Oud-Springbok wil hof toe oor ''rassisme''

  • 0

Die voorval waartydens die bruin sportanalis en voormalige Springbokrugbyspeler Ashwin Willemse ’n maand gelede uit die sportateljee geloop het, gaan in die gelykheidshof verder gevoer word.

Dit volg nadat SuperSport se ondersoek bevind het daar is geen bewyse dat rassisme ’n rol gespeel het toe Willemse ten aanskoue van die hele land sy twee wit mede-aanbieders, Nick Mallet en Naas Botha, van neerhalende gedrag beskuldig het nie.

SuperSport se ondersoek is deur ’n onafhanklike voorsitter, advokaat Vincent Maleka gelei. Ingevolge die verslag wat SuperSport vrygestel het, is daar geen bewyse gevind van rassisme in die voorval tussen Willemse, Botha en Mallet nie. Botha en Mallet sal terugkeer na hulle werk, en Willemse kan terugkeer indien hy wil. Willemse het nie deelgeneem aan die ondersoek nie.

Die ondersoek het wel aan die lig gebring dat die spanning tussen Willemse en Mallet reeds ’n baie lang pad kom. Mallet het reeds al twee jaar gelede sy ontevredenheid met Willemse aan SuperSport bekend gemaak.

In minstens drie e-posse wat hy sedert 2016 aan SuperSport geskryf het, het hy versoek om nie meer saam met Willemse te werk nie. Volgens Mallet het hy lekker saamgewerk met mense soos Xola Ntsinga, Breyten Paulse en Shimmy (Hanyani Shimange).

Willemse het volgens hom “nonsens” gepraat en hulle het “die hel uit mekaar irriteer”. Hulle werksomstandighede was volgens Mallet gespanne en onplesierig. Die onenigheid tussen Mallet en Willemse kon egter nie volgens die ondersoek aan rassisme gekoppel word nie.

Die volledige verslag oor SuperSport se ondersoek beslaan 50 bladsye en kan hier gelees word: http://images.SuperSport.com/content/IndependentReviewReportIntoSuperSportIncident20180619.pdf?_ga=2.99492702.1128686446.1529487697-972356197.1529487697

Willemse se regsverteenwoordiger, Ngqobizitha Mlilo, sê Willemse bevraagteken die proses wat gevolg is sowel as die regsgeldigheid van die ondersoek. Volgens Mlilo het Willemse voorbehoude gehad oor die ondersoek na sy besluit om tydens die regstreekse uitsending ’n SuperSport-stel te verlaat. Dit is steeds nie duidelik waarom hy hom so bloedig vererg het nie aangesien hy nie wou deelneem aan die ondersoek om sy kant van die saak te stel nie.

Advokaat Maleka het urelange onderhoude met Mallet, Botha en SuperSport se hoofde en personeel gevoer. In sy verslag sê hy dat hy geen aanduiding van rassisme kon vind wat verband hou met die voorval nie. Willemse het met sy familie en regsverteenwoordiger by die ondersoek opgedaag maar het laat blyk dat hy nie daaraan wil deelneem nie omdat hy nie vertroue in die ondersoek gehad het nie.

Die voorval het verlede maand landwyd ’n rasseherrie veroorsaak en rugbyondersteuners op grond van ras verdeel. Suid-Afrikaners van alle rasse het mekaar na die voorval in die media en op sosiale media vanuit verskillende hoeke soos in ’n losskrum getakel en vanuit hulle onderskeie agtergronde op mekaar losgetrek.

Die minister van sport en ontspanning, Tokozile Xasa, wat na die voorval aangedring het dat Mallet en Botha summier afgedank word weens hulle beweerde “rassisme” het nog nie reageer op die verslag se bevinding dat daar geen rassisme ter sprake was nie. Volgens haar woordvoerder, Vuyo Mhaga, kan die minister nie kommentaar lewer op ’n verslag wat sy nog nie gesien het nie.

Die drie rugbymanne wat midde in die storm is naamlik Willemse, Mallet en Botha het ook nog nie met die media gepraat na die bekendmaking van die ondersoek se verslag nie.

Foto van Ashwin Willemse: YouTube

Lees ook

Rugby ontbloot Suid-Afrika se rasseverdeeldheid

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top