Ontlaering: ’n Herverbeel van die pedagogiek van Afrikaanse letterkunde

  • 0

In ’n referaat gelewer by ’n akademiese kollokwium by die Universiteit van Pretoria op 1 November, reflekteer Candess Kostopoulos oor wat ’n “laer” is: ’n sirkulêre struktuur wat dié aan die binnekant moet beskerm, maar wat (as daar gedink word aan letterlike ossewaens) ook beweeglik is en verskuif kan word.

Die doel van “Ontlaering” (’n driejaarprojek wat georganiseer word deur myself by die Universiteit van Pretoria, Mathilda Smit by die Universiteit van die Vrystaat en Janien Linde en Wemar Strydom by Noordwes-Universiteit) is om op verskeie manier te dink oor die “laers” (uitsluitende maar ook beskermende sisteme) wat ’n invloed het op die maniere waarop Afrikaanse literatuur op skool en universiteitsvlak onderrig word.

’n Volgende stap sal dan wees om te besluit of hierdie laers verander, of heeltemal oopgebreek, moet word.

In 2018 is voorlopige dinkwerk hieroor gedoen by drie samehangende gebeure: ’n akademiese kollokwium by die Universiteit van Pretoria, ’n akademiese seminaar spesifiek gefokus op die onderrig van Afrikaanse literatuur by die Noordwes-Universiteit en ’n openbare forum waaraan Andries Bezuidenhout, Alfred Schaffer, Louise Viljoen en Bettina Wyngaard deelgeneem het. Laasgenoemde het plaasgevind by die African Beer Emporium in Pretoria se middestad, sodat die gesprek ook gevoer is buite die akademiese grense (’n laer in sigself!), in ’n meer openbare ruimte.

By die akademiese geleenthede in Pretoria en Potchefstroom is verskeie “laers” identifiseer en op uiteenlopende maniere aangespreek, onder meer: die maniere waarop die nasionale kurrikulum en werkladings die maniere waarop onderwysers met Afrikaanse literatuur omgaan, beperk; die aannames waarvolgens besluit word watter werke voorgeskryf word en hoe hulle onderrig word; grense tussen verskillende tale en departemente wat kan verhoed dat vrugbare samewerkings plaasvind; die magsverhoudings tussen verskillende variëteite van Afrikaans; probleme in die verhoudings tussen Afrikaans eerste- en eerste addisionele taal; en die laers wat soms binne Afrikaans departemente bestaan, byvoorbeeld die gebrek aan samewerking tussen taal- en letterkunde.

Willie Burger

Willie Burger het in sy hoofrede ook die maniere waarop Afrikaanse departemente al in die verlede met hierdie probleme omgegaan het, bespreek. Hierdie historiese refleksie is nodig sodat daar geleer word uit die verlede. Persoonlik het dit my ook laat besef dat ontlaering ’n voortdurende proses is en, omdat die wêreld altyd verander, daar altyd weer nuut gedink moet word oor onderrig. As dosent is dit soms vir my makliker om terug te val op dit wat ek in die verlede gedoen en gedink het, eerder as om nuwe probleme en moontlikhede raak te sien.

Die akademiese besinnings was besonder interessant, al is daar op hierdie stadium meer vrae as antwoorde. Omdat  die verskillende deelnemers se bydraes weldra gepubliseer sal word, fokus ek in die res van hierdie artikel net op die forum wat by die African Beer Emporium plaasgevind het.

Andries Bezuidenhout

Die gesprek is gelei deur Thys Human van die Noordwes-Universiteit. Hy het die aand afgeskop deur te vra of die deelnemers dink dat daar wel ’n Afrikaanse (letterkundige of ander) laer is en of daar noodwendig daarvan ontslae geraak moet word? Andries Bezuidenhout antwoord dat daar beslis sprake van ’n laer in die persepsie van Afrikaans is. Beide wit Afrikaanssprekendes en ander mense sien Afrikaans naamlik steeds as ’n merendeels “wit” taal.

Hy sê dat enigiemand wat nie belang stel in geregtigheid vir swart en bruin Afrikaanssprekendes nie, nie belangstel in die voortbestaan van Afrikaans nie. Die voordele wat wit Afrikaanssprekendes steeds geniet, moet ook gedeel word met ander. Louise Viljoen stem saam dat die historiese onregte wat verstrengel is met die geskiedenis van Afrikaans, erken moet word. Sy haal aan uit Clinton V du Plessis se gedig “Taalles 101”, waarin Afrikaans beskryf word as die taal aan die stewels wat snags deure in Boipatong oopgeskop het. Sy noem wel dat die maniere waarop Afrikaanse literatuur tans “oopbars” dit wel makliker maak om die werk van swart en bruin skrywers voor te skryf — bloot omdat daar meer sulke werk is.

Bettina Wyngaard

Bettina Wyngaard sluit aan by hierdie opmerkings deur te noem dat om oor taal en letterkunde te praat, nie net ’n intellektuele oefening is nie, maar dat dit altyd ook polities is. Sy sê dat dit vir bruin mense altyd ’n politieke keuse is om in Afrikaans te skryf of te praat, al dan nie. Omdat dit polities is, is dit belangrik dat ontlaering nie net ’n gesprek bly nie, maar uitgeneem word, ook na die (dikwels afgeskeepte) platteland.

In sy antwoord op Thys se vraag oor die laers in Afrikaans, verwys Alfred Schaffer ook na ander kulturele laers, buiten ras, wat ’n invloed het op Afrikaanse klaskamers (op skool- en universiteitsvlak), soos byvoorbeeld geslagtelikheid en klas. In hierdie verband noem Andries Bezuidenhout dat klas te dikwels afgeskeep word in gesprekke oor identiteit.

