Die gesiene Nederlandse digter Alfred Schaffer wat in Suid-Afrika woon en werk, is die ontvanger van die P.C. Hooft-prys in 2021 vir sy poësieoeuvre. Willem de Vries het met hom gesels.
Jy ontvang die P.C. Hooft-prys vir jou poësie dertig jaar nadat dit aan Elisabeth Eybers toegeken is. Jy het werke van haar ingelei en gebundel as My radarhart laat niks ontglip. Wat beteken hierdie prys vir jou in die lig daarvan dat sy dit ook ontvang het?
Dit is moeilik om uit te druk. Ek kan, byvoorbeeld, sê “Dit is ʼn groot eer”, maar dit weerspieël tog nie heeltemal hoe ek hieroor voel nie. Maar dat Eybers, wat die prys ontvang het, ʼn selfde soort tussengebied inneem, is spesiaal en laat my verwant voel aan haar, al is ons werk so uiteenlopend van karakter. So baie skrywers wat ek hoog ag en oor wie ek klasgee – Lucebert, Gerrit Kouwenaar, Marga Minco, Hella Haasse, Astrid Roemer, ens. – het hierdie prys in ontvangs geneem, dit is bevreemdend om nou self in dié ry plaas te neem.
Die P.C. Hooft-prys is die vernaamste oeuvreprys in die Nederlandse taalgebied vir letterkundige prestasie en word al om die drie jaar toegeken vir, onderskeidelik, verhalende prosa, beskouende prosa en poësie. Wat beteken die erkenning vir jou as digter wat in Nederlands skryf en in Suid-Afrika woon en werk?
Ek is nie op die plek waar my taal gepraat word en waar my boeke verskyn nie, ek is dus minder in die kollig as wanneer ek daar sou wees. Daar is baie geleenthede om jouself aan die publiek te presenteer ─ op die radio, by talle festivals. Ek is in elk geval nie so mal oor al die aandag nie, so dis okay. Ek is wel dankbaar vir elke vorm van erkenning of waardering, nie net in verband met pryse nie, maar gewoon: die aandag of erkenning van ʼn poësieleser of -leseres.
Jy is as letterkundige werksaam en meermale vir jou skryfwerk bekroon. Jy is ook die Nederlandse vertaler van werke van verskeie Afrikaanse digters. Van jou poësie is in Afrikaans vertaal. Wat aan jou interaksies met Afrikaanse skrywers en hul werk vind jy as digter in Nederlands en op tematiese vlak verrykend?
Die Afrikaanse poësie waarvan ek hou is weliswaar toeganklik, maar baie eksperimenteel, veral as dit kom by die inhoud. Van Krog en Naudé tot Kamfer, Van Niekerk en Trantraal, van Phillips en Slippers tot Breytenbach: dit is nie net taalspel nie, maar dit is persoonlik, betrokke, ambivalent, gewaag en baie dikwels politiek. En dan is daar ʼn fabulous digter soos Gilbert Gibson, wat die taal en dus ook sy stories heeltemal uitmekaar trek, met so ʼn klein tangetjie. Om sulke tekste te vertaal, het my werk sterk beïnvloed. Gelukkig kan ek nie sê “hoe” dit my werk beïnvloed nie, ʼn mens moenie alles van jouself weet nie.
Die digter Erik Lindner het op ’n keer gesê: “Mocht dichter en vertaler Alfred Schaffer in Zuid-Afrika blijven wonen en vertalen, dan verwacht ik alleen maar een toename van dat belangrijke tussengebied.” Wat beskou jy as van belang van daardie tussengebied waarna hy verwys en waaraan die P.C. Hooft-prys erkenning gee?
Ek is nog heeltemal in skok oor die P.C. Hooft-prys, so ek kan nie sê dat ek weet hoe dit ʼn rol kan of gaan speel nie, ek kan nie eers glo ek het dit in die eerste plek ontvang nie! Die algemene belang is egter vertaling, vertaling, vertaling, en kennismaking. Veral die Nederlandse taalgebied moet kennismaak met alles wat hier gesê word, en op watter wyse, die dringendheid daarvan. Soos Koleka Putuma se werk nou in die Nederlandse taal beskikbaar is – dit is belangrik. Vertaling is alles, meer nog so in Suid-Afrika self – jy wil tog as ’n Afrikaanse leser lees hoe ʼn skrywer in Sotho die lewe bekyk, of ʼn skrywer wat in Xhosa skryf.
Voel jy dat jy dieselfde digter sou wees as jy in Nederland aangebly het? Wat bied die afstand en verbintenis vir jou vandag?
Daardie vraag is wel maklik: Ek sou absoluut nie dieselfde skrywer gewees het nie. Daar is baie kennis oor die wêreld in Nederland, en dis ’n voorreg om daarvan gebruik te mag en kan maak. Maar die ervaring van die groter wêreld, die ervaring van die dringendheid van die groter prentjie, dit ontbreek dikwels. Afstand is altyd ʼn goeie uitgangspunt as jy kreatief na die lewe wil kyk; as jy midde in die dinge is, kan jy nie fokus nie. Dus die afstand (ook tot Suid-Afrika, tot op sekere hoogte, want ek bly iemand van buite) is nuttig. Dit maak mens effens alleen, maar nie eensaam nie.
Die P.C. Hooft-prysjurie sê, onder meer: “Schaffers poëzie is nooit los te zien van de context van Zuid-Afrika, het land waar hij sinds 1996 – met een onderbreking van enkele jaren – woonachtig is. In zijn gedichten resoneert de verhouding tussen wit en zwart regelmatig, ook vanwege de persoonlijke achtergrond van de dichter, die een Arubaanse moeder heeft.” Waarvoor is jy die blyste wat jy voel hierdie prys aan erkenning gee, en hoekom?
Die feit dat die jurie erkenning gee aan my wortels van my ma se kant, roer my die meeste. My suster en my ma het ek vroeg verloor, my pa ʼn bietjie later. Ek voel ʼn sterk band met Aruba en die ander eilande, en ʼn mens het wortels nodig. Die jurie praat ook van my ma in die teenwoordige tyd, asof sy nog lewe. Eintlik is dit poëties gesien nogal mooi; my oorlede gesin is nie meer hier nie, maar ook wel, solank ek nog hier is, in elk geval.
- Die jurie vir die prys bestaan uit Janita Monna (voorsitter), Jeroen Dera, Ester Naomi Perquin, Carl De Strycker en Michael Tedja. Die oeuvreprys het 'n geldwaarde van €60 000. Die prysoorhandiging vind in Mei 2021 plaas, volgens die Literatuurmuseum wat verantwoordelik is vir die toekenning en uitreiking van die P.C. Hooft-prys.
- Werke van Schaffer wat in Afrikaanse vertaling beskikbaar is, is Kom in, dit vries daar buite, ’n keur uit sy werk wat vertaal is deur Daniel Hugo, en Zandra Bezuidenhout se vertaling van Mens dier ding.
Lees ook:
Buro: MvHPersbericht: P.C. Hooft-prijs 2021 voor poëzie voor Alfred Schaffer