Platsak Eskom waarsku oor kragonderbrekings

  • 0

Die voortslepende twis tussen Eskom en drie vakbonde oor salarisverhogings kan groot dele van die land weer om die beurt sonder krag laat.

Die loonprotes het tot dusver nog geen grootskaalse kragonderbrekings tot gevolg gehad nie, maar ’n woordvoerder van Eskom, Khulu Phasiwe, het Maandag gewaarsku dat kragonderbrekings weer ’n moontlikheid is.

Volgens Phasiwe intimideer stakende werkers hulle kollegas wat nie wil staak oor die dooiepunt in salarisonderhandelinge nie. Vakbonde het tot dusver geen aanbod van Eskom aanvaar nie en dring aan op bonusse wat volgens Eskom nie bekostig kan word nie. Die drie vakbonde sal weer Vrydag met Eskom vergader.

Onwettige stakings het in Junie tot verspreide beurtkrag gelei toe niestakende werkers verhoed is om te gaan werk.

Die afgelope week het die Eskom-staking verder uitgebrei toe meer van Eskom se werknemers begin staak het oor die voortslepende salarisonderhandelinge.

Twee maande nadat die onderhandelinge begin het, kon die partye steeds nie tot ’n ooreenkoms kom nie. Die vakbonde hou vol dat daar geen ooreenkoms kan wees sonder bonusuitbetalings vir hulle werknemers nie.

Eskom het aanvanklik aangedui dat daar vanjaar geen salarisverhogings vir die werknemers sal wees nie, maar het later tot ’n 7%-verhoging ingestem. Die vakbonde dring egter ook op bonusse aan.

Die sukkelende kragvoorsiener gaan gebuk onder ernstige finansiële probleme en is kniediep in ’n finansiële verknorsing. Die gemors is te wyte aan die wanbestuur en korrupsie by die kragvoorsiener, asook miljoene rand se skuld wat deur munisipaliteite verskuldig is.

Ontleders het verlede week gesê Eskom is Suid-Afrika se skandvlek nadat die omvang van die kragvoorsiener se finansiële krisis aan die lig gekom het. Eskom het onder meer bekend gemaak dat sy onreëlmatige besteding sedert 2012 R19,6 miljard beloop – R3 miljard net verlede jaar alleen.

Eskom se nuwe direksie het sedert hulle aanstelling agtergekom dat die probleme van dié “gekaapte” staatsonderneming veel ernstiger is as wat aanvanklik gemeen is.

Die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, Lungi Mnganga-Gcabashe, het verlede week sy kommer uitgespreek oor die enorme toename in onreëlmatige uitgawes by Eskom.

Volgens Eskom se finansiële state wat verlede week beskikbaar gestel is, het die kragvoorsiener die afgelope jaar verliese van meer as twee miljard gely.

Netwerk24 het verlede week berig dat Eskom op 6 Augustus beurtkrag in die Emfuleni munisipale gebied gaan instel omdat hulle geen samewerking van die munisipaliteit kry oor sy enorme agterstallige kragrekening nie.

Emfuleni skuld Eskom meer as R600 miljoen. Hulle het op 6 Maart ’n ooreenkoms aangegaan dat die skuld teen Januarie 2023 afbetaal sou wees nadat die munisipaliteit onderneem het om sy lopende skuld maandeliks te vereffen en terselfdertyd die agterstallige skuld in maandelikse paaiemente af te betaal.

Volgens Eskom het Emfuleni nie die ooreenkoms eerbiedig nie en is die afbetalingsooreenkoms gekanselleer.

Luidens Eskom se kennisgewing sal Emfuleni se krag van 4 Augustus tot 12 Augustus Maandae tot Vrydae tussen 06:00 en 09:00 en van 17:00 tot 20:30 afgeskakel word. Op Saterdae en Sondae sal die krag tussen 08:30 en 12:00 af wees en weer van 15:00 tot 19:00. Van 13 Augustus af sal die krag daagliks van 06:00 tot 20:00 afgeskakel word.

Gebiede wat daardeur geraak word, is Vanderbijlpark, Ver­een­iging, Sebokeng, Boipatong, Tshepiso, Sharpeville en Evaton.

Lees ook

Eskom se korrupsie kos Suid-Afrika miljarde 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top