Waar die hedendaagse identiteitspolitiek, volgens hom, te dikwels verdeel (Bezuidenhout noem nie enige voorbeelde nie, maar ek vermoed hy verwys byvoorbeeld na gesprekke oor wie die reg het om te praat in spesifieke situasies), terwyl ’n fokus op klas die potensiaal het om saam te bind weens die lang geskiedenis van klasstryde.

Alfred Schaffer

Schaffer noem ook dat Nederlanders, in sy ervaring, meer sukkel om te erken dat hulle literêre kanon histories wit is – die gesprek oor wie gekanoniseer word vind al geruime tyd in die Afrikaanse letterkunde plaas. Waar Afrikaanse akademici vroeër na Nederland gekyk het vir ’n Europese model, kyk Nederlanders nou na Suid-Afrika vir voorbeelde oor hoe om die post- en dekoloniserende situasie aan te spreek in literatuur en in die letterkundeklaskamer.

Die verwysing na kanonisering herlei die gesprek na watter tekste deur onderwysers en dosente voorgeskryf word. Bettina Wyngaard sê dat die boeke wat voorgeskryf word, moet spreek tot die leefwêreld van studente. Hierop reageer Thys Human met ’n volgende vraag – in hoe ’n mate moet studente se verwagtinge en ervarings nie net bevestig word nie, maar ook uitgedaag word ? Wyngaard sê dat dit alles goed en wel is, as die uitdaging wel produktief is.

As dit net vervreemdend is en vir sekere studente sê dat hulle altyd die Ander is, help dit nie. Sy daag ook die onderskeid tussen sogenaamde hoë en lae letterkunde uit en vra of dit nodig is. As skrywer van misdaadfiksie is haar ervaring dat dit net akademici en resensente is wat hierdie onderskeid tref – lesers gee nie om nie en populêre fiksie maak dikwels meer gesprekke moontlik as “hoë literatuur”.

Thys Human, Andries Bezuidenhout, Louise Viljoen, Bettina Wyngaard en Alfred Schaffer (foto: Bibi Burger)

Louise Viljoen noem dat dit in haar ervaring die studente bemagtig wanneer hulle soms meer oor die wêreld van ’n spesifieke teks weet as die dosent. In daardie gevalle leer sy by die studente en help dit om die magsverhouding tussen dosent en student meer gelyk te maak. Alfred Schaffer noem hier dat die gelykmaak van die verhouding tussen student en dosent dus nie net verband hou met watter werke voorgeskryf word nie, maar dat die dosent ook hulle eie subjektiwiteit eksplisiet moet stel.

Hulle moet nie hulself voorhou as alwetend nie, maar eerder hulle eie perspektief, aannames en benaderings beklemtoon. Hy noem ook dat Nederlandse studente veel meer durf om te praat in die klas, maar dat Afrikaanse studente dikwels terughoudend is.

Louise Viljoen keer terug na die onderwerp van wat voorgeskryf word, wanneer sy sê dat Afrikaanse literatuur dalk meer in gesprek met literatuur in ander Suid-Afrikaanse tale ondersoek moet word. Wyngaard se antwoord hierop is dat Afrikaans eers intern ontlaer moet word.

Die spanninge tussen verskillende variëteite van Afrikaans moet ontrafel en direk aangespreek word, voordat daar na buite ontlaer kan word. Andries Bezuidenhout spreek die bekommernis uit dat dit kan lei tot ’n wit/bruin (anti-swart) alliansie, wat weer net ’n nuwe laer is. Wyngaard stem hiermee saam, maar sê dat soos wat party sogenaamde pro-Afrikaanse groepe vir bruin mense retories gebruik om hulle agenda te bevorder, is hulle bewerings dat hulle ander “minderheidstale” wil bystaan, dikwels ook net lippetaal.

Sy sorg ook vir die aanhaling van die aand wanneer sy (na aanleiding van Human se stelling dat dit voel asof daar van Afrikaanse dosente verwag word om alle probleme op te los), sê dat “Afrikaans se grootste vyand nie dosente is nie, maar dose”.

Na verskeie vrae uit die gehoor aangespreek is, vra Human vir die deelnemers waarvoor hulle hoop met betrekking tot die toekoms van die projek. Andries Bezuidenhout se antwoord is dat Afrikaanse musikante in verskeie opsigte ander kultuurwerkers vooruit is, en dat ’n projek soos “Die Wasgoedlyn” (http://www.diewasgoedlyn.co.za/) besig is met baie van dieselfde tipe ontlaeringgesprekke en dat hulle betrek kan word.

Louise Viljoen sê dat die idee van Afrikaanse literatuur as monolitiese entiteit (geskryf in een variëteit en met een agenda) verder uitgedaag moet word, maar dat sy ook hoop vir samewerkings tussen Afrikaanse literatuur (en navorsers, onderwysers) en dié in ander tale. Bettina Wyngaard hoop dat die gehoor (selfs vir projekte soos ons s’n) in die toekoms meer divers sal wees en Alfred Schaffer sê dat ’n toekomsgerigte projek ook moet luister na die opinies van studente en leerders.

Ons gaan wel probeer om hierdie raad te implementeer in die volgende twee jare se ontlaerings. ’n Volgende kollokwium word beplan vir Oktober 2019 op die Universiteit van die Vrystaat se Qwaqwakampus. Die fokus is transnasionalisme en die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde. Belangstellendes kan ons webwerf (https://unlaagering.wordpress.com/) dophou en vrae rig aan unlaagering@gmail.com.

  • Foto's en teks: Bibi Burger
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top