Die Verenigde Nasies se Internasionale Dag van Hoop wat op Sondag 12 Julie gevier word, is ingestel om hoop te bevorder as ’n globale mag vir vrede, welstand en aksie teenoor volhoubare ontwikkeling.
Ek het hierdie tipe hoop egter in ’n ander vorm ervaar.
’n Dekade of wat gelede staan ek in die American Museum of Natural History (AMNH) in New York en hoor hoe twee mense gesels oor Neil deGrasse Tyson, ’n astrofisikus en direkteur van die Hayden Planetarium daar. Hulle het glo na sy vertellinge oor die effek van die Hirosjima- en Nagasaki-atoombomme geluister en hy het hul “koppe oopgeblaas” – hul sinspeling, nie myne nie.

Die Shukkeien-tuin
Ek vang met die wegstap net iets van die bome wat die atoombom oorleef het in die Shukkeien-tuin, net meer as 1,37 km van die episentrum, maar is maar liggelowig. Tot ek gaan oplees het oor hoeveel bome – sommige selfs nog nader aan die ontploffing – ook oorleef het en gesien het een is ’n horingoue Ginkgo biloba (nooienshaar of vrekboom).
Om 16 jaar later langs daardie einste Ginkgo te staan, ’n onwerklikheid wat my vandag nog verstom.
Maar laat ek die storie in volgorde vertel. Ons is op ’n 13 dag skeepsvaart met Norwegian Cruise Line se Norwegian Spirit wat van Seoel in Suid-Korea vaar en al die Japannese eilande in die Oos-Chinasee besoek, voor dit in Tokio arriveer. Dis nie net ’n skeepsvaart-liefhebber se droom oor die rustige waters en gematigde weer nie, maar ook ’n fees vir geskiedenis-nerds. Verskeie historiese plekke en slagvelde uit die Tweede Wêreldoorlog word besoek: ook Hirosjima.

Die Shukkeien-tuin
Ons gids, Misato Shibato, vertel by die hek van die Shukkeien-tuin dat sy besluit het om die dag se uitstappie hier te begin, “sodat julle kan rustig word voor julle die verskrikking van die bom in die museums gaan ontgin”.
Sowat 250 000 besoekers kom jaarliks hierheen – voor of ná hul die atoombom-museums besoek het.
Die Shukkeien-tuin is ’n oase van rustigheid uit eeue gelede teen die agtergrond van ’n moderne stad, vertel sy toe ons by die kaartjiekantoor verbystap.
Oral is mense besig om te hark, te snoei en water te gee.
Ons klein inligtingsblad vertel: “Die Shukkeien-tuine is oorspronklik in 1620 geskep deur die feodale heer, Asano Nagaakira. Die naam Shukkeien beteken letterlik ‘saamgeperste landskap’ en dit beskryf die tuin se ontwerp: ’n klein, beheerde wêreld waarin strome, eilandjies, heuweltjies en plante in perfekte harmonie saamvloei om die wye natuur in miniatuurvorm te weerspieël.
“Dis glo op Xihu (Wesmeer) in China geskoei.”
Elke element in die tuin het ’n doel: van die water wat simbolies die see of riviere verteenwoordig, tot die bruggies wat besoekers van een eilandjie na ’n ander lei, en die rotse wat berge voorstel.

Koko-kyo, die “reënboogbrug”
Die stap oor die klein sementbruggie, Koko-kyo (die “reënboogbrug” in die volksmond), is ’n uitdaging, want dis ongewoon steil en boonop is die trappies oneweredig. Misato het beduie dit dwing jou amper om die tempo van die moderne wêreld agter te laat en stil te word, en herinner aan die sensitiwiteit van Japannese tuinmaak, waar elke beweging en perspektief beplan is.
Sy vertel vinnig dat wetenskaplikes gereken het dat die verwoesting van die atoombom op 6 Augustus 1945 in Hirosjima sou beteken dat geen plante vir 75 jaar daar sal groei nie.
“Tog het kannas en selonsrose daardie einste jaar geblom en half verkoolde bome begin bot. Altesaam 170 Hibakujumoku (atoombom-oorlewende bome) is in 55 plekke binne ’n 2 km radius van die episentrum geïdentifiseer en dit het hoop aan die oorlewendes van die stad gegee.”
Shukkeien is nie net ’n plek van estetika nie, maar ook ’n ruimte van refleksie, vertel sy. Die kombinasie van historiese betekenis en die fynbeplande landskap nooi besoekers uit om hul eie plek in die kontinuïteit van tyd en natuur te oorweeg. Dit is ’n tuin wat nie net jou sintuie voed nie, maar jou ook laat stilstaan by die veerkragtigheid van die lewe en die harmonie tussen mens en natuur.

