soos klein tranegordyntjies teen die ruite af, maar binne is dit gesellig.
Ons geniet soesji en tuna met heerlike Oosterse geure by YU op die grondvloer van The Onyx Hotel. Daarby geniet ons Bosman Nero. Foto: Newmark Hotels
Die toneelstuk, Pieces of me met Bo Petersen, vertel van Bo wat in ’n wit gesin in apartheid-Suid-Afrika grootgeword het. Toe sy 19 was, het sy haar pa se geheim ontbloot. Hy was nie wit nie en het van die ouderdom van 28 as ’n wit man geleef. Toe sy byna 40 jaar gelede van haar pa se verborge lewe uitvind, het haar lewe onherroeplik verander. Sy het begin om “stukke” te skryf as ’n manier om haar pa, sy “afsterwe”, en op haar beurt, haar “afsterwe” te probeer verstaan. Lees gerus my resensie oor die stuk hier: https://www.litnet.co.za/pieces-of-me-n-teaterresensie/
Twee vroue – Nadia Kammies, outeur en arbeidsterapeut, en die aktrise, Quanita Adams – het tydens dié speelvak na afloop van die vertoning aan gespreksessies met gehoorlede deelgeneem. Daar word gevind dat Bo se storie by baie mense aanklank vind, wonde oopgrawe en dat mense daaroor wil gesels. Simpatieke vroue wat as vangnette dien, die beste oplossing.
Oor ontbyt die volgende oggend lees ek op Kaapstad Toerisme se webblad van die agt vroue wat Kaapstad se geskiedenis gevorm het en dink daardie lys kan nou amper 80 of meer vroue lank wees! Tog is dit indrukwekkende vroue wat onder meer insluit: Krotoa (aka Eva), die Khoi-vertaler wat onder Jan van Riebeeck gewerk het; Catharina Ustings Ras, wat in die 1690’s grond by die Kaapse goewerneur, Simon van der Stel, gevra het en só die eerste eienaar van wat vandag Steenberg-wynlandgoed is, geword het; Zainunnisa “Cissie” Gool, die prominente anti-apartheidaktivis en politikus wat twee gedenkstene in die Moederstad het; die bekroonde skrywer, Antjie Krog; Anna “Suster Nannie” Tempo, wat haar oor sekswerkers ontferm het en in 1937 met die koning se Coronation-medalje vereer is.
Die ander is Olive Schreiner, skrywer, feminis en menseregteaktivis van die laat 1800’s, wat bekendheid verwerf het met The story of an African farm; Lady Anne Barnard, die eerste Europese vrou wat Tafelberg geklim het en die eerste wit vrou wat oor Kaapstad geskryf het, haar Engelse styl huis is vandag die Vineyard Hotel in Nuweland; en die kunstenaar, Irma Stern, wie se kunswerke tot R30 miljoen op veilings behaal. Die Irma Stern Museum is in 1971 in Rosebank geopen.
Lees die volledige artikel hier: https://www.capetown.travel/women-cape-town-history/
Daar is soveel in vrouwees om te vier. Toe ons op die laaste oggend ons bagasie in die motor laai, kyk ek op na Tafelberg wat vir die eerste keer in drie dae haar kop teen ’n potblou hemel wys.
By die hotel se ontvangs gaan bedank ek die personeel en daar staan vier vroue agter die rekenaars. Die sterre is belyn!
Bo en onder: Die Esther Nostokana Nagiyana Nikwambi Mahlangu-uitstalling in die SA Nasionale Galery het meer as 100 kunswerke wat vyf dekades van innoverende kuns vier. Foto: Iziko/Nigel Pamplin
Ek noem dat ons laaste kuier in die stad vir die kontemporêre kunstenaar, Esther Nostokana Nagiyana Nikwambi Mahlangu, se uitstalling in die SA Nasionale Galery is. Hierdie raar uitstalling met meer as 100 kunswerke wat vyf dekades van innoverende kuns vier, is getiteld Then I knew I was good at painting: Esther Mahlangu, a retrospective. Die omvangryke uitstalling sluit selfs die ikoniese BMW 525i Art Car in. Dis vir die eerste maal in 30 jaar weer in SA te sien.
Bo: Die Then I knew I was good at painting: Esther Mahlangu, a retrospective-uitstalling sluit selfs die ikoniese BMW 525i Art Car in. Dis vir die eerste maal in 30 jaar weer in SA te sien. Foto: Iziko/Nigel Pamplin
En ek sien hoe die vroue se trots saam met hul glimlagte groter word.
Ek noem ook vir hulle dat ek opgelees het oor waarvoor die oniks bekend staan: Die swart oniks is ’n beskermsteen en dit simboliseer sterkte, deursettingsvermoë en die vermoë om uitdagings te oorwin. Soos die vroue in ons samelewing!
Trots een van die vrouegeslag wat Kaapstad in my murgpype voel en leef, keer ons huiswaarts.
Maar ons sal terugkom, want The Onyx Hotel is ’n lekker sentrale afpakplek in die stad vir ’n wegbreek en as die weer sleg is, kan jy heeldag op jou beskutte stoepie sit en boek lees, terwyl middagete op die stoof prut en dan later hysbak ry vir die lekkerste aandete by YU.
Kitsfeite
- Bespreek jou verblyf vir ’n lekker stadswegbreek by The Onyx Apartment Hotel by https://newmarkhotels.com/accommodation/the-onyx-hotel. Daar is tot 31 Augustus die lekker “Escape & Unwind”-aanbod.
- Die hotel se restaurant en spa is nie net vir gaste nie. Die restaurant is ’n lekker manier om jou aand by die Kunstekaap-, Baxter- of Theatre on the Bay-teater af te skop. Ons het Uber gebruik, so ons kon heerlik aan Suid-Afrikaanse wyne saam met voorslagkos teug. Bespreek vir YU by The Onyx Hotel by https://www.dineplan.com/restaurants/yu-restaurant en vir jou spabehandeling by bookings@sanctuaryonyx.co.za.
- Die Esther Mahlangu-uitstalling by die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery in Queen Victoriastraat was oop vir besigtiging tot 11 Augustus 2024, vanwaar dit na Wits in Johannesburg en daarna na die VSA sal skuif. Meer inligting by https://www.iziko.org.za/.
- Die volgende wynmakers-aandete by Upper Union-restaurant is op Donderdag 22 Augustus. Bespreek by Upper Union Restaurant, Gardens | Dineplan of direk by die restaurant by (021) 891-0360 of reservations@upperunion.co.za.
- Die drie teaters wat almal ’n klipgooi van die hotel is, is Kunstekaap (650 m), Baxter (7,4 km) en Theatre on the Bay (7,9 km). Loer na hul programme by https://www.artscape.co.za/, https://baxter.uct.ac.za/ en https://www.pietertoerien.co.za/ en ondersteun die kunste terwyl jy in die Moederstad kuier.