"So waai ’n koue winterswind ons siele teen ’n draadheining in Paternoster vas, soos die wasgoed wat langs die vissershuisies in die seebriesie wapper. Lank nadat dié Weskusdorpie uit jou truspieëltjie verdwyn het, sit jou binneste nog daar teen die heining vas," skryf Maryke Roberts.
Soos jy die dorp binnery, sien jy hoe die skurwe voete van laggende kinders die deken vroeë veldblomme kneus en hier en daar skiet ’n misgetrapte blommetjie weer regop, tot die volgende baldadige groep kinders daaroor draf. Dis sorgelose dae by die see op sy beste!
Dié wat weet, sê jou eerste stop in die dorp moet altyd eers die Paternoster Hotel wees. Jy sit op die stoepie tussen die plaaslike mense, luister na die stories oor die groot vangste, die lekker kreef wat hulle uitgetrek het of hoe die vis loop, terwyl die lekker glas Groote Post The Old Man’s Blend en die jalapeno-kaasburger en skyfies so saam-saam in jou keel afgly. Die hotelgebou is meer as ’n honderd jaar oud en die ingangsportaal se mure is volgeskryf van kliënte van toeka tot nou wat gelukkige, vredevolle ure hier verwyl het.
Ek moet elke keer ook my neus by die hotel se “Panty bar” indruk, want die hele plafon is toegehang onder delikate vroue-onderklere. Terwyl jy aan jou koue bier of glas wyn teug, kom verkoop die dorp se kinders hartvorms uit ingerygde skulpies.
Geen besoek aan die dorp sal volledig wees sonder ’n stop by die Paternoster Hotel se “Panty bar” nie.
Paternoster kry sy naam, so hoor ons met ons inloer by die nuwe Paternoster Wine & Tasting Lounge, van die woorde “Padre Nostre” – Ons Vader – en die legende vertel van die dae van slawehandel en hoe ’n skip vol slawe, die Meermijn, hier geland het om hul proviand aan te vul. ’n Katolieke priester aan boord het die Vader se gebed (Padre Nostre) op die strand gedoen om dank te gee vir die vars vrugte, groente en water wat hulle aan land kon kry.
Die nuwe Paternoster Wine & Tasting Lounge waar jy nie net wyn kan proe en koop nie, maar ook brandewyn, bier en gin kan proe.
Die wynkroeg het ’n reuse-versameling wyne te proe en te koop. Elke drie maande is daar vier ander plase wat in ’n proe geniet kan word, maar hulle pasmaak enige proe vir jou. As wyn nie jou drankie-keuse is nie, doen gerus die brandewyn-, bier-, of ginproe. Suid-Afrikaanse brandewyn vier nie verniet vanjaar sy 350ste bestaansjaar nie!
Die meeste restaurante op die dorp is tot vroeg-Augustus gesluit, of net sekere dae van die week oop. Ons ry by ’n paar van ons gunstelinge verby: Noisy Oyster, Gaaitjie, De See Kat en Paternoster Brewery.
Gelukkig is The Hobnobbery oop en ek glimlag as elkeen wat langer as ek is, buk om deur die lae hobbitvoordeur te tree. Daar is ’n teken wat waarsku dat hulle ook vir ’n week of wat gaan sluit, maar ons is gelukkig om net voor hul vakansie in te loer. Die ou geboutjie was doerie jare ’n donkiestal en nou kan jy ure daar tussen die plante en versamelgoed wegkruip.
Gelukkig is The Hobnobbery oop en ek glimlag as elkeen wat langer as ek is, buk om deur die lae hobbitvoordeur te tree.
Hier is geen tekort aan humor nie. Ek het op hul Facebook-blad gelees dat The Hobnobbery ’n versamelnaam is, “like a flamboyance of flamingos but different”. Net om jou ’n idee te gee van die aweregsheid. Die koffiemasjien blaas en stoom en vul die hele plek met ’n hemelse koffiereuk.
Ons gaan sit in die een vleuel van die restaurantjie en teug aan lekker varsgebroude koffie en croissants wat sulke botterige skerwe in jou bord val van varsheid. Die deli is boepens vol met varsgebakte brood, tuisgemaakte kaas van plaaslike kaasmakers in die omgewing, soos Langbaken en Kokerboom, en koue vleis en ingelegde ware. Ons pak ’n mandjievol vir ’n piekniek later.
