Persverklaring: Wenners van die Suid-Afrikaanse afdeling in die Picture This!-kompetisie

  • 0

Protea Boekhuis maak met trots die wenners bekend in die Suid-Afrikaanse afdeling van die jaarlikse Picture This!-kompetisie vir uitstekende ontluikende illustreerders. Hulle is: Isabelle Kuijers, Veronica Bekker en Linn Hugo.

Picture this! is ’n inisiatief van Lemniscaat Uitgewers (Nederland) en die International Centre for the Picture Book in Society (Britjanje).

Die kompetisie word ondersteun deur Protea Boekhuis (Suid-Afrika), Walker Books (Brittanje), die Burg Wissem Bilderbuch Museum (Duitsland), S. Fischer/Sauerländer (Duitsland), Lemniscaat Uitgewers (Nederland) en die Internasionale Sentrum vir die Prenteboek in die Samelewing (Brittanje).

Lees gerus die beoordelaars se kommentaar op elkeen van die top-deelnemers se werk.

Beoordelaars se kommentaar

Deur Isabelle Kuijers

Oor Isabelle Kuijers

Piet Grobler: Isabella toon die beste tegniek en tekenvermoë, asook ’n begrip van kontemporêre prenteboekillustrasie. As ’n mens so kan teken, waarom moet die inkleurwerk met die digitale medium gedoen word? Haar gebruik van kleur en komposisie en verandering van oogpunt getuig van visuele intelligensie.

Mia Oosthuizen: Haar styl, tesame met die hantering van kleur en ruimtes, laat ruimte vir ’n prenteboek wat spreek tot ’n alternatiewe gehoor en betree die oorgang van prenteboeke wat nie primêr op jonger kinders gemik is nie. Haar keuse van drie verskillende gesigspunte bevorder konteks en karakterisering en ondersteun die emosionele staat van die hoofkarakter en ruimte.

Alida Bothma: Haar tekenvermoë staan vir my uit. Die verskillende perspektief waaruit sy elke illustrasie doen, is besonders.

Deur Veronica Bekker

Oor Veronica Bekker

Piet Grobler: Sy het goeie beheer oor die digitale medium en skep daarmee goed atmosfeer deur kleurgebruik, kontras en ligbronne.

Mia Oosthuizen: Die illustrasies is mooi en sluit aan by ’n populêre styl wat tans redelik volop in prenteboeke sowel as animasie is. Elke illustrasie vorm ’n mooi beeld om na te kyk en die konsep van die storie het potensiaal. Die illustreerder toon ’n aanvoeling vir die prenteboekgenre en die jong kind as teikenmark.

Alida Bothma: Sy kry dit reg om ’n lekker waterverfgevoel in haar werk te kry, al is dit digitaal gedoen. Sy weet hoe om haar medium te gebruik, en hoe om met die teksture van die blare, kleur, lig en skadu atmosfeer te skep. Daar is ’n magiese gevoel aan haar werk, maar sonder veel karakter. Die illustrasies is lekker om na te kyk, en ek dink sy sal mooi boeke kan maak.

Deur Linn Hugo (klik op elkeen om te vergroot)

Oor Linn Hugo

Piet Grobler: Die beelde is interessant en kontemporêr… grens selfs aan obskuur wees. Sekerlik nie hoofstroom nie, dalk nie so duidelik afgestem op die gemene deler van “jong lesers” nie en daarom vir uitgewers nie ideaal nie, maar ek voel nogal dat die eksperimente ook in jong werk aangemoedig moet word.

Mia Oosthuizen: Linn se inskrywing is die enigste inskrywing wat werklik die grense van ruimte, karakterisering en medium toets. Die eenvoud van haar tonele laat heelwat ruimte vir eie interpretasie en verbeelding.

Alida Bothma: Linn se speelsheid en eenvoud het my getref in haar illustrasies. Haar werk is vir my ’n ligpunt in die sin dat sy die enigste een is wat bietjie rondspeel met idees en tegniek, en dit deels met die hand doen (wat vir my ’n bonus is). Ek hou van die gemengdemedia-kombinasie wat sy gebruik en die uitknip en plak van papier, gekombineer met waterverf en foto’s. Die onkonvensionele manier hoe sy die teks deur die illustrasies laat loop, asook die uitleg van die blaaie en die komposisies van haar illustrasies, maak haar werk vir my opwindend en sal ek haar graag in die toekoms wil dophou.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top