Die kommentare op president Cyril Ramaphosa se blitsfamilievergadering die afgelope Sondagaand laat ’n mens met die indruk dat hy drie soorte belange het om te beskerm (ook te dien en te oorweeg) wanneer hy optree in sy hoedanigheid as staatshoof – of dalk is dit vier.
Die eerste, sou jy aanneem, behoort die land en sy mense te wees, die “fellow South Africans” wat hy gewoonlik so hartlik en eerbiedig groet met die aanvang van die familievergaderings. Hartlik, sonder twyfel. Maar is eerbied werklik teenwoordig wanneer hy hierdie keer, wéér, laat opgedaag het? Eers is sy verskyning met 30 minute uitgestel omdat hy, aldus sy woordvoerder, Vincent Magwenya, nog die laaste kolletjies op die i’e moes plaas. (Raai, en dit nadat hy enkele dae tevore reeds bekendgemaak het dat hy die aankondiging Sondagaand sou maak. Slegte voorbereiding, of ’n benoude kat wat benoude spronge gemaak het in die besluit oor wat in die aankondiging ingesluit moes word?) Ons weet net wat ons vertel word, wat berig word. Maar toe gebeur die aankondiging ook nie eens op die kop van die tweede beloofde uur van waarheid nie. “Absolute disrespek vir landsburgers!” is hieroor op sosiale media gesê en oor die radio gekla.
Ter verdediging van die President wil jy glo dat dit alles te make gehad het met die noodsaak om goed of behoorlik voorbereid op te daag. Die kwessie waaroor dit hier gaan, vereis tog dié soort deeglikheid. Die bewerings dat sindikate in ons strafregstelsel ingesypel het en ’n onbehoorlike invloed daarbinne uitoefen, is erg. Ook is daar die bom wat die provinsiale polisiehoof van KwaZulu-Natal, lt genl Nhlanhla Mkhwanazi, laat ontplof het toe hy twee Sondae gelede ernstige bewerings van korrupsie teen die minister van polisie, Senzo Mchunu, gemaak het.
Nou is Mchunu op spesiale verlof geplaas; ’n waarnemende minister begin op 1 Augustus die portefeulje te bestuur; en, die belangrikste van als, ’n geregtelike kommissie van ondersoek word aangestel om al die bewerings én meer te ondersoek. Ses maande word adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga en sy kommissie gegun om die werk af te handel, maar omdat dit van so ’n ernstige aard is, mag hulle tussenin ook versoek dat ander mense ondersoek word en dat kriminele of ander klagte onmiddellik teen beweerde betrokkenes aanhangig gemaak word.
Die kommentare wat gevolg het op die aankondiging, was siniese reaksies: “Nóg ’n kommissie,” sug almal tesame. “Nóg geld en tydmors.”
Oor hierdie verskynsel (onverwant aan Sondagaand se familievergadering) het ek voorheen hier op Voertaal geskryf.
Die tweede belang ter sprake is dié van die regering. Ramaphosa het reeds met sy aanvanklike bewindsoorname in Februarie 2018 belowe dat hy korrupsie gaan uitroei om ’n duidelike verskuiwing in staatsbestuur wég van die staatskapingsjare aan te dui. Tekens bestaan dat hy dit in ’n mate reggekry het: geen aanslag meer teen staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens of die Nasionale Vervolgingsgesag nie. En met die aanvang van die RNE einde Junie verlede jaar, ’n maand nadat die ANC sy volstrekte meerderheid in die Mei 2024-verkiesing verloor het, is die teenkorrupsieboodskap nogeens beklemtoon. Om Mchunu uit sy pos te stel en ’n ondersoekkommissie aan te stel, onderstreep die beskerming van die RNE se belange en reputasie.
’n Derde belang wat in die President se aankondiging gedien kon word, is Mchunu s’n. Dat hy nie summier van sy pos onthef is nie, beteken een van twee dinge. Die eerste is dat Ramaphosa moontlik versigtig was om nie ’n presedent te skep deur iemand af te dank bloot op grond van bewerings nie – selfs al is dit uiters ernstige bewerings wat teen die persoon gemaak word. Indien dié werkswyse toegepas word, sou Ramaphosa dalk self reeds aan die ontvangkant daarvan kon wees met die steeds maar twyfelagtige verduidelikings oor die miljoene dollar wat uit sy woning op sy wildsplaas, Phala Phala, gesteel is. Net sodat ons nie vergeet nie: ’n Onafhanklike regterlike komitee wat deur die speaker van die Nasionale Vergadering aangestel is, het wel bevind dat ’n prima facie-saak teen Ramaphosa bestaan; verdere optrede is egter deur ’n sitting van die parlement afgestem.
Die nieafdanking van Mchunu (of dien van sy belang) sou ook veroorsaak kon gewees het deur die feit dat hy een van Ramaphosa se belangrikste ANC-bondgenote in sy tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, is. Sonder dié soort ondersteuning in die ANC – en gegewe die hernude, groeiende prominensie van Zuma, nou as MK-leier, sowel as die wedywering wat reeds in aanvang is om die volgende ANC-leier te word – sou Ramaphosa baie meer wakker lê oor die vraag of hy sy tweede presidensiële termyn voluit sal kan uitdien. Sowel Zuma as sy voorganger, Thabo Mbeki, moes ’n deel van hul tweede termyne inboet weens interne ANC-struwelinge, voortspruitend uit die magstryd tussen die uittredende ANC-leier se steunbasis en dié van die inkomende partyleier. Jy sou dink dat dit darem nie enige bekommernis op hierdie stadium vir Ramaphosa behoort te wees nie, aangesien die ANC se volgende leierskonferensie eers in Desember 2027 plaasvind. Moenie glo nie.
Maar as daar ’n vierde belang deur die Ramaphosa-aankondiging gedien word, wat sou dit kon wees? Die antwoord neem ons terug na die Phala Phala-albatros om sy nek. Wat het Mchunu daarmee te doen? Hy was die polisieminister wat ’n verslag hieroor deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat as geklassifiseerd (hoogs geheim) verklaar het. Wat ook al die rede daarvoor was, en geen twyfel dat daar goeie redes moes wees nie, was dit na alle waarskynlikheid in Ramaphosa se guns. Hoe hy die Mchunu-moeilikheid nou hanteer, is uiteindelik dan ook in eiebelang, want gewis sou hy nie wou hê dat Mchunu die wêreld moet vertel wat hy weet van Ramaphosa se beweerde eie geraamtes in die kas nie.
Lees ook:
Die Mkhwanazi-skok: Hoe diep loop korrupsie? (14 Julie 2025)
Seen elsewhere: I have asked ChatGPT to predict Ramaphosa’s address