Ons laat die Swartland agter en kruie stadig agter ’n reuse-vragmotor teen die Piekenierskloofpas uit. Ek sit verwonderd en uitkyk oor die uitgestrekte vlakte vêr onderkant my venster; die lappies aarde wat in groen, bruin en geel verdeel is en die teer- en grondpaaie wat soos enorme visnetkouse oor die aarde span.
Agter ons rus Tafelberg met haar voete in die see; voor ons wink die oeroue kranse waar die San hul rotstekeninge in die Cederberge vir ons agtergelaat het.
In hierdie pragtige heuwels en klowe, groei van Suid-Afrika se oudste wingerde en word bekroonde wyne gemaak.
Ons eerste stop is die Piekenierskloof Bergoord op die kruin van die pas. Die oord lê hoog teen die kliprante en kyk uit oor die vallei tot ver onder by Citrusdal. Hier kom ons zipline. Die middag-gleuf is drie lang glye oor die veld. As jy sewe glye tussen nege platforms wil doen, moet jy vroegoggend aanmeld. Die kabels wissel tussen 90m en 270m in lengte en elke groep kan ses mense akkommodeer. Jo-Ann du Toit, die oord se vermaak-, aktiwiteits- en ledekoördineerder, gee ons die agtergrond, terwyl ons na die beginpunt stap vir ons harnasse en valhelms.
Geen kinders jonger as agt mag gly nie en ook nie mense wat meer as 110 kg weeg nie. “Dis sodat die spanning op die kabel nie te veel is, sou een van die gidse jou halfpad op die kabel moet kom haal nie,” verduidelik sy.
Ons stap na die eerste platform en ek sien hoe die twee jong seuns voor ons se ouers vanaf die swembad na hul kroos se glye loer. Die kabels sigsag oor die kloof en die windjie waai jou gesig koel, terwyl jou voete soms aan die boonste blaartjies van ’n bos of ’n boom raak.
As jy die sewe glye doen, duur dit ongeveer 1,5 uur en jy stap vir 1,4 km terug na die oord toe; as jy die 3 glye doen, duur dit ongeveer 45 minute en jy stap 400m terug.
Terwyl ons terugstap na ons motor, kom ’n gesin op hul bergfietse verby en ek onthou Jo-Ann het vertel die roete het 18 maande gelede geopen en strek oor 15 km. Ons gaan sit by die restaurant neffens die swembad en drink ietsie koels, terwyl ons die vars lug inasem met die berge wat oor ons waghou.
Gesinne smul aan burgers en skyfies, sommige kinders gaan op allerhande georganiseerde avonture en ma en pa kry tyd vir asemhaal en opvang.
Drie is genoeg vir my, want ons het ’n vinnige middagete by Hebron oorkant die pad, voor ons die Piekenierskloof Wine Company se nuwe Grenache-ervaring meemaak.
Ons kry ’n tafeltjie in die hoek van die oop stoepie en kyk uit oor die tuin. As jy mooi luister, hoor jy die verkeer op die N7 – ’n mal gehaas na ’n bestemming. Vir sommige kom daardie bestemming nooit en die gejaag hou aan, maar vir ons is vrede nou hier in die loom middag in die vetplante in koffiebekers en ou stewels, wat oral in die tuin staan.
Ons smul aan tuisgebakte suurdeegbrood, gepekelde ui en gebraaide skrophoender met pesto. Die tuisgemaakte lemonade is verfrissend suur na die hitte van die zipline. Kort-kort stap een van die kelners by ons verby na die kruietuin en keer terug met ’n klein snoeiskêrtjie en ’n handvol geurige ment of basilie.
Steve en Caro Oldroyd is die eienaars van Hebron. Die restaurant se lof word oral in die Olifantsriviervallei besing en mense ry van ver om hier onder die koel bome te kom sit en eet. Nadat hulle vir etlike jare in Engeland gewoon en werk het, het hulle kom nesskrop om by Caro se ma oor te neem. Behalwe die restaurant en akkommodasie, doen hulle ook ’n gedeelte van die jaar blomme.
“Ons wou vir ons kinders die lewe gee wat ons as kinders gehad het – sorgeloos en vry,” vertel Steve oor ’n lekker espresso.
Ons stap verby Tant Dollie se Huis-padstalletjie met sy groen, oranje en pienk sinkpanele en sien in die halfskemer-koelte hoe die reuse boerpampoene op ’n draadrak vir jou wag. Tant Dollie het glo jare gelede op die plaas in hierdie einste huisie gewoon en konfyt gemaak en beskuit gebak vir die omgewing. Sy is lankal stof, maar haar erfenis staan trots hier onder die bome. Neffens die padstal is die oulike houthuis waarin die proelokaal gehuisves word.
