“Transformerend. Inspirerend. Opvoedkundig.”
Só beskryf Jason Beukes, senior bemarker van Noordwes-Universiteit en MBA-student, sy ervaring van vanjaar se Afrika-navorsingsgroep (Africa Research Group of ARG) se 7de internasionale konferensie wat van 27 tot 30 Augustus 2023 plaasgevind het.
Afrika-navorsingsgroep (ARG) se 7de internasionale konferensie wat van 27 tot 30 Augustus 2023 plaasgevind het
Leenta Grobler van die NWU Besigheidskool doen ’n aanbieding oor die innovateHER-ingenieurskompetisie.
Van links: Jason Beukes, Leenta Grobler, Mnandi Madichie (Universiteit van Kigali), Yvonne du Plessis (programleier: Internasionalisering/Afrikanisering, NWU) en Nkosinathi Tom (direkteur: Strategiese Vennootskappe, NWU)
In hierdie onderhoud met Cliffordene Norton bespreek Jason sy aanvanklike indrukke van Rwanda, die insigte wat hy uit die konferensie gekry het en sy gedagtes oor ontwikkeling in Afrika.
Wat was jou eerste indrukke van Rwanda?
Skoon. Natuurskoon. Veilig. Vriendelik.
Natuurlik het die pas waarteen daar bestuur word, die aantal motorfietse en die linkerstuurmotors my onkant gevang! ’n Aangename onkant. Ons het in die oggend tydens spitstyd in Rwanda geland, en gevolglik die oorvloeiende motorfietsverkeer ontmoet.
Op amper elke straathoek of verkeersirkel is daar een of twee polisiebeamptes.
Die welige, golwende heuwels bedek met lewendige plantasies en terrasvormige velde het ’n skilderagtige agtergrond geskep wat soos iets reguit uit ’n poskaart gelyk het, en ek kon vir een week lank in hierdie gesig wakker word.
Uitsig vanuit Jason se kamer
Tog, wat werklik vir my uitgestaan het, was die warmte die Rwandese mense. Met opregte glimlagte en vriendelikheid het hulle my met ope arms verwelkom. Rwanda se tragiese geskiedenis is goed gedokumenteer, maar die huidige inwoners is ’n bewys van die nasie se toewyding aan vooruitgang, versoening en groei.
My eerste indrukke van Rwanda was oorweldigend positief.
Wat was die grootste insig wat jy by die Afrika-navorsingsgroep se konferensie weggeneem het?
Reeds na die eerste dag het ek besef hoeveel merkwaardige potensiaal daar binne die akademiese gemeenskap skuil. Die besprekings en insigte wat hier gedeel was, het getoon dat ons, as Afrika-universiteite, die kennis, kundigheid en vaardighede het wat nodig is om betekenisvol by te dra tot die dialoog rondom Afrika se uitdagings en geleenthede wat universeel opgesluit lê.
Ek het opnuut besef dat ons gesamentlik kan bydra om beleid te vorm, innovasie aan te dryf en verandering te beïnvloed op ’n skaal wat die vasteland kan transformeer.
Die belangrikheid van strategiese vennootskappe kan natuurlik nie oorbeklemtoon word nie.
As ’n MBA-student, hoe sal jy die temas wat by die konferensie bespreek is, kan toepas op die kontemporêre ontwikkelings in bestuur wat jy studeer?
Verskeie temas het na vore gekom tydens en na afloop van elke aanbieding. Hierdie temas het gespreek tot verskeie strategieë en maniere oor hoe samewerking tussen instellings, oor grense en dissiplines heen, van kardinale belang is om die komplekse kwessies wat Afrika in die gesig staar aan te pak.
Van hierdie temas sluit in: strategiese vennootskappe en samewerking; die gebruik van kollektiewe intelligensie; impakvolle veranderinge en volhoubaarheid; streeksdinamika; navorsing en denkleierskap; etiese leierskap; en innovering.
