………..
“Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar dis asof die wingerde en wynvate en keldermure ook asem opgehou het; asof niemand seker was of ons weer die dinge wat voorheen so maklik gekom het, sou ervaar nie.”
………..
Op 18 Augustus vier die wêreld Pinot Noir-dag, en drie salige dae in Hemel-en-Aarde buite Hermanus, waar van Suid-Afrika se bekendste en bekroonde pinot noirs gemaak word, is die ideale manier om die mense agter dié wenkultivar te ontmoet en ook sommer ons kennis oor die wynstyl te verbreed, skryf Maryke Roberts.
COVID is die slow motion-funksie op jou slimfoon of tablet. Alles word stadiger, meer gedefinieer. Dis asof jy vir die eerste maal in jou lewe aandag gee aan die smaak op jou tong; die lug in jou longe; die blou lug en die klein, wit vlieswolkies wat stadig verbydryf. Geen vliegtuigstrepe wat lang patrone teen die blou maak nie.
Dis asof die wyn op jou tong effe langer vertoef as vantevore. Asof jy indrink dat jy óf hou van wat jy proe, óf nie. Asof jy die eerste maal hierdie vrug van die druif in al sy kompleksiteit proe. Asof die son op jou rug, die ligte windjie in jou hare en die seelug in jou neus vir ’n eerste maal voor jou kom staan en vra dat jy moet aandag gee.
Die kuier by die Pinot Noir-pionier van dié klein wynstreek, Peter Finlayson, wat vir bykans 30 jaar hier wyn maak, is ons eerste stop op die kort R320, skaars 20 km tussen Hermanus en Caledon, wat deur die Hemel-en-Aarde kronkel tot bykans 300 m bo seespieël, voor jy bo-op die kruin weer aansluit by die N2.
Die eerste slukkie Galpin Peak pinot noir op my tong by Bouchard Finlayson Wyne – in ’n tyd toe alkoholverkope én besoeke aan wynplase al vir weke in ons land verban was – talm effe langer. Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar dis asof die wingerde en wynvate en keldermure ook asem opgehou het; asof niemand seker was of ons weer die dinge wat voorheen so maklik gekom het, sou ervaar nie.
………..
“Pinot noir is die Franse woorde vir dennebol en swart, omdat die druiwetros soos ’n dennebol lyk, met korrels wat styf teen mekaar in ’n omgekeerde driehoek sit.”
………..
Peter se insig in die wynbedryf en waar Suid-Afrika in die wêreldprentjie inpas, regverdig ’n storie op sy eie. Hy het in 1989 Diner’s Club se Wynmaker van die Jaar-toekenning met ’n 1986-pinot noir van Hamilton Russell, waar hy toe wynmaker was, gewen. Sy pad kruis met dié van die Franse wynmaker Paul Bouchard en hy en sy sakevennoot, Michael Clark, koop die plaas en plant in 1990 hul eerste wingerde.
Bouchard Finlayson is ’n boetiekwingerd en heelwat van hul wyne is veganisvriendelik. Die plaas produseer ook olyfolie en heuning. Daar is verskeie kultivars op die plaas, maar pinot noir is hul vlagskip.
Op sy onverstoorbare manier vertel hy ons van die eienskappe van – en sy liefde vir – pinot noir.
Hy voeg by dat dit ’n moeilike merrie is om te tem en dat baie mense eerder nie pinot noir koop nie, omdat hul drinkondervinding van dié kultivar nie goed was nie, óf omdat dit ’n wyn van minder goeie gehalte was óf omdat hulle nie die kultivar verstaan nie. “Baie mense drink dit egter omdat dit ’n ligter rooiwyn is, met minder swaar tanniene as ander rooiwyne.
“Die Hemel-en-Aarde word omring deur ’n bergskans met Galpinpiek (800 m) aan die een kant en Babelstoring (1200 m) aan die ander kant, wat die kuswolkbedekking se vog opvang. Die suidoostewind hou die druiwe koeler in die somermaande, wanneer dit groei bevorder en stadige rypwording bewerk. Die wind hou ook die wingerde droog en verhoed só siektes wat in natter streke voorkom.
