Pak jou tas: Stellenbosch

  • 0

In 1971 het Stellenbosch die eerste wynstreek in Suid-Afrika geword, om ’n wynroete te vestig. Aanstaande jaar word dié roete 50 jaar oud en die hele dorp en wynkelders sing voor in die feeskoor, skryf Maryke Roberts.

Dis Februarie ook 362 jaar gelede dat Jan van Riebeeck in sy dagboek aangeteken het dat daar op daardie dag vir die eerste maal wyn van Kaapse druiwe gemaak is. Hy het reeds sedert 1655 Chenin Blanc-, Sémillon- en Fransdruif-wingerdlote van Frankryk en Spanje ingevoer en in die Kompanjiestuin geplant.

Ons kronkel aan die voet van Helderberg tussen Stellenbosch en Somerset-Wes met die nou paadjie op na Ernie Els Wyne se nuwe proelokaal en restaurant. Die breë stoep met sambrele is die perfekte plek om ’n loom middag deur te bring, maar as die reuse-kaggel in die winter brand, wil jy ook kom kuier.

Die nuwe proelokaal en restaurant by Ernie Els Wyne is ’n indrukwekkende kuierplek.

In die proelokaal is verskeie knus hoekies waar klein groepies vriende kan wynproe. Die indrukwekkende vertoonkamer propvol trofees, video’s en foto’s van Suid-Afrika se gevierde gholfspeler, Ernie Els, is net die plek vir gholfliefhebbers.

Die warm middag word gelawe met ’n glas yskoue Big Easy Chenin blanc 2019. Die koue wyn en uitsig oor die vallei onder ons, streel stywe skouers met die belofte van ontspantyd. Die hoenderslaai en Cabernet Sauvignon Rosé 2020 kon mekaar nie beter aanvul nie. 

Ruim tyd in vir ’n keldertoer by Ernie Els Wyne.

Elke dis op die spyskaart het ’n voorgestelde wynpasmaat en gee jou die kans om ’n verskeidenheid wyne te proe.

Ek moet myself kort-kort herinner om af te kyk na my bord, want die toneel voor my is ’n lewendige Pierneef-skildery met blokkies wingerd, ou Kaap-Hollandse huise op wynplase en rytjies bome.

Ek stap later binnetoe, om te gaan kyk hoe die sjef, Saskia Nel, agter die groot ruite wat uit die proelokaal in die kombuis inkyk, een geurige dis na die ander optower, wat wynmaker, Louis Strydom, se wyne perfek aanvul.

Ons ruim kamer in die historiese gastehuis, Bonne Esperance Guest Lodge, in die hartjie van die dorp, wat in ’n Victoriaanse villa uit 1907 ingerig is.

Dis lui-lui wat ons by Bonne Esperance Guest House in die hartjie van die dorp se Van Riebeek- en Neethlingstraat ons tasse in ons dakkamer neersit. Die gastehuis is in die Victoriaanse villa, wat uit 1907 dateer, ingerig en ná ’n groot opknapprojek ’n paar maande gelede, is daar nou 17 gastekamers.

Bonne Esperance beteken “goeie hoop” en een van die eienaars, Annemien Kotze, vertel ons dis presies waarmee hulle gaste wil vul: hoop, skoonheid en vrede. Dit kan ook nie anders as jy daar op die groot stoep, wat reg rondom die huis deur broekiekant omsoom word, sit en die lieflike tuin en die bedrywighede in die straat gadeslaan nie. Ek is mal daaroor dat daar geen hoë heining is nie; net die outydse kursiewe draadheining. Soos mense verbystap, groet almal; en geniet die koelte van die besproeiing wat vroegoggend alles afgekoel het.

Skuins oorkant die pad is die Botaniese Tuin waar jy rustig kan gaan stap, sit en lees of net oorgee aan die klank van voëlgeroep, water of die windjie in die blare.

Ons kamer kyk uit oor die swembad en die omliggende dakke, waaroor reuse-akkerbome troon. Saans is die hemele ’n kleurspel terwyl die son ondergaan en soggens vroeg is dit voëlgeskal wat ons wakkermaak nog lank voor die wekker afgaan. Ons sit half leepoog met koffie en asem die douerige oggendlug in, terwyl die beskuit net-net te lank lê en omtrent al die koffie opsuig!