Om op hoogte te bly van aktuele sake en ontwikkelings in streke van belang, insluitend Afrika, en betrokke te raak by entrepreneursprojekte wat my uitdaag om geleenthede vir innovasie binne bestaande organisasies te identifiseer, is natuurlik bo-aan my lys.
As ’n MBA-student neem ek deel aan groepprojekte wat werklike samewerkingscenario’s simuleer, waar ons as ’n span saamwerk om komplekse besigheidsprobleme op te los. Daar is aktiewe deelname aan klasbesprekings en ons studeer ook die ontleding van kontemporêre voorbeelde van maatskappye wat transformerende veranderinge ondergaan het om meer volhoubaar en sosiaal verantwoordelik te wees.
Om op hoogte te bly van aktuele sake en ontwikkelings in streke van belang, insluitend Afrika, en betrokke te raak by entrepreneursprojekte wat my uitdaag om geleenthede vir innovasie binne bestaande organisasies te identifiseer, is natuurlik bo-aan my lys.
As jy jou ervaring by die konferensie in net drie woorde kon opsom, wat sou dit wees?
Transformerend. Inspirerend. Opvoedkundig.
Was daar enige netwerkoomblikke of interaksies wat vir jou uitgestaan het tydens die konferensie?
Ons kon na elke dag met die verskeie konferensiegangers netwerk, en het ook die geleentheid gekry om die Universiteit van Kigali te besoek. In al hierdie interaksies en die persoonlike interaksies met medekonferensiegangers was daar ’n universele les wat ek as noemenswaardig kan beskou. Elkeen van die bywoners deel ’n gesamentlike doel: om Afrika te bevorder.
Elkeen se passie vir navorsing en vasberadenheid om die gesprek rondom geleenthede in Afrika te bevorder, was aansteeklik.
Watter van die temas by die konferensie interesseer jou die meeste? Waarom?
Oorkoepelend het die volgende drie temas my die meeste geprikkel: impakvolle navorsing, navorsings- en tegnologie-innovasie, en kultuur- en erfenisbewaring.
Hierdie temas is fassinerend omdat dit die praktiese, innoverende en menslike aspekte van navorsing en bestuur raak. Navorsing vir impak beklemtoon die tasbare uitwerking van navorsing op die samelewing; navorsings- en tegnologie-innovasie ondersoek die transformerende krag van kennis en innovasie; en kultuur- en erfenisbewaring beklemtoon die belangrikheid van die behoud van diverse kulturele identiteite en tradisies in ’n ontwikkelende wêreld. Saam weerspieël hulle die multidimensionele aard van bestuursuitdagings en -geleenthede, en bied geleenthede vir positiewe verandering en groei.
Watter konferensietema skakel die nouste met jou MBA-studies, en hoekom?
My MBA-studies en spesifiek die navorsingsprobleem waarna ek in my miniskripsie kyk spreek tot digitale bemarking en die studente-ervaring in die afstandsonderrigomgewing.
Navorsing en tegnologiese innovering is natuurlik ’n konferensietema wat direk met my MBA-studie verband hou.
In hierdie tema lê digitale verhoudingsbemarking opgesluit, omdat dit ondersoek hoe tegnologiese vooruitgang die manier waarop instellings met hul studente omgaan, verander. Afstandsonderrig maak sterk staat op digitale infrastruktuur en platforms, wat dit ’n gebied maak waar tegnologiese invloed veral die studente-ervaring asook die rol van tegnologie in die vorming van die kwaliteit van onderwys en algehele studentetevredenheid beklemtoon.
Het enige van die besprekings of aanbiedings jou bestaande perspektiewe oor bestuur en organisasie in Afrika uitgedaag? Indien wel, hoe?
Vir seker. Ek is altyd van mening dat mens ’n lewenslange leerder moet bly en juis daarom is ek altyd oop vir perspektiefverandering deur die inname van nuwe kennis.
Die leerder in my het besef dat mens deur ’n universele lens na die konsepte van bestuur en organisasies as geheel moet kyk eerder as ’n silo-benadering tot jou uitdagings binne bestuur en organisasies.
