Rugby ontbloot Suid-Afrika se rasseverdeeldheid

  • 0

Suid-Afrika se nasionale sport, rugby, wat die land 23 jaar gelede tydens die 1995-Wêreldrugbybeker verenig het soos geen ander gebeurtenis nie, het op ’n onverwagse manier die vinger gelê op ’n rassekwessie wat besig is om die rasseverdeeldheid in die land op die spits te dryf.

Die voorval waartydens die bruin sportontleder en voormalige Springbokrugbyspeler Ashwin Willemse verlede Saterdagaand tydens ’n regstreekse uitsending uit die SupertSport-ateljee gestap het, het ’n ongekende rasseherrie in die land ontketen.

Willemse het sy twee wit mede-aanbieders, Nick Mallett en Naas Botha, van neerhalende gedrag beskuldig, sy mikrofoon afgehaal en uit die ateljee gestap terwyl die uitsending regstreeks oor die lug uitgesaai is.

Suid-Afrikaners van alle rasse het mekaar ná die voorval in die media en op sosiale media vanuit verskillende hoeke soos in ’n losskrum getakel en vanuit hulle onderskeie agtergronde op mekaar losgetrek. Aan weerskante van die debat is kommentators, sportliefhebbers asook politici besig om die man te speel en nie die bal nie. Hulle beskuldig mekaar oor en weer van rassisme.

Terwyl daar steeds geen duidelikheid is presies wat daartoe gelei het dat Willemse die ateljee op so ’n dramatiese wyse verlaat het nie, gons dit in die land oor die redes en oorsake daarvoor.

Op webwerwe en in koerante beskuldig die meeste wit Suid-Afrikaners hom daarvan dat hy nie bevoeg was om sy werk as ontleder te doen nie. Daarteenoor meen die meeste swart en bruin deelnemers aan die gesprek, asook ’n deel van die blankes, dat daar ’n veel meer diepliggende probleem in die land is wat rasseverhoudings betref en wat aangespreek moet word.

Nie een van die drie aanbieders wat by die voorval betrokke was, het tot dusver laat blyk presies wat tot die voorval aanleiding gegee het nie. Die onmin tussen Willemse en veral die voormalige Springbokafrigter Nick Mallett het blykbaar ’n lang aanloop.

Ongeag die rede vir Saterdag se voorval, dui dit op ’n land wie se burgers steeds diep verdeeld is as gevolg van apartheid. Dit is veral die kommentaar wat na die voorval op sosiale media verskyn wat wys dat die polarisasie tussen die verskillende kleurgroepe in Suid-Afrika op sportgebied en ook elders steeds ’n werklikheid is.

Terwyl die uitvoerende hoof van SuperSport, Gideon Khobane, Maandag gesê het die voorval was nie rasgedrewe nie, het dit beslis ou rassewonde oopgekrap.

Die meeste bruin kommentators is van mening dat Willemse uiting gegee het aan frustrasies wat reeds lank by hom broei. Die joernalis Henry Jeffreys skryf in ’n meningsartikel wat in die dagblad Die Burger verskyn het, dat Willemse se optrede ’n wekroep is vir selfondersoek in ondernemings oor die hele ekonomie heen. Hy meen die druk op swart presteerders in Suid-Afrika om nie net goed te vaar nie, maar hulself te laat geld, is enorm.

Volgens die joernalis  Maygene de Wee is daar een ding wat die Willemse-geval gewys het, en dit is dat Suid-Afrikaners weer mooi moet gaan dink hoe hulle van mekaar en met mekaar praat.

Sy verwys onder andere na die publiek se kommentaar wat na die voorval op sosiale media verskyn het en sê dit het haar laat sidder. Beledigings vanuit die verskillende bevolkingsgroepe is oor en weer na mekaar geslinger. Haar rubriek is begroet met ’n stortvloed onvleiende en beledigende kommentaar wat die land se verdeeldheid volgens ras nog verder beklemtoon het.

Foto: YouTube

Lees ook

Oud-Springbok wil hof toe oor ''rassisme''

 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top