“Wat sal ek altyd onthou van my besoek aan Warskou in Pole? Die pragtige koninklike kasteel; die interessante vodkamuseum of die staptoer oor die kommunisme? Ja en nee. Wat seker vir baie lank sal uitstaan, is dat ek my vlug daarvandaan liederlik verpas het en dié gedagte net met geselsies oor die stad effe na die agtergrond geskuif word,” skryf Maryke Roberts.
Dis met groot verwondering oor hoe die Pole hul land se hoofstad herbou het – sonder om die onmenslike verlede te probeer uitwis – dat ons die ou stad ervaar het. Die stad was blykbaar op sy dag die Parys van die Noorde, maar die Eerste Wêreldoorlog het dit vinnig verander, hoewel dit eintlik die Tweede Wêreldoorlog was wat die stad platgevee het.
Ons kuier in straatkafees op uitgetrapte plaveisel met aartappel in elke moontlike vorm, Poolse wors en sauerkraut (suurkool). Ons aanvaar die gratis gegeurde vodka in ’n mengelmoes klein glasies, wat kamstig oral deur die sjef self gemaak is (maar almal dieselfde onnatuurlike bysmaak het).
Ons staan gewyd in kerke en katedrale en basilikas wat deur elke straattoergids ’n ander definisie gegee word.
Ons is mal oor die gawe Pole; die bekostigbare kos en drank. Dat Italiaans en Japannees en Turks en ’n Indiese taal en Pools neffens mekaar op restaurantvensters na jou flikflooi.
Tot jy onbewus van die gevolge van ’n skynbaar rustige Sondagmiddag jou laaste draaie loop voor jy lughawe toe moet gaan. 11 km; 17 minute per motor, vertel Google maps ons verskeie male oor etlike dae, terwyl ons met ons gasvrou oor ons vertrektyd kommunikeer.
Ons is 24 uur voor ons vlug aanlyn ingeboek. Sitplekke toegewys. Ons laai ons instappas op ons fone af. Bespreek die Uber soos telkemale in die vorige dae. Weet ons moet wikkel, want die hartjie van die ou stad is nie vir openbare vervoer bestem nie. Weet dat die meeste plekke Sondae toe is en die verkeer doodstil is. Dit is immers Sondagmiddag.
Die sleutel vir ons huurwoonstel is op die afgesproke plek gelaat, die vadoek langs die wasbak swaai nog effe klam aan die hakie. Die deur klik swaar agter ons toe en die wifi-sein verdwyn. Maar die Uber is vier minute weg, ons tasse is nie oorgewig nie, en ons het genoeg tyd.
Ons stap om die markplein, waar gesinne warm wyn met kaneel en heuning en sterjasmyn in koue hande vashou.
Ons peul uit die klein, nou straatjies en word uitasem op die ringroete net buite die stadspoorte uitgedruk. Dié pad is stampvol. Die vorige paar dae was hier omtrent geen motors nie. Ons sien gou dis ’n verkeersknoop. Maar die motors luier nie eers nie – hulle staan morsdood in ’n lang ry.
Agter ons hoor ons die speelparkmusiek van die klein stadsplein wat vir die wintervakansie in ’n ysskaatsbaan omskep word. Rondom die skaatsbaan is stalletjies met lekkernye en dis hoe Pole hul langnaweek deurbring.
Wag ... langnaweek?
Ek vra ’n man wat by my verbystap, wat aangaan. Hy verstaan my swaarliks, maar uiter: Trzech Króli. Dit klink bekend. A, ek het die woord vroeër op ’n winkeldeur gesien, maar kon nie die Poolse boodskap verstaan nie. Die volgende vrou wat verbykom, verduidelik in gebroke Engels: “Epiphany oftewel die Driekoningsfees – die dag wat die drie wyse manne of konings baba Jesus met hul goud, wierook en mirre besoek het.
“Dis amper so heilig soos Kersfees en dié naweek vier ons familietyd,” vertel sy met groot genoegdoening! Dis die rede vir die verkeer.
Die minute tik verby. Ons grasie vir die rit lughawe toe word minder.
Met geen internet nie kan ons maar net by die afgespreekte plek wag. Na ’n halfuur waar die ry met vier motors vorentoe kruie, begin ons stroomop stap. Bekyk elke nommerplaat vir ons Uber. Te laat vind ons hom. Hy het klaar uit ’n eenrigting in die gulsige luislang se bek ingedraai.