Een van die Japannese swartdenne wat die atoombom oorleef het
Sy stap tot langs die groot dam en kom tot stilstand. “Dis die tuin waarin die beroemde Ginkgo-boom, die Japannese swartden en ander bome wat die atoombom 80 jaar gelede oorleef het, trots groei. Die bome staan as ’n lewende getuie van Hirosjima se tragiese geskiedenis en sy ongelooflike herstel. Die takke van die bome draai stadig en sag in die wind, en nuwe blare en takke vorm elke jaar – ’n teken van lewe en hoop te midde van vernietiging.
“Vir besoekers bring hierdie bome ’n emosionele dimensie tot die tuin; dit herinner ons dat selfs in die mees verwoestende omstandighede die natuur en die menslike gees kan oorleef en bloei.”
Ek kan nie glo die vlugtige aanmerking van 16 jaar tevore en 11 200 km hiervandaan is ewe skielik oral om my nie!
Iemand in ons groep vra of mens van die bome se steggies kan koop. Sy verduidelik dat die Green Legacy Hiroshima-projek wat op 1 Julie 2011 gestig is, juis dit ten doel het.
Saailinge en steggies word van die verskillende Hibakujumoku gemaak en dan wêreldwyd in botaniese tuine, parke en groot universiteitstuine geplant as simbole van hoop en oorlewing en om die boodskap vir die afskaffing van atoombomme te verkondig. In die tuin is ook ’n Japannese swartden en Mukunoki (Zelkova) wat oorleef het.
Sy kom staan by my en sê ons was seker al by die boom in George in Suid-Afrika wat van ’n steggie van hierdie boom gekweek is. Ek staan weer in verstomming oor my onkunde, maar belowe ek sal gaan.
Die besoek aan die tuin was voorwaar ’n goeie fondament vir ’n emosioneel moeilike dag by die atoombom-museum en die helende krag van die natuur weer duidelik in my onderbewussyn.

Die Hama-rikyu-tuine
10 dae later is ek weer in ’n tuin: In die hart van die bruisende metropool, Tokio, lê ’n stil hoekie van rustigheid en kultuur: die Hama-rikyu-tuine. Die stad met sy 37 miljoen mense, tot 10 moltreine wat onder mekaar loop en oneindigende verkeer, verdryf enige hoop op stilte in jou kop.
Ek wil asemhaal in die pragtige voorbeeld van ’n tradisionele Japannese tuin in ’n moderne stad. Dit was oorspronklik ’n jagtershuis en shogunaat-tuin was uit die Edo-periode (1603–1868). Dis bekend vir sy groot soutwaterdamme wat met die getye verander. Dit word Shioiri-no-ike genoem.
Dis nie net ’n toevlugsoord van groen en water nie, maar ’n lewende herinnering aan die ryk geskiedenis van Japan.
Die ontwerp weerspieël die klassieke Japanse tuinestetika: ’n harmonieuse balans tussen water, rotse, plante en strukture, met die doel om ’n miniatuurwêreld van natuurlike landskappe te skep.
Benewens sy estetiese waarde, het die tuin ’n ryk kultuurhistoriese betekenis. Verskeie oorspronklike strukture van die Edo-periode is herstel of herbou, wat besoekers ’n gevoel gee van hoe die aristokrasie en die stedelike elite van daardie tyd geleef het.
Rondom die damme vind jy klein bruggies en rotsformasies wat elk ’n simboliese betekenis dra – van geluk en voorspoed, tot vrede en beskerming. Hierdie simboliek is ’n belangrike deel van die Japanse tuintradisie en help besoekers om die dieper betekenisse agter die visuele prag van die tuin te verstaan.
Elke element van die tuin is doelbewus geplaas om kalmte en introspeksie aan te moedig, ’n refleksie van die filosofie van Zen wat die Edo-periode diep beïnvloed het, lees ek op die inligtingsbord.

