.......
‟Die Nederlandse vertalings van Karel Schoeman se werk is baie goed ontvang, met uitgebreide resensies in de Volkskrant. Wonderboom deur Lien Botha het in Nederlandse vertaling by Uitgeverij Zirimiri Press verskyn ... die boek [het] heelwat aandag gekry, van die NRC Handelsblad tot op sosiale media. 1795 deur Dan Sleigh was boek van die week op boekenbijlage.nl en is ook vol lof bespreek in Boekblad, die publikasie van en vir die Nederlandse boekhandel. Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström is hoog aangeskryf in ’n boeke-insetsel op NPO (Nederlandse Publieke Omroep) Radio 1 en het ’n vier-ster-resensie in de Volkskrant gekry.”
.......
Catrina Wessels
Ten spyte daarvan dat die wêreld ingrypend verander het, bly daar ’n aanvraag vir vertaalde werke. Buitelandse uitgewers raak ook meer bewus van die bestaan en potensiële steun wat die PEN Afrikaans Vertaalfonds bied, sê Catrina Wessels, bestuurder van PEN Afrikaans, in ’n gesprek met Willem de Vries.
Hoe sien die Suid-Afrikaanse publikasiewêreld en internasionale vertaallandskap vandag daar uit wat Afrikaanse skryfwerk betref? Hoe vergelyk dit met vier jaar gelede toe PEN Afrikaans se vertaalfonds gestig is?
Afrikaanse skryfwerk maak ’n relatief groot deel van die plaaslike mark uit. Daar word ’n ryk verskeidenheid Afrikaanse boeke gepubliseer en daar is getroue lesers wat graag en baie Afrikaans lees.
Die vertaalfonds beïnvloed nie direk wat plaaslik gepubliseer word nie, maar het ten doel om die vertaalkoste van reeds gepubliseerde Afrikaanse werke in die buiteland te subsidieer en op dié manier die Afrikaanse letterkunde buite ons landsgrense te bevorder.
Die maatstaf bly die gehalte van die boek en die potensiaal vir sukses in ’n ander land en taal. Veral by laasgenoemde speel die PEN Afrikaans Vertaalfonds ’n rol. Die uitgee van ’n boek in vertaling is duur en dit is ’n groot finansiële risiko vir die uitgewer, wat maklik in die proses ’n verlies kan ly as die boek nie verkoop nie. In sommige gevalle is die vertaalkoste eenvoudig te hoog om voort te gaan. Dit stuit die planne van die begin af. ’n Vertaalsubsidie maak hier ’n groot verskil en lei daartoe dat boeke wat dalk nie andersins sou kon verskyn nie, wel in vertaling die lig sien.
Ten spyte daarvan dat die wêreld ingrypend verander het, is daar steeds aanvraag vir vertaalde werke, al is dit beperk soos gewoonlik, en soos ’n mens kan verwag. Ons het die afgelope jare suksesvolle aansoeke vir verdienstelike boeke in verskeie genres gesien: literêre fiksie, historiese romans, ’n spanningsroman, jeugromans, poësie, ’n biografie, en die afgelope ruk ook twee werke van spekulatiewe fiksie (Wonderboom en In ’n land sonder voëls), wat dalk aansluit by die opbloei van dié genre internasionaal en die vreemde tye waarin ons leef.
Die vertaalfonds is deel van PEN Afrikaans se bedrywighede en staan in die teken van die internasionale PEN-skrywersorganisasie se werksaamhede. Was daar al enige reaksie of terugvoer van die internasionale PEN oor hierdie vertaalfonds of Afrikaanse vertalings? (Is daar PEN-organisasies in ander lande wat byvoorbeeld nie ’n soortgelyke vertaalfonds het nie? En indien dit die geval is, wat is die implikasies daarvan?)
PEN International dra beslis kennis van die vertaalfonds en ondersteun byvoorbeeld gereeld plasings daaroor op sosiale media. Hulle is egter nie direk betrokke by die onderskeie sentrums se bedrywighede nie. Die sentrums funksioneer outonoom, maar binne die raamwerk van die groter organisasie.