Op die gastehuis se rooigeverfde stoep , eet ons elke oggend ontbyt. Ek strek my bene lank uit. My lyf is in die koelte, maar my voete geniet die sonnetjie. Die lenteluggie is koeler as wat ek gedink het en die lekker balans tussen son en skaduwee net wat ek wou hê.

Kort-kort kom terg vlae jasmyn, wisteria en roosreuk jou neusgate. So saam met die reuk, dryf die stres uit jou nek en skouerblaaie en jy kan die hele dag so sit, maar daar is soveel lekkertes wat op die dorp op jou wag, dat jy die laaste bietjie skuim uit jou cappuccinokoppie met die lepel opskep en die rekening vra voor jy van plan verander.

Ons fietstoer van drie uur kruis eers deur die historiese dorpskern en oor die Eersterivier.

Dis skuins ná nege toe ons by Adventureshop in die Ou Landbousaal neffens die Eersterivier aanmeld. Jy kan hier begeleide fietstoere onderneem en as jy regtig lus is vir oefening, die gewone bergfietse neem, of as jy meer gemaklik wil ry ─ soos ek ─ ’n e-fietse neem. Ons gids, Sevo Tamboer, verduidelik: “Hierdie is ’n help-my-trap. As jy ophou trap, stop die fiets. Jy moet darem ’n bietjie inspanning insit!”

Ons gids van Adventureshop, Sevo Tamboer, voor die Teologiese Skool.

Adventureshop is al sedert 2000 deel van die plaaslike toerisme-aanbiedings en spesialiseer in avontuurtoere, dagtoere per fiets, safari’s en vele meer. Hul gewilde Vine Hopper-diens waar jy tussen wynplase vervoer kan word, terwyl jy oral wynproe, is gerieflik en laat jou toe om sonder sorge te proe, terwyl ’n nugter bestuurder jou oral veilig besorg.

Ons eerste stop op ons fietstoer saam met Adventureshop is Paul Roos Gimnasium.

Ons fietstoer van drie uur kruis eers deur die historiese dorpskern, voor ons twee wynproeë gaan doen. Ons eerste stop is Paul Roos Gimnasium. Sevo vertel dat dit in 1866 as seunsskool gestig is. Op daardie stadium was Rhenish School for Girls die enigste skool. Die skool word gestig as Stellenbosch Gimnasium sodat Grieks en Latyns aaangebied kan word. In 1874 word ’n kunsdepartement bygevoeg en toe word dit ’n kollege. In 1879 het die perseel te klein geword en die kollege het aangeskuif en later die universiteit geword.

“In 1946 word dit Paul Roos genoem, vernoem na die rugbyspeler, Paul Roos, wat in 1906 die Springbokke op hul Britse toer gelei het. Bekendes soos Jan Smuts, J.B.M. Hertzog, D.F. Malan, Uys Krige, Arnold van Wyk, Tjol Lategan en Peter van der Merwe het hier in die skoolbanke gesit.

“Die skool het die grootste getal Springbokrugbyspelers (54) opgelewer.”

Een van die stopplekke op die fietstoer is Oom Samie se Winkel.

Ons stop voor die legendariese Oom Samie se Winkel in Dorpstraat. Sevo sê die winkel, wat seker meer keer as Tafelberg afgeneem is, was aanvanklik ’n slaghuis in Dorpstraat. “Dit het in 1904 verander na ’n algemene handelaar. Dorpstraat was die langste straat wat twee dorpe ─ Stellenbosch en Kaapstad ─ verbind het. Op die stoep is ’n pop wat oom Samie glo voorstel.” Sevo laat ewe droog hoor: “As jy probleme het gaan sit daar op die bankie langs hom en gesels. Hy sê nie veel nie, maar hy luister goed. Sy volle naam was Johannes Samuel Volsteedt en hy is begrawe langs die NG Kerk. Sy grafsteen lees: Hier lê Oom Samie. Hy was ’n goeie man.”

Ons ry by die middedorp by die Braak verby, wat vandag ’n nasionale gedenkwaardigheid is en waar Simon van der Stel, die dorp se stigter, se verjaardag elke jaar op 14 Oktober gevier word.