“Ons het ons wingerde baie digter geplant – 7 500 wingerdstokke per hektaar in plaas van die tradisionele 3 500 tot 4 000 – wat kleiner wingerdstokke en dus ook kleiner trosse dra, maar baie meer gekonsentreerde geure lewer.”
Peter vertel dat die Bokkeveld se skaliegrond miljoene jare oud is en divers deur die vallei se klowe voorkom. “Die grond is kompleks en tesame met ons koue Atlantiese Oseaan is ons terroir vergelykbaar met die wêreld se beste verwysing na die pinot noir-druif. Die grond het die vermoë om water te hou wanneer alles rondom kurkdroog is, en daar is ’n vonk in hulle.
“In 1981 is die eerste pinot noir-wyn hier geproduseer en dit het onmiddellik hulde gebring aan die miljoene ‘dormante-terroir-jare’ en ons was bevoorreg om hierdie pionierwynmaakgeleentheid aan te gryp. Ons Bouchard Finlayson Galpin Peak-etiket bied alles waarop ons trots is en elke glas is ’n huldeblyk aan die uitstaande pinot noir-terroirgeleentheid.”
Sy ander trots is sy seun, Peter-Allan, se prestasie vroeër vanjaar toe die internasionale wyntydskrif Decanter Peter-Allan se Crystallum Cuvée Cinéma 2018 in ’n paneelproe van Nuwe Wêreld-, enkelwingerd-pinot noirs met ’n uitmuntende 98 punte uit 100 beloon het.
Pinot noir is die Franse woorde vir dennebol en swart, omdat die druiwetros soos ’n dennebol lyk, met korrels wat styf teen mekaar in ’n omgekeerde driehoek sit.
Dis ’n gewilde druifsoort om saam met chardonnay in sjampanje en Cap Classique – Suid-Afrika se vonkelwyn wat in die tradisionele sjampanjestyl gemaak word, maar nie sjampanje genoem mag word nie omdat dié naam beskerm word en eksklusief is aan die Champagne-streek in Frankryk – te gebruik.
Peter sê hy is nie meer aktief betrokke as wynmaker nie, maar geniet sy skakeling met Chris Albrecht, wat die leisels in 2016 by hom oorgeneem het.
Ons ry laatmiddag oor na Spookfontein, waar ons vir twee nagte in die pragtig gerestoureerde huisie op die dam, Bloukraanvoël, gaan oornag. Langs die pad net buite Bouchard Finlayson se hek is daar ’n bordjie vir vuurmaakhout te koop. Die eksklusiewe, spogplaas teen die hange, met iets so basies soos vuurmaakhout te koop, pas al twee ewe gemaklik hier.
Die reusevuurherd huisves ’n vuur wat jou smeek om op die bank te kom ontspan, en ons maak ’n bottel van Spookfontein se 2017-oesjaar-pinot noir oop terwyl ons uitpak en nesskop. In die kombuis wag ’n wegneemboks met ’n biefstuk van sjef Charl du Preez van die restaurant wat in die wynproelokaal gehuisves word. Die oulike boks is propvol heerlikhede en ’n oulike blad met aanwysings oor hoe om die kos op te warm en af te rond, dat jy jou kan verbeel jy eet uit in ’n voorslagrestaurant.
Die restaurant word besit en bedryf deur Vaughn van Blerk en Francois Barnard, wat ook die gewilde Harbour Rock Restaurant in Hermanus het.
Terwyl ons aan die wyn teug, gaan sit ons buite op die trappies. Agter ons knetter die vuurtjie.
Dis op sulke perfekte aande wat jy jou eie lewe in oënskou neem: die wonderlike plekke wat jy kan besoek, die hemelse wyne wat jy kan proe, die ruimtes, die oop vlaktes waar jy kan fietsry en waar roofvoëls op telefoondrade sit en wag, die see in die verte wat saans ’n koel windjie oor wingerdlote stoot en stadige rypmaking bewerk, die pienk-oranje-geel van ’n sonondergang wat jy nog nêrens elders in die wêreld so ervaar het soos hier onder die Afrika-hemel nie.
