Ontdek Het Land van Waveren – oftewel die pragtige Tulbaghvallei

  • 0

.........

“Daar is baie om te voet te verken: moderne koffiewinkeltjies agter 300 jaar oue witgekalkte muurtjies met donkergroen hekkies; kaasmakers; olyfolieparse; handgemaakteseepmakers; laventeloliemakers en bakkers van formaat.”

.........

Tulbagh het verlede jaar die 50ste herdenking van die aardbewing – wat 6,3 op die Richterskaal registreer het en geen ontsag vir historiese gewels, leivore en blombeddings getoon het nie – gevier.

Omlyn deur die persblou Obiqua-, Groot Winterhoek- en Witzenberge, wat met fynbos soos ’n groen fluweelkleed aan hul voete alles bedek, lê die historiese nedersetting wat in 1700 met 14 boere se vestiging in die Land van Waveren-kom ontstaan het.

Die vallei is in 1658 deur ’n landmeter, Pieter Potter, wat vir Jan van Riebeeck gewerk het, ontdek. Die dorp het rondom 1743 ontwikkel.

Die dorp se Kerkstraat is gelukkig weer ’n poskaartmooi voorbeeld van Kaap-Hollandse gewels wat deur reuse-akkerbome loer; kabbelende water in die leivoortjie af, waaroor rankrosies baldadig rank en waar wollerige katte in die sonkolletjies sit en dut. Kerkstraat het die meeste nasionale monumente in ’n ry – altesaam 42 – in Suid-Afrika.

Kerkstraat se historiese huise is gemerk en die stap daar baie interessant.

Luike hou die hitte van die dag buite.

Daar is baie om te voet te verken: moderne koffiewinkeltjies agter 300 jaar oue witgekalkte muurtjies met donkergroen hekkies; kaasmakers; olyfolieparse; handgemaakteseepmakers; laventeloliemakers en bakkers van formaat.

As die natuurskoon en die vlaktes roep, is dit ook die tuiste van die Tulbagh-wynroete. ’n Verskeidenheid wynkultivars floreer hier en laat gereeld die trofees en medaljes huis toe kom. Die vallei is ook ryk aan sitrusvrugte, bloubessies en olyfboorde.

Ons ry eers verby die Tulbagh-afdraai en begin ons lekker langnaweek-ontdekkingstog by Ceres Zipline Adventures. Die 1,4 km-avontuur strek oor agt verskillende kabels wat tussen 100 en 290 m lank is en gly aan die voete van die Skurweberg, net onderkant die Koekedouwdam.

Jy sit gerieflik in jou harnas. By elke kabel gly ’n gids vooruit en ’n gids kom agterna as jy klaar gegly (en gegil) het. Soos jy oor die rotse en rivier gly, sien jy hoe kinders onder in die waterpoele baljaar. Honde swem, skud hulself droog en spring weer in die koele lafenis.

Die windjie in jou hare; die uitsig oor die Ceresvallei en die vryheid laat jou adrenalien regtig teen topspoed klop.

Sulke tonele roep net vrede in die hart op.

Daarna is ons reguit na Montpellier de Tulbagh. Daar staan byekorwe in die veld tussen die bloekombome toe ons om die S-draai in die pad by Montpellier se pragtige klein kerkie indraai. Op verskillende tye van die dag lyk die kerkie anders: Soms is daar ’n oranje gloed om die geboutjie op die heuwel in volson; ander kere is dit ’n pienk skynsel as die son ondergaan. Soms ritsel die windjie die boompies en wingerde wat die kerkie omraam, ander kere is dit windstil. Die wit vlaggies in die bloekombome is elke keer ’n welkome terugkoms.

Ons het elke dag by hierdie pragtige kerkie by Montpellier verbygery op pad dorp toe.

Op die plaaswerf word die historiese herehuis amper soos ’n klein geheim deur die reusetuin versteek.

Die plaas is in 1714 deur twee Fransmanne van die stad Montpellier (Spyseniersberg) in Frankryk gestig. Dis sekerlik een van die vallei se gewildste troubestemmings in die vallei.

.........

“As die natuurskoon en die vlaktes roep, is dit ook die tuiste van die Tulbagh-wynroete. Die vallei is ook ryk aan sitrusvrugte, bloubessies en olyfboorde.”

