Gent 2018: internasionale brandpunt van Afrikaans
Die afgelope vyf jaar al, gewoonlik in Oktober, bied die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika, in die mooie Gent, in België, ’n kollokwium aan oor Afrikaans. Vanjaar se lesings en gesprekke het van 4 tot 6 Oktober plaasgevind.
Op Donderdag 4 Oktober het Wannie Carstens, buitengewone hoogleraar (emeritus) van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus en een van die medestigters van die Gentse leerstoel “Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij” sy intreerede as gasdosent vir die periode Oktober-Desember 2018 aan die Universiteit van Gent gelewer.
In die loop van die daaropvolgende twee dae is vyf hoofreferate gehou, drie oor die letterkunde en twee oor die taalkunde. Louise Viljoen van die Universiteit van Stellenbosch het gepraat oor “Antjie Krog as bemiddelaar tussen Afrikaans en Nederlands”, Daniel Hugo oor “Uitdagings wat die Nederlandstalige digkuns aan die Afrikaanse vertaler stel” en Bettina Wijngaard oor “Hoe verlos ons letterkunde van die laager?” Oor die taalkunde was Bertus van Rooy, Noordwes-Universiteit, se onderwerp: “Contact and linguistic creativity in Afrikaans grammar” en dié van Theresa Biberauer van die Universiteit van Cambridge: “Working the edge: on the significance of innovated peripheral structure in Afrikaans”.
In parallelle sessies is nog 21 referate oor die taalkunde en 10 oor die letterkunde gelewer. Opsommings van al dié referate kan by www.afrikaans.ugent.be/colloquium/abstracts afgelaai word.
Van besondere belang in die taalkundegleuf vanjaar was die aanbieding van die Afrikaans Grammar Workshop (AGW). Die AGW is gehou in die plek van die gewone taalkundebeen van die Gentse kollokwium, wat net soos die letterkundedeel gewoonlik in Afrikaans aangebied word.
Die AGW is ’n gesamentlike inisiatief van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), die Nederlandse Meertensinstituut, en die Universiteit van Michigan in die VSA. Die oogmerk van dié werkwinkel is om al om die twee jaar navorsers bymekaar te bring wat hulle vanuit verskillende teoretiese en metodologiese perspektiewe op die studie van die grammatika van Afrikaans toespits. Bydraes oor enige aspek van die Afrikaanse grammatika (fonologie, morfologie, sintaksis, semantiek, pragmatiek), hetsy in vergelyking met Nederlands en/of ander verwante of onverwante tale word verwelkom. Ook bydraes oor die geskiedenis van die Afrikaanse grammatika, die rol van taalkontak en/of hedendaagse grammatikale variasie. Die voertaal van die AGW is Engels.
Ondanks herhaaldelike versekerings deur die organiseerders dat die aanbieding van die AGW vanjaar in Gent ’n eenmalige gebeurtenis was, was ’n handjievol Afrikaanse akademici tog ietwat beswaard oor dié “verengelsing” van die Afrikaanskollokwium.
In sy verwelkoming aan kollokwiumgangers wat gekom het om die AGW by te woon, het Andries Coetzee, ’n taalkundige wat al 20 jaar in die VSA werk, algemene taalwetenskap aan die Universiteit van Michigin doseer, en steeds ook ’n sterk band met die NWU behou, oor die ontstaan van die AGW ’n kort historiese oorsig gegee. Die redes waarom die AGW in Engels gehou word, het hy soos volg opgesom (my vertaling):
“Oor die jare het ek my studente en kollegas met omtrent elke taal van oor die hele wêreld sien werk; van Asië tot Europa, Suid-Amerika, Afrika, selfs Suid-Afrika, maar nié met Afrikaans nie. By universiteite in die VSA was Afrikaans as onderwerp van linguistiese studie afwesig. Tot ’n groot mate was Afrikaans ook nie volledig deel van die taalkundetoneel in Europa nie. Nie omdat Afrikaans nié ’n interessante taal is, met interessante taalverskynsels vir navorsing nie. Ook nie omdat daar oor Afrikaans nié interessante navorsing gedoen word nie.
“Nee. Die vernaamste rede vir Afrikaans se afwesigheid tussen tale in die algemene taalwetenskap is dat die meeste navorsing oor Afrikaans in Afrikaans gedoen word. Navorsers rapporteer hul bevindings in werkwinkels en konferensies wat in Afrikaans gehou word, en/of skryf artikels wat in Afrikaanse tydskrifte in Suid-Afrika gepubliseer word. Dit maak Afrikaans vir ’n groot deel van die wêreld se taalkundiges wat moontlik ook in Afrikaans as studieveld sou belangstel, ontoeganklik.”
’n Paar jaar gelede, het Coetzee vertel, het hy en Marc van Oostendorp, van die Meertens Instituut, in Amsterdam gesels. Daar het hulle besluit om ’n manier te probeer vind om aan dié toedrag te verander. Uit dié gesprek het die AGW voortgekom: ’n reeks werkwinkels/konferensies met Afrikaans as fokus, maar met Engels as gesprekstaal.
Die eerste Afrikaans Grammar Workshop is in 2016 in samewerking met VivA in Johannesburg gehou. Vanjaar s’n, wat as deel van die Afrikaanskollokwium in Gent aangebied is, was die tweede. Die derde AGW sal dus oor twee jaar plaasvind. Miskien in Europa. Dalk in die VSA. Moontlik terug in Suid-Afrika. Maar op die wêreldlinguistiekkalender het dié internasionale brandpunt van Afrikaans gekom om te bly.
Gebruikers wat meer oor VivA te wete wil kom, kan aanteken by www.viva-afrikaans.org of met ons uitvoerende direkteur, Marlie Coetzee, skakel by 072 749 2431 of by navraag@viva-afrikaans.org.
Buro: MvH