Pak jou tas: Plettenbergbaai

  • 0

..........

“Daar is darem maar iets spesiaal daaraan om met die bloue lug bo jou kop, met die grasgroen wingerdlote wat as’t ware om jou enkels krul, yskoue MCC Sauvignon Blanc van Bramon te geniet daar waar dit vandaan kom.”

..........

Vir baie mense is Plettenbergbaai teen die gewilde Tuinroete die plek van son en see en skemerkelkies oor somervakansies. Maar met die Plett Wynroete wat nou volwaardig op sy eie voete staan, is die streek nou dié kuierplek as al die sonsoekers huiswaarts gekeer het, skryf Maryke Roberts.

Ons besluit om die Plett Wynroete oor twee dae te ontdek. Hoewel daar heelwat meer lede op die roete is, is sewe oop vir die publiek en die aanbiedinge baie verskillend. Die sewe is Bramon Wynlandgoed; Newstead, tuiste van Lund Familiewingerde; Kay and Monty Vineyards; Lodestone Wyne; Luka, Plettenvale Wynlandgoed en Packwood Wynlandgoed.

Ons het die perdekar by Kay and Monty Vineyards gehaal.

By Kay and Monty Vineyards

Jy kan ’n hele dag daar by die dam by Kay and Monty Vineyards ontspan en kyk hoe vreedsaam die perde in die kampe wei.

Newstead se MCC en pizza’s by die kaggel was nie net ’n hoogtepunt nie, die dekor is ook pragtig.

Die Plett Wynroete is Suid-Afrika se jongste wynroete.

Plettenbergbaai Toerisme se projekbestuurder, Patty Butterworth, vertel dat almal altyd aan Plett dink as branders en strand en dis só lekker om vir besoekers nou ook meer te vertel van die wynlande en al die ondervindinge wat jy kan meemaak. “Boonop kan mense nou ook buite die somerseisoen kom wynproe en vertoef,” vertel sy.

Jy kan oral om die dorp in een of ander lekker wynplaas vasry.

Die wynlande strek van Harkerville tot by The Crags verby en die afstand tussen die twee verste wynplase weerskante van The Crags is sowat 40 minute.

Die koeler klimaat is voordelig vir Chardonnay, Sauvignon Blanc en Pinot Noir. Méthode Cap Classique (MCC), Suid-Afrika se eie vonkelwyn wat in die tradisionele Franse metode gemaak word, maar weens naam-beskerming nie sjampanje genoem mag word nie, is dalk die streek se volgende bekendste uitvoerproduk, verneem ons soos ons reis.

Tans is daar agt MCC’s beskikbaar en baie mense praat reeds van die “Bubbly Route”. Sy vertel dat hulle al meer wynplaas-eienaars aanmoedig om MCC te maak, omdat dit sinoniem met polo en die strand is. Die gebied het ook verskeie privaat-polovelde.

Ons ontmoet vir Jo Butler van That Wine op die plaas Demesne, wat erken dat wynmaak in die pragtige omgewing ’n passie is; maar ’n uitputtende passie. Peter Thorpe, die man aan wie al die wynmaak-woelinge toegeskryf kan word, is Jo se swaer. “Hy en sy vrou, Caroline, is baie braaf en ons liefde vir wyn het ons almal nou in die wynbedryf laat beland,” vertel sy.

Peter en Caroline het in 2001 die eerste druiwe geplant en omtrent al die wynplase wat die afgelope 18 jaar gevolg het, bygestaan en meeste van hul wyn word steeds by Bramon deur die wynmaker, Anton Smal, gemaak. Hy was voorheen vir bykans twee dekades by die bekroonde wynplaas, Villiera buite Stellenbosch. Villiera word as een van Suid-Afrika se MCC-pioniers gereken.

Jo vertel haar en haar man, David se een hektaar Pinot Noir, word ook by Bramon gemaak.

“Elkeen van die wynplaas-eienaars doen baanbrekerswerk in ’n streek, wat maar skaars 20 jaar wyn maak.”

Begin jou perdekar-rit met ’n glasie vonkelwyn van die Plett Wynroete.

Plett het ook nou sy eie Wyn van Oorsprong-etiket en is een Suid-Afrika se kleinste Wyn van Oorsprong-streke. Die wingerde beslaan net minder as 60 hektaar, maar geen plaas bied dieselfde aan besoekers nie; by een kan jy fietsry en wynproe; by ’n ander voëlskyk en ontbyt geniet; of by sommige olyfolie proe en na die berge staar.