Die pinot noir in die Hemel-en-Aarde – of soos my 90-jarige pa dit noem, die Hemel op Aarde – is een van die heerlikhede wat die lewe aan jou openbaar het en jy soms glo net vir jou gebêre is; ook die stilte op ’n damwal waar jy jou vir enkele minute ongehinderd kan oorgee aan vrede en stilte en net die kringe wat ’n watervoël se plat voete en onbehendige opstyg oor die water laat.
Die paddas kwaak in die dam langs ons huisie. Daar is klein vlieswolkies wat af en toe die sterre en sekelmaan laat verdof, maar ons weet hulle is daar.
Ons slaap die slaap van die dooies in ons reusekoperkatel, nadat ons lank in die ou pootjiesbad geweek het.
Vroegoggend gooi ons die luike van ons kamer oop en kyk ver af in die wingerde, waar drie mans se snoeiskêre ritmies knip-knip-knip, knip-knip-knip soos hulle ongetemde merlot-lote in bedwang bring. Neffens ons badkamervenster het die chardonnayblok begin bot en die grasgroen blare lyk heeltemal onvanpas in die andersins winteromgewing.
In die stort met sy klipmuur kyk jy by die diamantvormige venster uit oor die berge, terwyl die son traag oor die wingerde aangekruip kom.
Die Plaaskombuis effe laer af teen die pad is ons ontbytstop en ek moet glimlag toe ek die swartbord met die woorde: “Die beste dinge in die lewe is gratis; drukkies, slaap, glimlagte, vriende, lag, soentjies en familie” sien, maar heelwat hiervan is ons tydens inperking nie beskore nie. Ek koop reusebosse plaasvars spinasie en broccolli vir wintersop wanneer ons weer tuis is. Die pruimkonfyt gaan ook beslis nie lank hou nie.
Die dag is in wynproeë en kuiers verdeel. Ons kan nie wag om meer te leer nie. Eers stap ons op na die wynkelder tussen die fynbos en ontmoet daar die Argentynse wynmaker, Sol Yerden Eksteen. Sy is die afgelope twee jaar wynmaker hier en is met ’n plaaslike wynmaker, Pieter Willem Eksteen, getroud. Die paartjie het mekaar in die Napavallei ontmoet toe hulle daar op wynplase gewerk het.
Sol wou aanvanklik ná Napa na Nieu-Seeland gaan, maar na ’n kort tydjie by Asara buite Stellenbosch het haar nou skoonpa, die bekroonde wynmaker Bartho, haar oortuig om eerder Hemel-en-Aarde haar tuiste te maak.
Spookfontein se kelder het in 2013 geopen en het verskeie kultivars, maar ek kan sien dat pinot noir vinnig haar hart gesteel het. Sy het nie in Argentinië daarmee gewerk nie, maar heelwat ondervinding in Napa opgedoen. Sy vertel dat daar baie pinot noir in Mendoza is, maar weens die warm klimaat word dit alles in vonkelwyn gebruik.
Buite teen die ruit van die proelokaal sit die werfhond, Oliver, ’n spelerige skaaphond wat vir elke nuwe gas wat by die trappies afkom, ’n stok aandra.
Ek hoor by James dat die plaas sy naam te danke het aan ’n fontein hoog op teen die klowe waar die mis op koue oggende sulke draaie in die oggendwindjie maak. “Dit lyk kompleet soos spookasems,” vertel hy laggende.
Sol het tydens die eerste dae van inperking sommer self saam met die gasvryheidsbestuurder, James le Roux, 1 600 bottels pinot noir Cap Classique gebottel. Sy lag as sy nou terugdink, want hulle het beslis te veel hooi op hulle vurk geneem!
