Vir die eerste keer in die geskiedenis kan mense wat Afrikaans wil bemeester, die taal volledig aanlyn aanleer.
Die geakkrediteerde kortleerprogram (en aanlyn program) van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is ’n eerste vir Afrikaans.
Vanaf Januarie 2018 word die geakkrediteerde kortleerprogram Gesellig Afrikaans 1 en 2 met die ondersteuning van VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans) aanlyn aangebied en kan mense van regoor die wêreld Afrikaans as ’n vreemde taal aanleer.
Twee kursusopsies bestaan, nl die kontakgebaseerde opsie (by die UV) of die aanlyn opsie via die VivA-webblad.
’n Basiese en ’n gevorderde kursus, albei geakkrediteerde kortleerprogramme, word reeds ’n geruime tyd op die UV-kampus as akademiese dienslewering aan besoekende internasionale studente, belangstellende voorgraadse studente, navorsers, UV-personeel, en ander persone aangebied.
Belangstellendes wat die kontakkursus aan die UV wil bywoon, sal onderrig ontvang deur middel van ’n gemengdeleermodel-opsie wat kontaksessies insluit. Die kursus duur 13 weke. Inskrywings geskied jaarliks in Februarie en Julie via die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans.
Registrasie vir die aanlyn kursus geskied jaarliks vanaf Januarie tot Mei en dit duur 20 weke, insluitend die formele assessering. Die aanlyn kursus sluit geen kontaksessies in nie.
Vir ’n blik op die kursusstruktuur vir die aanlyn program, besoek gerus https://www.gesellig-afrikaans.org.
Die onderrigmedium is in alle gevalle Engels. Tersaaklike talige ondersteuningsmateriaal soos Afrikaanse films, musiek, uitspraakriglyne en deurlopende selfstudie-assessering maak deel uit van die kursusmateriaal.
Basiese grammatikakonstrukte word verduidelik aan die hand van toerismetekste (in Afrikaans en Engels) waarmee ’n oorsig van sowel Afrikaans as die toeristiese landskap van Suid-Afrika aangebied word.
Die koste beloop R2 000 per kursus.
Besoek die webwerf by www.gesellig-afrikaans.org of stuur navrae na geselligafrikaans@gmail.com.
Kyk ook hier na ’n suksesstorie: https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/kyk-fransman-gooi-afrikaans-alte-gesellig-20171122.
Buro: IG