Neffens die Braak is ’n klein wit geboutjie, wat soos ’n klein Griekse kerkie lyk. Sevo vertel die Nederlanders het dit uit paranoia gebou, uit vrees dat die Franse hulle sou aanval. Hier het hulle hul ammunisie weggesteek in die geboutjie met die VOC-handelsmerk op, wat in 1940 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.

Ons trap weer verby die indrukwekkende NG Moederkerk wat in die Neo-Gotiese boustyl gebou is en stop by die Fakulteit Teologie.

Op 8 November 1679 ─ 27 jaar nadat Jan van Riebeeck op 6 April 1652 aan die Kaap geland en ’n Nederlandse kolonie in die naam van die Verenigde Oos-Indiese Companjie gestig het ─ het die Nederlandse goewerneur, Simon van der Stel, na die binneland gereis en een aand gekamp op ’n klein eilandjie, omring deur helder strome en pragtige bome ─ die terrein van die huidige Fakulteit Teologie. Hy het die rivier “Eersterivier” genoem en die area “Van der Stel se Bos”, wat later na “Stellenbosch” herdoop is.

In 1685 het die kommissaris Baron van Rheede, die Stellenbosch kolonie besoek en opdrag gegee dat ’n drostdy (’n magistraathof en -woning) op die eiland opgerig moet word en dat ’n dorp uitgelê moet word. Dié gebou wat in 1687 voltooi is en ook die een wat in sy plek opgerig is, het afgebrand. ’n Derde drostdy is op dieselfde terrein in Kaap-Hollandse styl, met ’n baie spesiale Barok geuwel, gebou.

Dit is tussen 1767 en 1768 voltooi. 'n Groot deel van die Kaap-kolonie is vanuit hierdie gebou bestuur totdat die Swellendam-drostdy in 1745 opgerig is. In 1858 word hierdie gebou die setel van die eerste instansie vir hoër onderwys vir die Nederlandse / Afrikaanse deel van die bevolking: die Teologiese Kweekskool van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Teen 1868 is die drostdy-gebou omskep in ’n dubbelverdiepinggebou met wonings vir professore aan albei kante. Die gebou se huidige vooraansig is in 1905 opgerig. Die ysterpilare en traliewerk is in 1952 vervang met die huidige pilare.

Sedert 2000 lei die fakulteit predikante en jeugwerkers op vir die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK); ​die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA); die Uniting Presbyterian Church in Southern Africa (UPCSA); en die Anglican Church of Southern Africa.​​

Ons eerste wynstop is die historiese Lanzerac Hotel & Spa, waar die wêreld se heel eerste kommersiële bottel Pinotage, die 1959-oesjaar, gebottel is. Die druiwe was van die nabygeleë Bellevue Landgoed afkomstig.

Die indrukwekkende dekor in die opgeknapte Lanzerac Hotel.

Nadat ’n groot gedeelte in 2017 afgebrand het, is die opgeknapte hotel die toonbeeld van vyfster-luuksheid. Hier staan meubels uit die 1700’s knus langs ’n moderne bykomstigheid en die pleister van stukke van die oorspronklike mure is netjies afgekap om die ou herehuis en kelder se aanbouings oor die eeue te wys.

Daar is soveel geskiedenis vervat in Lanzerac Wynlandgoed se kelder en geboue.

Die fynere detail regdeur die landgoed is te danke aan die bouer, ontwerper en binnenshuise versierder, Con van der Colff, wat ook die bouprojek oorsien het. Hy het die aardbol deurkruis vir meubels en selfs vir die houtbalke wat elkeen ’n ton weeg, wat nou in die Governor’s Hall soos die boeg van ’n skip oor die vertrek pryk. Dié gebou was die wynkelder wat in 1925 gebou is, juis om Abraham Izak Perold, wat die wêreld se eerste Pinotage op die landgoed bedink het, te vier.

Stellenbosch se ryk geskiedenis kom haal jou sommer met die inry by Lanzerac Wynlandgoed. Jy kan ure verwyl by die wynproelokaal en deli.

Dié prag-landgoed het pas in die Great Wine Capitals Best Of Wine Tourism Awards 2021, wat uitmuntendheid in wyntoerisme in die wêreld se nege grootste wynstreke beoordeel, uitgeblink. Die landgoed wen die akkommodasie-kategorie.

