Die werk van opkomende bruin Afrikaanse skrywers maak haar die meeste van alles opgewonde oor die Afrikaanse letterkunde.
So het die bekroonde skrywer en kunstenaar Ingrid Winterbach onlangs by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederlands en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands, Kaapstad gesê.
Sy was in gesprek met Yves T’Sjoen, ’n Belgiese literêre navorser en akademikus, veral bekend vir sy werk op die gebied van Nederlandse en Vlaamse literatuur.
Hy is verbonde aan die Universiteit Gent in België waar hy as professor in Nederlandse letterkunde werk en is tans op besoek aan Suid-Afrika.
Yves T’Sjoen en Ingrid Winterbach (Foto: Jean Oosthuizen)
Winterbach het bekendheid verwerf as een van die mees gevierde en gerespekteerde Afrikaanse skrywers van haar generasie. Haar werk word gekenmerk deur sy diepte, kompleksiteit en vernuwende taalgebruik. Sy het talle pryse verower vir haar skryfwerk, insluitende die Hertzogprys, die M-Net-prys, die WA Hofmeyr-prys en die Universiteit van Johannesburg-prys.
Winterbach het onder die skuilnaam Lettie Viljoen begin skryf, en haar eerste roman onder hierdie naam was Klaaglied vir Koos wat in 1984 gepubliseer is. Later het sy onder haar eie naam begin publiseer en het ’n groot aantal romans, kortverhale en ander literêre werke geskryf.
T’Sjoen is bekend vir sy internasionale samewerking met ander literêre akademici en instellings. Hy het aan verskeie internasionale konferensies deelgeneem en tree dikwels as gasdosent by ander universiteite op. Sy werk het ’n brug gebou tussen Vlaamse literatuur en die breër internasionale literêre gemeenskap.
Hy het die afgelope maande op uitnodiging van SASNEV gesprekke gevoer met akademici en skrywers in die eerste Bruggenhoofden-gespreksreeks by die kulturele sentrum vir die Lae Lande in Pinelands.
Bruggenhoofden is ’n publieke platform wat die letterkundige wisselwerking tussen Suid-Afrika en die Lae Lande ondersoek.
Winterbach was die laaste van vanjaar se gespreksgenote. Die ander vier met wie T’Sjoen gesprek gevoer het, was Louise Viljoen, Alfred Schaffer, Anastasia de Vries en Andries Visagie.
Winterbach sê sy volg die werk van Suid-Afrikaanse skrywers getrou. Sy lees alle skrywers in Afrikaans se werk wat sy die moeite werd ag. Sy het onder andere die name genoem van SJ Naudé en Eben Venter, maar wat haar op die oomblik die mees opgewonde maak, is die werk van bruin skrywers.
“Dit maak my rêrig opgewonde. Ek vind dat die mees uitdagende, konfronterende, opwindende werk is van mense soos Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer.”
Sy het ook die name van verskeie ander bruin skrywers uitgesonder met wie se werk sy beïndruk is, onder andere Ashwin Arendse, Lynthia Julius en Jolyn Phillips.
Sy het pas Amma gelees, die verhaal van Charmaine Africa wat in Bishop Lavis grootgeword het. Dit speel af teen die agtergrond van apartheid in ’n verarmde, apolitieke familie. Winterbach beskryf dit as ’n aangrypende memoir en sê dit is een van die boeke wat haar diep geraak het.
Dit is vir haar ’n enorme verbreding van die Afrikaanse letterkunde. Al wil iemand soos Ronelda Kamfer nie deel van die breër Afrikaanse letterkunde wees nie, is al hulle werk volgens Winterbach deel van die Afrikaanse letterkunde.
Sy sê toe sy in die 80’s begin skryf het, het dit vir baie Afrikaanse skrywers gegaan oor die grensoorlog. Dit was die groot kwessie waaroor mense soos Alexander Strachan en ander soos Etienne van Heerden in daardie tyd geskryf het. “Die groot vraag destyds was of daar betrokke of nie betrokke geskryf moet word.”
