Die volgende Orde van den Prince-byeenkoms is ’n boekbekendstelling met gespreksleier Azille Coetzee en skrywer Annemarié van Niekerk by SASNEV op Saterdag 5 Augustus 2023.
Dit is werklik iets besonders om na uit te sien en die koue winter mee te trotseer.
Gespreksleier en skrywer: Azille Coetzee en Annemarié van Niekerk
Bekendstelling: Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika. ’n Memoir deur Annemarié van Niekerk
Dag en tyd: Saterdag 5 Augustus 2023 om 10:00 vir 10:30
Plek: SASNEV, Sentraalplein 4, Pinelands
Aanlyn: YouTube Studio SASNEV
Meer oor die boek
In haar memoir vervleg Van Niekerk haar eie lewensverhaal aangrypend en onthutsend eerlik met ’n verkenning van die groot kwessies in ons land waarmee ons daagliks worstel: plaasmoorde, geweld teen vroue, skuld en onmag, aandadigheid en keuse. Onder ʼn bloedrooi hemel is ʼn diep ontroerende persoonlike reis, van geweld na genade, meesterlik vertel.
Van Niekerk woon in Den Haag, maar keer terug na Suid-Afrika vir die begrafnis van haar liewe vriend Ruben, wat saam met sy ma in ʼn wrede plaasmoord gesterf het. Dié reis lei terug na ander reise: Na haar kinderjare in PE in ʼn streng Nasionale huishouding met ʼn Broederbondpa. Na Umtata (Mthatha), waar sy gaan klasgee en verlief raak op ʼn swart kollega. Na Hillbrow, waar die twee onwettig saamwoon en aktief is in skrywersirkels met vriende soos Nadine Gordimer en Njabulo Ndebele. Tot geweld ook hul verhouding binnedring. En uiteindelik lei haar reis na ’n tronk, waar sy Ruben se moordenaars gaan soek in haar strewe na verstaan.
Meer oor die skrywer
Annemarié van Niekerk is onlangs aangekondig as die wenner van die “Henriette Roland Holst-prijs voor geëngageerde literatuur” vir haar boek Om het hart terug te brengen, gepubliseer deur Atlas Contact.
Van Niekerk woon in Den Haag. Sy is boekresensent by Trouw, een van Nederland se drie topkoerante, waar sy onder meer die resensering van Suid-Afrikaanse literatuur behartig. Sy doen ook vryskutwerk vir Suid-Afrikaanse koerante en tydskrifte, manuskripkeuring en -redigering vir uitgewers, en vertaalwerk. Sy is een van die medewerkers by Tydskrif vir Letterkunde; navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat; en gee Afrikaans aan die International School of Amsterdam.
Voor haar verhuising na Nederland was sy universiteitsdosent in Suid-Afrika en redakteur by Kwela Boeke in Kaapstad. Sy is die samesteller van drie verhaalbundels: Raising The Blinds - A Century of South African Women’s Stories (1990), Vrouevertellers 1843-1993 (1994) en The Torn Veil: Women’s Short Stories from the Continent of Africa (1998).
In 1999 verwerf sy haar PhD aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy het verskeie bydraes gelewer tot akademiese boeke en ander publikasies. Die mees onlangse akademiese projek waaraan sy deelgeneem het, was Edinburgh University Press se A Historical Companion to Postcolonial Literatures: Continental Europe and its Empires (2008). Hiervoor het sy meegewerk aan die afdelings: “The Netherlands and its Colonies: Introduction”; “Anti-colonial Resistance”; “Creolisation and Creoleness”; “Critique of Imperialism/Anti-colonialism”; “Narratives of Empire”; “Race and Language in South Africa” en “Women’s Histories”.
Sy is getroud met die Nederlandse literator Jaap Goedegebuure, en ma van Stephan.
Meer oor die gespreksleier
Azille Coetzee is ’n postdoktorale navorser by die SARChI-leerstoel vir genderpolitiek by Universiteit Stellenbosch. Sy het onlangs ’n PhD voltooi aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en Universiteit Stellenbosch waarin sy die dekoloniserende krag van feministiese denke uit Afrika ondersoek (ook in dialoog met Europese feministiese filosofie). Haar navorsingsbelangstellings sluit in feministiese filosofie, Afrika-filosofie en dekolonisasie. Sy is die skrywer van In My Vel: ’n Reis (2019), uitgegee deur Tafelberg, en Die teenoorgestelde is net so waar (2021), uitgegee deur Human & Rousseau.
Onthou om te laat weet u gaan teenwoordig wees deur ’n e-pos te stuur na hierdie e-pos adres.