Ons stap na die Lanzerac Wynproelokaal en Deli, waar my oog die Lanzerac Heritage Mrs English 2016 se etiket vang. Dié Chardonnay van ’n enkel-wingerd het haar naam te danke aan Elizabeth Catherina (Kitty) English, die dame aan wie Lanzerac sy naam te danke het, vertel Gwen February ons. Sy is al agt jaar by die landgoed.

Kitty het die plaas in 1920 gekoop en die oorspronklike naam, Schoongezicht, verander en blykbaar die landgoed vernoem na generaal Charles Lanzerac, ’n Franse generaal wat die Franse Vyfde Weermag in die Eerste Wêreldoorlog gelei het. Vandag is die Lanzerac Le Général Cabernet-gedrewe versnit, een van die landgoed se gewildste wyne.

Ons proe ook die landgoed se bekroonde Pionier’s Pinotage, wat hulde bring aan die wêreld se eerste kommersiële bottel Pinotage. Dit kom uit ’n enkelblok Pinotage van tussen 25 en 30 jaar oud ─ van die oudste wingerde op die plaas, vertel Gwen.

Gwen sê ná ete stap mense graag oor na die Craven-sitkamer, waar die rugbylegende, dr. Danie Craven, en sy hondjie, Bliksem, in ’n klein bronsbeeld verewig is. Hulle was legendaries in hul gereelde Vrydagaand-kuiers hier en as jy daar op die leerbank met jou drankie en sigaar sit, kan jy jou sy gees en stories indink. Keldermeester, Wynand Lategan, het selfs ’n wyn vir Dok Craven gemaak, die Dok (Malbec) 2016.

Ons ry verder na Starke-Conde Wyne ’n entjie in die Jonkershoekvallei op.

Ons ry verder na Starke-Conde Wyne ’n entjie in die Jonkershoekvallei op. Hier proe ek die plaas se rooiwyne en my man die wittes. Die vorige aand is die Stark-Condé Round Mountain Sauvignon Blanc 2019 aangewys as een van die land se top-10 Sauvignon Blancs en ons is die eerste gaste van die dag om dié mylpaal te vier. Die versoeking is groot om heeldag op die pragtige houtpawiljoen in die middel van ’n reuse-dam te vertoef, maar hoe langer ek sit, hoe stywer raak my spiere!

Later die middag by die gastehuis, kan ek nie glo ek het vyftien kilometer ver op oulike paadjies onder bome deur, waar jy koes vir klein takkies wat swaar hang van die nuwe lenteblare, fietsgery nie.

Daar is iets wat ek met elke reis geniet: Daardie laatmiddagterugstap na jou gastehuis of hotel; jou voete moeg en lui ná die dag se stap. Die uitskop van skoene, sagte mat, die neerval op jou bed met sy krakerige wit linne en die rug en voete ontspan vir ’n wyle, voor jy gaan stort vir die aandsessie by ’n lekker restaurant, kroeg of straatmark.

Jou lyf se dankbaarheid as die eerste druppels uit die warm stort oor jou rug spoel, of die loomte van ’n warm bad met badskuim waarvan jy nie die naam ken of soms nie eers kan lees nie.

Die son wat goud ondergaan teen die geboue en iewers hoor jy dalk ’n groepie mans wat ’n sokkerbal rondskop, dalk iewers impromptu krieket deur kinders in die buurt. Daar op die reuse-bed in ons dakkamer by Bonne Esperance, ervaar ek dit weer. Jy kan enige plek in die wêreld wees, want die klanke en stemme is net te dof om ’n taal uit te maak.

The Fat Butcher, bekend vir hul verouderde biefstuk en sappige hoender en vis.

Stellenbosch is nie verniet ’n smulpaap se droom nie: in die klein straatjies wat deur reuse-bome omring word, skuil van die land se beste restaurante. Ons stap die twee blokke van die gastehuis af en kuier een aand by The Fat Butcher, bekend vir hul verouderde biefstuk en sappige hoender en vis. Dis een van my gunstelinge in die Eikestad. Spesiale vleissnitte wat nie op die spyskaart is nie, word by jou tafel vertoon en kundige kelners gee wenke oor snitte, geur, sappigheid en watter bykos en sous om saam met dit te geniet.