Ek wonder hoe sy in die wynbedryf beland het – haar ouers is onderskeidelik ’n argitek en onderwyser. “Ek wou die wynkoningin van die Mendoza Wynfees word. Daar word mens met wyn in jou are groot. Gelukkig kies ek toe eerder wynmaak,” vertel sy met ’n swaar Spaanse aksent.
Sol leer geweldig baie met die verskillende kultivars op die plaas se 13 hektaar wingerd. Sy het ook haar hand aan ’n merlot rosé gewaag en sê volgende wil sy ’n cabernet franc rosé probeer. Dis vir haar heerlik om haar wyne en eksperimente met sjef Charl se kos te pasmaat. Sy sê haar lewe is ’n hutsmerk: #wineisfood.
Sol sê die Phantom-versnit, hul vlagskip-bordeaux-versnit, se komponente is elkeen apart in eikehoutvate verouder en toe versny. “Spookfontein gebruik maar die afgelope twee, drie jaar al ons druiwe en het vinnig ’n innoverende speler in die wynbedryf hier geword. Ek is opgewonde om deel hiervan te wees.”
Die plaas het lieflike bergfietsroetes tussen die fynbos en wingerde deur en daar is ook groente aangeplant wat tydens inperking in die proelokaal verkoop word.
Ons gaan stap deur die kelder en ontmoet gou die argitek, DJ Carr, wat die natuurlike styl met vroulike kurwes so goed tussen die fynbos versteek het, jy sou kon glo dit was altyd hier.
My maag grom toe ons aansit vir middagete. Vaughn kom vertel ons dat die spyskaart ’n kombinasie van nostalgie uit sy kinderdae en baie reisherinneringe insluit.
“Ons glo aan presiese, maar ontspanne disse,” vertel hy toe hy die gnocchi met Sophia-plaastamaties en parmesaan saam met die Spookfontein rosé 2020 bedien. Daarna smul ons aan gebraaide calamari, gerookte mossels, ertjiepuree en salsa saam met die sauvignon blanc 2018. Kabeljou wat deur ons kelnerin se man, Arrie Claassen, gevang is, met spinasie aartappels en mosterdroom, rond die chardonnay 2018 af, voor die pinot noir 2018 wat nog nie beskikbaar is nie, saam met geelvintuna bedien word. Spookfontein syrah 2019 is die lamflanktortellini-en-waterblommetjie-pasmaat, voor ons die sjokoladebruintjie en pavlova met Sol se MCC geniet. Dis maar enkele weke in die bottel en gaan nog lank rus, maar dis heerlik en verfrissend.
Toe ons voor die venster op die bank gaan ontspan, skink James vir ons elkeen ’n sopie van hul Cape Ruby 2016. Ek is reg vir skuinslê, maar my man durf die bergfietsroete aan. James het juis gesê daar is geen televisie of wifi in die huisie nie. “Ons bied jou die natuur hier.”
Twee dae later skuif ons traag aan van Spookfontein, maar twee avonture lê nog voor: ’n kuier by Seven Springs saam met Gus Dale en ook oorbly en kuier by Creation Wines, een van die ander pioniers in die omgewing. Hier is kos-en-wyn-pasmaats legendaries gemaak, danksy JC Martin se passievolle wynmaaktegnieke en sy vrou Carolyn se fyn vermoë om geure te kombineer.
Jou neusvleuels rek wyd oop as jy van die parkeerterrein na die voordeur van Creation Restaurant stap. Nie alleen tiekiedraai die reuke uit die kombuis met die musiek wat oor die stoep uitspeel nie, maar die fynbostuin gee jou elke paar treë ’n ander hemelse geur, terwyl suikerbekkies hul bekkies diep in blomme indruk. In elke hoekie en draaitjie pronk Janko de Beer se beeldhouwerke, wat uit bamboes gemaak is.
