.....
“Daar word bespiegel of sy gewildheid onder die publiek tydens die koronakrisis nie dalk sy opponente in die ANC aanspoor om sy gesag te ondermyn nie.”
.....
President Cyril Ramaphosa het Maandag probeer walgooi oor die regering se bollemakiesieslanery met die verbod op die verkoop van tabak tydens vlak 4 van die inperkingstyd.
In sy weeklikse brief aan die nasie probeer hy verduidelik waarom daar ’n 180°-draai gemaak is nadat hy rokers belowe het hulle mag weer tabak koop tydens vlak 4 wat op 1 Mei in werking getree het.
Rokers het woedend reageer toe die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, die President se opheffing van die verbod verlede week tydens ’n perskonferensie ongedaan gemaak het.
Die publiek sluk swaar aan die redes wat aangevoer word vir die skielike ommeswaai. Daar word wyd gegis dat dit dui op hernude tweespalt binne die ANC se hoogste gestoeltes. Ramaphosa het dalk nie die leisels so stewig vas as wat dit aan die begin van die inperking gelyk het nie, word hardop gegis. Daar word bespiegel of sy gewildheid onder die publiek tydens die koronakrisis nie dalk sy opponente in die ANC aanspoor om sy gesag te ondermyn nie.
.....
“Dit is beter om aan die kant van versigtigheid te fouteer as om in die toekoms ’n hoë prys te betaal vir die verkeerde oordele.” – die President.
.....
Ramaphosa ontken dit egter. Hy sê die besluit om die verbod op tabakverkope te handhaaf dui geensins op ’n verdeeldheid tussen hom en sy ministers nie.
In sy weeklikse brief sê Ramaphosa sy aanvanklike aankondiging was gebaseer op ’n siening van die Nasionale Koronavirus-bevelsraad. Hy sê na deeglike oorweging en bespreking het die bevelsraad sy besluit heroorweeg, waarna die kabinet by monde van Dlamini-Zuma op 29 April die verdere verlenging van die verbod op tabakverkope aangekondig het.
Hy sê dit was ’n kollektiewe besluit en die openbare uitsprake deur beide homself en Dlamini-Zuma is gedoen namens die kollektiewe leierskap.
Volgens Ramaphosa bevind die land hom in ongekende waters en is daar baie dinge oor die virus is wat nog onbekend is. “Dit is beter om aan die kant van versigtigheid te fouteer as om in die toekoms ’n hoë prys te betaal vir die verkeerde oordele,” sê die President.
.....
“Volgens Du Preez het Dlamini-Zuma duidelik haar medekabinetslede en die President in dié besluit ingeboelie en al haar politieke mag gebruik om haar sin te kry.”
.....
Hy sê elke regulasie word versigtig oorweeg voordat dit finaal uitgevaardig word. Daar word ook met mediese kundiges en kenners gekonsulteer. Ramaphosa sê hulle word gelei deur internasionale liggame en die ondervinding van ander lande.
Die President se verduideliking oortuig egter nie almal nie. Die redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, het Maandag in sy koerant se nuusbrief gesê as ’n staatshoof eers moet verduidelik dat van die lede van sy kabinet hom nie wil ondermyn nie en dat hy net ’n “mening” gehad het wat deur sy kabinet verwerp is, moet hy nie kla as die burgery dink hy is slap in die knieë nie.
Du Preez sê dit is ongelukkig nie so eenvoudig soos wat Ramaphosa dit probeer maak nie. “Twee dae nadat hy (namens die ‘kollektief’) uitdruklik verklaar het dat sigarette weer te koop sou wees, het Dlamini-Zuma (deel van die ‘kollektief’) op ’n mediakonferensie haar ontevredenheid met die ‘kollektief’ se siening verklaar en dit eensydig duidelik gemaak dat sy die besluit sou laat heroorweeg.”
Volgens Du Preez het Dlamini-Zuma duidelik haar medekabinetslede en die President in dié besluit ingeboelie en al haar politieke mag gebruik om haar sin te kry. Haar “oorwinning” is uitbundig op sosiale media deur haar ondersteuners gevier.
Die Nasionale Raad teen Rook het hulle intussen by Dlamini-Zuma geskaar en sy steun uitgespreek vir die verbod. Die direkteur van die raad, Savera Kalideen, sê rook het ’n negatiewe invloed op die lugweë, wat juis deur die koronavirus geteiken word. Kalideen sê dit is die regering se verantwoordelikheid om in belang van sy burgers op te tree.
Die raad se kommentaar kom nadat die tabakmaatskappy British American Tobacco die regering tot die einde van Maandag tyd gegee het om die verbod op te hef. Die tabakmaatskappy sê hulle sal regstappe doen teen Dlamini-Zuma indien sy nie formeel op hulle eis reageer en redes verskaf vir die voortgesette verbod nie.
Lees ook
Buro: MvHDit gons oor verbod op tabak- en drankverkope tydens inperking