Bridget van Zyl wag vir ons daar met die vier wyne en vier klein peuselhappies uit Steve se kombuis, wat die Grenache-ervaring uitmaak. Die Piekenierskloof Wine Company het twee jaar gelede hul proelokaal hier ingerig. Voorheen was dit Hebron se proelokaal wat wyne uit die streek te proe en te koop aangebied het.
Sy vertel hulle maak middel Desember hul nuwe proelokaal en padstal by De Tol oop. Die wynproe by Hebron is nog tot Mei 2020 beskikbaar. By De Tol se padstal gaan jy tuisgemaakte kos, roosterkoeke en goeie koffie geniet; of met ’n kaasbord en wynproe in die proelokaal ontspan.
Ons bekyk die mooi etikette, elkeen met ’n ander prentjie van ’n ridder. Bridget verduidelik dit was VOC-soldate met lang pieke wat die poort na die binneland beskerm het. Dis ook waar Piekenierskloof sy naam vandaan kry.
Die wynmaatskappy het drie wyne in die reeks: Die Piekenierskloof-, Stone Dance (hul Wyn van Oorsprong Swartland en Fairtrade-wyne) en die Six Hats-reeks (hul Fairtrade-reeks). Bridget se pa en oom is die twee hoof-aandeelhouers in die maatskappy en haar geesdrif oor die wyne is aansteeklik. Sy het landbou-ekonomie studeer en is nou by die plaas se bemarking en finansies betrokke en help af en toe in die proelokaal uit.
............
“Die laatmiddagson kruip stadig met sulke lang vingers oor die houttafel met sy drie verskillende lae verf wat in wit, groen en beige deurbreek. Jare se stories is in daardie verf vasgevang.”
............
Ons proe die Grenache Blanc gekombineer met crostini, brie en bosbessiekonfyt; die Grenache Rosé saam met olywe wat met bokkoms gestop en toe in broodkrummels gebraai is met ’n songedroogde tamatie-blatjang wat oor rooibostee gerook is; die Grenache Noir saam met ’n parmesaanstrooitjie met tiemie en ’n truffel-sampioen doopsous; die Heirloom-rooi met bees en Turkish delight met ’n donkersjokolade-omhulsel. Steve kom hoor of ons die pasmaat geniet. Hy sê sy peuselhappies word bedien “op ons ontspanne, effens rustieke manier”.
Die son sak al laer af oor die groen puntjies van die bome tot dit amper gelyk met die sandveldhuisie se vensterbank is. Dit kruip stadig oor die tafel tot dit ’n houtbak vol bolwang-granate soos kole rooi vuur verlig en die buitelyne van die bak en vrugte met goud omsoom.
Daar is twee lui honde op die stoep wat kort-kort lui-lui opstaan en lomerig hulle bene rek en oorstap na ’n waterbak onder ’n rak met potplante.
Asof daar iewers ’n meester in die donker hemelnag waghou, kom die volmaan oor die berg op en wys aanvanklik eers skaam-skaam ’n silwer wang tussen die bougainvilleas deur, voor dit trots bo die bome neffens die huis teen die swart nag hang. Toe die krag afgaan en ons by klein lampies eet, verlig die maan die stoep in sagte silwer lig en met die musiek uitgedoof, is dit net die gesellige gesels van mense. Hoe ongelooflik om ’n hele aandete in ’n vol restaurant te geniet, sonder enige selfone, enige selfies en geen kinders op slimfoon-speletjies nie. Die afwesigheid van krag smee weer gesinne en vriende saam om te gesels, elke mondjievol kos te proe en te kou en te geniet.
In die een hoekie staan ’n koolstofie waarop horingoue koperpanne gerangskik is, en ek wil my voorstel hoe jy hier in die hoogwinter by die knetterende vuurtjie sit en daar dalk in daardie panne lieflike soppe en bredies oor die kole berei word. Daarnaas lê dik houtstompe in ’n gevlegde mandjie geduldig en wag tot die aandwindjie koud byt.
Een van die ander ervarings waarvoor toeriste hier aandoen, is die G&T-ervaring wat gin, Carmientee en tonikum insluit. Die Carmien-gin met rooibos-infusie kom in twee geure: Floral Berry en Citrus, en jy kan die teeblare van hul Vintage Romance-tee met hibiskus en roosblare ruik, en die tweede een genaamd Amber Royalty, met sy chai-ondertone, voor jy die gin proe.
Bridget stel voor dat jy die gin onder in jou glas gooi, daarna die teesakkie en dan die tonikum vir ’n intense geur. Die Vintage Romance-sakkie kan jy inlos, maar die Amber-sakkie moet jy gou uithaal, voor dit te sterk trek.