.......
‟Ons het die afgelope jare suksesvolle aansoeke vir verdienstelike boeke in verskeie genres gesien: literêre fiksie, historiese romans, ’n spanningsroman, jeugromans, poësie, ’n biografie, en die afgelope ruk ook twee werke van spekulatiewe fiksie (Wonderboom en In ’n land sonder voëls), wat dalk aansluit by die opbloei van dié genre internasionaal en die vreemde tye waarin ons leef.”
.......
Een van die grondbeginsels van die PEN-organisasie, vervat in die PEN-handves, is dat letterkunde nie grense eerbiedig nie en gemeengoed tussen mense moet bly. Verder het PEN International ’n aktiewe komitee wat op taal, taalregte en vertaling fokus. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds pas goed hierby in.
Dit is nie die norm dat PEN-sentrums vertaalfondse administreer nie. Meestal is dit ’n ander entiteit. In Nederland is dit byvoorbeeld die Nederlandse Letterenfonds en nie PEN Nederland nie. Dit gaan, benewens die beskikbaarheid van befondsing, oor menslike hulpbronne – mense wat die administrasie kan behartig. Ek weet wel English PEN het wonderlike inisiatiewe ter ondersteuning en bevordering van vertaling.
Watter reaksies tel onder die terugvoer oor Afrikaanse werke in vertaling wat al deur PEN Afrikaans se vertaalfonds gefinansier is? Wat hieraan is vir jou interessant en hoekom?
Die Nederlandse vertalings van Karel Schoeman se werk is baie goed ontvang, met uitgebreide resensies in de Volkskrant. Wonderboom deur Lien Botha het in Nederlandse vertaling by Uitgeverij Zirimiri Press verskyn – ’n klein uitgewery, maar tog het die boek heelwat aandag gekry, van die NRC Handelsblad tot op sosiale media. 1795 deur Dan Sleigh was boek van die week op boekenbijlage.nl en is ook vol lof bespreek in Boekblad, die publikasie van en vir die Nederlandse boekhandel. Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström is hoog aangeskryf in ’n boeke-insetsel op NPO (Nederlandse Publieke Omroep) Radio 1 en het ’n vier-ster-resensie in de Volkskrant gekry.
Die Franse uitgewers het veral in hul korrespondensie melding gemaak van poësiefeeste waarby die vertalings van Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer en Breyten Breytenbach aandag sou kry.
Dit is vir my interessant om ook na lesersindrukke te kyk op ander platforms as die tradisionele media. Uitgewers betrek graag boekbloggers om hul nuwe boeke te bespreek en hier sien ’n mens iets van hoe die “gewone leser” die boek ervaar. Op bol.com sien ’n mens byvoorbeeld dat Nederlandse lesers Fees van die ongenooides beskryf as ’n boeiende uitbeelding van die verskrikking van die Boereoorlog, met karakters wat vir hulle lewend geword het. Dieselfde word oor die Afrikaanse roman gesê en dit kan dus gesien word as ’n bevestiging van die geslaagdheid van die vertaling.
Bestaan daar, benewens die vertaalfonds, ook ander inisiatiewe waarby PEN Afrikaans betrokke is of beoog, byvoorbeeld opleiding in literêre vertaling? Gedagtig hieraan, bestaan bande tussen PEN Afrikaans en Afrikaans-Nederlands-departemente aan universiteite? Vertel ook asseblief van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) se bande met en rol ten opsigte van PEN Afrikaans.