.........

Ons gaan sit vir ’n wynproe op die grasperk en kan nie glo dat ons twee ure later steeds daar sit en droom nie. Die bome bo ons koppe laat val kort-kort ’n blaar of twee, wat rustig afwarrel tot op jou skoot of by jou voete kom lê.

Ons verslind die kaasborde in ’n japtrap en koop die wen-Spyseniersberg Blue Label 2013 en Montpellier sauvignon blanc 2017 en stap fluit-fluit na ons motor.

Ons verblyf vir die naweek is by Vindoux Guest Farm and Spa vir die lekker produkte onder die naam Fynbos Therapy, waar jy verlei word met laventel en roosmaryn en roosmalva in jou badsout, olies en rome.

Ons verblyf vir die naweek is by Vindoux Guest Farm and Spa. Die boomhuis sit hoog bo op stelte en twee bome groei deur die oulike stoepie, waar leunstoele smeek dat jy met ’n boek kom opkrul of die voëllewe tussen die takke geniet.

Dis die breinkind van die eienaar, Sophie du Toit, en bevat net natuurlike middels, nadat sy in 2005 met fynbos-fauna begin eksperimenteer het. Ek koop badsout, linnesproei en lyfwasseep en spuit sommer uit lafgeid daardie middag toe ons by ons huisie instap, die hele kamer vol linnesproei. Die beskrywing het nie verniet gelees: “Verbeel jou jy stap deur die veld op ’n lenteoggend” nie.

Die boomhuis sit hoog bo-op stelte en twee bome groei deur die oulike stoepie, waar leunstoele smeek dat jy met ’n boek kom opkrul of die voëllewe tussen die takke geniet.

Op die stoepie maak ons ’n bottel yskoue Montpellier MCC Brut oop. Saam met kaas van Druk My Niet, olywe van Oakhurst Olywe en beskuitjies wat ons by Het Land van Waveren Tuisnywerheid gekoop het, kyk ons hoe die son tussen die ruie bome ondergaan.

Ek glo al lank daar staan iewers in die velde soos hierdie ongerepte hemel ’n dirigent met ’n dun dirigeerstokkie in sy hand, sy swart manelpak se punte rustend teen sy kuite. Die vallei se voëltjies keer teen skemer terug; die son kleur die lug eers bloupienk, dan oranjerooi; en voor dit finaal agter die bergpieke verdwyn, kom die eerste sterretjies uit.

.........

“Twee honde kom om die beurt bedel vir ’n kopvryf en die windjie dans liggies deur die boomtoppe.”

.........

Die dirigent se stokkie spoor die voëlgesang aan tot meer lae gekwetter hier, meer hoër gekwetter daar. Die vlieswolke dryf oor sy kop; en die skaduwees trek lank in die valleie.

En dan, skielik, trek sy dirigeerstokkie ’n vinnige lyn in die lug en is daar stilte. Meteens. Gelyk. Die veld word stil. Vir ’n hele ruk is dit asof die veld asem ophou, maar dis nie lank nie of die paddas en krieke en uile neem oor vir die nagsimfonie. Die stilte daal af en toe oor die plaas neer en teen donker is dit net die maanlig wat jou geselskap hou.

Varkribbetjie met ’n lekker braaisous, soetpatatskyfies en ’n bottel bekroonde Rijk’s Private Cellar Pinotage wag saam met ons dierbare vriende by Olive Terrace Bistro by The Tulbagh Boutique Heritage Hotel. Laataand kuier ons met koffie op die stoep, onder die boom wat met pragtige blou liggies versier is en my laat terugdink aan ons kuiers by ’n restaurant in Bangkok, waar die bome ook so verlig was.

Die maanlig verlig ons pad huis toe, waar die reuse- wit bed ons byna insluk vir ’n slaap soos lank tevore.

Teen sonop is ons buite met koffie en hoor later hoe die personeel by die trappies opstap vir ons ontbyt op ons stoepie. Die geur van gebakte eier, spek, roosterbrood en nog lekker koffie terg jou neus.

Op pad terug dorp toe, waar ons vriende vir laatoggendkoffie en ’n stappie deur die galerye ontmoet, ry ons verby ’n boer op ’n grasgroen trekker met ’n rooi ploeg agteraan. Hy ploeg netjiese rye in die baksteenrooi grond. Sy hand lig half werktuiglik toe hy ons gewaar en ’n perfekte draai maak om die volgende ry te ploeg.