Ons loop laatmiddag terug na ons kamer toe. Musiek van Birdtalker speel in die restaurant, waar aandete voorberei word. Die laatmiddagson kruip stadig met sulke lang vingers oor die houttafel met sy drie verskillende lae verf wat in wit, groen en beige deurbreek. Jare se stories is in daardie verf vasgevang.
Die volgende oggend kom die goue son deur die digte stamme van die wisteria op en ’n hoenderhaantjie kraai iewers op die werf. Net sag genoeg vir dié wat wil hoor en opstaan; maar ook sag genoeg as jy net effe wil notisie neem en omdraai vir nog ’n uur of wat.
Ek sit op die stoepie voor ons kamer en kyk hoe die dag stadig en lui ontwaak. Die besproeiing in Steve se beskutte groente- en kruietuin gaan aan en maak goue druppels wat soos ’n sambreel oor die groen blare en donker aarde val.
Middagete is iets waarna ons lankal uitsien. Ons gaan kuier by die Van Zyl-familie – die dryfkrag en eienaars agter die Piekenierskloof-etiket. Hulle besit ook die bekende Carmien Rooibostee, wat wêreldwyd gewild is.
Die dag word gewy aan hul ou wingerde, wat deel vorm van Suid-Afrika se Old Vines Project, ’n wêreld-eerste. Ons hoor by broers Potgieter en Oubaas, wat op die aangrensende plase, Bergendal en Heidedal boer, hoe die familie hierdie wingerde kom vestig het. By die bosstok-wingerd Chenin blanc, ’n skamele 5.31 hektaar wat hul pa, Carel, in 1962 geplant het, drink ons ’n glasie van dié wingerd se bekroonde wyn.
Hul suster, Mientjie Mouton, is die baasbrein van Carmien Tee en hul ander suster, Carmen Niehaus, is ’n bekende kosskrywer met verskeie resepteboeke op haar kerfstok. Sy is sedert 1989 die kosredakteur van Huisgenoot en You, ’n weeklikse tydskrif.
Oubaas vertel ons daar tussen die wingerde hoe hul oupa, Johan Abraham van Zyl, een van die grootste pionierboere in die Piekenierskloof, destyds geglo het dat vrugte hier ’n toekoms het en hoe hulle so stuk-stuk die land getem het om die netjiese boerderye van 2019 te wees.
Wynmakers, Jaco van Niekerk en sy vrou, Cerina, is die wynmaakspan by Piekenierskloof Wyne en ons stap saam met hulle en die Van Zyls tussen die ou wingerde deur. “Om te kwalifiseer as Old Vine, moet die wingerde ouer as 35 jaar wees,” vertel hy toe ons verpoos in die 3 hektaar-wingerd met Grenache Noir wat in 1973 geplant is. En weer proe ons die lieflike wyn uit dié blokkie.
In die 1.22-hektaar Muskadel (Muscat de Frontignan) wat in 1962 geplant is omdat hul ma, Jo, mal was oor ’n Muskadel, proe ons nie die lieflike Samson Straw Wine nie, dit moet wag vir later. Die wyn is vernoem na ’n staatmaker-plaaswerker, wat pa Carel se regterhand was om die plase so keurig uit te lê en te vestig.
Onder by die oulike onthaal-saaltjie word middagete ’n feesmaal. Saam met Carmen se liplekker kekerertjiebrode met soetpatat-hoemoes, geniet ons daardie einste Bergendal Chenin Blanc, voor ons inskuif en die wyn met Mediterreense hoender en olywe, heelgebakte pampoen en groenslaai met ’n boegoe-slaaisous, geniet.
Toe sy die stories van haar kinderdae vertel en hoe die gesin Sondagmiddagetes rondom lamsboud en krakerige gebakte aartappels gekuier het, gly die Carel van Zyl Grenache en die Heidedal Cinsault maklik in ons kele af.
Nagereg is ’n uithaler-affêre, waarvoor ons per viertrekbakkie na die uitkykpunt hoog bo die Piekenierspas geneem word. Hier wag ’n span met mini-wortelkoekies, suurlemoenpoeding en joghurt, wat met die Samson Straw Wine geniet word.
Ons sit die res van die middag in die warm water in die rotspoel heelbo teen die klowe by The Baths. Knuppeldik het die Van Zyls ons gevoer!
Die louwarm water loop in die eerste rotspoel wat met sement uitgevoer is. Ons twee pas knus in die rondings. ’n Meter onder ons is die volgende koeler poel, waarin ons poel se water oorloop. Bo ons koppe is die plantegroei ruig en die voëls volop. Gesinne en kinders kom en gaan – maak ’n vinnige draai in die koue swembad voor hulle weer koers kies na die groot, warm swembad wat verder af op die eiendom deur die warmbron gevoed word.
............
“Daar is liefde en omgee hier tussen die vier mure.”
............