Ons moet iets in die maag kry voor ons begin wynproe en ry by die dorp uit, in die rigting van The Crags. Bread & Brew, ’n oulike plaasstyl-restaurant en -winkel, bak nie net hul eie pasteie en allerhande smullekker snoepgoed nie, maar jy kan jou verkyk aan die ougoed te koop.

In die poskantoor-styl houtrak wat op die stoep neffens die kaggeltjie staan, skuil daar in elke vakkie ’n ou nostalgiese ding van ouma se teekoppies, geroeste blikkies met outydse maatbande of handgekerfde hout skaakstukke van iewers ver. In twee van dié vakkies sit en broei spierwit hoenderhenne.

Kort-kort kom daar ’n vars baksel varkpasteitjies uit die oond en elke keer water jou mond. Ons is reg vir die eerste wynplaas, nie veel verder af in die pad nie. Net van Redfordweg draai ons by Kay and Monty Wingerde in.

En as jy klaar by die wynplase gekuier het en nog lus is vir wyn, gaan loer gerus by dié oulike wynwinkeltjie, Thyme & Again, in. Die verskeidenheid daar is duiselingwekkend. En daar is goeie humor ook...

Die omskepte orgidee-kweekhuis huisves die oulike restaurant en proelokaal wat oor die dam en perdekampe uitkyk. Die gul glimlag en handdruk van Natalie Howes word net geëwenaar deur haar wynkennis.

“Die plaas het in 2004 hul wingerde geplant en in 2012 ons eerste wyne vrygestel. Daar is minder as vyf hektaar onder wingerd en dis regtig ’n boetiek-landgoed met ’n jaarlikse produksie van 5000 bottels. Hulle het nou Pinot Noir, Mourverdre en Grenache ook geplant.” Sy vertel dat die area nie regtig geskik is vir swaar rooiwyne nie en die nuwe kultivars heel moontlik meestal in MCC en Rosé gebruik sal word.

Hulle het tans ’n vars Sauvignon blanc en droë Chardonnay MCC, wat ewe kordaat met die naam Champu, spog. Fairview maak vir hulle ’n rooi versnit, Big Red, ’n versnit tussen Durif en Tempranillo. Hul spyskaart komplimenteer elkeen van die wyne en jy kan voorwaar die hele dag daar kuier en net oor die dam en berge staar. Natalie voeg by dat die Spanjaarde dié rooiwyn koud ook geniet en dis heerlik in die somer met ’n vars slaai op die stoep.

Die plaas is ook een van die gewildste trou-plekke in die omgewing en sy wys troufoto’s van paartjies wat hier ewig trou aan mekaar beloof het, terwyl die berge waghou en perde rustig in die kampe wei.

Ons smul aan hamburgers en slaai en hul lieflike Sauvignon blanc - ’n goue medalje wenner by die Old Mutual Wine Trophy Show - en skuif later nader aan die kaggel vir iets soets en ’n yskoue glas Champu, wat 4 sterre in die Platter’s Wyngids behaal het.

Die middag ná ete, wag die perdekar vir ons buite om ons na Lodestone te neem vir ’n wynproe. Twee pragtige Percherons trek die karretjie wat 10 mense per rit kan akkommodeer. Ons ry tussen die wingerde deur en toe ons by Lodestone indraai, so tussen die olyfboorde deur, wag twee hondjies ons in en draf die laaste paar meter na die proelokaal se deur.

Thyme & Again

Die plaas het lappies Sauvignon blanc, Chardonnay, Pinot Noir en Semillon en het ook ses olyfvariëteite en mens kan nie help om jou lippe af te lek vir die olyfolie-proe nie.

Ons sit op die pragtige houtstoep en kyk hoe die minute salig verbytik oor die dam met sy lelies en voëls. Die houtstoep wat uitkyk oor die dam met sy waterlelies, kan met gerief 60 mense huisves en jy kan jou indink as ’n groep vriende hier kom ontspan, hoe lekker dit kan word.

Die plaas lê 250 meter bo seespieël en vir die eerste keer ervaar ons wat daardie koel briesie wat smiddae van die Indiese Oseaan inwaai, nou eintlik beteken, toe die windjie deur ons hare stoot en ons sommer nog wyn bestel. Ons mae is steeds te vol na ons lekker middagete by Kay and Monty, so niks te ete nie, maar lekker wyn is darem nie te versmaai nie.

