Persverklaring: Suidoosterfees se nuwe NATi Jong Sterre aangekondig

  • 0

Die nuwe groep aspirant-dramaturge wat gekeur is vir deelname aan die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre-projek, is pas aangekondig. Henque Heymans, Jane Mpholo, Heloine Armstrong, Melissa Myburgh en Stephren Saayman is die derde groep jong skrywers wat sal deelneem aan dié ontwikkelingsprojek wat deur die fees in samewerking met NATi en die Jakes Gerwel Stigting aangebied word.

Die NATi Jong Sterre-projek, wat belowende jong dramaturge ondersteun deur hul skryfvaardighede te ontwikkel en af te rond, is in 2019 vir die eerste keer aangebied. Deelnemers ontvang opleiding tydens ’n mentorskapprogram wat ’n drie-weke skrywersverblyf in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos insluit. Abduragman Adams is vanjaar as mentor betrokke, en Rafiek Mammon gaan toesien dat die nuwelingskrywers se werk as produksies by Suidoosterfees 2022 sal debuteer.

Henque Heymans het verlede jaar by die ATKV-Tjokkertoneelkompetisie weggestap met die prys vir beste mini-toneelteks vir Kamerverlaat. In 2019 was sy toneelstuk Br(o)os onder die top 10 ATKV Tienertoneel-produksies. Heymans het ook sy merk gemaak as ’n skrywer vir die een-tot-een teaterbeweging, DEURnis.

Jane Mpholo het ’n graad in drama aan die Universiteit van die Vrystaat behaal, en sy het haar op die verhoog onderskei in Jerry Mofokeng se produksie van The Island. Haar outobiografiese teaterproduksie, Psalm69, is in 2018 ingesluit in die program van The Global Leadership Summit. Sy is tans ’n provinsiale ambassadeur van BASA se debuutprogram.

Heloine Armstrong het ’n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy woon in die Noord-Kaap waar sy fokus op gemeenskapsontwikkeling. Die afgelope twee jaar was sy aktief betrokke by die Garage Dance Ensemble.

Melissa Myburgh het in 2020 ’n honneursgraad in kreatiewe skrywerk aan Maties se dramadepartement voltooi. Sy was medeskrywer van die verhoogproduksie NiksAllesToglets, wat vir ’n Woordtrofee tydens die US Toyota Woordfees benoem is.

Stephren Saayman het in drama aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer. Hy het die DKES-dramakompetisie gewen met sy produksie Ek, Eva, wat in 2020 as deel van die NATi Jong Sterre-projek by die Suidoosterfees gedebuteer het. Vroeër vanjaar is hy as beste akteur angewys vir sy rol in die fees se Jong Sterre-produksie, Mannetjie.

Hierdie ontwikkelingsprojek gee gestalte aan wyle professor Jakes Gerwel, ’n stigterslid van die Suidoosterfees, se passie vir die ondersteuning van talentvolle jong individue wat andersins nie die geleentheid daartoe sou gehad het nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top