’n Waterval in die stad
Die tuin is verdeel in verskeie afdelings, elk met sy eie karakter en tema. Soms staan jy langs koidammetjies, dan is daar ’n waterval, of soms net plate blomme.

Koi in die stad
Selfs in die winter, wanneer die tuin bedek is met ’n dun laag sneeu, straal dit ’n stille en meditatiewe skoonheid uit, wat ’n skerp kontras vorm met die moderne wolkekrabbers in die agtergrond.
Vir fotograwe en natuurliefhebbers bied die Edo-tuin elke seisoen unieke geleenthede om die wisselwerking tussen die mensgemaakte en die natuurlike vas te vang. By die uitgang staan ’n man juis met poskaarte wat elke seisoen pragtig vasvang.

Die tradisionele teehuis
Die tradisionele teehuis is een van die hoogtepunte en besoekers kan hier deelneem aan die Japannese teeseremonie, ’n ervaring wat die kultuur van Edo tot lewe roep. Daarna kan jy rustig langs die damme stap.
Alle kulture en gelowe is daar byeen en kry kans om vir ’n wyle die anonimiteit van Tokio agter te laat en die diverse kulture daar byeen se nabyheid te geniet.
Die teehuis is toe vir opleiding toe ons daar kom, maar gelukkig het ons padkos en boeke in ons rugsak.
Dit word ’n dag se ontvlugting, omvou deur groen en geskiedenis.

Die Kurogane-hulsboom
Dis ses maande later en 12 000 km verder dat ek in die George Botaniese Tuin voor die jong Kurogane-hulsboom (Ilex rotunda) met sy Hirosjima-oorsprong staan. Dis deur Kirstenbosch aan die tuine geskenk ter ere van Paul Fick, wat saam met sy vrou, Mandy, van die stigterslede van die botaniese tuine was.
Ek laat Misato se woorde weer oor my spoel.
“Elke keer as iemand onder sy takke staan en die sagte briesie tussen die blare voel, vlam die krag van herstel en die moontlikheid van ’n nuwe begin weer op. Dit is nie net ’n botaniese toevoeging tot die omgewing nie, maar ook ’n wêreldwye boodskap van vrede en hoop wat van Hirosjima na Suid-Afrika reis.
“As jy na die boom kyk, sien jy nie net ’n plant nie, maar ’n verhaal van oorlewing, internasionale verbondenheid en hoop vir die toekoms.”
En is ons nie juis nou – meer as ooit – van hoop en samesyn gestroop nie?
Dis weer Tyson se wysheid wat by my opkom: “We are all connected. To each other, biologically. To the earth, chemically. To the rest of the universe, atomically.”
Kitsfeite:
- Daar is nege tuine in die hartjie van Tokio onder die Tokio- metropolitaanse tuine: Hama-rikyu, Rikugien, Kyu-Iwasaki-tei, Kuy-Shiba-rikyu, Mukojima-Hyakkaen, Kuy-Furukawa, Koishikawa, Kiyosumi en Tonogayato. Die toegangsfooie wissel tussen R15 en R30, maar die ervaring is prysloos.
- Lees meer oor die verskeie skeepsvaarte in 2026 na Japan by www.ncl.com/no/en/cruise-destinations/asia-cruises
- Lees meer oor die George Botaniese Tuin hier: https://botanicalgarden.org.za/
- Lees meer oor die Green Legacy Hirosjima-projek hier: https://unitar.org/sites/default/files/glh_-_revised_infornation_note_oct_2012.pdf
- Al die foto’s is geneem met die nuwe Canon spieëllose R6. Sy tjoepstil sluiterspoed beteken aksiefoto’s kan geneem word tydens onderhoude, sonder om mense met die ewige gekliek-kliek te pla. Loer by www.canon.co.za
Lees ook:
Kunō-zan: Raak rustig in ’n Japannese heiligdom aan die voete van Berg Fuji