Toe ons lywe soos verrimpelde ou appelskille begin lyk, klim ons uit, lees ons boeke op die bankie en gaan vir aandete na die restaurant, Macgregors. Om ons word braaivleisvure by tente en karavane aangesteek en die vakansieluim talm tussen die staanplekke en chalets.
Saterdagoggend ontmoet ons vir Pearl Basson oor die oop bo-deur van Die Sandveldhuisie. In die bome buite hang koppies en krale en kristalglase aan lang, veelkleurige linte en wieg in die windjie.
Sy gesels opgewonde en gaan haal die sleutel vir die museum, wat in die ou kerkgebou langsaan gehuisves word. Pearl en haar ma, Jolanda, is soos twee dynamo’s wat die ligte aanhou: hulle het die museum eiehandig weer laat herleef nadat dit vir 15 jaar toegestaan het, en met skenkings en welwillendheid weer iets geskep het wat die geskiedenis van Citrusdal oor die afgelope 100 jaar uitbeeld. Juan-dré Kotze help met allerhande interessante kunssinnighede in en om die oulike koffie- en kunsvlyt-winkeltjie, en Liezel van der Merwe is die sjef.
Voor die kerksaal se deur is die woorde geverf: “A step back into days gone by”. Ons stap terug deur die dekades. Pearl wys ’n ou sakbybeltjie uit die Anglo-Boereoorlog en ons gaan sit daarna by die winkeltjie en drink sterk moerkoffie met tuisgebakte beskuit van Petro Rossouw, met die oulike etiket: “Petro se beskuit”. Ander mense bestel gevulde pannekoeke en geroosterde broodjies, maar ons is nog knuppeldik van Steve se ontbyt.
Die rakke kreun onder die vroue se handewerk, antieke bliktrommels, tasse, en emaljeware. Tussendeur loer slagspreuke van geloof, hoop en liefde; van opstaan na jy geval het. Daar is liefde en omgee hier tussen die vier mure.
In die winter kom daar roosterkoeke en tuisgemaakte sop uit die reuse-vuurherd in die hoek.
Pearl kom vra om verskoning vir die “geraas” buite. Ek neem aan sy verwys na die baie luidrugtige hoenders. “Maar hulle lê eiers vir ons, dat ons vars eiers vir die pannekoek-beslag het,” en sy glimlag. Nie lank nie of daardie einste hoenders stap die restaurant binne en gaan eet die katte se pille op.
Aan die een kant van die kerk wat in 1917 gebou is, maak 12 vroue – deel van die Bassons se gemeenskapsprojek – kopbande en serpe met armbrei; hulle ryg krale in vir armbande en nekbehangsels, en stik vet harte uit materiaal wat die gemeenskap geskenk het.
Onder in Voortrekkerstraat stap ’n man verby met twee arms vol bokkoms. Teen die tyd wat my kamera reg is en ek hom inloop, het hy net een armvol oor. “Patrick van Rensburg is my naam; die bokkoms is vars van Velddrif af, mevrou.”
Ons weerstaan die versoeking en kies koers na David Nieuwoudt, hoog bo in die berge. Dis besig by Cederberg Wyne en die proelokaal vibreer van die energie. By klein hoë tafeltjies staan groepies mense en proe wyn op hul eie tyd: die plaas se produksie is 60% rooi en 40% wit.
Tans is daar 53 hektaar onder wingerd, met die wit-fokus op Sauvignon Blanc, Chenin Blanc en Bukettraube; by die rooiwyne is Cabernet Sauvignon en Shiraz hul skouperde. Ander kultivars sluit ook in Chardonnay (vir die MCC Blanc de Blancs Brut), Viognier (vir versnyding) en Merlot (vir die Merlot Shiraz-versnit).
Daardie aand is ons bloot te moeg om te eet of iets te drink en val ons soos vrotvelle op ons bed in ons kamer agter die wisteria-ranklote neer.
Die nuwe padstal en proelokaal word amptelik op 12 Desember ingewy. Ons druk net ons neuse in by die padstal vir ’n wegneemkoffie, voor ons die pas afdaal terug op pad Kaap toe. Ek hoor weer Cerina se vertellinge: “De Tol was die oorspronklike Tolhuis wat in 1864 gebou is en waar mense wat hul goedere Kaapse hawe toe geneem het, kon aandoen en hul perde of donkies laat water drink het. Daar is ook ’n ou kelder op die perseel. Die kelder dateer uit 1849 en wyn is hier gemaak vir diegene op pad suid na die Kaapkolonie, of op pad noord na Namibië – toe nog Duitswes – wat iets wou koop om langs die pad te drink.”
Dis met hartseer wat ons die Piekenierskloof en sy wonderlike mense agterlaat, maar die kattebak is vol van hul gulheid en ons harte vol van hul gasvryheid.
- Foto’s: Clifford Roberts