Ruim tyd in om langs ’n veld te stop en te kyk hoe daar geploeg of gesaai word – dis baie kalmerend.

Die dorp se galerye het gewis iets vir elkeen en almal sit lekker naby mekaar. Ons groepie verdeel en verken. Ek swaai gou in by die nuwe MIT Made in Tulbagh, ’n nuwe winkeltjie en deli wat in Van der Stelstraat oopgemaak het. Daar is handgemaakte sepies uit die vallei met ’n vriendin se naam op.

Ons gaan besoek die De Oude Kerk Volksmuseum, wat uit vier geboue bestaan. In die ou kerk, wat uit 1743 dateer, moet jy gaan kyk na die kerkhorlosie teen die muur, wat met die 29 September 1969-aardbewing op 22:04 gaan staan het en steeds daardie tyd aandui. Die gebou huisves ook artefakte uit die dorp se geskiedenis.

De Oude Kerk Volksmuseum bestaan uit vier geboue. In die ou kerk, wat uit 1743 dateer, het die horlosie teen die muur met die 29 September 1969-aardbewing op 22:04 gaan staan.

Oorkant die pad is die Aardbewing-museum, wat ’n baie volledige blik op dié verwoestende aardbewing gee. Dis die ergste aardbewing in Suid-Afrika se geskiedenis. In die Victoriaanse Huis- en Pioniermuseum stap jy jare terug in die geskiedenis.

By die Aardbewing-museum koop ons die gedenkboek 50 Tulbagh Onthou deur Rosette Jordaan.

Die gedenkboek 50 Tulbagh Onthou deur Rosette Jordaan.

Die dorp onthou daardie nag net meer as 50 jaar gelede.

Die vriendegroep kry mekaar ’n uur of twee later vir Bootlegger-koffie by Makers Mark, nog ’n nuwe toevoeging tot die dorp. Hul sorgsame restourasie van ou historiese geboue in Kerkstraat maak jou hart warm.

Die ou pastorie (wat uit 1795 dateer) is nou ’n kunsgalery, galery-akkommodasie en kommersiële kombuis. Die ou stalle is ’n restaurant/koffiekroeg, deli en geskenkwinkel. Neffens is die SA Ontwerp Konsepwinkel met tien handelsmerke. Ander geboue uit 1805 en 1864 is omskep in luukse akkommodasie, maar die gepoleerde houtvloere en Kaaps-Hollandse argitektuur staan gemaklik met die moderne toevoegings.

Twee Jonge Gezellen se Krone Méthode Cap Classique-proelokaal is volgende. Dis deur gesoute binnenshuise versierders ontwerp en jy sit op die stoep waar die wit pilare die vallei benede soos reuse-olieverfskilderye omraam.

Dis een van die bekendste Cap Classique-vonkelwynplase en was in die beginjare van die realiteitkookprogram Kokkedoor waar die kookstoor gestaan het. Jy proe een stilwyn en ses MCC’s, waarvan een 10 jaar op die gis verouder het en een 15 jaar – uniek vir Suid-Afrika.

Twee Jonge Gezellen – Krone Méthode Cap Classique se proelokaal is deur gesoute binnenshuise versierders ontwerp en jy sit op die stoep waar die wit pilare die vallei benede soos reuse-olieverfskilderye omraam. Dis een van die bekendste Cap Classique-vonkelwyn-plase.

Na Twee Jonge Gezellen laat ons ons vriende op Saronsberg-landgoed agter. Die lekker ding van die vallei is dat jy nie hoef afsprake te maak by die meeste van die kelders nie; jy kom en gaan soos jy wil.

Saronsberg-wynkelder se gebou met sy druiweprieel voor is ’n dubbelvolume-kamer met ’n reusekaggel, kunsgalery bo en wynproelokaal onder. Die engelstem van Jasmine Thompson speel deur die vertrek, dartel om die kunswerke van Angus Taylor, Claudette Schreuder en Norman Catherine, voor dit buite om die gaste se enkels dans en oor die dam na die wingerde vlieg.