Ons bied ’n artikelreeks in ons nuusbrief en ’n nuwe V&A-bydrae in Taalgenoot aan, ’n skrywersresidensie saam met die Jakes Gerwel Stigting, en die afgelope jare ook elke jaar minstens een slypskool waartydens hoërskoolleerders hul skryfvaardighede kan slyp. Laasgenoemde is in samewerking met die Woordfees se Woorde Open Wêrelde-projek en die ATKV-skryfskool. Ons het verlede jaar drie aanlyn kursusse aangebied wat sulke goeie aftrek gekry het dat ons beplan om vanjaar die aanlyn kursus oor die skryf van verhale te herhaal. Ons het ook al verskeie resensiekursusse aangebied. Daar is ’n kortkursus in vertaling by die Universiteit Stellenbosch se Afrikaans en Nederlands-departement as mense belangstel, en ander universiteite bied ook kwalifikasies in vertaling aan, dus oorweeg ons nie op die oomblik kursusse oor vertaling nie.
Die Trust vir Afrikaanse Onderwys se finansiële bystand maak nie net die bestaan van die vertaalfonds moontlik nie, maar ook die meeste van PEN Afrikaans se bedrywighede. Ons is hulle baie dankbaar vir die finansiering en vir die vertroue in ons as organisasie en die bydrae wat ons probeer lewer ter bevordering van die Afrikaanse woordkuns.
Jy is PEN Afrikaans se bestuurder, werksaam as literêre agent, en is ’n kenner op die gebied van outeursreg. Wat aan die huidige Suid-Afrikaanse kopiereglandskap wil PEN Afrikaans graag op voortbou?
Dit is verblydend om te sien dat daar, te midde van die heen-en-weer-stuurdery van PDF’s van boeke, ook ’n groter bewuswording is van hoe skrywers op outeursreg staatmaak. Daar is baie lesers wat dit besef en respekteer. PEN Afrikaans wil graag voortbou op bewusmaking hierrondom. Die ongemagtigde rondstuur van PDF’s of e-boeke is wel maklik en vinnig, maar die boekbedryf ly daardeur groot verliese. Skrywers ly skade en het dit meestal reeds nie breed nie.
Bitter min Afrikaanse skrywers kan dit bekostig om hulle slegs op hul skryfwerk toe te spits. Die rand en sent laat dit nie toe nie, veral as boeke waaraan jare geskryf is, so gratis rondgestuur word.
.......
‟Die Franse uitgewers het veral in hul korrespondensie melding gemaak van poësiefeeste waarby die vertalings van Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer en Breyten Breytenbach aandag sou kry.”
.......
Kopiereg, sensuur en die hele publikasieketting kom telkens ter sprake in situasies waar sentralisering van (politieke) mag na die voorgrond tree. Hoe maak PEN Afrikaans voorspraak vir Afrikaanse skrywers in die lig van hoe die regering tans kopiereg hanteer? Wat kan skrywers doen om PEN hierin te steun?
PEN Afrikaans is deel van die Kopieregkoalisie, ’n groepering van belangegroepe wat die skeppende bedrywe verteenwoordig en besorgd is oor die nadelige impak wat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg sal hê. Die Koalisie sluit ’n wye verskeidenheid rolspelers in: skrywers, uitgewers, musikante, komponiste, filmmakers, visuele kunstenaars, noem maar op.
Ek het begrip daarvoor dat mense dalk al moeg kan wees daarvan om te hoor van die wetsontwerp. Dit kom al jare aan. Die gevaarligte flikker egter steeds oor hoe outeursreg verwater sal word as die wetsontwerp bekragtig word, ten koste van skrywers.
Alhoewel president Ramaphosa verlede jaar die wetsontwerp terugverwys het na die parlement vir heroorweging, kan ons nie op ons louere rus nie. Die gevaar bestaan dat die wetsontwerp met slegs oppervlakkige of kosmetiese veranderinge deur die proses seil. Daar is steeds baie op die spel. Skrywers kan as lede by ons aansluit en ons op dié manier ’n sterker mandaat gee om namens hulle hul regte te probeer beskerm.
Die besluite oor finansieringsaansoeke vir vertalings word deur die bestuur van PEN Afrikaans in oorleg met ’n verteenwoordiger van die TAO geneem. By wie berus die finale besluit? Hoe hanteer PEN Afrikaans aangeleenthede soos hierdie waar mense in die bestuur ook in die uitgewersbedryf werksaam is?
