Dis een snikhete middag in Calitzdorp dat ek met De Krans Wyne se P&T kennis maak. Ek is gewoond port of portstylwyne – soos dit elders in die wêreld genoem mag word – is vir ná ete. Met daardie heerlike verfrissende portstylwyn en tonikum op my tong maak ek finaal die besluit om Porto – die wêreld se porthoofstad – te gaan besoek.
Die vlug is soortvan direk, hoor ek ’n paar dae later by die reisagent. Jy vlieg van Kaapstad na Luanda in Angola en daarna direk na Porto. Dis nie ’n drie-dae-te-perd-reis nie en Suid-Afrika is net twee uur voor Portugal. Dus geen vlugvoosheid nie en boonop is Porto nie bekend as een van die duurste wêreldstede nie. ’n Groot pluspunt vir dié van ons met groen paspoorte wie se rande maar min werd is elders in die wêreld.
Ons kry gou ’n oulike selfsorgwoonstelletjie naby een van die stad se bekendste bakens – die 75 meter hoë Clérigos-toring in Baixa. Tasse neergesit, moegheid weggestort en ons kies koers na een van die stad se toerismeburo’s vir inligting oor die moet-sien dinge en vir ’n Porto-kaart, wat van een tot vier dae geldig is. Dit bied ook lekker afslag en selfs gratis toegang by verskeie plekke in die stad en kom met voetganger- of openbare vervoeropsies.
Die Porto-katedraal, wat op die ou stad se hoogste punt in Batalha gebou is, staan soos ’n gerusstellende baken uit en as jy wil rigting verloor, loer net soontoe, het die toerismebeampte verduidelik. Dis ’n nasionale gedenkwaardigheid en die gebou met sy dubbele torings lyk baie soos ’n fort. Dis nie verniet naby die ou stadsmure geleë nie.
Die reusedeure se handvatsels is blink gevat oor die eeue heen. Buite staan ’n deftige man en speel trompet. Die klanke dartel tussen die klein straatjies deur en kom maak ’n nostalgie by jou wakker. Ons voel altyd op die eerste dag so effe soos drenkelinge wat nog moet uitwerk waar land is en hoe ons daar gaan kom.
Dus eers ’n oulike plekkie soek om te gaan beplan. Die windjie sny koud om die knieë en die verwelkomende hitte van die klein restaurantjie, Mercearia das Flores, is gerusstellend. Die knus, klein koffiewinkeltjie bied allerhande vleis- en kaasborde en natuurlik sardientjies in alle moontlike vorme. Jy geniet dit met ’n lekker glas Portugese wyn, port of baie sterk swart koffie.
Ons voel sterker en meer selfversekerd en drentel deur die strate. Jy moet jouself vermaan om nie aanhoudend foto’s van al die mooie teëls te neem nie. Ek wonder wat die teëls sou sê as hulle kon praat oor die eeue wat hier voor hulle verbygly: oorloë, liefde, haat en twis, vriendskappe by straatkafees, geliefdes wie se paaie daar begin óf geskei het.
Die hartland van mooi teëls is die bekende São Bento-treinstasie. Hier pryk 20 000 teëls van die skilder Jorge Colaço. Dit het hom 11 jaar geneem om te voltooi. Die stasie is natuurlik ook die plek vanwaar daar daagliks hordes treine na die res van die land vertrek en dis lekker as ’n gebou bedrywig is, broodnodig is en boonop verskeie male as die wêreld se mooiste treinstasie aangewys is.
Daar is so baie katedrale in Porto dat die klokkespel op die uur amper soos ’n koor met dieper bariton- en sopraanklanke oor die stad beier. Hulle is so ’n paar sekondes uit en die klokkoor duur laataand byna ’n volle minuut.