Ons klim in. Hoopvol. Taxibestuurders ken die kortpaaie. Hy sal verstaan.
Maar nie vandag nie. Ons Serwiese Uber-bestuurder kon skaars ons groet beantwoord. Hy sit met musiek in sy ore en ons kyk hoe die rooi lyn op sy Google maps net rooi bly en die minute bykom vir ons geraamde aankomstyd by die lughawe.
Ons sit in ’n woonbuurt, en selfs al sou ons uitklim en begin stap, het ons geen idee in watter rigting nie, waar ’n bus- of tremstop in die regte rigting is nie.
Meer as twee en ’n halfuur later stop ons voor Frédéric Chopin-lughawe se terminaal van waar ons Turkish Airline-vlug oor 52 minute vertrek. Ons leef in hoop – ons het sitplekke. Ons kan hardloop.
Tevergeefs probeer ons iemand opspoor om te help. Die redery se inligtingstoonbank is gesluit. Die enigste opsie is om te bel. Ons kan egter nie op ons selfone internasionaal bel nie.
Die minute tik verby.
Natgesweet en uitasem staan ons voor die Poolse Lugredery-toonbank en koop twee enkelkaartjies na ons volgende bestemming, waar ons 24 uur later die vlug huis toe haal. R8 000, sê die klerk sonder om ’n oog te knip en voeg dan by: “Kontant of kaart?”
Ek sluk die sarkasme wat in my keel opborrel. Wie het ná ’n vakansie R8 000 kontant in sy beursie? Of altans, wie het óóit R8 000 in hul beursie?
Ons vlieg twee ure later.
Ons is deur doeane en bagasie-ingee. Ons sit 30 minute voor ons oorspronklike vlug sou vertrek het by ons toepaslike hek. Dié een mis ons nie. Ek wil nie by die ruit uitkyk nie, want daar iewers op die aanloopbaan staan ons vliegtuig – die een waarop ons twee lekker sitplekke het.
Ons vlug is met ’n uur vertraag.
Ek gaan deur al my Warskou-foto’s op my foon.
Ek glimlag vir ons sorgelose gesigte vier dae tevore toe ons baie in ons noppies in die eersteklaskajuit per trein arriveer het. Ons het kaart gespeel, aan koffie en croissants gesmul wat deel van ons bekostigbare treinkaartjies was.
Die laaste foto’s is skaars ses uur vantevore geneem. Ons het in die Neonmuseum in Praga-Południe (’n buurt soortgelyk aan Kaapstad se Woodstock of 44 Stanley in Johannesburg) gaan rondstap. Ou fabrieksgeboue is omskep in luukse woonstelle, restaurantjies en koffiewinkels.
Die Neonmuseum is een van net ’n handjievol in die wêreld en dokumenteer en beskerm Poolse neonligadvertensie wat sedert die Tweede Wêreldoorlog in gebruik was en steeds is. Nadat ons daar ingeloer het, het ons ontbyt geniet by Komu Komu, waar ons saam met ons eiers iets kry wat baie soos boerewors smaak en lyk. Ons probeer by ons kelner uitvind waar dié resep vandaan kom, maar haar selfbewuste handgebare en rooi vlekke op haar wange laat ons die aftog blaas. Engels is nie almal se vriend nie.
Ons sit daar en geniet die hitte van die kaggel toe ’n fyn meisietjie verbystap met ’n reusefles onder haar arm. Ons kyk haar vraend aan en al wat sy uitkry is: “Piekels, piekels” voor sy die fles op die rak tussen die lowergroen potplante neersit.
Met behulp van ’n vertaaltoepassing op haar foon vertel sy dat sy alles inlê, van pampoen tot radyse en beet. Sy bring bakkies vir ons om te proe en gee raad oor watter speserye die beste werk.
Ons groet en stap die yskoue oggend in. Sy roep ons terug en kom met haar hande uitgestrek aangedraf. Sy oorhandig ’n bakkie met ons gunstelinge. “Vir die pad.”
By die vodkamuseum in Plac Konesera het die ure vir my man verbygevlieg. Hy het alles oor Poolse vodka, die verskillende verpakkings deur die jare, die wetgewing en bestanddele wat dit as Poolse vodka laat kwalifiseer, geleer.