Die pragtige beelde wat oral om die Saronsberg-proelokaal waghou, is die werk van Angus Taylor.

Dié indrukwekkende gesig begroet besoekers wat by Saronsberg-wynkelder indraai.

Ons kies koers na Bully & Koos, die nuwe restaurantbaba van Francois du Toit wat voorheen die sjef by Waverley Hills was. Daar ry ons saam met ’n groep na ’n klein plasie net buite Wolseley om by Gabriello Carnazza aan te sluit om ons eie aspersies te pluk.

Die Italianer, wat sy hart op die vallei verloor het, stap saam met ons na die stukkie sanderige grond en op die oog af is daar niks aan die gang nie. Dis eers as jy gebukkend met jou skerp messie net bo die oppervlak kyk dat die lieflike dun, grasgroen lote jou oog vang. Gou is ons kratte tot barstens toe vol. In die stoorkamertjie agter die huis was en sny en bind almal die aspersies.

Terug na die restaurant waar ons aansit vir die heerlike Asparagus Table. Dit word net in seisoen, op uitgesoekte Saterdae, aangebied. Elkeen van die disse bevat aspersies en Francois kom tussen gange uit en verduidelik die volgende watertand dis.

Op die klein plasie net buite Wolseley pluk ons saam met die eienaar, Gabriello Carnazza, aspersies vir Francois se heerlike Asparagus Table.

Ons smul aan aspersiekoekies met die Merwida Pinotage Rosé 2018; aspersieslaai met murg, lemoen, en haselneutslaaisous met Ginny Fowl Wild Hibiscus & Naartjie Gin en Barker & Quin Hibiscus-tonikum; Noorweegse salm met aspersielinguine met Land’s End sauvignon blanc 2018 en vir nagereg aspersie panna cotta met sjokoladeganache en framboos-compote met De Vry-distilleerdery se Die Soet Rooinek-gin met Mosquito pienk tonikum.

Die meegaande drankies is gin en wyn wat met elke gang se geure gepasmaat is. Francois sê van die bykans 80 verskillende gins op sy rak is net vyf van oorsee. Die res is almal Suid-Afrikaans met plaaslike plant- en blomgeure. Elke gin het ook sy perfekte pasmaattonikum.

Bully & Koos het sy naam te danke aan Francois se kindertroeteldiere: Bully, ’n pug, en ’n hanskraai, Koos, wat die hond se ore en sterk getrek het en selfs op sy rug gery het. Koos het later selfs soos Bully geblaf. Hul gees leef voort in die restaurant se naam en oulike logo.

Bully & Koos, Francois du Toit se nuwe restaurantbaba. Agter hom teen die deur is sy twee kindertroeteldiere in ’n oulike logo verewig.

Ons ry ná sterk espresso daar weg om vir ’n paar oomblikke by ons gastehuis langs die swembad te sit en lees.

Twee honde kom om die beurt bedel vir ’n kopvryf en die windjie dans liggies deur die boomtoppe.

Laatmiddag is dit tekkies aan vir ’n skemerstap op De Oude Compagnies Post – uit 1699 – saam met die nuwe-geslag-wynmaker Dirk Swanepoel. Sy ouers, Jerry en Henriette, albei prokureurs wat onderskeidelik as advokaat en prokureur praktiseer, het 23 jaar gelede hierdie lappie hemel gekoop.

Dirk is ook die wingerdboukundige, nadat hy ’n ruk in Sonoma, Kalifornië, as wynmaker gewerk het.

De Oude Compagnies Post se stappie is ’n lekker Saterdagmiddagavontuur. Die wynmaker, Dirk Swanepoel, lei die wynproe by die tafeltjies en bankies in die veld.

Die plaas se 235 hektaar het 10 hektaar wingerd en is beplant met cabernet sauvignon, pinotage, grenache, mourvedre en shiraz.

Die stap is ’n nuwe toevoeging tot die plaas se aanbiedinge aan toeriste. Ons is so 15 mense wat in die oranje gloed van sononder tussen die fynbos uitstap. Honde draf en blaf uitgelate by ons voete en na ’n paar minute se kronkelpaadjie, waar die uitsig oor die vallei onder ons net al mooier word, word jy verras met tafeltjies en bankies in die veld.

