
Tom Dreyer en Alwyn Roux (Foto: verskaf)
Tom Dreyer en Alwyn Roux vertrek eersdaags na Nederland en België vir ’n reeks optredes wat voorlesings uit hul onlangse bundels sal insluit, verskynings saam met Nederlandse en Belgiese digters, asook poësiewerkswinkels, onderhoude en literêre geleenthede van allerlei aard.
Tom is meestal bekend vir sy romans, onder meer Dorado en Equatoria, maar sy debuutdigbundel, Nou in infrarooi, wat in 2023 verskyn het, het beroeringe veroorsaak. Dit is reeds in derde druk en is deur Fanie Olivier beskryf as “miskien die indrukwekkendste debuut van die afgelope dekade of twee.”
Alwyn, medeprofessor by Unisa se Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, is bekend as akademikus wat verslag doen oor beide Afrikaanse en Nederlandse literatuur. Sy langverwagte digdebuut, Weerskyn, het pas verskyn en maak reeds opslae.
Tom en Alwyn se boektoer sal op 16 Maart afskop met ’n poësieaand by Stichting Perdu in Amsterdam saam met Nachoem Wijnberg, digter en romansier van Amsterdam, asook bekende digteres, Hannah van Binsbergen. Hierna volg ’n Leidense draai en dan ’n propvol program in Tilburg, wat onder meer poësiewerkswinkels saam met Carina van der Walt, Nick Swarth, Jasper Mikkers, Hans Lodewijkx en Marja Trier sal insluit, naas onderhoude, ’n podcast en besinnings langs Tilburg se bekende Muurgedichten. Hierna vertrek hulle na Gent vir ’n byeenkoms by Het Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika saam met Janien Linde en Martina Vitackova, waar temas soos postkritiek, relasionaliteit en die Afrikaanse poësie aan die bod sal kom, terwyl Tom en Alwyn ook hul poësie sal bespreek. Daarna volg ’n gesprek by Poëziecentrum Gent met Jurgen Pieters, in samewerking met Samespraak, waarna hul toer sal afsluit met ’n besoek aan die Ernst van Heerden-versameling saam met Jessica Van Wynsberge en Stefaan Goossens.
Alwyn en Tom ken mekaar hoofsaaklik uit hul skryfwerk, en Alwyn is oortuig dat “die kombinasie van die poësie, ’n toer deur die Lae Lande, en ons kontrasterende maniere van kyk, nie teleur sal stel nie”. Tom eggo hierdie sentiment en voeg by dat die toer bowendien waardevolle roumateriaal sal verskaf vir sy nuutste skryfprojek “Wifi-netwerke van die wêreld – met spesiale verwysing na Suid-Afrika, Nederland en ’n godsverlate stukkie van die Lower East Side”. Hy wou nie meer detail verskaf nie, maar het genoem dat “poësieliefhebbers maar net hoef te wag, hopelik nie later as 2029 nie”.