Daar was tot dusver eenstemmigheid oor die suksesvolle aansoeke. Daar is ’n duidelike reglement wat uitstip waaraan ’n aansoek moet voldoen en ons laat ons daardeur lei. Ons was nog nie in ’n posisie waar ons een verdienstelike aansoek bo ’n ander moes kies nie. Indien dit sou gebeur, sal ’n meerderheidstem van die bestuur van PEN Afrikaans aan die TAO deurgegee word, waarna die finale besluit geneem sal word. Faktore wat in ag geneem sal word, word ook in die reglement gelys. Is die Afrikaanse boek goed ontvang? Het dit pryse gewen? Wat is die beoogde reikwydte van die nuwe publikasie? Gaan dit digitaal verskyn en vir pryse voorgelê word? Is die taal waarin die boek sal verskyn, een van die voorkeurtale wat deure na ander taalgebiede of na prominente internasionale pryse kan oopmaak? Die voorkeurtale in die reglement is Engels, Frans, Spaans, Duits, Nederlands en Sweeds.
Volgens die vertaalfondsreëls moet die vertaling direk uit Afrikaans gedoen word en nie via ’n ander taal nie, indien moontlik. Was daar al gevalle van laasgenoemde en, indien wel, hoe is dit hanteer? Was daar al enige Afrikaanse werke wat in die openbare domein beskikbaar is wat die vertaalfonds gefinansier het of waaroor die vertaalfonds genader is?
Dit is nie ’n absolute vereiste nie en daar was inderdaad al uitsonderings. Die Arabiese vertaling van Fiela se kind deur Dalene Matthee sal nie vanuit die Afrikaans gedoen word nie, maar via die Engels. Die Nederlandse uitgawe van ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs is primêr vanuit die Engels vertaal, maar met deurlopende verwysing na die Afrikaanse bronteks en voorkeur aan die Afrikaans waar daar verskille tussen die twee was.
In hierdie gevalle het die Engelse vertalings wel al in boekvorm verskyn en is dus reeds aan deeglike oorweging onderwerp.
Nee, daar was nog geen aansoeke vir werke wat in die openbare domein is nie. Dit sal interessant wees om te sien watter ouer werke die aandag trek.
In 2020 was PEN Afrikaans se fokus op teenkanting teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, sowel as die onregmatige verspreiding van e-boeke. Wat is die fokus vir vanjaar?
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg bly steeds ’n fokuspunt, maar ons het ook verskeie ander projekte, soos bo genoem. Ons werk ook aan podsendings oor skryfverwante onderwerpe. Verder beoog ons om vanjaar ’n reeks onderhoude rondom die tema van waarheid te publiseer. Dit is ’n belangrike tema in die konteks van sensuur, uitdrukkingsvryheid en die hedendaagse (sosiale)medialandskap waarin polarisasie hoogty vier en disinformasie dikwels gedy.
Uitgewers uit watter lande stel daarin belang om Afrikaanse werke te laat vertaal? Neem hierdie verskeidenheid toe? Indien wel, waaraan skryf jy dit toe?
Ons ontvang heelwat aansoeke uit Nederland, wat natuurlik toegeskryf kan word aan die noue verbintenis tussen die tale. Daar is belangstelling en daar is vertalers. Stelselmatig neem die verskeidenheid tale toe. Daar was al suksesvolle aansoeke vir vertalings na Frans (van veral poësie), Kroaties en nou ook Arabies. Ek dink buitelandse uitgewers raak meer bewus van die vertaalfonds se bestaan en potensiële ondersteuning. Dit is deels te danke aan mense wat agter die skerms werk, soos uitgewers, agente en vertalers wat Afrikaanse boeke vir vertaling aanbeveel en die moontlikheid van finansiering noem. Ons versprei ook graag self die woord hieroor – plaaslik en internasionaal. Dankie vir hierdie geleentheid wat daarby aansluit.
Buro: MvH