Beste vriende
Graag nooi ons u uit na die volgende Orde van den Prince-byeenkoms op Saterdag 8 Junie 2024.
- Datum en tyd: 8 Junie 2024 om 10:00 vir 10:30
- Plek: SASNEV, Sentraalplein 4 Pinelands
Die spreker is Tia Hugo, ’n voormalige voorsitter van die Orde van den Prince: Afdeling Kaap de Goede Hoop.
Die titel van haar lesing is “Gebroeders van Lymborch”.
Die Lymborch-Maelwael-familie word beskou as die grondleggers van die Nederlandse skilderkuns. Die drie Van Lymborch-broers, Herman, Paul en Johan van Lymborch, het omstreeks 1400 aan die Franse hof gewerk aan ’n reeks manuskripte soos Très Riches Heures du duc de Berry, wat vandag nog as die beste van hul soort beskou word. Hulle was hul tyd ver vooruit en hulle gedetailleerde uitbeeldings van adellikes tot kleinboere gee ons ’n blik op die lewe tydens daardie periode.
Hulle was nog tieners toe hulle Nijmegen verlaat het en hulle loopbaan vir die Valois-prinse was maar kort. Al drie is jonk dood en hulle werk was vir lank in private biblioteke uit die oog – selfs hulle name was so te sê onbekend tot hulle in die 1850's “herontdek” is. En nou is daar ’n nuwe manuskrip wat (dalk) deur hulle gemaak is...
Tia Hugo
Tia is aanvanklik in kuns, kunsgeskiedenis en museumkunde opgelei en het vir jare in dié veld gewerk. Daarna is sy in kommunikasiekunde heropgelei met die oog op die bemarking van museums. Vir ’n paar jaar het sy in daardie veld gewerk. Sy het mettertyd ’n belangstelling in bestuur ontwikkel. Nadat sy verdere kwalifikasies verwerf het, het sy verskillende senior bestuursposisies beklee, onder andere as Hoof van Telkom Wes-Kaap streek, Hoof van Finansiële Dienste by die Edcon-groep en Operasionele Hoof by die Nimble Group. Sy het ’n baie interessante loopbaan in uiteenlopende velde gehad, insluitende die oopmaak van kantore in Nairobi, Kenya, maar het nooit haar liefde vir kuns verloor nie. Om dit uit te leef het sy aangehou om navorsing te doen in velde wat haar geïnteresseer het om dan daaroor voordragte te doen by die Orde van den Prince, die Vriende van die Michaelis-versameling, en andere.
Hierdie is die derde praatjie oor geïllumineerde manuskripte wat sy by die Orde aanbied.