The Fat Butcher se uitgebreide wynkelder is trots Stellenbosch.

Die restaurant se wynlys is meer as indrukwekkend en trots Stellenbosch en weer eens is dit ons kelner wat raadgee oor die beste pasmaat vir ons biefstukke.

Skaapstertjies soos net The Fat Butcher kan maak!

Ek spring weg met skaapstertjies in ’n Fat Butcher-braaisous en lek omtrent my vingers af met elke happie. My man gebruik enige kans om steak tartare te eet, maar verklaar gul dat dié die beste is wat hy nog geproe het. Ek merk droog op dat dit dalk die konjak daarin moet wees!

Ek kan nie glo jy kan braaibroodjies, ewe met braairoosterstrepe oor en kaas wat lank uitrek as jy byt, as ’n bykos in ’n restaurant bestel nie. Die geurige uie, kaas en plaasbotter het goed verweef en dit kry meer aftrek op ons tafel as die handgesnyde skyfies of truffel-sampioensous.

Ons teug aan ons bottel Delaire Graff Botmaskop 2017 (65% Cabernet Sauvignon, 13% Cabernet Franc, 11% Petit Verdot, 8% Merlot en 3% Malbec) en gee ons oor aan die musiek wat by die oop vensters uitwarrel tot op die sypaadjie, waar ander gaste sonsaksopies geniet en met verbygangers grappies maak. Dié prag-landgoed in die Banhoekvallei het ook in die Great Wine Capitals Best Of Wine Tourism Awards ’n toekenning vir beste restaurant, argitektuur en landskap gewen.

Ons is so versadig, dat die heerlike nageregte ons nie verlei nie, maar stap met ’n heerlike behae onder die maan en sterre terug gastehuis toe.

Op ons laaste oggend is ons traag om op te staan. Die effense styfheid in die kuite; die stil, koel kamer en die luilekkerte van die groot bed, laat ons die wekker twee maal afsit, nadat ons die glasdeure en gordyne oopgegooi het.

Neem jou sonhoed, sonbrandmiddel en kamera saam vir ’n stappie deur die Dylan Lewis Beeldhoutuin.

Maar ’n lekker avontuur wag ná ons laaste Bonne Esperance-omelet: ’n tuinstap deur die Dylan Lewis Beeldhoutuin, op Mulberryplaas, aan die voet van die berge.

Ons kry ’n cappuccino by die klein koffiestasie neffens die ingang en stap met die kaart, wat die tuin se uitleg verduidelik, na die beginpunt voor die galery. Hier wag oulike papiersambreeltjies en ’n botteltjie water vir elke gas. Voor ons begin, loer ek na die kaart se voorgestelde roete van twee kilometer, wat ongeveer 45 minute duur. Die tuin lê soos ’n verwelkomende groen amfiteater en wag. Roofvoëls draai hoog bo ons koppe en klein geveerdes verken elke lenteblommetjie.

Vanuit elke venster in Dylan Lewis se galery, begroet natuurskoon en een van sy pragtige beeldhouwerke jou.

Die stilte en koelte van die reuse-tuin wat oor sewe hektaar strek en bykans vier kilometer se paadjies het, slaan teen jou bene op in die warm Stellenbosch-oggend. Die tuin is meestal met fynbos beplant en meer as 60 beeldhouwerke hou onder bome, bo-op heuwels en langs ’n meer of poeletjies water, wag.

Dit was voorwaar ’n rare geskenk dat Dylan self die tuinstap onderneem het. Gidse lei gewoonlik besoekers deur die tuin.

Net toe ons wil begin stap, staan Dylan Lewis self agter ons ─ heeltemal onverwags en heel ongewoon. Hy lei die groepie van tien besoekers op die toer. Gewoonlik doen een van die gidse die toere of mense drentel op hul eie deur die tuin.

Hy waarsku met ’n vonkel in sy oog dat ons nie alles moet glo wat hy sê nie, want “die helfte van die tyd, gaan ek jok” en almal lag tog te lekker.

Hy vertel dat die tuin met konkaaf en konvekse lyne speel en elke kontoer is beplan; niks is aan toeval oorgelaat nie.

