Persbericht: Bekendstelling van die Eenders & Anders Afrikaans/Nederlandse lespakket en webblad

  • 0

Bekendstelling van die Eenders & Anders Afrikaans/Nederlandse lespakket en webblad vir Afrikaans Huistaal – ’n opwindende nuwe belegging in Suid-Afrika se jeug.

Inleiding

Ná ’n afwesigheid van byna 30 jaar in Suid-Afrikaanse skole, kondig die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) en Protea Boekhuis met groot genot aan dat die eerste Afrikaans/Nederlandse lespakket vir skole, Eenders & Anders, nou beskikbaar is.

Die Afrikaans/Nederlandse lespakket – ’n reeks vir graad 6- tot graad 11-leerders – het ten doel om leerders wat Afrikaans Huistaal neem aan die Nederlandse/Vlaamse kultuur, taal en letterkunde bekend te stel. Leerders vertrek vanaf ’n bekende terrein (Afrikaans en Suid-Afrika) na nuwe wêrelde (die Nederlandse taal, en Nederland en België). Hulle fokus op wat dieselfde in die verskillende lande en tale is, maar ondersoek ook dit wat anders is.

Temas

Graad 6: Aangename kennis! – Prettig met je kennis te maken!
Graad 7: Koningskos – Een koningsmaal
Graad 8: Ridders en rolmodelle – Ridders en rolmodellen
Graad 9: Fietsry – Fietsen
Graad 10: Kampeer – Kamperen
Graad 11: Sprokie vir ’n stadskind – Sprookje voor een stadskind

Die meeste leerders sal bekend wees met byvoorbeeld die legendariese karakters wat bespreek word en sal besef dat ons kulture baie deel, maar dat daar tog verskille is – sommige oppervlakkig, ander meer diepgaande. Leerders ken Suid-Afrikaanse lekkernye soos melktert en koesisters, maar sal bekendgestel word aan lekkernye soos die kleiner Nederlandse stroopwafel en groter Belgiese wafel. Leerders sal leer van hoe Nederlanders en Vlaminge kamp, hoe belangrik fietse in Nederland is, voorgestel word aan ridders en ons eie rolmodelle en vele ander interessante dinge.

Kurrikulum-inligting

Eenders & Anders voldoen aan al die vereistes van die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (NKABV). Die volledige lespakket vir graad 6- tot graad 11-leerders wat Afrikaans Huistaal neem, kan per eenheid (’n leerderboek en onderwysersgids per graad) gedurende ’n tweeweeksiklus in die skooljaar aangebied word. Dit is so saamgestel dat dit een van die hoofstukke in die taalhandboeke kan vervang. Dit kan as verryking vir die topklasse aangebied word en verder gebruik word vir hersiening, ekstra materiaal vir die onderwysers, of doodeenvoudig as ’n prettige kennismaking met die Nederlandse taal, Nederland en België. Die taalaspekte dek onder andere gedeeltes waar ooreenkomste en verskille tussen Afrikaans en Nederlands duidelik ter sprake is, soos spelling, leenwoorde en woordeskatontwikkeling.

Die inhoud van die lespakket vir graad 6, 7, 8 en 9 sluit aan by die NKABV-kurrikulum kwartaal 2, week 5 en 6. Vir hierdie grade dek dit al die werk wat in week 5 en 6 in kwartaal 2 in die kurrikulum uiteengesit word, maar betrek ook werk uit ander weke. Die inhoud van lespakket 10 en lespakket 11 dek al die werk wat in kwartaal 4, week 33 en 34 in die kurrikulum uiteengesit word, maar betrek ook werk uit die weke direk voor en ná hierdie twee weke.

Daar is ook ’n bonus vir onderwysers! As deel van die lespakket is ’n spesiale Kwartetspel ontwikkel. Die onderwysersgidse vir graad 6 tot 8 ontvang ’n bonus Eenders & Anders Kwartetspel wat bestaan uit nie minder nie as 9 kwartette (kategorieë). Die Kwartetspel is ’n kaartspel waarin die spelers probeer om soveel moontlike kwartette (4 kaarte by elke bypassende tema) te versamel.

Taalgebied

Die projek wil taalgrense uitvee en sprekers van dieselfde moedertaalgemeenskap oor kontinente heen in hul Eenders(heid) & Anders(heid) aan mekaar bekendstel. Afrikaans is die moedertaal van 7 miljoen Suid-Afrikaners. Nederlands is die taal van ongeveer 17 miljoen Nederlanders in Nederland en van 6 miljoen Vlaminge in buurland België. Dit is dus byna 30 miljoen mense wat mekaar so om en by kan verstaan. Die Vlaminge praat hul Nederlands met ’n uitspraak wat partykeer soos Afrikaans klink. Dit word genoem Vlaams. Nogtans, in teenstelling tot Afrikaans, is Vlaams net ’n taal wat gepraat word. Skryf en lees doen Vlaminge in Nederlands. Gedurende die twee weke waartydens leerders hierdie lespakket gebruik, word hulle op ’n opwindende, avontuurbelaaide reis na die Lae Lande geneem.

Webwerf

Die Eenders & Anders lespakket bied leerders ’n venster op die Lae Lande (Nederland en België) en bestaan uit: ’n leerderboek en ’n onderwysersgids per graad en ’n webwerf.

Besoek Eenders & Anders se webblad (www.lespakket.co.za). Buiten die aanlynwinkel van Protea Boekhuis (www.proteaboekwinkel.com) kan bestellings ook op hierdie webblad geplaas word.

Vir meer inligting kontak:

Carla Lang van Protea Boekhuis by carla@proteaboekhuis.co.za of 082 884 8500
Eureka Barnard van SASNEV by eureka@sasnev.co.za of 083 460 4122

Buro: GvdB
  • 0
Top