Persbericht: Aansoeke ingewag vir nuwe internasionale teksontwikkelingsprojek

  • 0

Foto: Pixabay

TEKSTMARKT, ’n unieke teksskryfprojek tussen Nederland en Suid-Afrika, wil skeppende skryfwerk aanmoedig met dié nuwe aanlyn program.

Alle gevestigde en opkomende dramaturge en teksskrywers uit Suid-Afrika en Nederland word genooi om deel te neem aan die projek en hul stories te vertel, hetsy op die verhoog of in ’n rolprent. Deelnemende kandidate sal deur ’n onafhanklike paneel uit albei lande gekies word en sal in verskillende fases gementor word om hul teksidees te ontwikkel.

Rolprentdeelnemers sal hul teksidees aan professionele mense in die bedryf kan voorlê vir moontlike belegging en ontwikkeling. Teaterdeelnemers sal fases van mentorskap deurloop en minstens twee skrywers – een uit elke land – sal finale mentorskap ontvang en ’n toelae om die volledige teks te ontwikkel. Die finale teatertekste sal aangebied word as teksvoorlesings aan ’n paneel van potensiële vervaardigers vir teaters en feeste.

Die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), die Nederlandse ambassade in Suid-Afrika, Dutch Performing Arts (’n program van die Fonds Podiumkunsten NL), DutchCulture en die Nederlandse Filmfonds. Die TEKSTMARKT sal nie net fokus op skeppende vaardighede en nuwe tekste vir die teater en rolprente nie, dit sal ook ’n kulturele uitruiling tussen twee lande op verskillende vastelande wees.

Dit word aangebied met die samewerking van die Baxter-teatersentrum in Kaapstad, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, die Sentrum vir Skeppende Kunste aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en die Durbanse Internasionale Filmfees (DIFF).

“Nederland en Suid-Afrika word verbind deur die geskiedenis. Hoewel die twee lande op die oog af wêrelde uitmekaar is, is hulle nie sonder betekenisvolle ooreenkomste nie,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Dit is hiermee in gedagte dat die eerste tema vir die projek gekies is as THE OTHER / DE ANDER / DIE ANDER. Die projek is nie net ’n wonderlike geleentheid vir skrywers om hul vaardighede te slyp en hul teksidees te ontwikkel nie, dis ook ’n gulde kans om skeppende mense en denkers uit verskillende vastelande te stimuleer en ’n maatskaplik bewuste denkwyse en begrip van ‘die ander’ aan te wakker.”

Han Peters, die Nederlandse ambassadeur in Suid-Afrika, sê  oor die projek: “Die interkontinentale kulturele samewerking tussen Nederland en Suid-Afrika sal nie net nuwe tekste tot gevolg hê nie, met ’n bietjie geluk sal nuwe vennootskappe ook aangegaan word.

“Dis belangrik om na verskillende stories te kyk,” sê Viktorien van Hulst, direkteur van die Fonds Podiumkunsten NL. “Ons samelewing met sy vele perspektiewe vereis grenslose nuuskierigheid en miskien veral wanneer dit ongemaklik of selfs konfronterend is. Deur na nuwe stories en nuwe stemme te luister word nuwe wêrelde geopen. Boonop gee dit ruimte vir pret en inspirasie. Daarom is ek opgewonde oor ons samewerking met TEKSTMARKT. Ek is bly ons kan aanhou saamwerk ondanks geografiese grense en saamkom ondanks die pandemie.”

Bero Beyer, hoof van die Nederlande Filmfonds sê: “TEKSTMARKT en sy tema kom op presies die regte tyd. Die Nederlandse Filmfonds en sy eweknie die Nasionale Film- en Videofonds van Suid-Afrika is tans besig om kulturele en ekonomiese bande te verstewig om wedersydse voordele ten beste te benut. Danksy die samewerking met die Nederlandse Uitvoerende Kunste, die Nederlandse ambassade en die KKNK, sal dié platform waar Nederlandse en Suid-Afrikaanse dramaturge en draaiboekskrywers in staat gestel word om saam stories te ontwikkel en kennis en vaardighede te deel, ’n waardevolle bydrae tot ons pogings wees.”

Alle dramaturge en teksskrywers uit Suid-Afrika en Nederland, gevestig of opkomend, word genooi om deel te neem aan die projek. Dit sal in verskillende fases oor die volgende 12 maande aangebied word. Die volledige program is beskikbaar op die KKNK se webblad by kknk.co.za/TEKSTMARKT/.

Registreer vir die gratis dinkskrum met sprekers van albei lande wat die tema van die projek sal bespreek. Dit vind op 13 tot 17 September 2021 aanlyn plaas.

Die spertyd vir voorstelle is 27 September 2021. Besoek kknk.co.za vir nog inligting of stuur ’n WhatsApp na +27 (65) 285 2337.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top