Persverklaring: Yves T'Sjoen en Louise Viljoen by SASNEV op Saterdag 27 Januarie 2024 om 09:30 vir 10:00

  • 0

Beste vriend van SASNEV

’n Gesprek tussen  Yves T’Sjoen en Louise Viljoen vind plaas by SASNEV op Saterdag, 27 Januarie 2024 om 9:30 vir 10:00. Dit wil jy nie misloop nie.

Ons is bevoorreg om SASNEV se gespreksjaar te begin met Yves T'Sjoen uit Vlaandere wat hierdie keer in gesprek sal wees met bekroonde en bekende Suid-Afrikaanse skrywer en akademikus, Louise Viljoen. Dit gebeur nie sommer elke dag nie.

In gesprek:  Yves T'Sjoen met Louise Viljoen
Onderwerp:  Wisselwerking tussen Suid-Afrika en die Lae Lande. Bruggenhoofden
Dag en tyd:  Sa. 27 Januarie om 9:30 vir 10:00
Plek:  SASNEV, Sentraalplein 4, Pinelands
RSVPinfo@sasnev.co.za

Meer oor die gespreksleier Yves T’Sjoen

Yves T’Sjoen is verbonde aan die Universiteit Gent en werk as ’n buitengewone professor vir die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. Hy werk saam met Alwyn Roux (Unisa) aan die boekprojek Om Afrika te verbeel rakende die poësie van Breytenbach. In Gent doseer hy Nederlandse en Afrikaanse letterkunde. Hy is voorsitter van die navorsingsgroep Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika (www.afrikaans.ugent.be) en promotor van die Leerstoel Suid-Afrika: Tale, Letterkundes, Kultuur en Maatskappy. Van Januarie tot Junie 2024 is hy aangestel as navorsingsgenoot by  STIAS (Stellenbosch Institute for Advanced Study). Vyf jaar ná sy vorige boek Rakelings, oor kontakte tussen Suid-Afrika en die Lae Lande, publiseer hy Kwintet. Literaire dialogen tussen Afrikaans en Nederlands (2023) en Breyvier. Over taal, burgerschap en Breytenbach (2023) wat handel oor literêre verhoudings tussen Breytenbach en die Nederlandse taalgebied. Hy werk op die oomblik aan Twee overzijden. Kronieken en Tweespraken (2024).

Meer oor Louise Viljoen

Louise Viljoen is professor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is die skrywer van Ons ongehoorde soort. Beskouings oor die werk van Antjie Krog (Sun Press 2009), ’n kort biografie getitel Ingrid Jonker (Jacana Media 2012, Ohio University Press 2013) en Die mond vol vuur. Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach (Sun Press 2014). Sy was saam met Ronel Foster samesteller van die bundel Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1998) en saam met Hennie van Coller en Helize van Vuuren samesteller van Afrikaans poems with English translations (2018), en het ook ’n keuse gemaak van gedigte uit die werk van Barend Toerien met die titel Om te onthou (2006). Haar navorsingsfokus is die Afrikaanse letterkunde, met spesifieke verwysing na postkolonialisme, geslagtelikheid, identiteit, kosmopolitisme en transnasionalisme.

Ons sien uit daarna om jou te verwelkom by SASNEV op Saterdag 27 Januarie 2024 om 10:00 vir hierdie spesiale geleentheid.

Met hartlike groete

Jan Mutton

Voorsitter, SASNEV

  • Foto van Louise Viljoen deur Naomi Bruwer
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top