Vir vele mense is die wyn-en-kos-pasmaat maaltye by Creation ’n emmerlysinskrywing. Ek het al van my lekkerste middae hier deurgebring, terwyl die son goue strale om die Babylonstoren-piek buite die proelokaal gooi. Met inperking moes Carolyn en die sjefspan kreatief word en nou is daar heerlike ontbyte, middagetes en tees met verruklike soetigheid op die spyskaart.
JC kom sit by ons en vertel dat die Hemel-en-Aarde “klimaatsgewys ’n vriendelike plek is en dat jy nie teen die elemente hoef te veg nie”. Die landgoed het Suid-Afrika se eerste virusvrye moederblok wat na 1994 geplant is en is nou ’n volhoubare bron vir gesonde wingerde vir die res van Suid-Afrika. Aan grondwater is daar geen tekort nie en bitter min besproeiing is nodig.
Ons is op ’n werksbesoek daar en mag saam met hom wynproe. Ek is skielik dankbaar dat ek “skryf vir ’n lewe” en hierdie voorreg mag geniet, terwyl die land onder ’n alkoholverbod kreun. Elke wyn wat hy bedien, is ’n meesterstuk.
Net soos by Peter Finlayson kom die passie vir pinot noir in elke sin van JC en Carolyn na vore. Geen wonder die landgoed se vier pinot noirs en een MCC pinot noir-chardonnay-versnit is so gewild regoor die wêreld nie. En dan praat ons nie eers van die chardonnays nie, maar dis ’n ander dag se dinge. JC sê pinot noir is die druifsoort wat jou hart breek en dit maak jou opgewonde as dit ’n spesiale-kwaliteit-produk is. Carolyn voeg by dat dit delikaat is en dat selfs die druiwetros wat sy beskryf, perfek in haar handpalm pas, “amper soos die hart van my palm”, anders as ander rooidruifsoorte.
“Dit pas by alles, dis nie swaar nie, is geskik vir somer en winter, met of sonder kos, en dis die ideale koswyn. Dis dié wyn wat jy kan geniet van jou voorgereg tot jou nagereg,” vertel sy toe ons groet.
Ek het ’n sak vol van hul verleidelike fyngebak, vrugtestrope en nagereg in ’n groot papiersak, wat netnou op die stoep geniet gaan word.
Ná ’n lang middagete ry ons oor na die Voormanshuis. Toe Salome Geldenhuys ons inboek, sê sy as die son sak, kom die voëls huis toe na die bome voor ons huisie, en soos die eerste strale oor die wingerde kruip, kom die tarentale, hadedas, eende en duiwe in groot formasies huis toe, voor ’n reuse-uil op ’n afgekapte boomstomp kom sit. Voorwaar hemel op aarde ...
Die paddas begin kwaak in die klein valleitjie voor ons huisie, en jy hoor die geruis van die water, maar dis pragtig met riete en groenigheid. Ons strek ons bene uit op die houtstoele op ons stoep en teug aan ons gin-en-tonics met olywe en bessies uit die restaurant. Pinot noir-en-chardonnay-gin van Creation natuurlik. Hoe dan nou anders?
Die wynyskas is vol van die landgoed se bekroonde wyne en die besluit nogal moeilik oor watter bottel ons gaan oopmaak. Die Riedel-glase is blink gepoets.
Laatmiddag kom ’n olyfkleurige lyster en janfrederik om die beurt op die stoepreling sit en skewekop na ons brood en kaas kyk. Ons het die oesbord bestel en dit kreun onder koue vleis, kaas en olywe, en ’n halfwarm olyf-ciabatta smeek dat jy dit deur die landgoed se vars olyfolie moet sleep. Dis heerlik saam met ’n glas chardonnay en musiek wat die vertrek vul. Jy kan ook braaivleisprodukte bestel en dan lekker op die reusestoep braai.
Die reusevenster in die sitkamer is laatmiddag ons grootskermtelevisie wat die natuur buite omraam.
Met skemer gaan ons op die plaas rondstap voor ons kaggel maak en die pinot noir saam met nagereg geniet.