Hierdie besef is natuurlik gegrond op die mening dat ons gedeelde uitdagings en geleenthede in Afrika as geheel het, en nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie.
Ek is altyd van mening dat mens ’n lewenslange leerder moet bly en juis daarom is ek altyd oop vir perspektiefverandering deur die inname van nuwe kennis.
Hoe kan die tema van inheemse kennis en vennootskappe ’n rol speel in jou toekomstige sakepogings?
Juis omdat my planne vir toekomstige sakepogings in die veld van digitale transformering en bemarking skuil, speel inheemse kennis ’n integrale rol in die verstaan van die mark wat betref besigheids- en markposisionering.
Deur saam met inheemse gemeenskappe te werk, skep dit geleenthede vir kennisdeling en wedersydse leer in enige sakepoging. Inheemse praktyke, hulpbronbestuur en tradisionele probleemoplossingstegnieke, wat hul eie besluitnemingsprosesse kan inlig, speel ook ’n belangrike rol in die verstaan en leer ken van die mark.
Inheemse kennis sluit dikwels beproefde praktyke vir volhoubare hulpbronbestuur, landbou en omgewingsrentmeesterskap in en in enige sakepoging is hierdie faktore integraal tot die verstaan van besigheidsbande en vennootskappe.
Die bou van vennootskappe met inheemse gemeenskappe bevorder gemeenskapsbetrokkenheid en gedeelde welvaart. Dit is vir my belangrik om hierdie gemeenskappe te verstaan en met hulle saam te werk om ekonomiese geleenthede te skep, werk te verskaf en in plaaslike infrastruktuur te belê, wat bydra tot die welstand van inheemse bevolkings.
Was daar enige innoverende tegnologiese oplossings of insigte wat jy dink bestuurspraktyke in Afrika kan verander?
Een van die temas wat sterk na vore gekom het met beduidende potensiaal om volhoubare verandering te dryf, is digitale transformasie.
Hier is hoekom:
Dit bied toegang tot globale markte. Digitale transformasie kan Afrika-universiteite in staat stel om globale markte meer doeltreffend te bereik en te verstaan. Die belyning van prosesse, die optimalisering van voorsieningskettings en die verbetering van voorraadbestuur kan kostes verminder en winsgewendheid verbeter.
Digitale transformasie kan Afrika-universiteite in staat stel om globale markte meer doeltreffend te bereik en te verstaan.
Digitale transformasie neig tot datagedrewe besluitneming en landboutransformasie, wat tot beter produkontwikkeling, meer effektiewe bemarkingstrategieë en verbeterde klante-ervarings kan lei. Dit is veral relevant vir Afrika-ekonomieë, waar landbou ’n beduidende sektor is.
Digitale tegnologieë kan ook ’n rol speel in volhoubaarheidspogings en die groei van die tegnologiesektor kan werksgeleenthede vir jongmense skep.
As jy die konferensie met ’n filmtitel moes beskryf, wat sou dit wees?
Harmony in diversity. Hierdie titel reflekteer die konferensie se klem op samewerking, vennootskap en die uiteenlopende perspektiewe en ervarings van deelnemers wat bymekaar kom om dringende bestuurskwessies in Afrika te bespreek.
Met inagneming van die reeks onderwerpe wat gedek word, watter een dink jy hou die meeste potensiaal in om volhoubare verandering in Afrika-organisasies te dryf?
Definitief navorsings- en tegnologie-innovasie. Hierdie tema bied ’n wye speelveld vir vennootskappe en die begrip daarvan, wat ten einde kan lei tot volhoubare verandering binne Afrika-organisasies en universiteite as geheel. Dit bied besighede en organisasies die speelvlak om die Afrika-mark te verstaan en sodoende datagedrewe besluite te neem.
As jy ’n TED-praatjie sou aanbied wat deur die konferensie geïnspireer is, watter titel sou jy aan jou eie toespraak oor die Afrika-sakelandskap en sy evolusie gee?