Jamil Redelinghuys, wat homself voorstel as ’n “semi-professionele rugbyspeler wat nie wyn drink nie”, behartig ons wynproe. Tans koop hulle olywe in vir die olie, maar binnekort sal dit hul eie boorde se olywe wees wat te koop is, vertel hy.

Buite die dorp, vang ons oog die nuwe Mungo werkswinkel by Old Nick’s Village, waar die mooiste tafellinne, beddegoed en selfs serpe geweef word. Met die nuwe besoekersentrum kan jy sien hoe die linne geweef word en die gebou self is ’n argitektoniese wonder, wat die hele nostalgie van weef en handgemaak, terugbring.

Tussen ons wynproe en kuiers deur, eet ons gou ’n bordjie slap tjips met baie sout en asyn by strandkafees en gaan stap dan lang ente om darem nie later so skuldig te voel as ons heeldag wyn drink en die beste, plaaskos gevoer word nie!

Een van die proeë waarna ons baie uitgesien het, was by Newstead Lund Familie Wingerde. Die plaas produseer Sauvignon blanc, Chardonnay, MCC Classique Brut en MCC Classique Rosé. Dis een van die streek se uithangplekke en word besit deur Doug en Sue Lund. Sue se aanvoeling vir mooi dekor, is duidelik te sien as jy by die proelokaal en restaurant instap en weer voor ’n kaggeltjie gaan nesskop.

Reuse blare en varings hang uit potte teen die steenkoolkleurige mure en skep dramatiese agtergrond vir blinkgepoetse glase en yskoue vonkelwyne.

Newstead se wyne is net so gewild in Europa en Brittanje en vele oesjare uitverkoop, vertel Doug ons oor middagete.

..........

“Ons sit op die pragtige houtstoep en kyk hoe die minute salig verbytik oor die dam met sy lelies en voëls. Die houtstoep wat uitkyk oor die dam met sy waterlelies, kan met gerief 60 mense huisves en jy kan jou indink as ’n groep vriende hier kom ontspan, hoe lekker dit kan word.”

..........

Hul eerste wyne van hul ses hektaar wingerd, is in 2012 vrygestel en Chardonnay en Sauvignon blanc is gevolg deur Pinot Noir. Altwee hul MCC’s het dubbelgoud by die Michelangelo-toekennings ingepalm. Anton se hand as wynmaker is ook hier duidelik te bespeur.

Ons kruip amper in die reuse vuurherd in en smul aan pizzas en MCC, terwyl die groepie langs ons op die luukse banke met gin en tonics sit en kuier; hul Nederlandse aksente swaar en hul moue opgerol in hierdie heerlike lentedag, waar ons wil verkluim! Hulle smul aan parmaham en spanspek en platbrode met kruie wat uit die hout pizza-oond kom.

Ek hoor hoe die vrou haar dogter se troue bespreek en ek hoor later by haar dat hul hele familie hier oorbly vir twee weke - voor en na die bruilof  wat ook op Newstead gehou word - “want dit is darem net te mooi hier”.

Doug en Sue was suiwelboere in KwaZulu-Natal, maar reise na Nieu-Seeland waar hulle by Black Barn Vineyards oorgebly het, het hulle oortuig dat wyn hul volgende roeping is. “Ek was met boerdery bekend, maar het niks van druiwe geweet nie, maar die ooreenkomste tussen ons en hulle was so oorweldigend, dat die idee van ’n wynplaas my net nie wou los nie.” Doug vertel dat die wynboerdery vir hom een van die vervullendste ondervindings van sy lewe is. ’n Klein Jack Russeltjie slaap by ons voete, terwyl ons gesels en proe.

Toe Doug groet, sê hy dat hy glo Plettenbergbaai gaan ’n vooruitstrewende wynproduserende streek word met sy koeler klimaat en hoër reënval. “Ons glo klein is spesiaal. Ons ken en versorg elke wingerd. Ons gebruik organiese voeding en herwonne gryswater en al ons wingerde is onder net, sodat die druiwe pragtig en gesond is.”

Ons gaan stap later in die wingerde rond en vertoef by klein, groen botsels wat die volgende oes inlui. Fietsryers kom by ons verby en ek kan net dink hoe lekker hulle nou gaan ontspan langs “ons” vuurherd.