“Nou gaan dit oor die stemme van mense wat voorheen nie stemme gehad het nie. Dit is belangrik om dit in Afrikaans op te neem,” sê sy.
T’Sjoen sê in Nederland was daar ook verskeie sulke stemme wat lank nie gehoor is nie, omdat hulle onder die radar was. Hy sien iets soortgelyks gebeur in die Afrikaanse letterkunde.
Tydens die gesprek is die belangrikheid van vertalings ook weer opnuut beklemtoon.
“Vertalings is so belangrik, want dit open ander wêrelde vir ’n mens wat jy nooit daarsonder sou ontdek het nie,” sê Winterbach.
Volgens T’Sjoen is daar ’n ryk vertalingskultuur in Nederland. Fondse word spesiaal daarvoor in Nederland en Vlaandere beskikbaar gestel.
Winterbach het dit beaam. Sy het voorbeelde genoem van boeke wat uit ander tale soos Noors in Nederlands vertaal is, maar nooit in Engels nie. Indien sy nie Nederlands magtig was nie, sou sy nooit blootgestel word aan daardie skrywers se werk en lewenswêreld nie.
Sy meen daar is veral baie Nederlandse skrywers wat nie wit is nie, wie se werk ook in Afrikaans vertaal behoort te word en vergelyk kan word met bruin Afrikaanse skrywers wat voorheen nie ’n stem gehad het nie.
SASNEV het by hulle sentrum in Pinelands begin met ’n versameling Nederlandse boeke wat in Afrikaans vertaal is, asook Afrikaanse boeke wat in Nederlands vertaal is. Daar is ook van Winterbach se boeke wat in Nederlands vertaal is.
Die sentrum het verlede jaar met die projek begin om alle Nederlandse literatuur wat in Afrikaans vertaal is, te versamel. Dit het begin met vyf en later 10 boeke. Vandag is daar reeds ’n hele boekrak vol van die vertaalde werke.
Daar is op die oomblik sowat 300 van die boeke in die versameling en volgens SASNEV is daar vermoedelik sowat 500 daarvan êrens by uitgewers of iewers in ’n boekrak wat hulle graag sou wou opspoor.
SASNEV beplan om later vanjaar ’n eendagsimposium te hou oor vertalings. Daar word beoog om al die aspekte van vertaling onder die loep te neem, soos wat word vertaal, waarom word dit vertaal en hoekom is daar sekere periodes waartydens daar meer boeke vertaal word as in ander periodes.
Winterbach wat self boeke vertaal, sê dit is belangrik dat die oorspronklike skrywer se eie stem sover moontlik in ’n vertaalde werk behou word. Om dit reg te kry is dit verkieslik dat daar tydens die vertaalproses ’n goeie wisselwerking tussen die skrywer en die vertaler plaasvind en dat daar ’n goeie verstandhouding tussen hulle is, sê sy.
Een van die probleme tydens vertalings is idiome wat moeilik vertaalbaar is. Ironie kan ook maklik verlore raak in ’n vertaling, sê sy.
Winterbach sê Nederlanders se sin vir humor verskil ook heeltemal van Suid-Afrikaners s’n, daarom is humor so moeilik vertaalbaar.
Volgens T’Sjoen is dit belangrik om nie net die teks te vertaal nie, maar ook die kulturele raamwerk waarbinne dit afspeel.
Oor haar eie werk wat vertaal word, erken Winterbach dat sy ietwat van ’n control freak is. Sy sê sy wil graag sover moontlik inspraak daarin hê wanneer daar van haar werk vertaal word en glo dit geld vir die meeste skrywers.
Dit is volgens haar onvermydelik dat daar ook iets van die vertaler se stem na vore kom in ’n vertaling, maar dit is uiters belangrik dat die oorspronklike skrywer se stem behou word. Met die vertaling van haar boek Karolina Ferreira moes sy later die vertaling dringend hersien om haar eie stem te laat terugkeer in die vertaling, vertel sy.