Die boodskap is die subtiele nuanse van die natuur wat alles wat ons doen inspireer. Dylan sê die tuin was ook vir hom ’n soektog sonder einde. “Ek het nie geweet ek gaan ’n tuin maak nie. Ek het hier gewoon en begin om die grond om te dolwe sodat ek plek het om te werk. Die grawewerk duur toe langer as 18 maande en ek het meestal langs die skopgraaf gestaan en die tuin as beeldhouwerk dirigeer. 

“Ons het tienduisend ton grond geskuif en dan ’n paar dae later, skuif ons dit terug ─ 1,5 meter van waar ons begin het. Die skopgraaf-operateurs het gedink ek is mal, want daar was geen langtermynplan nie.”

Soos hulle gevorder het, het een vorm tot ’n ander gelei, alles sonder kaart of plan. “Dit lyk dalk nou of alles sin maak en in harmonie leef, maar die proses het glad nie tydens die werk sin gemaak nie!”

Hy lag en sê dat net sodra hy voel hy begin iets ten volle verstaan, kom ’n kontrastrerende idee in sy kop en dan besef hy dat hy eintlik niks weet nie.

Toe die uitleg voltooi is, het hy die landskap-argitek, Fransesca Watson, en die fynbos-spesialis, Fiona Powrie, van Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin genader om die aanplantings te behartig. Hy erken dat hy baie min van plante weet, maar dat hy sekere vorms en teksture wou verkry en hulle dit dan met die regte plante bereik het.

Dylan se indrukwekkende standbeelde wag om elke draai.

Ons stap en verpoos kort-kort by ’n reuse-kunswerk. Hy laat dit aan die kyker oor om die figure te waardeer, sonder om ons met sy idees te beïnvloed.

Hy vertel eerder meer oor sy denkproses wanneer hy skilder of beeldhouwerk doen en langs die meer, verduidelik hy dat ons as mens graag tuinmaak of na mooi tuine aangetrek word, “omdat ons uit ’n tuin verwyder is en daardie verlies van die natuur voel. Tuine neem ons op ’n sekere manier terug na daardie plek. Dit verduidelik dalk die vrede en stilte wat ons in die natuur ervaar.”

Tans is een derde van sy beeldhou-tuin ander kunstenaars se werk omdat dit sy eie kreatiewe proses aanwakker, en hom in sy nuwe werk inspireer.

’n Groot vrede vertrek twee uur later saam met ons.

Die nuwe teeproe by De Oude Werf Hotel is ’n lekker ervaring en ideaal vir diegene wat nie wil wynproe nie of vir ’n tiener- of vrouetee. Ons stap die paar honderd meter van ons gastehuis af tot by die hotel hoog in Kerkstraat.

Die heerlike teeproe by De Oude Werf is ’n lekker uitstappie.

Die teeproe is die breinkind van Belinda van der Merwe, wat ons in die hotel se sitkamer verwelkom met Dilmah ystee wat van die vanieljeroos-tee gemaak is. Dit word in ’n vonkelwynglas bedien en is yskoud.

“Terwyl julle die ystee geniet en afkoel in die tuin rondom die swembad, gaan ek gou die teewater kook, want die tee moet vars trek voor bediening,” gesels sy oor haar skouer. Sy gebruik tee uit die Dilmah Infusion-reeks en bedien dit in wynglase om die geur beter te vertoon en jou die geleentheid te gee om jou neus diep in die glas te druk om die reuk te waardeer.

Belinda het voorheen by die Vineyard Hotel gewerk en vertel haar verloofde drink net tee en het haar stelselmatig oortuig. “Ek het verlief geraak op tee en Oudewerf is bekend vir ons teepartytjies. Toe is dit ’n natuurlike uitvloeisel dat ons dié tee-ervaring uitbrei.”

Met die tee- en snoepgoedpasmaat, word vier warm teesoorte bedien. Belinda sê met teeproduksie ─ net soos met wyn ─ is helling, terroir en temperatuur baie belangrik. “Net vroue pluk tee omdat hul aanslag sagter is en die teeblare nie gekneus moet word nie.”

Wanneer jy die pasmaatproe doen, is dit ’n slukkie tee, dan ’n happie en dan weer ’n slukkie tee om te sien hoe die snoepgoed en tee mekaar komplementeer.