Ná vele ure in die hoekie van die restaurant, so tussen nog koffie deur, en nuuskierig krap tussen die boeke wat die vensterbank volstaan, kompleet soos outydse kant om dié wat buite is, jaloers te maak oor dit wat hulle binne mis.
Kort-kort kom nog ’n local gebukkend in, drink ’n glasie wyn, wissel ’n paar woorde met die ander locals en word amper deel van die omgewing. ’n Mens voel tegelykertyd ’n lekkerte en ’n leemte in jou hart as jy so daar sit, want daar waar ons vandaan kom, bestaan sulke samesyn en kameraderie nie.
Tog is dit die ongetemde natuur wat hierdie mense teen mekaar uitgespoel het en hier, gestroop van aansit en die lagie fineer waarin baie stedelinge hulself toedraai, leer ken jy gou die mense agter die lewe op Paternoster.
Die dorp en omgewing het so baie om jou mee besig te hou: jy kan ver op die strand gaan stap, gaan kajak met ’n ervare gids of net oor die see staar, die vuurtjie aansteek en vis braai wat vanoggend nog in die see geswem het en van die skuit gekoop is. Of met oop kamervensters die seelug tot op jou duvet geniet.
Ons enigste amptelike uitstappie is ’n fietsrit saam met WOW eBikes by die Waterfront en ons bestel sommer voor ons vertrek, ’n bord oesters. Jy kan twee ritte saam met hulle onderneem: een verby die ligtoring by Cape Columbine tot by Tietiesbaai, of strandlangs na die oesterplaas. Laasgenoemde is egter net moontlik as die getye saamspeel. In laagseisoen kan jy ook ’n strand-piekniek bespreek.
Die ligtoring het in 1936 die eerste maal sy lig oor die waters gegooi en die lig kan snags tot sover as 60 km oor die see gesien word – dis nou 32 seemyl. Dis die eerste ligtoring wat skepe onderweg van Europa sien en dit lê op breedte 32° 48' 39.5'' S en lengte 17° 51' 23'' O. Die ligtoring is vernoem na die skip, Columbine, wat in 1829 onderweg van Londen na Nieu-Suid-Wallis hier op die rotse geloop het. Die area is berug oor sy skeepswrakke wat hul einde te danke het aan die rotse en riwwe vlak onder die water.
Ons hoofgids is Danie Breytenbach, ook aandeelhouer in WOW eBikes. Sy liefde vir die omgewing is duidelik uit sy praat. Hy en sy vrou, Pam, ’n pottebakker wat by die kunsskuur by die Waterfront ’n ateljee het, het vyf jaar gelede op Paternoster kom woon. Hy doen die eBike-ritte en ook kajaktoere.
Ons was mal oor die twee ritte met WOW eBikes – een na Cape Columbine en Tietiesbaai, die ander op die strand.
Toe ons twee uur later terugkeer na hul winkel en ons fietse teruggee, is ons goed uitgehonger vir die oesters en bottel Kleine Zalze Cap Classique Brut. Die oesters het enkele ure gelede nog in die soutwater by die oesterplaas gelê.
Ek vertel vir Danie van Emile Joubert se nuutste boek, Krummels in my koffer, waarin hy kosstories van sy kinderdae herroep en sy beskrywing van sy kennismaking met oesters is heel gepas terwyl ons nog suurlemoen en swartpeper op ’n groot oester sprinkel: “[T]oe die oester my mond binnegaan, is dit asof ek ’n brander insluk, die skreeu van seemeeue hoor, onder die oppervlak van diep rotspoele induik en ’n ander wêreld betree [...] Dit is nie net kos vir kou en eet nie. Dit is ’n ervaring soos nog nooit tevore nie [...] Asof hierdie enkele oester die volle mag van die see aan my sintuie gebied het.”
Sela.
Ons stap strandlangs na ’n vroeë aandete by Voorstrandt. Daar is nog sand tussen my tone in my vissieplakkies toe die kelnerin ons na ons tafel wys. Die kniekombersie is net so welkom soos die stomende garnale en geurige rys.
Die aandlug raak vinnig koel toe ons terugstap na ons gastehuis Gonana Guesthouse toe. Die ligtoring digby Tietiesbaai flits kort-kort oor ons, so amper asof dit vir ons wil rigting wys; verseker dat daar lig op ons voete is, die pad huis toe sonder duwweltjies.
