Persverklaring: Eerste Diktee vir Afrikaans

  • 0

Die eerste Diktee vir Afrikaans, aangebied deur die Nederlandse Taalunie en SASNEV (die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere), vind plaas op Saterdag, 4 Oktober om 12:30, by SASNEV in Pinelands.

Diktee vir Afrikaans is geskoei op die Groot Dictee der Nederlandse Taal wat al sedert 1990 jaarliks ’n groot gebeurtenis in Nederland en Vlaandere is.

Die eerste Diktee vir Afrikaans is vir graad 10- en 11-leerders. Die Nederlandse Taalunie stel drie groot pryse beskikbaar: R3000 vir die wenner, R2000 vir die naaswenner en R1000 vir die leerder wat derde eindig. Slegs die eerste 60 inskrywings word aanvaar, ’n maksimum van drie leerders per skool. Skryf dus onmiddellik in om teleurstelling te vermy.

Diktee vir Afrikaans lei die Week van het Nederlands 2025 in Zuid-Afrika in. Dit val ook saam met Afrikaans 100 en die sestigjarige herdenking van Ingrid Jonker se dood.

’n Teks van 250-300 woorde sal ’n paar keer vir deelnemers deur ’n bekende persoonlikheid voorgelees word. Deelnemers moet dit dan neerskryf. Die leerder wat die minste foute maak, sal as wenner uit die stryd tree. Die ou vaardigheid van aandagtig luister en dan so akkuraat moontlik neerskryf, word hier ontwikkel. In die proses word leerders se woordeskat, taal- en leestekengebruik getoets. Die slyp van hierdie vaardigheid is ontsettend belangrik vir leerders wat verder wil gaan studeer.

Geen voorbereiding of admin word van die onderwyser verwag nie.

  • Identifiseer slegs die leerders (’n maksimun van drie).
  • Kliek dan op hierdie skakel om hulle te registreer: https://bit.ly/diktee2025.

Die leerder ontvang dan ’n oefenteks in geskrewe - en oudio-formaat. Hierdie oefenteks, plus die teks wat die dag van die Diktee voorgelees word, sal ná die kompetisie aan belangstellende onderwysers verskaf word. Dit sou vorentoe in klasverband gebruik kon word om die hele klas se luistervaardigheid te slyp.

Hierdie kompetisie word deur SASNEV gereël moontlik gemaak met finansiële steun van die Nederlandse Taalunie, en saam met verskeie genote: die WKOD, die Afrikaanse Taalmuseum en Monument, Penguin Random House en Lapa-uitgewers, die Afrikaanse Taalraad, Zuid-Afrikahuis en die Willem de Zwijger Stichting en ons mediavenoot, Voertaal.

Navrae kan gerig word aan Eureka Barnard, Direkteur van SASNEV: eureka@sasnev.co.za en/of 083 460 4122.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top