Persverklaring: Die bekendstelling van Taalportaal en Taalonderrigportaal

  • 0

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) stel op 21 Mei 2020 Taalportaal en Taalonderrigportaal bekend.

Die vlagskipprojek van die Virtuele Instituut vir Afrikaans was vanaf die stigting van die instituut in 2015 die behoorlike beskrywing van Afrikaans se grammatika. ’n Soortgelyke projek is vir Nederlands en Fries onderneem, en Afrikaans het daarby ingeskakel, wat beteken dat Afrikaans se unieke, geleende en oorgeërfde taalstrukture nou vir internasionale navorsers toeganklik is. Hierdie inhoud word in Taalportaal gehuisves.

Uit Taalportaal het ’n tweede projek, Taalonderrigportaal (TOP), gevloei. In TOP word Afrikaans se grammatika ook beskryf, maar op ’n manier wat vir universiteitstudente en vir onderwysers toeganklik is. Die universiteitswerk word vervat in ’n algemene Afrikaanse grammatika (AAG) en die skoolwerk in ’n Afrikaanse skoolgrammatika (ASG).

Die eerste afdeling, woordsoorte, is nou voltooi. Hierdie enorme werk is gedoen in ooreenstemming met die nuutste internasionale navorsing en is deur verskeie kundiges gehalteverseker. Gebruikers van Taalonderrigportaal kan seker wees dat hulle korrekte, gehalteversekerde en geverifieerde taalkundekennis verkry.

Die inhoud van AAG is gerig op die onderrig van Afrikaanse taalkunde op voorgraadse vlak. Die inhoud van die skoolgrammatika is geskryf met die onderwysers van Afrikaans Huistaal in die VOO-fase as teikengebruiker. Dit beteken natuurlik nie dat ander gebruikers dit nié mag gebruik nie, maar ons het aanvaar dat die vereistes vir grammatikaonderrig in die VOO-fase die grootste uitdagings stel en die breedste grammatikakennis vereis.

As eerste stap van die proses is die KABV vir al die fases behoorlik deurgewerk, en die vereistes vir die onderrig van “taalkonvensies en -strukture” is aangeteken. Die werk wat in ASG aangebied word, is dus volledig met die vereistes in die KABV belyn.

Nie AAG of ASG is ’n handboek nie. Dit is nie eksamenafrigting nie, en dit vervang nie onderwysers of enige ander hulpmiddel wat tans vir die onderrig van Afrikaans ontwikkel is nie. Dit bevat wel die vakinhoud wat ’n mens nodig het om ’n handboek te skryf of wat onderwysers nodig het om lesinhoud of leerhulpmiddels te ontwikkel.

Albei hierdie grammatikas word op ons webtuiste gehuisves, en is gratis toeganklik vir enige geregistreerde VivA-gebruiker. (Registrasie is gratis.)

VivA glo onwrikbaar in die reg van dosente en onderwysers om onbeperkte toegang te hê tot die kennis wat hulle nodig het om die taal te onderrig. Ons glo ook in die reg van taalgebruikers om toegang tot kennis oor hulle eie taal te hê, en ons glo in die reg van leerders om toegang te hê tot korrekte vakinhoud. As taalonderrig ’n uitdaging is, moet dit wees omdat die vakinhoud uitdagend is, nie omdat die vakinhoud verkeerd of ontoeganklik is nie.

TOP is ’n lewende, digitale bron wat deurlopend aangevul en bygewerk word. Die volgende afdeling wat aangepak sal word, is taalkundeonderrig se groot uitdaging, sintaksis.

Op 21 Mei 2020 maak ons Taalportaal en Taalonderrigportaal oop. Die geleentheid vind virtueel plaas, en sal die vorm aanneem van ’n paneelbespreking waar die belangrikheid van digitale onderrig en die noodsaak van digitale hulpmiddels in ’n onderrigomgewing aan bod sal kom. Dit vind van 10:00 tot 11:00 plaas, en belangstellendes kan met Alizma Prinsloo by navraag@viva-afrikaans.org skakel om ’n plek in die virtuele ruimte te bespreek.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top