Ons gastehuis, Gonana, is op die strand by Bekbaai geleë en bied hope geleentheid om net na die natuur te staar – hetsy dit nou sonop of sononder of in die volmaan is.
Saans word daar kaggel gemaak in die sitkamer en voor ete sit ons daar en blaai deur die boeke op die lae tafeltjies, drink ons drankies, voor ons besluit waar om te gaan eet. Een aand is dit ons piekniek van The Hobnobbery wat ons by die lang eetkamertafel geniet. Ná ete speel ons kaart en stook die vuurtjie, terwyl die see buite hard raas om aandag te trek.
Ek sit saans buite op ons stoepie met ’n koppie laat-aand tee. Die volmaan is die enigste lig op die water. Die geluid van die see die allesoorheersende, allesomvouende klank wat jou toevou soos die veilige arms van ’n rondborstige ma. Die ritmiese breek van die branders wat jou aan die slaap wil sus en die baie son en fietsry (hoewel met minder moeite as gewone fietse) van die dag, wat ewe maklik aanhelp om jou lomerig te maak.
Dis nog skemer toe ons die volgende oggend wakker geraas word deur die seemeeue. Ons gaan sit met komberse om ons skouers op die stoep, tuur oor die water met stomende moerkoffie. So oor die karringmelkbeskuit wat ons by die Winkel op Paternoster – beter bekend as Oep ve Koep, gekoop het, gewaar ons, ons eerste walvis. Elke nou en dan gewaar ons ’n visserskuitjie.
Sekerlik een van die bekendste bakens op Paternoster, die Oep ve Koep-winkel.
Die volgende dag is die dorp se klein waterfront – ’n plekkie ’n hanetreetjie van ons gastehuis, waar oulike visserskuite op die wal lê en in piekniekbankies omskep is – aan die beurt.
Die bootjies by die Paternoster Waterfront is in oulike piekniekplekke omskep.
Ons gaan drink laatmiddag koffie en eet kaaskoek by die Koekemakranka-koffiewinkel langs die oulike Maneki-geskenkwinkel. In die reusekunsskuur kyk besoekers na skilderwerk, handgemaakte houtvoëltjies en onder in die hoek is daar later ’n teatervertoning by die Koelkamers.
Koffie en kaaskoek by Maneki.
Die skuur met kunswerke, pottebakkerswerk en gekerfde houtvoëltjies by die Paternoster Waterfront.
Met ons kattebak vol wyn van die wynwinkel, herebone en skilferige sout van Oep ve Koep en ons harte vol seelug en goeie herinneringe, val ons in die pad. Honde lê lui in die son en bak, stilte het neergedaal oor die gemeenskappie en die wasgoed wapper dankbaar in die ligte windjie.
Ons harte is vol en die seesand in my sokkies is ’n herinnering aan die sielvolle tyd op hierdie kusdorp.
Kitsfeite
- Bespreek vir jou ’n avontuur met WOW eBikes by bookings@wowebikes.co.za of WhatsApp 083 261 9921. As jy ’n paar dae daar is, onderneem beide eBike-toere, want dis baie verskillend. En moenie vergeet om jou oesters en vonkelwyn voor jou rit te bespreek nie!
- Gonana Guesthouse op Bekbaai-strand is reg langs ’n groenstrook en dit is Paternoster se eerste volhoubare- en omgewingsbewuste gastehuis. Sonkrag wek krag op; alle water word herwin; die plastiekgebruik is minimaal en die inheemse waterwystuine is ’n lushof vir voëls. Die eienaar, Jonas Sandström, ’n Sweedse entrepreneur en dekor-ontwerper se leuse “koop plaaslik, dink globaal”, is duidelik in die natuurlike dekor wat Skandinawië en Afrika se beste ontwerpe vertoon. Dis deel van Cape Country Routes (CCR), ’n toonaangewende groep akkommodasie- en aktiwiteitsondernemings wat deur eienaars bestuur en besit word. Bespreek by stay@gonanaguesthouse.com, www.gonanaguesthouse.com.
- Die Koelkamers het weekliks lekker vertonings wat wissel van musiek tot teater. Bel 082 554 0775 of kry hul volledige program beskikbaar by www.diekoelkamers.com.
> Teks: Maryke Roberts
> Foto’s: Clifford Roberts en verskaf