Laataand skakel ons die ligte af en gaan sit op die stoep. Jy kan hoor hoe swiep die uil oor die klein klofie en hoor hom heel aand hoe-hoe in die boom langs ons kamer. Met behulp van die sterrekykboek in ons kamer kry ons darem ’n paar sterre raakgesien.
Ek het hier bo na Babylonstoren verwys. Laatnag sit ons op die lae poewe teen die ruit met ons tee en lees, en volgens Edmund H Burrows se Overberg Odyssey wat in 1994 in samewerking met die Swellendam Trust en Rustica Press verskyn het, praat sommige van Babylonskop, ander van Babylons Toren, maar hoe dit ook al sy, dis die vallei se hoogste piek en een van die redes hoekom die plase verder teen die heuwels uit ook baie reënval kry, want die wind stoot die wolke teen die berg op. Dit hou agter ons huis wag.
Voor jy in die hemelbed gaan induik, lê jy in die bad met die ligte af en kyk die sterre deur die houtlatte deur.
Dis eintlik heel gepas dat ’n Pierneef, Marjorie Wallace en Jan Vermeiren, Christo Coetzee teen die mure oor ons skouers na die prag buite loer. Buite reik Strijdom van der Merwe se Staircase to heaven langs ons stoep na die hemele. As jy jouself lank uitrek, sal jy agter die stoep aan die wingerde wat in perfekte rye tot teen Babylonstoren strek, kan raak.
Vroegoggend skuif ons die blindings hoog op en verwelkom die oggend in ons hemelbed in. Ons drink sterk koffie in die bed en knaag aan die restaurant se tuisgebakte beskuit.
Ek lees in die verblyfgids dat jy lekker kelder- en wingerdtoere kan doen. Nog ’n rede om terug te keer sodra inperking verby is.
By al die wynmakers waar ons gekuier het, kom dieselfde wyshede oor pinot noir na vore: dat dit ’n perfekte weerspieëling van die grond is waarin dit groei en die (verkieslik koeler) klimaat waaraan dit blootgestel is en dat ’n kleiagtige grond hierdie kultivar laat lééf. Hulle stem ook saam dat dit die perfekte wyn vir somer en winter is; dat dit ideaal is as witwyndrinkers met meer struktuur en ligter rooiwyn wil eksperimenteer, maar nog nie gereed is vir swaar en volronde wyne nie.
Dis egter die Brit Gus Dale by Seven Springs Wyne wat dit die beste vir leke verduidelik, want hy is nie net die plaas se wynmaker nie, maar ook ’n gekwalifiseerde wingerdboukundige. Hy neem ons deur verskeie oesjare, gehout en ongehout, maar almal deur voorgangers gemaak. Sy eerste oes op die plaas was eers in 2019 en sy oë begin blink toe ons van daardie voorbeelde proe, wat nog nie beskikbaar is nie, en ons ook later saam deur die kelder stap en daar vatvoorbeelde proe.
Die kelder was voorheen ’n sampioenplaas en dit lê langs ’n pragtige dam in die vallei, net so skuins onderkant Shaw se Pas. Al het ons baie hoër bo seespieël geklim, is die plaas slegs agt kilometer van die see. Daar is chardonnay, sauvignon blanc, syrah en pinot noir geplant en alles word as enkelwingerde gebottel.
Gus glo aan minimale ingryping in die wingerde en die kelder en hier word so organies moontlik geboer. Die wingerde is in 2007 en 2008 geplant en vertoon nou op hul beste en het ook wonderlike verouderingspotensiaal, danksy die koeler klimaat. Die proelokaal het in 2018 geopen.
Gus het vir 14 jaar in Boergondië gewerk en is die afgelope dekade in Suid-Afrika. Soos hy gesels, kan jy hoor dat sy diepgaande kennis van die plant en die grond die rede is hoekom hy sulke uitsonderlike wyne maak. Hy sê ook dat hy homself nie as die beste wynmaker in die wêreld beskou nie, maar wel as ’n baie goeie wingerdboukundige.