Ek ruik weer die geure in die blomwinkel om die hoek wat elke dag blomme uit Israel en Amsterdam en Thailand ontvang en waar ek vir enkele minute net die hemelse geure van roos en renonkel en angelier en lelie kon inasem.
Die glimlag van ons gawe kelnerin, Julia, by Shabby Chic wat die koffiewinkel se kombuispersoneel oorreed het om die spyskaart te ignoreer en drie disse te kombineer want dis presies waarvoor ons lus was, laat my bui effe sak. Daar het die groot cappuccino soos ’n boepens sopkom op jou plekmatjie gerus.
Ons gids vir die kommunismetoer, Jacek Duda, ontmoet ons naby die Paleis van Kultuur, of die reusetroukoek soos dit algemeen bekend is.
’n Soortgelyke gebou is in Riga, in Letland, te vind. Die reusegeboue is een van die gesigte van “die voorspoed onder kommunisme”, waar alles groot en oordadig moes voorkom, maar die landsburgers klein en onbelangrik moes voel. Jacek is al agt jaar ’n gids en werk as taalkundige en gee klas.
Hy sê: “Dis maklik om te weet wanneer kommunisme gestop het – 4 Junie 1989. Dis minder maklik om te bepaal wanneer dit begin het – 1944 of 1947 of 1952?”
Soos ons deur die stad stap en hy vir ons tekens van kommunisme uitwys, mymer hy: “Warskou is chaoties, omdat mense hul grond na kommunisme kon terugkry, maar enigiets kan bou, sonder riglyne en bouregulasies.”
By elke rooi robot stop hy ons plegtig – selfs al is daar geen verkeer nie. Hy sien later ons ongeduld en sê: “Ons Pole hou daarvan om die reëls te oortree, maar nie dié wat ons geld kos nie.” As die mannetjie rooi is en jy stap, kan jy tot 100 zloty (omtrent R400 tydens ons besoek) beboet word.
Die vorige oggend het ek in ’n stegie by ’n baie ou oom, Pracownia Rękawiczek, bloedrooi leerhandskoene gekoop. Hy maak elke paar self en voer dit uit met gebreide skaapwol. Ons verstaan mekaar nie, maar hy haal uit en help aanpas.
Die oomblikke saam met hom is kosbaar. Dis verjaardaggeld van my 90-jarige pa. Ek wil sommer die oom druk, omdat ek na my pa verlang en die geboë ruggie en grys hare my ’n knop in die keel gee.
Die laaste foto’s waardeur ek kyk, is die monument vir die Warskou-betoging in 1944 (Pomnik Powstania Warszawskiego in Pools). Die monument is in 1989 onthul en deur die beeldhouer, Wincenty Kućma, gemaak. Die argitek, Jacek Budyn, het die indrukwekkende monument op die Krasiński-plein ontwerp. Die verhaal wat ons toerleier, Tomasz, op die historiese toer vertel het, sal my nog lank bybly. Voor die reuse monument is ’n kleiner een waar soldate ’n vrou met ’n baba onder haar arm help om in ’n rioolpyp te ontsnap. Agter hulle staan ’n priester.
Die vrou en haar man is in Oktober 1944 deur die priester getrou en al wat hulle gehad het, was gordynringe. Sy en haar man en hul jong baba is deur die soldate van die Poolse Weerstandsbeweging van die Nazis gered, maar het helaas nie die konsentrasiekampe vrygespring nie.
Hulle is later na Amerika gesmokkel, waar hulle vir 75 jaar getroud was, voor die bruid in September verlede jaar oorlede is. Saans is die monument verlig en ek het ’n paar maal daar gaan sit en my verkyk aan die mooi beeld.
En soos die weke verbygly, vergeet mens weldra van die onsmaaklikheid met die lugredery en kom die wonder van Warskou meer na vore. Daar is soveel in Pole om te sien; ons sal beslis terugkeer.
Kitsfeite
- As jy per kaart betaal en die assistent vra of jy in Poolse zloty of rand wil betaal, kies altyd zloty, sodat jy nie uitgelewer is aan ongekontroleerde wisselkoerse nie. Een zloty was bykans R4 ten tye van ons besoek.
- Baie plekke het nie kaartmasjiene nie en aanvaar net kontant. Trek eerder een groterige bedrag as om ’n klomp klein bedraggies te trek, want internasionale bankkoste is hoog.
> Teks: Maryke Roberts
> Foto’s: Clifford Roberts