Hier doen Dirk ’n wynproe met sy eie wyne, met sekerlik een van die mooiste uitsigte wat jy van ’n “proelokaal” kan vra. Peuselborde word uitgepak en nog wyn geskink.

 ’n Uur of wat later is almal vriende met die terugstap. In die ou witgekalkte kelder koop almal wyn om hierdie ervaring nog langer te laat uitrek.

Toe ons varsgestort by Paddagang Eethuis en Fijne Wijne Eethuis aankom, brand daar vrolike liggies in die tuin. Die ou gebou was een van vier oorspronklike KWV-wynhuise en is al vir bykans 50 jaar sinoniem met tradisionele disse en gasvryheid. Andrew en Christine Jaeger is in beheer van die restaurant.

Jy moet op die uitkyk wees vir paddas as jy naby Paddagang ry ...

Bedags is dit ’n fees vir die jongspan, met reusegrasperke en met melkskommels op die oop stoep. Die spyskaart met tradisionele geregte soos afval, bobotie, beesstert en waterblommetjiebredie, lok toeriste van regoor die wêreld.

Sondagoggend dra personeel ontbyt na ons bure se huisie en vir ’n oomblik is ek spyt ons gaan uit vir ontbyt. Ai, die saligheid om op jou eie stoepie in jou pantoffels bederf te word ...

Maar opwinding wag by Obiqua Café at Duikersdrift Wineland Escape. Die tafeltjie in die hoek wat soos ’n klein spens ingerig is, is vir ons uitgehou. Daar is tuisgebakte karringmelkbeskuit en breigoed uitgestal en die roereier met truffelolie, in oulike salmpakkies gerol saam met die tuisgebakte ciabatta en roomkaas, is die perfekte pasmaat vir my romerige cappuccino.

Duikersdrift het ’n klein wingerd, olyfbome en ’n paar perde en donkies. Dis ’n voëlkykerparadys, en as jy in die oulike oornaghuisies bly, lê die vallei voor jou oop. Saterdae is dit ’n miernes van bedrywighede met die park run, waarvoor mense uit Kaapstad, die Paarl en Worcester ry. Daar is allerhande spesiale aanbiedinge regdeur die week.

’n Dag in die platteland is darem nie te versmaai nie, en veral nie as daar lekker calamari tacos en pizzas op die spyskaart is nie.

Daar is ook ’n oulike kunsroete. Christo Coetzee se galery is een van die bekendstes op die dorp. Hy is in 2000 oorlede, maar die museum en galery is insiggewend.

Voor ons die vallei finaal groet, is dit by Lemberg-landgoed in vir die Premium-reeks-wynproe wat bestaan uit Lady 2015, ’n wit versnit; die plaas se eerste Hárslevelü 2018 (een van slegs twee plase in die land wat hierdie Hongaarse variëteit gebruik); en die Pinot Noir 2014 en ook die wyne wat na die plaas se geliefde honde vernoem is: Louis 2016, Spencer 2014 en Nelson 2013. Elkeen van hierdie wyne is Tim Atkin-gunstelinge en verskeie goue medaljes pryk op etikette.

Dis nooit lekker om op te pak om huiswaarts te keer nie, maar ons kattebak staan boepens van die vallei se wyne, olywe, kase en ’n antieke juweel of twee wat ons by die oulike winkels uitgesnuffel het.

Ons sal die naweek se ervaring nog lank tuis kan geniet.

Kitsfeite

  • Verken die vallei met die Tulbagh-kaart en -brosjure beskikbaar by die Tulbagh-toerismekantoor. Die gawe personeel kan help met perdry-, fietsry-, stap-, olyfproe- en wynproe-geleenthede in en om die dorp. Besoek hulle in Kerkstraat of loer by www.tulbaghtourism.co.za, of vir meer oor die wynroete by www.tulbaghwineroute.com
  • Ons het by Vindoux Guest Farm and Spa gebly. Werk ’n paar uur in vir ’n lekker spa-behandeling of koop Sophie se bederfprodukte. Meer inligting by http://vindoux.com
  • Die Tulbagh-kunsroete is ’n lekker manier om kunstenaars te ontmoet en in hul ateljees te gaan kuier. Werke wissel van skilderye tot beeldhouwerk. Meer inligting by die toerismekantoor.
  • Foto’s: Clifford Roberts

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top