Hy sê die wyne van die omgewing kom baie soet voor, maar dis net die vrugtigheid van die Overberg wat deurslaan. Hy poog om wyne met laer alkoholinhoud te maak, want dis ’n neiging wat regoor die wêreld uitstaan.
Gus verduidelik wat “koeler-klimaat-wyne” nou eintlik beteken: Aan die einde van die herfs stuur die wingerde hul suikerreserwes na die onderstam om vir die winter voor te berei. ’n Hormoon, absisiensuur, stuur die wingerd na sy winterslaap. Om die wingerd behoorlik wakker te kry in die lente, moet daar vir minstens vier agtereenvolgende dae temperature van minder as –2 grade Celsius wees om hierdie hormoon voldoende af te breek.
“As dit nie behoorlik afbreek nie, kan jy verskeie probleme vorentoe teëkom, van oneweredige botsels tot oneweredige trosgroottes, wat weer tot oneweredige rypwording lei – ’n nagmerrie wanneer oestyd kom.”
As daar nie genoeg koue nagte en warmer dagtemperature is nie, is daar groter virusdruk en die nuwe, jong lote kan deur die wind of hael of reën beskadig word. Gus sê hy vergelyk graag hierdie tendens met wat gebeur met ’n persoon wat te min slaap kry. “Jy is gewis nie op jou beste as jy te min slaap nie, en op die lang duur affekteer dit lewenskwaliteit en -lengte.”
Gus sê jy kan nie een eienskap toeken aan die pinot noirs van Hemel-en-Aarde nie: Hoeveel druiwe gepars word; hoe dit gepars word; of jy heeltros pars; hoe gereeld jy spuit; of jy gis byvoeg of nie – alles het ’n invloed op die eindproduk.
“En hier ontmoet die ou en die nuwe wêreld mekaar – ons gebruik die kennis van die verlede, maar span innovasie in om ons na sukses te lei.”
Toe ons groet, vra ek uit oor fietsry- en stapgeleenthede op die plaas en hy vertel trots dat hulle deel is van Hermanus Trails en dat jy oral kan stap – selfs tot bo-op Babylonstoren as jy wil!
Daar is soveel plase in die omgewing waarby ons nou wou kuier, maar drie dae is te kort. Ek kyk met verlange na die oulike bordjie van La Vierge wat sê: “Ons jongste Pinot Noir vir jou toekomstige genot”, en mens besef dat die genot in jou glas jare se fyn werk verg.
Met ons terugry Kaap toe kies ons die grondpad, Karwyderskraal, wat langs die damwal van die De Bosdam verbyry. Daar is Bosman Hermanus se pragtige hout-en-glas-proelokaal, van waar jy die hele Hemel-en-Aarde kan sien. Jy kan stap, perdry en op die reusestoep ontspan.
Die kanola staan goudgeel weerskante van die snelweg toe die windjie ons kuiwe deurmekaar waai deur die oop vensters. Jou longe is vol van die vars plaaslug en jou hart vol van die plaasgasvryheid en jou kattebak vol pinot noir.
Kitsfeite
- Bespreek jou verblyf by Spookfontein by james@spookfontein.co.za of ete by restaurant@spookfontein.co.za en kry meer inligting by www.spookfontein.co.za.
- Bespreek jou verblyf by Voormanshuis by salome@creationwines.com, 072 593 2917 of ete by Creation by 028 212 1107 of info@creationwines.com. Hul webwerf het al hul spesiale aanbiedinge, soos ’n Alchemy-proeboks, ook nou tydens inperking. Kyk www.creationwines.com.
- Al hierdie wynplase se wyne is in Europa en ander lande beskikbaar. Seven Springs word deur Weldam Wines (http://m.weldamwines.nl) ingevoer en in België is dit by BvBa RoLu beskikbaar. Kyk ook uit vir Tesselaarsdal Wyne, wat deur die vindingryke Berene Sauls besit word, by Oud Reuchlin & Boelen, Laura.tarmidi@orbwijn.nl.