Die vier pasmaats is Earl Grey met brosbrood; sjokolade-, borrie-, gemmer- en amandeltee met ’n sjokoladebruintjie; kokosneut-en-framboostee met ’n kokosneut-snytjie; en roos-, pomelo- en naartjietee met romerige kaaskoek.

Dié teeproe is die ideale verjaardaggeskenk vir ’n vriendin, of ma en omdat daar geen drank betrokke is nie, ook lekker vir jongmense of mense wat nie alkohol drink nie.

Belinda los ons om die teeproe self te geniet. Buite op die grasperk baljaar ’n eekhoring. Sy wolstert paraat in die lug, terwyl hy die akkers wat hy die vorige seisoen begrawe het, probeer uitsnuffel.

Ons laaste kuier in die pragtige omgewing is by die nuwe Kleine Zalze Restaurant. Dit het pas geopen in die ruimte wat 16 jaar lank die bekroonde Terroir was. Sjef Nic Van Wyk, wat in 2004 saam met Michael Broughton Terroir geopen het, is terug as konsultant-sjef.

Die span in die kombuis is almal deurwinterde sjefs en ook Lucas Carstens, wat voorheen hier gewerk het, is aan stuur van sake. Die nuwe restaurant is lig en oop en die spyskaart bied waarlik iets vir elkeen: of jy net een glas wyn wil drink en aan een of twee bordjies tapas wil smul, of lus is vir ’n heerlike biefstuk met ’n bottel wyn, albei is moontlik.

Ons begin ons kuier met ’n glas yskoue Kleine Zalze Vintage Brut 2013.

Ons sit onder die reuse-bedouin en kyk uit oor die bome en landgoed. Daar is lieflike tapas wat ietsie van alles insluit: seekat tot bokmelkkaas, geelstert tot radyse en steak tartare. Ons begin ons kuier met ’n glas yskoue Kleine Zalze Vintage Brut 2013. Ons kelnerin, Cindeline September, is al vyftien jaar deel van die restaurantspan en haar oë glimlag saam agter haar masker elke keer as ons iets lekker verklaar.

Ons peusel eers aan die koue tapas en geniet dit saam met ’n yskoue Chenin Blanc 2019, Family Reserve Chenin Blanc 2018 en Family Reserve Sauvignon Blanc 2017. Daar is soveel pryse en plakkers tussen hierdie drie, mens voel kompleet asof jy iets heilig proe.

Jy kan verstaan hoekom hierdie plaas onlangs deur die Platter’s South African Wine Guide aangewys is as Top-Presterende Wynkelder van die Jaar. Dié gids is onbetwisbaar die mees omvattende gids tot Suid-Afrikaanse wyn én een van die wêreld se hoogs aangeskrewes. Die hele aanbieding is hemels. Ons kyk hoe mense by die proelokaal instap vir ’n wynproe en met ’n peuselbord buite ontspan.

As selfs die groente mooi en lekker is, weet jy jy is op die regte plek by Kleine Zalze Restaurant.

Cindeline kyk oor die tafels heen. “Ons is baie beïndruk met ons nuwe restaurant. Mense kom sit laatmiddag vir ’n glas wyn en peusel; ander kuier omtrent heeldag stadig oor tapas. Ander kom net in vir koffie en koek. Daar is so baie lewe hier!”

Saam met die warm tapas drink ons rooiwyn: ’n Cabernet Sauvignon- en Merlot-versnit 2018 en die Family Reserve Cabernet Sauvignon 2016. Ek draf by die proelokaal in en koop van laasgenoemde, want dis te goed om net een maal hier te geniet!

Op die deli-tafel binne die restaurant staan die mooiste kaaskoek waarop ek al my oë gelê het. Ek besluit teen die spyskaart se nagereg en bestel die kaaskoek en koffie. Manlief bestel die donkersjokolade nagereg met piesang en suurdeegroomys.

Op pad terug motor toe, reageer my Pretoriaanse skoonsus per WhatsApp op my foto’s: “Julle wat tussen die wingerde in die Kaap woon, besef nie hoe mooi dit is nie. Ek hoop julle waardeer dit so af en toe ekstra baie vir ons Gautengers se part.”

In die bek geruk, dankie! Ek sal my bes doen om dit nog meer te waardeer.

Kitsfeite

♦ Teks: Maryke Roberts

◊ Foto’s: Clifford Roberts

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top