Orania haal gereeld die nuus – en dat dit so is, is sekerlik teen hierdie tyd nie meer nuus nie, maar die afgelope week het dié Afrikanertuiste in die Noord-Kaap weer op (minstens) twee wyses ter sprake gekom.
In ’n onderhoud oor sy verwagtinge van die minister van finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede die afgelope Woensdag het Imtiaz Sooliman, stigter van die hulpverleningsorganisasie Gift of the Givers, gefokus op die kwessie van kragvoorsiening. Eerder as om nog te hoop dat Eskom voldoende sal herstel, of in die afsienbare toekoms noemenswaardige verbetering sal toon, behoort Suid-Afrikaners wat dit kan bekostig, selfonderhoudend te raak. Hulle moet sonpanele oprig, het hy landsburgers aangemoedig. Dit sal dan die druk afneem van die stelsel (“grid”) waardeur Eskom die hele land moet bedien.
“Meer van ons moet Orania se voorbeeld volg,” het Sooliman sonder voorbehoude gesê. Dit was die een geval waarin die veelbesproke selfdoen-dorp ter sprake gekom het: in ’n positiewe verwysing deur een van die mees gerespekteerde burgerlike leiers van Suid-Afrika, iemand oor wie daar gereeld gesê word hy behoort die president te wees.
Die tweede geval waar na Orania verwys is, was een waar die (nimmereindigende?) tweespalt oor die bestaansrede van die dorp ter sprake gekom het. ’n Twitter-gebruiker (dat hy swart is, is relevant in hierdie verband) het ’n foto van ’n nuwe teerpad, wat in Orania aangelê is, geplaas. Die byskrif het eenvoudig gesê wat dit is: “A new road in Orania.” Die subteks was duidelik: dit was bedoel om aan te dui hoedat die (wit, Afrikaner-) inwoners van hierdie dorp self moue oprol en paaie bou, soos wat hulle met elke ander vorm van infrastruktuur en elke vorm van dienslewering doen. Selfdoen en selfonderhoudend wees, is die motto, wat beteken dat jy as gemeenskap op niemand anders aangewese sal wees nie – nie van eksterne arbeid nie en veral nie van die nasionale of provinsiale regering nie, asook nie van die plaaslike munisipaliteit nie.
Dit is waar Sooliman se uitlating en die Twitter-plasing oorkruis: Orania doen vir Orania wat Orania nodig het; Orania sit en wag nie op politici nie en staan nie bakhand vir gunste en gawes van die staat nie. Maar dié waarheid maak seer – ook die waarheid oor hoe Orania dinge regkry. Om dié rede het talle van die Twitter-gebruikers (meestal swart) wat op die teerpad-plasing kommentaar gelewer het, verwys na uitgediende idees van die dorpie, soos dat dit rassisties sou wees, onvriendelik teenoor swart mense, dat hulle apartheid wil laat voortleef en hulleself as onafhanklik van die res van Suid-Afrika sou beskou.
Kortom, as ek dit reg gelees het, glo die mense wat hierdie mening huldig dat die mense wat op Orania woon en in toenemende getalle soontoe trek (soos Joost Strydom van die Orania-beweging my laat verstaan), wégvlug van die swart regering. Watwou. Maar selfs al is dit dan ook in sommige Oraniërs se geval waar, is daar genoeg ander (ook hoofsaaklik swart) wie se reaksie op die teerpad-twiet bevestigend was van hoedat sommige gemeenskappe in die land nie slegs kla oor hoe dinge agteruit gaan onder die ANC se bewind nie, maar self oorpakke, handskoene en waterstewels aantrek om reg te maak wat verkeerd loop. Dit is waarvan Orania ’n uitsonderlike voorbeeld (illustrasie, manifestering, bevestiging) is, was die kommentaar van hierdie ander groep Twitter-gebruikers.
En dit is ook die indruk waarmee ek gelaat is toe ek verlede Donderdag in Centurion na Strydom geluister het by AfriForum se Federalisme-konferensie – eintlik sou “selfbestuur”-konferensie ewe gepas wees, want die konferensie het gevolg op die bekendstelling die vorige aand van die dokumentêr Selfbestuur, wat vir AfriForumTV vervaardig is en pas op dié YouTube-platform gelaai is.
Nou, ’n week later, bevestig Strydom by navraag die snelskrif van wat hy die “Orania-idee” noem: “Ons glo in die idee van eie arbeid. Ons glo dat ’n mens, Afrikaners veral, net vir hulself ’n toekoms kan uitbou as die arbeidspraktyke in hierdie land drasties verander. Ons glo dat die arbeidspraktyke in hierdie land nie volhoubaar is nie – en dat dit nie die regte pad is nie. So wat sê ons? Ons sê eie arbeid. Afrikaners moet hul eie werk leer doen. En so vir hulleself ’n toekoms bou en so niemand uitbuit nie en self verantwoordelikheid neem vir hul eie bemagtiging.”
Sonder om regstreeks op die apartheidskritiek te reageer, vermeld hy ook: “Een van die belangrikste goed wat ’n mens oor Orania moet sê, is dat jy Orania nie moet meet aan waar ons tans is nie; meet eerder ons groeitrajek, [meet ons] aan waarheen ons op pad is. So wanneer ons terugkyk na waar die Orania-idee vandaan kom, is die idee veel ouer as die einde van apartheid. Dit is omdat Orania nie ’n reaksie op die einde van apartheid is nie.”
Orania is ’n idee “op eie bene, in eie reg”, sê hy, wat die eerste keer gestalte gekry het toe die destydse Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (SABRA) in 1954 ’n eerste kongres oor arbeid gehou het. Lees meer oor die dorp se ontstaansgeskiedenis hier. Soos Strydom benadruk: “Arbeid is een van die belangrikste goed wat te doen het met die Orania-idee.”
Die dorp en die beweging se drie kernbeginsels is “eie grond, eie arbeid, eie instellings”. Hulle deel hierdie beginsels met ander (“tradisionele”) gemeenskappe wat belangstel in hoe hulle dinge in Orania regkry. Dit help om die Orania-idee te legitimiseer; dit wys hulle is op die regte pad, kom dit trots van Strydom. Die regte pad beteken ook dat jy vandag in Orania ’n dorp sien wat van ’n eens spookdorp, ’n dorp wat uitmekaar geval het, ’n dorp vind waar eiendomspryse die hoogte inskiet, ’n eie sonplaas die weg na totale kragonafhanklikheid aandui en waar die ekonomie sedert 2016 met meer as 10% gegroei het en tussen 25% en 27% nuwe besighede hier geopen is, “want hulle het vertroue in die omgewing wat ons hier skep”.
Dit is dalk net ’n dorp, maar dit is ’n dorp wat mense in die media en op sosiale media aan die praat kry (en aan die praat hou); ’n dorp wat al die tekens toon van die vordering waarop Suid-Afrikaners vir die land in geheel hoop. Maar dan moet ’n mens vra: hoeveel Suid-Afrikaners is bereid om te doen wat die mense in Orania doen, naamlik om self verantwoordelikheid te neem vir hul toekoms en die toekoms van die land?
Hopelik help Orania in hierdie tye – gesteun deur die Sooliman-uitspraak oor selfonderhoudende krag in die dorp en die Twitter-plasing van die selfgeboude teerpad – dat meer mense se oë nou sal oopgaan; dat hulle, soos die inwoners van Orania, sal besef jy hoef nie op (politieke) prinse te vertrou nie.