Teen laatmiddag is ons weer koulik, maar gelukkig bak die wintersonnetjie my rug lekker warm in die lang ry vir wat beskryf word as “die wêreld se mooiste boekwinkel”, die Livraria Lello. Jy bespreek voor jou besoek kaartjies en die 8 Euro-toegang word afgetrek wanneer jy ’n boek koop. Die boekwinkel het glo die Britse skrywer JK Rowling se verbeelding só aangegryp dat dit haar inspirasie vir die boekwinkel in Hogwarts was terwyl sy Harry Potter geskryf het. Daar ver voor speel ’n straatmusikant trompet. Ek maak my oë toe en wieg liggies op die maat van die musiek. Ek laat die geluide van die stad en die tale om my in die ry saam met die musiek oor my spoel. Vrede. Vakansie.
Die winkel – in 1906 gebou – is in die Art Nouveau-styl gebou en het heelwat Neo-Gotiese elemente. Die eerste ding wat jou opval as jy instap, is die reusehouttrap, donker houtrakke wat kreun onder die boeke. Ek gaan sit in ’n hoek en lees oor José en António Lello, twee broers wat deel was van die stad se intellektuele kringe wat die boekwinkel meer as 117 jaar gelede geopen het.
Goed, goed, goed, ek weet jy brand om meer oor port te lees, liewe leser. Ek het gebrand om port te gaan proe, maar onthou, dis die porthoofstad dié en porthuise is gewilde toeristebestemmings.
Geduld is dus die wagwoord. Ons verken dus die stad tot ons beurt uiteindelik aanbreek om by die drie bekendstes, Taylor’s, Graham’s en Quinta do Noval – waarvan eersgenoemde in Vila Nova de Gaia aan die oorkant van die Dourorivier geleë is – te gaan kuier.
Hier word port letterlik al vir eeue verouder. Dit is tot die sestigerjare per boot van die wynplase in die Dourovallei stroom-op vervoer om hier in die koelte van die hawestad te kom verouder. Dis ook hier waar ons hoor dat slegs port wat in die Dourovallei gemaak word, port genoem mag word. “Dis soos sjampanje – naamsbeskermd,” vertel ’n jong gidsie ons. Alle ander soortgelyke wyne word portstylwyne genoem.
Ons raak aan die gesels met ons gids by Graham’s oor ons land se pryswenner-portstylwyne en hoe baie van ons voorste portstylwynmakers kom gereeld Portugal toe vir raad en om nog meer te leer. Eers stap ons deur die horingoue verouderingskelder waarvan die dak gevaarlik inbuig, maar die gids is doodgerus dat dit al vir meer as 50 jaar so staan en niks oorkom nie, voor ons in groepe opgedeel word om verskillende soorte port te proe, waarvan sommige ouer as 40 jaar is.
Ons volgende stopplek is Taylor’s – een van die wêreld se bekendste handelsmerke. Vriende het ’n jaar of wat voor ons besoek vir ons ’n foto van hulself voor die wêreld se grootste wynvat gestuur. Dit hou 133 000 bottels. Jy gaan staan voor die vat en ’n kamera neem ’n “selfie” wat jy huis toe kan e-pos.
Die porthuis se selfbegeleide toer is baie insiggewend en ons leer onder meer dat die Dourovallei se wingerde in enkelrye in terrasse geplant is wat omsoom is deur klip-keerwalle. Dié walle is die rede dat hierdie area ’n Unesco-wêrelderfenisgebied is. Ek maak ’n nota dat dit volgende op die emmerlys vir bestemmings sal word.
By Quinta do Noval word aan ons en ’n paar ander toeriste van Brasilië verduidelik dat die naam letterlik vertaal na landgoed in die vallei. Ons lag en gesels oor en weer en proe verskeie soorte port – sommige sekerlik net omdat ons so lekker kuier.
Hy vertel dat veral wit port baie geliefd is in die somer en as port tonic gedrink word: port met tonikum en suurlemoen. Ons kan natuurlik hiervan getuig en vertel hom van ’n paar maande tevore toe ons juis daardie ervaring in die Klein Karoo gehad het en besluit het om Porto te kom besoek. Die gesprek draai net daar na Suid-Afrika en die koue buite is skielik vergete.
Ons gaan eet vroegaand sardientjies by ’n straatrestaurantjie langs die rivier en gaan kruip vroeg in.
