Protes teen stygende brandstofpryse

  • 0

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die Demokratiese Alliansie (DA) beplan om volgende week ’n massabetoging in Pretoria teen die stygende petrolprys te hou. Verskeie ekonome meen egter dit is niks anders as ’n goedkoop politieke foefie nie.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het Suid-Afrikaners aangemoedig om Dinsdag (31 Julie) in hulle massas op te ruk en deel te neem aan die beoogde massabetoging om hulle stemme dik te maak teen die hoë brandstofprys.

“As jy ’n motor het, sien jou in Kerkstraat. As jy ’n taxi gebruik, sien jou in Kerkstraat. As jy ’n taxi-eienaar is, sien jou in Kerkstraat,” het Maimane die publiek die afgelope week aangemoedig om aan volgende week se protesaksie deel te neem.

Die DA se veldtog word gesteun deur Outa, wat Suid-Afrikaners en selfs geloofsgemeenskappe op hulle webwerf (https://www.outa.co.za/outa-calls-r1-less-stress) aanmoedig om deur middel van die optog druk op die regering uit te oefen om die brandstofprys met R1 per liter te verlaag.

Outa sê hulle sal Dinsdag om 10:00 saam met ander groepe in Kerkstraat in Pretoria bymekaarkom om ’n memorandum aan die nasionale tesourie te oorhandig waarin daar gevra word dat die brandstofprys verlaag moet word.

Volgens Outa gaan Suid-Afrikaners reeds te lank gebuk onder ’n swaar las van hoë belastings, wanadministrasie en korrupsie. Outa sê die buitensporige verhogings in die brandstofheffing tydens die Zuma-era kan verbind word aan die regering se behoefte om sy boeke te laat klop weens die korrupsie wat die land teister. Hulle wil hê die regering moet die brandstofheffing verlaag om die stygende brandstofpryse te help verlig.

“Die regering moet die regte ding doen en die petrolprys met R1 per liter verlaag as hulle ernstig is om die druk op die land se verbruikers te verlig,” sê Outa se bedryfshoof Ben Theron.

Ekonome is egter nie so seker of dit haalbaar is om van die regering te verwag dat die petrolprys verlaag word gegewe die hoë oliepryse en wisselende waarde van die rand nie.

Die meeste ekonome stem saam dat die padongelukfonds hersien moet word, maar sê die verlaging van die petrolheffing bied geen langtermynoplossing nie.

Stanlib se hoofekonoom, Kevin Lings, het aan die Daily Maverick gesê die verlaging van die brandstofheffing sal miskien ’n laer petrolprys tot gevolg hê, maar dit los nie die regering se probleem op om inkomste te genereer nie.

Lings sê die enigste oplossing om die huidige druk in die ekonomie te verlig is om ekonomiese groei te skep wat bykomende werksgeleenthede tot gevolg sal hê en sodoende huishoudelike inkomste sal laat styg.

Die ekonoom Dawie Roodt van die Efficient Group stem saam dat die oplossing nie is om die brandstofheffing te verminder nie. Hy het die DA en Outa van “goedkoop politiek” beskuldig. Roodt meen die regering kan liewer ander belastingtoegewings maak. Volgens hom is die brandstofheffing oor ’n breë basis versprei, dit is goedkoop om in te samel en kan volgens hom selfs verhoog word. “Dit is die ABC van belasting-ekonomie,” het hy gesê.

Die nuutste aanduiding van die sentrale energiefonds is dat die onderverhaling van petrol nou sowat 17c per liter beloop en vir diesel sowat 13c per liter. Volgende week se verwagte petrolprysverhoging sal die vyfde agtereenvolgende brandstofverhoging die afgelope vyf maande wees.

Lees ook

Nóg petrolprysverhoging is Suid-Afrikaners se voorland

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top