Persverklaring: Uitnodiging – Kollokwium oor vertaling tussen Nederlands en Afrikaans

  • 0

Met ’n aanbieding van SASNEV en die Nederlandse Bibliotheek Kaapstad se besondere versameling vertaalde werke wat nuwe wêrelde vir die leser oopmaak en die bande tussen Nederlands en Afrikaans versterk.

Datum: Saterdag 17 Augustus 2024
Tyd: 08:30 vir 09:00 tot 14:30
Plek: SASNEV, Sentraalplein 4 Pinelands 7405
RSVP: teen Maandag 12 Augustus via info@sasnev.co.za

Lees is ’n groot rykdom in die lewe. Om die bladsy van ’n boek om te blaai verskuif grense, maak nuwe perspektiewe oop en neem jou soms na ’n ander, onbekende en fassinerende wêreld. Wat sou ons doen sonder die boek! In die algemeen is die boek, literêre praatjies en letterkunde die dryfveer agter SASNEV. ’n Nuwe wêreld het ook vir SASNEV oopgegaan toe ons en ons vennoot, die Nederlandse Bibliotheek Kaapstad, nie so lank gelede nie ons vertaalversameling begin het en die wêreld van die vertaalde boek met nóg meer horisonne opgemaak is. Ons versameling het ondertussen gegroei tot ongeveer 300 boeke wat bestaan uit werke van Nederlandse en Vlaamse skrywers wat oor dekades van Nederlands in Afrikaans vertaal is. Ons het so gefassineer geraak deur die hoe en hoekom van vertaling dat ons besluit het om op 17 Augustus ’n kollokwium daaroor by ons huis in Pinelands te hou. Die soektog na boeke en die samestelling van die versameling het vir ons verskeie vrae laat ontstaan oor vertaling: oor die aard van die boeke wat vertaal word en die skrywers, oor die uitdagings vir die vertaler, die keuses wat die uitgewer moet maak en die rol wat die akademie speel om goeie vertalers beskikbaar te maak. Ons sien daarna uit om almal op 17 Augustus by SASNEV te verwelkom om saam met ons die verskillende dimensies van vertaling te ondersoek.

Tot dan!

Jan F. Mutton
Voorsitter SASNEV

  • Voor meer inligting, kontak Eureka Barnard van SASNEV via: eureka@sasnev.co.za of +27 83 460 4122
Saterdag 17 Augustus 2024

09:00 Verwelkoming en voorstelling Jan Mutton

09:15 Paneelgesprek 1 (1 uur inklusief vraetyd)

  • Onderwerp: Vertaling en die skrywer/vertaler
  • Moderator: Marius Swart (US)
  • Paneel: Daniel Hugo en Hendrik Theys

10:15 Paneelgesprek 2 (1 uur inklusief vraetyd)

  • Onderwerp: Vertaling en die uitgewer
  • Moderator: Izak de Vries
  • Paneel: Nicol Stassen en Catrina Wessels (PEN Afrikaans)

11:15 – 11:45 Pouse

11:45 Paneelgesprek 3 (1 uur inklusief vraetyd)

  • Onderwerp: Vertaling en die akademie
  • Moderator: Andries Visagie
  • Paneel: Ilse Feinauer (US) en Carla Lindt (UWK)

12:45 Afsluiting

13:00 Borrel

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top