Rua de Miguel Bombarda is herdoop onder die locals as die kunsdistrik oor al die kunsgalerye, antieke winkels, dekorwinkels en werkswinkels. Ons gaan wandel daar rond en gee oor aan die mooi ontwerp en kreatiwiteit van die Portugese toe ’n toestroming by ’n klein hoekkafeetjie ons oog vang. Ons val ook in en vind uit dis dié plek om francesinha te eet. Binne is dit druk besig en ons sit elmboog teen elmboog met ander gaste en wag vir ons kos.
Francesinha is ’n Portugese instelling en dié toebroodjie met ham, biefstuk en eier word toegegooi onder ’n dik tamatie-en-biersous met ’n homp skyfies. Die sooibrand – én herinneringe – bly jou dae lank by!
Elke middag val ons by Manteigaria – Fábrica de Pastéis de Nata in en kyk hoe die drie sjefs pastéis de nata maak.
Een meng die vla in ’n reusekoperbak; die ander rol deeg met baie botter uit en sny dan klein sirkels daaruit, terwyl ’n derde die degies in kolwyntjiepannetjies met haar hande vorm voor die vla daarin geskep word. Die restaurant is stampvol, binne en buite staan mense heeldag met hul neuse teen die ruite.
Saans kry die stad sy tweede asem. Dis asof almal wat gewerk het, lus het vir kuier. Die strate is besig en ’n vrolike gelag hang in die lug. Stalletjies met geroosterde kastaiings is in sulke oulike rookwolkies gehul en mense koop die papierhorinkies vol stomende neute vir loop en eet.
Die beste plek vir ’n laataand-kuier met ’n lekker energieke atmosfeer is bo-op die dak van die Porto Cruz-gebou. Bo die gaste se koppe gly die klein kabelkarretjies geluidloos verby. Onder op die rivier vaar die bote boepens vol met toeriste verby. Die glasmure van die restaurant en die hysbak is met helder blou ligte versier en gee die tafels ’n ligte blou skynsel. Jy voel amper asof jy binne ’n akwarium staan.
Ons kies een aand koers na die rivier toe en gaan sit by Café do Cais in Ribeira, ’n oulike glasboks op die rivieroewer, vanwaar ons die verligte Dom Luís-brug – een van die stad se bekende ses – gadeslaan. Die Colheita-wyn en Portal-port, broodmandjie met kaas, olywe en koue vleis is ’n koningsmaal in die diep leerstoele teen die venster.
Binne is die helfte van die glasboks ’n deftige restaurant en wonderlike disse word gereeld by ons verbygedra, maar die gemakstoele en peuselgoed maak ’n lekker lang kuier moontlik.
Ek loop heel toevallig by die wêreldbekende seep Claus Porto-seep se vlagskipwinkel in ’n tipiese 19de eeuse Porto-meenthuis verby. Dié seep- en parfuummaatskappy is in 1887 deur Ferdinand Claus en Georges Schweder, twee Duitsers wat in Portugal gewoon het, gestig. In 1908 word Achilles de Brito, wat sedert 1903 daar werksaam is, ’n vennoot.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog moet Ferninand die land verlaat en die besigheid word genasionaliseer. In 1924 word dit opgeneem in Ach Brito, Achilles de Brito se maatskappy. In 1993 is dit sy kleinkinders Aquiles en Sónia de Brito wat die produkte in die luukse goedere mark wêreldwyd bekendstel en nege jaar later brei die maatskappy ook uit na kerse, handeroom en parfuum.
Jy voel soos ’n prinses vandat jy instap. Was eers jou hande wat die winkelassistent vir jou afdroog en dan die room van jou keuse invryf. As jy aan iets anders ruik, gaan jy terug wasbak toe vir dieselfde ritueel, “want hoe anders gaan jy weet hoe dit op jou vel voel en ruik?” is sy logiese vraag.
Terwyl jy besluit waarvan jy hou, kan jy op die tweede vloer na die seepmakery se oulike museumpie gaan kyk. Dit gee ’n goeie oorsig oor Portugal se geskiedenis. Net die regte manier om ’n paar dae in die historiese Porto af te sluit.
- Foto’s: Clifford Roberts