Ons het gehoor die omgewing by Emily Moon Hotel en Restaurant is die ideale plek vir voëlkyk en daar in die omgewing by Wittedrif is ’n vegan-restaurant, Boka Dolce, wat selfs hul eie koffie groei. Hulle maak ’n suiwelvrye cappuccino wat jou tone sal laat omkrul en alles op die spyskaart word self gebak, gekweek of gemaak. 

Aandete gaan val ons by Emily Moon Hotel en Restaurant vas. As jy net voor skemer op die reuse houtdek sit, wat oor die kronkelende rivier uitkyk, kan jy nie net sien hoe die son goud sal oor die grasgroen natuurskoon nie, maar ook hoe die voëls stadig huiswaarts vlieg.

Emily Moon Hotel & Restaurant is ’n raar aand uit, wat jou laat voel of jy iewers op ’n verlate eiland kuier. Hul wynversameling is indrukwekkend.

Die interessante Marokkaanse of Zanzibar-geïnspireerde dekor, kan jou maklik laat glo jy is iewers op ’n eksotiese eiland. Om die swembad sit klein groepies vriende en kuier met yskoue wyn of MCC van die streek en kersies verlig die water.

Heelbo is Simon’s Bar waar jy kan pizza’s eet en kuier, of meer deftig eet in die ouwêreldse sjarme van die bekroonde restaurant.

Die volgende oggend slaap ons laat, gaan gryp ’n wegneemkoffie in die dorp en stap weer strand toe, om ons aptyte op te bou.

Ons tweede laaste kuier op die wynroete, is by Packwoods Wynlandgoed - ’n geregistreerde landgoed wat jaarliks 8000 bottels produseer. Die plaas het ook luukse verblyf en maak hul eie bekroonde kase. Saam met jou wynproe kan jy ’n lekker kaasbord en varsgebakte brood bestel.

Packwoods se wyn- en kaasmaker is Ilsa Wildeman en het in 2013 by die plaas aangesluit. Die eerste wingerde is al in 2006 geplant en drie jaar later is die eerste druiwe geoes. Die oulike, rustieke proelokaal is in 2010 geopen en hier kom sit mense heeldag en piekniek in die tuin.

Ons tweede laaste kuier op die wynroete, is by Packwoods Wynlandgoed ‒ ’n geregistreerde landgoed wat jaarliks 8000 bottels produseer.

Ons gaan proe wyn in die oulike houthuisie, genaamd lunchbox, waar ons die Sauvignon Blanc (wat goud by die SA Womens Wine Award ingepalm het), Chardonnay, MCC Chardonnay en Pinot Noir saam met ons kaasbord geniet.

Mens mag dit dalk nie só stel nie: ons bêre die beste vir laaste, naamlik Bramon natuurlik. Dit is waar dit alles begin het en dis hier waar jy tussen die wingerde kan sit by jou langtafel en net toelaat dat die koel briesie tussen die blare, jou kuif roer en ook sommer jou hartsnare. Dis nie regverdig om een van die plase bo die ander uit te sonder nie, want soos Jo Butler van That Wine tereg gesê het: elkeen doen baanbrekerswerk op hul eie manier.

Dit gesê, daar is darem maar iets spesiaal daaraan om met die bloue lug bo jou kop, met die grasgroen wingerdlote wat as’t ware om jou enkels krul, yskoue MCC Sauvignon Blanc van Bramon te geniet daar waar dit vandaan kom. Die lekker spyskaart met varsgebakte brode, doopsouse, kaas en happies laat jou toe om met jou hande te eet, en jou te verbeel dis ’n reuse familie-gedoente onder die bome by jou eie huis.

As julle ’n groter groep is, bestel ’n MCC Magnum en vier die goeie lewe. En as jy gelukkig is, ontmoet jy dalk die meester-wynmaker, Anton, daar iewers tussen die wingerdrye.

Kitsfeite
  • Oorweeg ’n halfdag-uitstappie met die Percherons en hul oulike waentjie saam met Hog Hollow Horse Trails wat jou tussen drie wynplase - Lodestone, Kay & Monty en Redford Lane - neem, waar jy kan wynproe en by een van die drie middagete kan geniet. Meer inligting: +27 82 771 3745 of besoek www.horseridinggardenroute.com
  • As jy in April in die omgewing kuier, teken The Truck & Vine kos-en-wyntrok-fees wat op 26 April by Kay and Monty Vineyards gehou word, in jou dagboek aan.

..........

As jy iets van die familie en die sonskyn van die streek wil saamneem huis toe, koop dié boek:

..........

  • Teks: Maryke Roberts
  • Foto’s: Clifford Roberts
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top