Innovasie oor grense: Samewerking as die sleutel tot Afrika-welvaart
Behalwe vir die konferensie, het jy ’n kans gehad om die plaaslike besienswaardighede te verken of die Rwandese kultuur te ervaar? Indien wel, wat was jou mees onvergeetlike oomblik?
Definitief die plaaslike Rwanda-mark. Hier is ’n uitstalling van plaaslike materiaal, handgemaakte geskenkies vir toeriste, portrette geverf met koeimis en ’n uitstalling van plaaslik gegroeide vrugte en groente. Hier kies jy materiaal waarvan jy hou, en die plaaslike ontwerpers sny en stik ’n ontwerp van jou keuse terwyl jy toekyk!
Jason by ’n mark
’n Besoek aan die Rwanda-kunsmuseum en die Kigali Genocide Memorial het my ’n nuwe mens gemaak.
Het jy enige “aha”-oomblikke gehad waar jy besef het hoe onderwys en besigheidsdinamika op ’n unieke manier kan kruis?
Een aanbieding het gehandel oor die konsep sankofa (“Se wo were fi na wosan kofa a yenkiri”) – ’n woord van die Akan-stam in Ghana, wat losweg in Afrikaans vertaal kan word as: “Dit is nie taboe om terug te gaan en te gaan haal wat jy vergeet het nie.”
Die gebruik van simbole om streeksdialek en -terme uit te beeld kon ek natuurlik mee vereenselwig, gegewe my liefde vir die Khoi- en San-erfenis.
“Transformerend. Inspirerend. Opvoedkundig.” Só beskryf Jason die konferensie.
Het jy enige Rwandese kos geproe wat jy verbasend heerlik of uniek gevind het?
As ’n kerrieliefhebber moes ek natuurlik ’n kerriedis uit ’n Rwandese kombuis ervaar. Dit was bedien met raïta en ’n heerlike knoffel-naanbroodjie. Dit was definitief verbasend lekker en het al die regte geure van ’n ordentlike kerrie-ontploffing in die mond gebied.
Die waaghals in my moes natuurlik die gekookte vis-en-piesang-gereg ook probeer. Sal ek dit weer eet? Ja, maar apart; vis eerste en dan die vrug as nagereg!
Ek sal ’n halwe koservaring deel indien ek nie die jeera-rysgereg noem nie. Definitief ’n dis wat ek vir my vriende wil voorberei. ’n Eervolle vermelding van die plaaslike vrugte sal ook ’n onreg wees om uit te laat.
’n Medekonferensieganger het die vrugte die beste beskryf: “Mens proe die vrug. Geen fieterjasies aan die smaak nie.”
Mmm, dit smaak vorentoe.
Terwyl jy aan die konferensiebesprekings deelgeneem het, het jy enige fassinerende staaltjies of stories teëgekom wat jou bybly?
Een van die aanbiedinge het gehandel oor Rick’s Café, getiteld “Authenticity as paradox: Lessons from Rick’s Café, Casablanca, as a liminal site”.
Rick’s Café is ’n fiktiewe nagklub en sentrale omgewing in die 1942- klassieke film Casablanca. Die kafee is noukeurig ontwerp en gebou in Hollywood om as agtergrond vir die film se storielyn te dien.
Die stel boots die atmosfeer van ’n Marokkaanse nagklub tydens die Tweede Wêreldoorlog na, kompleet met ’n kroeg, ’n verhoog vir musikale optredes, en verskeie elemente wat bygedra het tot die fliek se ikoniese beeldmateriaal.
Terwyl Rick’s Café nie ’n regte plek is nie, het dit ’n ikoniese simbool van die film geword en word dikwels geassosieer met die romanse, intriges en tydlose temas wat in Casablanca ondersoek is.
In die jare sedert die fliek se vrystelling was daar verskeie pogings om die kafee as ’n werklike onderneming te herskep, maar dit is in wese ’n temarestaurant of kroeg wat deur die film geïnspireer is eerder as ’n ware ligging uit die fliek.